Die leier Josua en die hoëpriester Eleasar

Josua is uiteraard die hoofkarakter van die boek. Hy was die seun van Nun, en oorspronklik Hosea (“verlossing”) genoem. Moses het egter sy naam op betekenisvolle wyse verander na Josua (“die Here is verlossing” – Num 13:8,16), die Hebreeuse naam wat Jesus (Grieks vir Josua) ook uiteindelik sou kry!

Josua is deur Moses uitgekies om die aanvoerder te wees in die geveg teen die Amalekiete (Eks 17), waar hy dan ook die oorwinning behaal. Hy het saam met Moses op die berg van God geklim (Eks 24) en het weer saam met hom na 40 dae en nagte afgeklim (Eks 32).

Daar is daarom ook talle parallelle met Moses.  Ek noem ses:

  • Die ontmoeting met God (Eks 3:2-5 en Jos 5:13-15);
  • Die bevestiging in sy teenwoordigheid (Eks 3:12 en Jos 1:5);
  • Die tog deur die Rietsee en Jordaan onderskeidelik (Eks 14 en Jos 3);
  • Voorbidding vir Israel (Num 14:13-19 en Jos 7:6-9);
  • Verbondsluiting (Eks 24 en Jos 24);
  • Afskeidsgesprekke (Deut 31 [eintlik die hele Deuteronomium!] en Jos 23)

Dié skakel tussen hulle dien as verdere getuienis van die belofte-vervulling verband tussen die Pentateug en Josua.  Die God van die belofte en die God van die vervulling is dieselfde God.

Interessant, in Eks 33:11 word gesê dat Josua hom nie uit die tent, waar God Hom aan Moses geopenbaar het, verwyder het nie. Hy wou waarskynlik meer hoor en moontlik sien van hoe God aan Moses verskyn en met hom gepraat het! Die Here laat hom egter nie toe om iets meer te sien nie, waarskynlik omdat Hy hom aan die skriftelike boodskap soos dit tot stand begin kom het, wou bind (Jos 1).

Uit Numeri 11:28 blyk dat Josua van sy jeug af Moses se dienaar was. Hy was een van die verkenners van Kanaän (Num 13) en saam met Kaleb het hy, anders as die tien ander verspieders, aanbeveel dat hulle die land binnetrek. Hulle was dan ook die enigste twee van die volk wat uiteindelik die land kon intrek by hulle tweede aankoms by die land Kanaän na ongeveer 40 jaar.

Josua is deur die Here aangewys as die opvolger van Moses, en deur Moses aangestel, dmv ’n handoplegging (Num 27:12–23; Deut 3:28; 31:7, 8, 23). Reeds in Numeri 34:17 is hy saam met die priester Eleasar deur die Here benoem om die land te help verdeel. Die leierskap van Josua word dus beklemtoon. Veral dat hy ‘n leier soos Moses was.

Die voortdurende gehoorsaamheid van die leier Josua (met die bou van die altaar by die Jordaan – Jos 4:9; met die besnydenis van die volk – Jos 5:7; deur Ragab te laat lewe – Jos 6:25; deur net die vee en buit te vat, maar die stad Ai te verbrand – Jos 8:27; deur die Gibeoniete, ten spyte van hulle slinksheid, te beskerm – Jos 9:22–27; deur die perde en strydwaens te vernietig – Jos 11:9; deur die hele land in te neem – Jos 11:16), maar ook die gebrekkige gehoorsaamheid van die volk aan die Verbondsgod (storie van Ai – Jos 7:1; deur die Gibeoniete te wil uitmoor – Jos 9:16) word daarom sterk beklemtoon.

Dit wys ook onomwonde watter tipe leierskap God wil hê vir sy volk. Die leier moet gehoorsaam wees, soos Moses, en spesifiek die wetboek van Moses as sy rigsnoer neem. Die hele verdere beoordeling van die leiers in die verhale van die Rigters- en die Koningstyd daarna, kan vanuit hierdie voorbeeld van die verhaal van Josua gedoen word, wat ‘n leier soos Moses was, en gehoorsaam was aan wat God beveel het. Die militêre vermoë van leiers word dus as ondergeskik gestel aan hulle persoonlike geestelike verhouding met en gehoorsaamheid aan God.

Die opdrag aan Josua om die wetboek te bestudeer en daaroor na te dink, is ook ‘n draaipunt in die kommunikasie tussen God en sy mense, veral ten opsigte van die kennis en begrip van God se wil. Waar drome en visioene, engele en profete tot hier die vernaamste maniere was waarop God Homself en sy wil aan sy mense bekend gemaak het, begin dit beduidend skuif na ‘n fokus op die geskrewe openbaring van God se wil.

Eleasar is die ander hoofkarakter. Interessant is dat sy naam in Grieks Lasarus is. Hy was die derde seun van Aäron (Eks 6:22), en is saam met sy pa en sy drie broers tot priesters gewy (Eks 28:1). Sy twee ouer broers, Nadab en Abihu het gesondig teen die Here en is deur Hom doodgemaak (Lev 10:1–7). Daarom is Eleasar aangewys om sy pa as hoëpriester op te volg (Num 20:25–28). Hy help veral vir Josua met die verdeling van die land Kanaän onder die 12 stamme (Jos 14:1; 17:4; 19:51; 21:1).

Die land Kanaän

Die land Kanaän word beskrywe as die land van die Kanaäniete, Hetiete (van wie Abraham die grot Makpela as graf vir sy vrou Sara gekoop het), Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, almal nasate van Gam, die middelste seun van Noag (Gen 10 – vgl Eks 3:7 se belofte).

In terme van huidige politiese grense, het Kanaän ‘n gebied beslaan wat die hele moderne staat van Israel, die hele gebied van Jordanië, ‘n groot deel van Saoedi-Arabië, die helfte van Irak, die hele Libanon, ‘n deel van Sirië, en die hele Koeweit beslaan.

Die Egiptiese ryk se invloed was gelukkig aan die taan, sodat die stadstate in Kanaän meer onafhanklik kon bestaan, en die Israeliete nie met ‘n super-moondheid moes rekening hou met hulle inname van die land nie.

Omdat die Uittog waarskynlik in die 15de eeu (1446 vC) plaasgevind het op grond van berekenings aan die hand van 1 Konings 6:1 se inligting, vind die Intog gevolglik 40 jaar later plaas, ongeveer van 1400 vC af. Vir meer inligting hieroor kan jy my bydrae oor Eksodus by Bybelskool.com raadpleeg.

Historiese en kultiese verhouding met die land

Die inname van die land moet uit twee hoeke beskou word, soos twee kante van een munt.

Aan die een kant word die inname van die land beskrywe uit die hoek van die volk Israel wat die land in besit neem deur oorlog teen die ander volke wat daar woon, te maak. Dit kan as die historiese perspektief beskrywe word wat gebaseer is op die belofte aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob (soms met die Gilgal heiligdom verbind vanwaar die onderskeie veldslae van die aanvanklike inname geskied het).

Maar telkens is die oorwinning aan die ander kant afhanklik van God se ingrype. Daarmee word God ook as die God van die geskiedenis beskrywe, anders as die Kanaänitiese gode wat as natuurgode of geografiese gode beskrywe is. (God word ook as Skepper geteken – vgl Jos 2:11; 4:24.)

Soos Sagaria dit veel later sou verwoord in sy profetiese woord aan Serubbabel, kleinseun van Jojagin en goewerneur in Jerusalem na die terugkeer uit Babilon in 520 vC, maar steeds onder Persiese heerskappy, met die herbou van die tempel (Sag. 3:6): “Nie deur mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.

Dit hang saam met die feit dat die land immers as God se land beskou en beskryf is (Lev 25:23). Dit kan as die kultiese perspektief beskrywe word wat onder andere beteken het dat die land se verdeling en wyse van besit deur die priesters gereël is (soms met die Sigem heiligdom verbind waar Josua sy afskeidsboodskap lewer, hoewel Silo ook ‘n rol gespeel het). ‘n Belangrike verskil met die Kanaänitiese Baäl godsdiens kom hiermee na vore, deurdat God nie net as die baäl (heerser) van die land beskrywe word nie, maar as die besitter daarvan.

Daarom is die tema van gehoorsaamheid aan God al dan nie so ‘n belangrike deel van die verhaal, wat eintlik regdeur die Ou Testament tot in die Nuwe Testament ‘n hooftema bly, en selfs in die lewe van Jesus ‘n deurslaggewende rol speel. Israel en die land is net aan mekaar verbind in terme van die verhouding wat hulle met God het.

Israel se verhouding met die land is dus nie ‘n bloed-en-bodem verhouding nie. Die land is ook nie ‘n “heilige land” in ‘n kosmiese of materiële sin nie, alleen in ‘n afgeleide sin, as ‘n gawe van God wat deur ongehoorsaamheid verloor kan word. Die volk is ook nie in ‘n hieros gamos (‘n heilige huwelik) aan God verbind nie, soos wel in ander godsdienste die geval was nie.

In Josua word hierdie gehoorsaamheid veral beskrywe in terme van hulle verhouding met die land. Waar hulle gehoorsaam is aan God, neem hulle die land in besit deur hulle oorwinnings. Waar hulle ongehoorsaam is aan God, bly die ander volke in besit van die land en verloor hulle die oorlog.

Die land het dus ‘n besondere plek in Israel se verhouding met die Here.

Dit is aan die een kant die sigbare simbool van hulle verhouding met die Here. Die besit van die land word as ‘n gawe van God gesien en is daarom afhanklik van hulle gehoorsaamheid in hulle verhouding met Hom.

Aan die ander kant maak die land ‘n integrale deel uit van hulle identiteit as volk. Die belofte van die land het aan hulle ‘n gemeenskaplikheid gegee en aan mekaar as stamme verbind. Hulle identiteit as volk was dus gebou op die belofte en besit van die land.

View all posts in this series

Josua


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: