Skip to main content

Die vervulling van die belofte

Ek begin die lees van die boek Josua met ‘n inleiding wat in ses bydraes gelewer gaan word.

Die boek Josua is die eerste een van die Vroeë Profete in die Ou Testament. Die ander Vroeë Profete is Rigters, 1-2 Samuel, en 1-2 Konings.  Josua is ook die eerste boek in die Bybel wat die naam van die hoofkarakter dra, soos dit later die gebruik met die Skrifprofete geraak het.

Die Vroeë Profete word profeties genoem omdat die doel van die beskrywing van dié verhale van Israel nie in die eerste plek was om ‘n historiese verloop van die Intog en Vestiging in die land te beskryf nie. Die doel van hierdie 6 boeke was om die verhale van die vervulling van God se belofte vanuit ‘n teologiese en Goddelike perspektief te beskrywe.

Die boeke wys hoe die wil van God, soos Hy in die eerste weergawe van die “wetboek” aan hulle deurgegee het, in die praktyk gewerk het, sodat dit vir altyd as geestelike onderrig vir die nageslag van die volk kan dien.

In Josua handel hierdie profetiese onderrig oor die inname en verdeling van die land Kanaän, veral uit die hoek van die suksesse wat onder die leiding van Josua behaal is in hulle gehoorsaamheid aan die roeping en begeleiding van die Here self.

Die boek is egter ook helder daaroor dat dié suksesse net behaal is wanneer hulle gehoorsaam was aan die Here (Jerigo). Wanneer hulle ongehoorsaam was aan die Here (Ai) het hulle nederlae gely, ‘n werklikheid wat in die res van die Vroeë Profete telkens verder beskryf sal word.

Die begin van die kern-kanon

Interessant is dat ons met die boek Josua ‘n duidelike proses begin raaksien van die skrifstelling van die uiteindelike OT. Die skrifstelling van die Bybel is deur God self begin met die tafels waarop die Tien Gebooie geskryf is (Eks 24:12; 34:1). Onder God se leiding het Moses dit voortgesit en God se wil uitvoerig op skrif gestel (Eks 17:14; 24:4; Deut 31:24). Dit het die hart van die wetboek gevorm wat deur die Leviete bewaar is in die Tabernakel (Deut 31:9). Die wetboek was bedoel om deur hulle en die ander leiers bestudeer te word as rigsnoer vir die lewe.

Onthou ook dat die naam van die boek Deuteronomium die “tweede wet” beteken. ‘n Afskrif van die wetboek is aan die leiers gegee – veral later ook aan die koning – om gereeld te lees en in alles as rigsnoer te gebruik: “Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik. Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe.” (Deut 17:18-19).

Hierdie wetboek raak dus die boek wat Josua sy eie maak (Jos 1:7). Hy kry ook die voorreg om later die wetboek aan te vul (Jos 24:26). Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan. In sy tyd was daar ook nog die Boek van die Opregte (Jos 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl ook 2 Sam 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is).

Ons sien dus hier by Josua die begin van ‘n kern-kanon (kanon beteken “maatstaf“), die begin van die Bybel soos ons dit ken. Later sou Samuel ook regsvoorskrifte – veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede – byvoeg (1 Sam 10:25) en dit saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar.

Dit is egter onseker wie die boek Josua geskrywe het. Die latere tradisie van die Talmoed (200 nC) skryf dit aan Josua se eie werk toe, aangevul deur Eleasar, die hoëpriester, maar dit kan nie uit interne gegewens uit die boek self aangetoon word nie. Dat Josua geskryf het, en bygedra het tot die Bybel, is wel duidelik, maar die Bybelse gegewens is net duidelik daaroor dat hy dele van die Pentateug aangevul het (Jos 24:26).

‘n Mens kan wel die hand van ‘n redakteur(s) duidelik in die boek sien. Nie net word die dood van Josua en Eleasar in hfst 24 beskryf nie, maar daar is talle plekke in die boek waar die situasie van die Intog en Vestiging met die frase: “dit is vandag nog so” (Jos 4:9; 5:9; 7:26; 8:29; 9:27; 10:27; 14:14; 15:63), beskryf word.

Wanneer dié “vandag” was, kan ‘n mens natuurlik nie met sekerheid sê nie, maar uit Josua 15:63 blyk dit dat dit waarskynlik vóór die tyd van Dawid was: “Die mense van Juda kon dit nie regkry om die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, te verdryf nie. Hulle woon vandag nog daar saam met die mense van Juda.” Dawid het hulle eers in sy tyd verdryf met die vestiging van Jerusalem as sy hoofstad, sewe jaar ná hy koning geword het (2 Sam 5:6-8; 1 Kron 11:4-6).

Draaipunt in die geskiedenis van Israel

God word in die boek Josua geteken as Skepper (Jos 2:11; 4:24) en as Verlosser (volk uit Egipte uitgelei – Jos 2:10; 4:23; 9:9–10; 24:1–10, 17) wat sy beloftes hou (Jos 10:40; 11:23; 21:43–45; 23:3, 9, 14; 24:11–13, 18) en gehoorsaamheid aan Homself deur die nakoming van die wet eis (Jos 1:7–8; 22:5; 23:6–8, 11, 16) en beloon (veral ten opsigte van die leier, Jos 1:5, 9, 17; 3:7, 10).  Daarmee word die band met die Pentateug gehandhaaf.

Die Intog in die land Kanaän is egter daarom ook ‘n draaipunt in die geskiedenis van Israel. Die belofte van die land gaan oor in die vervulling daarvan in terme van die besit van die land. Die gebreke van die verlede word nou as verhale vir onderrig gebruik, en nie meer as veroordeling nie. Die belofte van God se teenwoordigheid bly egter die stimulus vir die volharding in ‘n gehoorsame verhouding met Hom.

View all posts in this series

Josua


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar