Skip to main content

Die leier Josua en die hoëpriester Eleasar

Josua is uiteraard die hoofkarakter van die boek. Hy was die seun van Nun, en oorspronklik Hosea (“verlossing”) genoem. Moses het egter sy naam op betekenisvolle wyse verander na Josua (“die Here is verlossing” – Num 13:8,16), die Hebreeuse naam wat Jesus (Grieks vir Josua) ook uiteindelik sou kry!

Josua is deur Moses uitgekies om die aanvoerder te wees in die geveg teen die Amalekiete (Eks 17), waar hy dan ook die oorwinning behaal. Hy het saam met Moses op die berg van God geklim (Eks 24) en het weer saam met hom na 40 dae en nagte afgeklim (Eks 32).

Daar is daarom ook talle parallelle met Moses.  Ek noem ses:

  • Die ontmoeting met God (Eks 3:2-5 en Jos 5:13-15);
  • Die bevestiging in sy teenwoordigheid (Eks 3:12 en Jos 1:5);
  • Die tog deur die Rietsee en Jordaan onderskeidelik (Eks 14 en Jos 3);
  • Voorbidding vir Israel (Num 14:13-19 en Jos 7:6-9);
  • Verbondsluiting (Eks 24 en Jos 24);
  • Afskeidsgesprekke (Deut 31 [eintlik die hele Deuteronomium!] en Jos 23)

Dié skakel tussen hulle dien as verdere getuienis van die belofte-vervulling verband tussen die Pentateug en Josua.  Die God van die belofte en die God van die vervulling is dieselfde God.

Interessant, in Eks 33:11 word gesê dat Josua hom nie uit die tent, waar God Hom aan Moses geopenbaar het, verwyder het nie. Hy wou waarskynlik meer hoor en moontlik sien van hoe God aan Moses verskyn en met hom gepraat het! Die Here laat hom egter nie toe om iets meer te sien nie, waarskynlik omdat Hy hom aan die skriftelike boodskap soos dit tot stand begin kom het, wou bind (Jos 1).

Uit Numeri 11:28 blyk dat Josua van sy jeug af Moses se dienaar was. Hy was een van die verkenners van Kanaän (Num 13) en saam met Kaleb het hy, anders as die tien ander verspieders, aanbeveel dat hulle die land binnetrek. Hulle was dan ook die enigste twee van die volk wat uiteindelik die land kon intrek by hulle tweede aankoms by die land Kanaän na ongeveer 40 jaar.

Josua is deur die Here aangewys as die opvolger van Moses, en deur Moses aangestel, dmv ’n handoplegging (Num 27:12–23; Deut 3:28; 31:7, 8, 23). Reeds in Numeri 34:17 is hy saam met die priester Eleasar deur die Here benoem om die land te help verdeel. Die leierskap van Josua word dus beklemtoon. Veral dat hy ‘n leier soos Moses was.

Die voortdurende gehoorsaamheid van die leier Josua (met die bou van die altaar by die Jordaan – Jos 4:9; met die besnydenis van die volk – Jos 5:7; deur Ragab te laat lewe – Jos 6:25; deur net die vee en buit te vat, maar die stad Ai te verbrand – Jos 8:27; deur die Gibeoniete, ten spyte van hulle slinksheid, te beskerm – Jos 9:22–27; deur die perde en strydwaens te vernietig – Jos 11:9; deur die hele land in te neem – Jos 11:16), maar ook die gebrekkige gehoorsaamheid van die volk aan die Verbondsgod (storie van Ai – Jos 7:1; deur die Gibeoniete te wil uitmoor – Jos 9:16) word daarom sterk beklemtoon.

Dit wys ook onomwonde watter tipe leierskap God wil hê vir sy volk. Die leier moet gehoorsaam wees, soos Moses, en spesifiek die wetboek van Moses as sy rigsnoer neem. Die hele verdere beoordeling van die leiers in die verhale van die Rigters- en die Koningstyd daarna, kan vanuit hierdie voorbeeld van die verhaal van Josua gedoen word, wat ‘n leier soos Moses was, en gehoorsaam was aan wat God beveel het. Die militêre vermoë van leiers word dus as ondergeskik gestel aan hulle persoonlike geestelike verhouding met en gehoorsaamheid aan God.

Die opdrag aan Josua om die wetboek te bestudeer en daaroor na te dink, is ook ‘n draaipunt in die kommunikasie tussen God en sy mense, veral ten opsigte van die kennis en begrip van God se wil. Waar drome en visioene, engele en profete tot hier die vernaamste maniere was waarop God Homself en sy wil aan sy mense bekend gemaak het, begin dit beduidend skuif na ‘n fokus op die geskrewe openbaring van God se wil.

Eleasar is die ander hoofkarakter. Interessant is dat sy naam in Grieks Lasarus is. Hy was die derde seun van Aäron (Eks 6:22), en is saam met sy pa en sy drie broers tot priesters gewy (Eks 28:1). Sy twee ouer broers, Nadab en Abihu het gesondig teen die Here en is deur Hom doodgemaak (Lev 10:1–7). Daarom is Eleasar aangewys om sy pa as hoëpriester op te volg (Num 20:25–28). Hy help veral vir Josua met die verdeling van die land Kanaän onder die 12 stamme (Jos 14:1; 17:4; 19:51; 21:1).

Die land Kanaän

Die land Kanaän word beskrywe as die land van die Kanaäniete, Hetiete (van wie Abraham die grot Makpela as graf vir sy vrou Sara gekoop het), Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, almal nasate van Gam, die middelste seun van Noag (Gen 10 – vgl Eks 3:7 se belofte).

In terme van huidige politiese grense, het Kanaän ‘n gebied beslaan wat die hele moderne staat van Israel, die hele gebied van Jordanië, ‘n groot deel van Saoedi-Arabië, die helfte van Irak, die hele Libanon, ‘n deel van Sirië, en die hele Koeweit beslaan.

Die Egiptiese ryk se invloed was gelukkig aan die taan, sodat die stadstate in Kanaän meer onafhanklik kon bestaan, en die Israeliete nie met ‘n super-moondheid moes rekening hou met hulle inname van die land nie.

Omdat die Uittog waarskynlik in die 15de eeu (1446 vC) plaasgevind het op grond van berekenings aan die hand van 1 Konings 6:1 se inligting, vind die Intog gevolglik 40 jaar later plaas, ongeveer van 1400 vC af. Vir meer inligting hieroor kan jy my bydrae oor Eksodus by Bybelskool.com raadpleeg.

Historiese en kultiese verhouding met die land

Die inname van die land moet uit twee hoeke beskou word, soos twee kante van een munt.

Aan die een kant word die inname van die land beskrywe uit die hoek van die volk Israel wat die land in besit neem deur oorlog teen die ander volke wat daar woon, te maak. Dit kan as die historiese perspektief beskrywe word wat gebaseer is op die belofte aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob (soms met die Gilgal heiligdom verbind vanwaar die onderskeie veldslae van die aanvanklike inname geskied het).

Maar telkens is die oorwinning aan die ander kant afhanklik van God se ingrype. Daarmee word God ook as die God van die geskiedenis beskrywe, anders as die Kanaänitiese gode wat as natuurgode of geografiese gode beskrywe is. (God word ook as Skepper geteken – vgl Jos 2:11; 4:24.)

Soos Sagaria dit veel later sou verwoord in sy profetiese woord aan Serubbabel, kleinseun van Jojagin en goewerneur in Jerusalem na die terugkeer uit Babilon in 520 vC, maar steeds onder Persiese heerskappy, met die herbou van die tempel (Sag. 3:6): “Nie deur mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.

Dit hang saam met die feit dat die land immers as God se land beskou en beskryf is (Lev 25:23). Dit kan as die kultiese perspektief beskrywe word wat onder andere beteken het dat die land se verdeling en wyse van besit deur die priesters gereël is (soms met die Sigem heiligdom verbind waar Josua sy afskeidsboodskap lewer, hoewel Silo ook ‘n rol gespeel het). ‘n Belangrike verskil met die Kanaänitiese Baäl godsdiens kom hiermee na vore, deurdat God nie net as die baäl (heerser) van die land beskrywe word nie, maar as die besitter daarvan.

Daarom is die tema van gehoorsaamheid aan God al dan nie so ‘n belangrike deel van die verhaal, wat eintlik regdeur die Ou Testament tot in die Nuwe Testament ‘n hooftema bly, en selfs in die lewe van Jesus ‘n deurslaggewende rol speel. Israel en die land is net aan mekaar verbind in terme van die verhouding wat hulle met God het.

Israel se verhouding met die land is dus nie ‘n bloed-en-bodem verhouding nie. Die land is ook nie ‘n “heilige land” in ‘n kosmiese of materiële sin nie, alleen in ‘n afgeleide sin, as ‘n gawe van God wat deur ongehoorsaamheid verloor kan word. Die volk is ook nie in ‘n hieros gamos (‘n heilige huwelik) aan God verbind nie, soos wel in ander godsdienste die geval was nie.

In Josua word hierdie gehoorsaamheid veral beskrywe in terme van hulle verhouding met die land. Waar hulle gehoorsaam is aan God, neem hulle die land in besit deur hulle oorwinnings. Waar hulle ongehoorsaam is aan God, bly die ander volke in besit van die land en verloor hulle die oorlog.

Die land het dus ‘n besondere plek in Israel se verhouding met die Here.

Dit is aan die een kant die sigbare simbool van hulle verhouding met die Here. Die besit van die land word as ‘n gawe van God gesien en is daarom afhanklik van hulle gehoorsaamheid in hulle verhouding met Hom.

Aan die ander kant maak die land ‘n integrale deel uit van hulle identiteit as volk. Die belofte van die land het aan hulle ‘n gemeenskaplikheid gegee en aan mekaar as stamme verbind. Hulle identiteit as volk was dus gebou op die belofte en besit van die land.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda