Skip to main content

Josua 22 – Die volk vind hulle identiteit en eenheid in die wet van God

Met die verdeling van die land afgehandel, roep Josua die stamme van Ruben en Gad en die een helfte van die Manassestam bymekaar en laat hulle met sy seën terugkeer na hulle land oos van die Jordaan. Hulle was getrou in hulle ondersteuning van die ander stamme met die Intog en Vestiging. Josua kom dus nou sy belofte aan hulle na deur hulle na hulle vroeër-verowerde gebied te laat terugkeer.

Josua herinner hulle egter aan die allerbelangrike opdrag van Deuteronomium 6:5 wat Moses aan die Sjema gekoppel het: “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” Hulle moes sorg dat hulle die gebod en die wet wat Moses hulle opgelê het, getrou onderhou. Hulle moes onthou om: “aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.

Daarmee verbind Josua die hele volk aan die een boodskap wat van die begin af aan hulle gebring is. Die Here is hulle God. Hulle is sy volk. Hulle voortbestaan as een volk van God lê opgesluit in sy liefde vir hulle, en hulle vir Hom. Of dit nou binne die beloofde land is of daarbuite. Dit is onherroepbaar hulle identiteit, die basis vir hulle eenheid, om aan God gehoorsaam te wees, aan die wet wat Hy deur die bemiddeling van Moses vir hulle gegee het.

Josua verbind die twaalf stamme ook aan mekaar deurdat hy hierdie twee en ‘n halwe stamme die opdrag gee om van die goedere wat hulle binne die land gebuit het ook vir die ander stamme moet uitdeel. In die onderlinge gasvryheid en mededeelsaamheid lê die ander kant van hulle identiteit en eenheid opgesluit.

Gou is dié identiteit en eenheid egter onder skoot deurdat die nege en ‘n half stamme binne die beloofde land hoor van die besonder indrukwekkende altaar wat die twee en ‘n half stamme buite die beloofde land by Gelilot aan die Jordaan gebou het. Josua-hulle stuur van Silo af ‘n afvaardiging van tien volksleiers onder leiding van Pinehas, die een wat vroeër die eer van die Here in die woestyn beskerm het en gekeer het dat die volk in afgodery en onsedelikheid by Peor verval (Num 25), om die waarheid vas te stel.

Let op hoe die gebeure by Peor nog steeds ‘n impak gehad het op hulle ervaring van hulleself as die volk van God. Hulle was bang dat die plaag wat hulle met daardie dreigende afvalligheid van afgodery en onsedelikheid getref het, weer sou opvlam. Akan se sonde by Jerigo was ook nog vars in hulle geheue en die effek daarvan op die hele volk (Jos 7). Die afvalligheid sou onvermydelik ‘n invloed uitoefen op die res van die volk, selfs al was hulle nie persoonlik daarby betrokke nie.

Gelukkig is die gerug verkeerd en oortuig die twee en ‘n half stamme hulle dat dié indrukwekkende altaar nie vir offers bedoel was nie, maar as ‘n getuienis dat hulle deel van die volk van God was. Dit was ‘n getuienis van hoe groot en deurlugtig hulle gesamentlike God was!

Daarom is dit ook opgerig by die Jordaan as herinnering aan hulle almal dat hulle een volk was wat een God gedien het. Dit was ‘n boodskap aan dié binne die land, sowel as aan dié buite die land. Hulle offers sou egter net op een plek gebring word, daar waar die tabernakel was, die heiligdom wat die Here gekies het as sy aanbiddingsplek.

Die verduideliking en verbintenis het almal tevrede gestel en hulle het mekaar die hand van vriendskap en eenheid gegee en die Here saam geprys. Die Here was hulle God en sou dit bly. Hulle identiteit was in Hom en hulle sou hulle eenheid steeds in die gesamentlike aanbidding van Hom vind op die plek wat Hy sou aanwys.

Boodskap

Hierdie gebeure sê natuurlik ‘n belangrike ding vir ons as Christene. Ons identiteit en eenheid word ook in God en in ons gehoorsaamheid aan sy Woord gevind. Daarom dat die NT kerk telkens dit beklemtoon het dat as daar ‘n probleem is tussen gelowiges dat dit in gesprek met mekaar in teenwoordigheid van die Here uitgesorteer moes word (Matt 18:15-20). Waar twee of drie immers in die naam van die Here Jesus Christus vergader, dáár is Hy in hulle midde.

Die eenheid tussen gelowiges kan ook nie gesoek word sonder om die waarheid ernstig te neem nie, soos Jesus in Johannes 17:17-19 beklemtoon: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid … en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.

Dit geld nie net vir die dissipels en die kerk van die eerste eeu nie, maar vir gelowiges reg deur die eeue: “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Joh 17:20-21).

Die wêreld word nie net oortuig deur eenheid nie, maar spesifiek deur ‘n eenheid wat in die waarheid begrond is. Soos Paulus later sou skryf: “Ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.” (Ef 4:15).

Dit is waarom Paulus so ernstig was om afgodery en onsedelikheid in die gemeentes wat hy bedien, af te wys en die gemeentes tot onwrikbare heiligheid op te roep ook in die toepassing van die tug en dissipline (1 Kor 5-7; 2 Kor 6). Heiligheid en reinheid in alles is vir gelowiges ononderhandelbaar.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda