Josua 22 – Die volk vind hulle identiteit en eenheid in die wet van God
Met die verdeling van die land afgehandel, roep Josua die stamme van Ruben en Gad en die een helfte van die Manassestam bymekaar en laat hulle met sy seën terugkeer na hulle land oos van die Jordaan. Hulle was getrou in hulle ondersteuning van die ander stamme met die Intog en Vestiging. Josua kom dus nou sy belofte aan hulle na deur hulle na hulle vroeër-verowerde gebied te laat terugkeer.
Josua herinner hulle egter aan die allerbelangrike opdrag van Deuteronomium 6:5 wat Moses aan die Sjema gekoppel het: “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” Hulle moes sorg dat hulle die gebod en die wet wat Moses hulle opgelê het, getrou onderhou. Hulle moes onthou om: “aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.”
Daarmee verbind Josua die hele volk aan die een boodskap wat van die begin af aan hulle gebring is. Die Here is hulle God. Hulle is sy volk. Hulle voortbestaan as een volk van God lê opgesluit in sy liefde vir hulle, en hulle vir Hom. Of dit nou binne die beloofde land is of daarbuite. Dit is onherroepbaar hulle identiteit, die basis vir hulle eenheid, om aan God gehoorsaam te wees, aan die wet wat Hy deur die bemiddeling van Moses vir hulle gegee het.
Josua verbind die twaalf stamme ook aan mekaar deurdat hy hierdie twee en ‘n halwe stamme die opdrag gee om van die goedere wat hulle binne die land gebuit het ook vir die ander stamme moet uitdeel. In die onderlinge gasvryheid en mededeelsaamheid lê die ander kant van hulle identiteit en eenheid opgesluit.
Gou is dié identiteit en eenheid egter onder skoot deurdat die nege en ‘n half stamme binne die beloofde land hoor van die besonder indrukwekkende altaar wat die twee en ‘n half stamme buite die beloofde land by Gelilot aan die Jordaan gebou het. Josua-hulle stuur van Silo af ‘n afvaardiging van tien volksleiers onder leiding van Pinehas, die een wat vroeër die eer van die Here in die woestyn beskerm het en gekeer het dat die volk in afgodery en onsedelikheid by Peor verval (Num 25), om die waarheid vas te stel.
Let op hoe die gebeure by Peor nog steeds ‘n impak gehad het op hulle ervaring van hulleself as die volk van God. Hulle was bang dat die plaag wat hulle met daardie dreigende afvalligheid van afgodery en onsedelikheid getref het, weer sou opvlam. Akan se sonde by Jerigo was ook nog vars in hulle geheue en die effek daarvan op die hele volk (Jos 7). Die afvalligheid sou onvermydelik ‘n invloed uitoefen op die res van die volk, selfs al was hulle nie persoonlik daarby betrokke nie.
Gelukkig is die gerug verkeerd en oortuig die twee en ‘n half stamme hulle dat dié indrukwekkende altaar nie vir offers bedoel was nie, maar as ‘n getuienis dat hulle deel van die volk van God was. Dit was ‘n getuienis van hoe groot en deurlugtig hulle gesamentlike God was!
Daarom is dit ook opgerig by die Jordaan as herinnering aan hulle almal dat hulle een volk was wat een God gedien het. Dit was ‘n boodskap aan dié binne die land, sowel as aan dié buite die land. Hulle offers sou egter net op een plek gebring word, daar waar die tabernakel was, die heiligdom wat die Here gekies het as sy aanbiddingsplek.
Die verduideliking en verbintenis het almal tevrede gestel en hulle het mekaar die hand van vriendskap en eenheid gegee en die Here saam geprys. Die Here was hulle God en sou dit bly. Hulle identiteit was in Hom en hulle sou hulle eenheid steeds in die gesamentlike aanbidding van Hom vind op die plek wat Hy sou aanwys.
Boodskap
Hierdie gebeure sê natuurlik ‘n belangrike ding vir ons as Christene. Ons identiteit en eenheid word ook in God en in ons gehoorsaamheid aan sy Woord gevind. Daarom dat die NT kerk telkens dit beklemtoon het dat as daar ‘n probleem is tussen gelowiges dat dit in gesprek met mekaar in teenwoordigheid van die Here uitgesorteer moes word (Matt 18:15-20). Waar twee of drie immers in die naam van die Here Jesus Christus vergader, dáár is Hy in hulle midde.
Die eenheid tussen gelowiges kan ook nie gesoek word sonder om die waarheid ernstig te neem nie, soos Jesus in Johannes 17:17-19 beklemtoon: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid … en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”
Dit geld nie net vir die dissipels en die kerk van die eerste eeu nie, maar vir gelowiges reg deur die eeue: “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Joh 17:20-21).
Die wêreld word nie net oortuig deur eenheid nie, maar spesifiek deur ‘n eenheid wat in die waarheid begrond is. Soos Paulus later sou skryf: “Ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.” (Ef 4:15).
Dit is waarom Paulus so ernstig was om afgodery en onsedelikheid in die gemeentes wat hy bedien, af te wys en die gemeentes tot onwrikbare heiligheid op te roep ook in die toepassing van die tug en dissipline (1 Kor 5-7; 2 Kor 6). Heiligheid en reinheid in alles is vir gelowiges ononderhandelbaar.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Josua en Rigters hervat 17 Januarie 2018 - December 6, 2017
- Die vervulling van die belofte - January 17, 2018
- Die leier Josua en die hoëpriester Eleasar - January 18, 2018
- Die viering van die Intog en Vestiging in die Psalms - January 19, 2018
- Twee fases: ‘n “platvee”-veldtog en ‘n “skoonmaak”-veldtog - January 22, 2018
- Die relatiewe waarde van argeologiese en historiese getuienis - January 23, 2018
- Josua in die res van die Bybel - January 24, 2018
- Josua 1 – Wees sterk, wees vasberade, veral in die uitvoering van die wetboek - January 25, 2018
- Josua 2 – Ragab se ontsag vir Jahwe spaar die verkenners se lewe - January 26, 2018
- Josua 3:1 – 5:1 – God lei Israel met ‘n wonder deur die Jordaan - January 29, 2018
- Josua 5:2-12 – Die Godsvolk word bevestig deur die besnydenis en die viering van die paasfees - January 30, 2018
- Josua 5:13-6:27 – Die Here self voer die oorlog teen Jerigo - January 31, 2018
- Josua 7 – Die Here wys met die nederlaag teen Ai dat sy heiligheid ononderhandelbaar is - February 1, 2018
- Josua 8 – Die Here oorwin Ai met leierskap en vernuf - February 2, 2018
- Josua 9 – Die Israeliete tree dwaas op, maar slim vang sy baas - February 5, 2018
- Josua 10 – Josua loop die suide plat in een deurslaggewende veldtog - February 6, 2018
- Josua 11:1-15 – Josua vee die grootste deel van Kanaän plat - February 7, 2018
- Josua 11:16-12:24 – Josua het die hele land ingeneem en as besitting aan Israel gegee - February 8, 2018
- Josua 13 – Josua kry die opdrag om die hele land te verdeel - February 9, 2018
- Josua 14 – Die verdeling van die land wes van die Jordaan begin met Kaleb - February 12, 2018
- Josua 15 – Juda kry hulle erfdeel met besondere vermelding van Kaleb en Aksa sy dogter - February 13, 2018
- Josua 16-17 – Josef kry hulle erfdeel met besondere vermelding van Selofgad se dogters - February 14, 2018
- Josua 18-19 – Die sewe ander stamme kry ook hulle erfdeel - February 15, 2018
- Josua 20-21 – Die asielstede en die stede van die Leviete - February 16, 2018
- Josua 22 – Die volk vind hulle identiteit en eenheid in die wet van God - February 19, 2018
- Josua 23 – Josua roep die leiers op tot gehoorsaamheid aan die Here - February 20, 2018
- Josua 24 – Die leiers en die volk word aan God self verbind in ‘n verbondshernuwing - February 21, 2018
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.