Skip to main content

Twee fases: ‘n “platvee”-veldtog en ‘n “skoonmaak”-veldtog

Sommige geleerdes maak baie van die feit dat daar verskillende perspektiewe in die Bybel self oor die Intog en Vestiging is. Hulle vergelyk bv Josua 11:23 en 21:43–45, wat stellig verklaar dat die hele land ingeneem is, met Josua 13:1–7, 15:63, 16:10 en 17:12–13 wat van ‘n onvolledige inname praat. Dieselfde geld die verskillende perspektiewe oor die volledige verwoesting van Hebron (deur Kaleb) Josua 10:36–39 wat blyk in Rigters 1:10–15 onvolledig te wees.

Kaufmann, ‘n Joodse geleerde, wys egter daarop dat ‘n mens duidelik in Josua ‘n eerste “platvee” veldtog kan identifiseer, wat daarna deur ‘n “skoonmaak” veldtog opgevolg is, soos die boek Rigters dit vertel.  Sy interpretasie van die interne gegewens van die Bybel maak goeie sin van die verhale, en maak selfs uit ‘n logiese hoek sin vanuit ons kennis van die komplekse aard van sulke oorloë reg deur die eeue.

Dink maar terug aan die oorlog in Irak ‘n paar dekades gelede.  Daar was die aanvanklike besetting van die land, waarna dit jare geneem het om ‘n nuwe stelsel te vestig.  Nie dat ek met dié oorlog saamgestem het nie!  Maar, ek gebruik dit net as illustrasie.

Die gebied wat die Here aan die volk belowe word beskrywe as: “van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste” (1:4). Interessant is dat Israel nooit die volle gebied ingeneem of besit het nie. Die Arabiere en ‘n paar ander kleiner volke het die res besit. En tot vandag toe nog is dit veral die twee afstammelinge van Abraham, Isak (Israel) en Ismael (Arabiere), wat die gebied merendeels bewoon.

Die veldtog verloop as volg:

