Die viering van die Intog en Vestiging in die Psalms
Daarom dat só baie van die Psalms die Israeliete gehelp het om die teologie agter die Intog en Vestiging in die land nie net te begryp nie, maar ook te vier as herinnering daaraan dat die land deel van God se voorsiening in vervulling van sy belofte was aan hulle.
“Die nasies is uitgedryf uit sy land” (Ps 10:16) sodat dié wat die Here vrees en hulle nageslag die land kan besit (Ps 25:13), het hulle gesing. Daarom kon hulle opgeroep word om hulle identiteit te vind in ‘n rustige lewe in die land waar hulle met integriteit kon lewe (Ps 37:3).
Reg deur hulle hele lewe in die land kon hulle dus opgeroep word om God se dade in die geskiedenis te verheerlik waarin die land van die heidene wat vir Israel gegee is, ‘n sentrale rol sou speel (Ps 111:6). Israel moes met hulle hele lewe die Here verheerlik wat die land van die heidene as erfdeel vir hulle gegee het (Ps 135:12; 136:21).
Die doel wat God met die vervulling van die belofte gehad het, en met die heerlike uitkoms dat Israel nou die land van die heidene besit het, was: “sodat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar!” (Ps 105).
Daarom brei Psalm 106 uit oor die ongehoorsaamheid van die volk wat sy opdrag om almal met hulle afgode uit te wis in Kanaän geïgnoreer het. Want dit het hulle vestiging in die land bedreig. Die mense van Kanaän het gou vir hulle ‘n valstrik geword deurdat hulle die geloofsgewoontes van die heidene aangeleer het wat God se toorn oor hulle laat ontvlam het.
Israel moes goed leer verstaan dat dit altyd die goddeloses en die afgodsdienaars is wat dit nie in die land sal maak nie. Ook hulle sal soos die goddelose Kanaäniete uit die land gespoeg word as hulle die Here nie dien nie.
Trouens, dit is die ootmoediges (sagmoedig, nederig – vgl Moses in Num 12:3) wat die hele aarde uiteindelik sal beërwe, iets waarop Jesus ook in die Bergrede inspeel (Matt. 5:5). Dié wat op die Here wag, sal die aarde besit (Ps 37:11).
Talle Psalms het daarom sorg gedra daarvoor dat die volk nie hoogmoedig word oor die feit dat die Here ander nasies voor hulle uitgedryf het uit Kanaän nie, maar telkens die volk opgeroep om die eer aan God te gee. Dit was nie deur die swaard nie, maar deur God se krag en genade wat hulle die oorwinning behaal het (Ps 44). Dit is God wat hierdie spesiale land, die trots van Jakob, die een wat Hy liefhet, aan hulle gegee het (Ps 47).
Die land bly dus altyd God se besitting. Daarom dat Asaf in Psalm 78 die lesse uit die geskiedenis hieroor vir die volk leer. In vers 54-55 word die land God se heilige grondgebied genoem wat Hy vir Israel as ‘n erfdeel laat toeval het. Die land kon net in hulle besit bly as hulle God as die Besitter erken het.
Daarom dat Asaf in Psalm 80 God se handelinge in die verlede met die uitdryf van die nasies en die vestiging van Israel in God se land gebruik as ‘n gebed om verandering. Hy bid dat God hulle sonde sal vergewe en weer soos in die verlede met die Intog en Vestiging Hom oor hulle sal ontferm.
Dit is daarom ook geen wonder dat die verlies van die land met die onderskeie ballingskappe ‘n teologiese krisis (Is God nog ons God?) sowel as ‘n identiteitskrisis (Is ons nog ‘n volk?) vir die volk was nie, soos dit tereg ook in die Psalms verwoord is (Ps 137).
Maar dit alles is op hierdie stadium nog toekomsmusiek vir die volk van God.
Die motivering vir die “heilige oorlog”
Dit is egter ook duidelik dat die motivering vir die “heilige oorlog” teen die nasies van Kanaän nie in die een of ander besondere kwaliteit van die volk Israel self lê nie. Dit moet ons goed verstaan. Die motivering vir die gawe van die land Kanaän aan Israel lê in die eerste plek in God se belofte aan die vaders.
Dit is duidelik uit die verhale van die aartsvaders in Genesis (Abram – Gen 12:7; Isak – Gen 26:3; Jakob – Gen 28:13). Dit is duidelik in die verhale van die Uittog uit Egipte in Eksodus en Levitikus (Eks. 6:3; Lev 14:34). Dit is duidelik in die verhale van die omswerwinge in die woestyn in Numeri (Num 10:29) sowel as in die afskeidspreke van Moses in Deuteronomium (Deut 1:8). Moses het dit daar op die Moabvlakte, reg oorkant Jerigo, duidelik gestel dat die Here Israel uitverkies het in sy liefde en dat God se primêre rede daarvoor was om só die belofte aan die vaders na te kom (Deut 7:7-8).
Dieselfde boodskap dra die boek van Josua ook. God is nie net die Belofte-gewer nie. Hy is ook die Belofte-houer. Hy kom sy beloftes na. Daarom kan en moet die Israeliete sterk en vasberade wees om die land in besit te neem, want dit is die land: “wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het.” (Jos 1:6). Die doel met die Intog en Vestiging in Kanaän is dat hulle die vervulling van die belofte van God kan beleef.
Die “heilige oorlog” lê in die tweede plek in God se besluit om teen die nasies in Kanaän (almal nasate van Gam, Noag se seun) op te tree, soos Moses gesê het: “omdat hulle so goddeloos is. Dit is nie omdat jy volmaak en opreg is dat jy sal ingaan om hulle land in besit te neem nie. Omdat hierdie nasies so goddeloos is, sal die Here jou God hulle verdryf.” (Deut 9:5-6).
God veg daarom aanvanklik alleen (Jerigo), voordat Hy Israel daarna insluit in die volgende veldtogte (Ai en verder). Maar, dit bly altyd onder God se leiding, ook soms teregwysing en veral voorsiening, omdat Hy nie net sy beloftes wil vervul nie, maar ook die afgode en hulle aanbidders wil verwyder uit die land, sodat Hy by sy volk kan bly. Die tema van rus is daarom belangrik. Vergelyk Josua 1:13 met Psalm 95:11 en Hebreërs 4:1-11.
God wil hulle in die land laat rus van die pelgrimsreis deur die woestyn, sodat hulle die kans sou hê om vrugbare arbeid te kan doen in die uitvoering van sy opdrag in Genesis 1-2 om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. Hulle moes die rus in die land ook kon geniet sonder die bedreiging van die ander nasies. Vgl 2 Kronieke 14:6 waar Asa die geleentheid gebruik om vestingstede te bou in die tyd van rus wat die Here gee.
Kanaän se afgodediens en onsedelikheid het hulle dus die land gekos (Gen 15:16; Lev 18:24-30: “Hulle het die land verontreinig en Ek het die land daarvoor gestraf sodat hy sy bewoners uitgespoeg het.”). Reeds met die verhale van die aartsvaders is huwelike met Kanaäniete immers al verbied om die suiwerheid van hulle godsdiens en gedrag te beskerm (Isak bv in Gen 24).
Maar dié rede is sekondêr aan die belofte, want die Here het reeds in die woestyn gesien hoe hardkoppig die Israeliete was. Hulle lojaliteit aan God was telkemale onder skoot.
Daarom beklemtoon die Here reg aan die begin van die veldtog van Josua om die land in te neem dat hulle nougeset aan Hom gehoorsaam moet wees. Dit is slegs as hulle doelgerig God se wet nakom dat hulle nie in die strikke van die afgodery en onsedelikheid van die nasies van Kanaän verstrik sal word nie.
Daarom beveel die Here Josua: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Jos 1:7-9).
Aan die einde van die veldtog, as almal hulle plek in die land gekry het, herhaal Josua hierdie eise van die Here en lei die volk in die hernuwing van die verbond met die Here by Sigem. Hulle: “moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie, dat julle nie by hierdie nasies kom wat nog tussen julle woon, en die naam van hulle gode aanroep en in hulle naam ’n eed aflê en hulle dien en voor hulle buig nie.” (Jos 23:6-7).
Hulle moes waak teen enigiets wat die suiwer liefde vir die Here, en vir Hom alleen, sou bedreig. Dit het beteken dat hulle op geen manier met die nasies wat nog onder hulle gewoon het moes ondertrou het nie, want dan sal hulle: “vir julle strikke en wippe word, swepe op julle rûe en skerp dorings in julle oë, en uiteindelik sal julle verdwyn uit hierdie goeie land wat die Here julle God aan julle gegee het.” (Jos 23:6-13).
View all posts in this series
- Bybelskool oor Josua en Rigters hervat 17 Januarie 2018 - December 6, 2017
- Die vervulling van die belofte - January 17, 2018
- Die leier Josua en die hoëpriester Eleasar - January 18, 2018
- Die viering van die Intog en Vestiging in die Psalms - January 19, 2018
- Twee fases: ‘n “platvee”-veldtog en ‘n “skoonmaak”-veldtog - January 22, 2018
- Die relatiewe waarde van argeologiese en historiese getuienis - January 23, 2018
- Josua in die res van die Bybel - January 24, 2018
- Josua 1 – Wees sterk, wees vasberade, veral in die uitvoering van die wetboek - January 25, 2018
- Josua 2 – Ragab se ontsag vir Jahwe spaar die verkenners se lewe - January 26, 2018
- Josua 3:1 – 5:1 – God lei Israel met ‘n wonder deur die Jordaan - January 29, 2018
- Josua 5:2-12 – Die Godsvolk word bevestig deur die besnydenis en die viering van die paasfees - January 30, 2018
- Josua 5:13-6:27 – Die Here self voer die oorlog teen Jerigo - January 31, 2018
- Josua 7 – Die Here wys met die nederlaag teen Ai dat sy heiligheid ononderhandelbaar is - February 1, 2018
- Josua 8 – Die Here oorwin Ai met leierskap en vernuf - February 2, 2018
- Josua 9 – Die Israeliete tree dwaas op, maar slim vang sy baas - February 5, 2018
- Josua 10 – Josua loop die suide plat in een deurslaggewende veldtog - February 6, 2018
- Josua 11:1-15 – Josua vee die grootste deel van Kanaän plat - February 7, 2018
- Josua 11:16-12:24 – Josua het die hele land ingeneem en as besitting aan Israel gegee - February 8, 2018
- Josua 13 – Josua kry die opdrag om die hele land te verdeel - February 9, 2018
- Josua 14 – Die verdeling van die land wes van die Jordaan begin met Kaleb - February 12, 2018
- Josua 15 – Juda kry hulle erfdeel met besondere vermelding van Kaleb en Aksa sy dogter - February 13, 2018
- Josua 16-17 – Josef kry hulle erfdeel met besondere vermelding van Selofgad se dogters - February 14, 2018
- Josua 18-19 – Die sewe ander stamme kry ook hulle erfdeel - February 15, 2018
- Josua 20-21 – Die asielstede en die stede van die Leviete - February 16, 2018
- Josua 22 – Die volk vind hulle identiteit en eenheid in die wet van God - February 19, 2018
- Josua 23 – Josua roep die leiers op tot gehoorsaamheid aan die Here - February 20, 2018
- Josua 24 – Die leiers en die volk word aan God self verbind in ‘n verbondshernuwing - February 21, 2018