  1. Dit begin by Sittim – 12 km oos van die Jordaanrivier.
  2. Die Jordaanrivier word oorgesteek by Gilgal om in Kanaän in te gaan. Dit was in April (Jos 4:19) toe die rivier vol was.
  3. Hulle kamp by Gilgal sowat 2 km noordoos van Jerigo. Die Israeliete het hulle daar aan God toegewy en ‘n klipaltaar gebou. Ook die paasfees is daar gevier. Dit het ‘n heilige plek geword waar Saul ook later gekroon is (1 Sam 11). Verskeie van die veldslae is van hier af gevoer. En sommige geleerdes verbind die totstandkoming van die boek Josua tot ‘n groot mate aan die kultus van Gilgal (Butler).
  4. Jerigo was die eerste stad wat geval het, een van die oudste stede ter wêreld met hoë amper ondeurdringbare mure, hoewel dit teen hierdie tyd waarskynlik minder imposant was, weens vorige oorloë daarteen.
  5. Die volgende veldslag was teen Ai, waar hulle aanvanklik verloor het, omdat hulle nie die Here se opdrag gehoorsaam het nie, maar ook vanweë die ondersteuning van die mense van Bet-El. Met die tweede veldslag is Ai egter oorwin.
  6. Josua het ná die neerlaag by Ai ’n altaar op die Ebalberg Die volk het in twee verdeel—die een helfte het by die voet van Ebalberg en die ander helfte by die voet van Gerisimberg gestaan (soos dit aanvanklik deur Moses as “eerste orde besigheid” beveel is – Deut 27), ‘n plek wat veral vir die latere Samaritane ‘n heilige plek geword het. Die priesters het met die ark tussen die twee berge gestaan en Josua het die wet van God vir die volk gelees (Jos 8:35).
  7. Die inwoners van Gibeon, Hewiete uit vier dorpies sowat 12 km noord van Jerusalem en 10 km suid van Bet-El en Ai, het onder valse voorwendsels ’n vredesverdrag met Israel gesluit, terwyl hulle weer by Gilgal laer opgeslaan het, maar uiteindelik slawe van Israel geword.
  8. Daarmee het Josua ‘n sentrale strook van die land ingeneem, of onderhorig gemaak, wat die suidelike koalisie van konings van dié in die noorde geskei het. ‘n Klassieke “verdeel-en-heers” strategie.
  9. Van Gilgal af het Josua ‘n groot veldslag teen ‘n suidelike koalisie van vyf van die konings in die Suide gevoer op aandrang van die Gibeoniete. Die geveg het suidwaarts van Gibeon af na die Ajalonlaagte verskuif. Dit was hier waar Josua die Here gevra het om die son en die maan te laat stilstaan sodat hulle die vyand kon verslaan.
  10. Na ‘n klomp van die suidelike stede ingeneem is, het Josua ook Hasor, ’n belangrike stad tussen die Hulemeer en die See van Galilea, ingeneem. Koning Jabin van Hasor het die leërs van omliggende stede gevra om hom te help, maar die Here het die Israeliete bygestaan om hierdie noordelike koalisie te verslaan. Dit het aan hulle toegang verleen tot die ander gebiede in die noorde van Israel.
  11. Josua-hulle het daarna by Silo bymekaargekom, noord van Bet-el (onthou dat dit ook aan Jakob verbind is), om die tent van ontmoeting daar op te rig, die plek waar Eli en Samuel later diens gedoen het. En van daar af is die res van die land onder die stamme verdeel (Jos 18). Die land word verdeel deur Josua en Eleasar onder die 12 stamme, met spesiale reëlings vir die Leviete, soos die Here dit uitgewys en sommige dit versoek het.
  12. Aan die einde van Josua se lewe, bring hy die hele volk by Sigem bymekaar en herinner hulle daaraan dat God die land aan hulle gegee het. Hulle sou dit dus slegs met sy hulp kon behou. Die volk het belowe om na aan Hom te leef en vir die res van Josua se lewe was daar vrede en het die Israeliete nie weer by enige oorlog betrokke geraak nie (Jos 24).

Die groot vraag wat egter na die inname en verdeling van die land ontstaan, is: “Sal die volk getrou bly aan die Here? En die hele verhaal van Israel wat hierna ontvou deur die boeke wat volg – in die Vroeë Profete en later die 15 Skrifprofete – word aan hulle getrouheid aan God al dan nie beoordeel.

Die verdeling van die land

Hier is ‘n kaart uit The Wycliffe Bible Encyclopedia wat jou kan help om die verdeling van die land in perspektief te kan plaas.

Die verskillende lyste wat ons in die boek Josua aantref, kan in twee tipes verdeel word: dorpe en stamgebiede, wat deur die redakteur saamgevoeg is om die land-inname en -verdeling te beskryf (vgl bv Jos 15).

Hierdie gebiede is onder die 12 stamme (matteh) verdeel in uitgebreide familie-groepe (mišpāḥā – soms clans genoem – bv Jos 13:15 [NAV: geslagte]) en kleiner familie-eenhede (bǎyiṯ āḇ huis van vader– bv Rigt 6:15) wat die belangrikste kleiner eenheid in die volk was en saamgestel is uit al die nasate van ‘n lewende voorvader. Levi het net ‘n paar stede in van die stamgebiede gekry in lyn met die opdrag van die Here rondom hulle diens as priesters.

Onthou uit ons vorige blootstelling aan die Pentateug dat Levitikus 25:23 die teologiese rasionaal was wat die besit van die land gereël het: “Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My.

Dit het die kultiese perspektief bevestig – die land is God se land – maar aan die ander kant ook die ekonomiese voortbestaan van die families beskerm, deurdat daar voorsiening gemaak is dat families wat hulle land verloor of verkoop weens watter redes ook al, dit weer kon terugkry. Die verhaal van Rut is ‘n voorbeeld daarvan sowel as dié van Nabot (1 Kon 21).

View all posts in this series

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar