Josua 1 – Wees sterk, wees vasberade, veral in die uitvoering van die wetboek

Josua 1:1-9 – Wees sterk, wees vasberade

Dit is meteens, reg aan die begin van die boek, duidelik dat die Here ‘n uiters geslaagde leierskapsverandering te weeg gebring het. Die Here kommandeer Josua op ná Moses se dood en beveel hom om gereed te maak en deur die Jordaan die land Kanaän binne te trek, hy en die hele volk.  Die belofte van die land gaan nou in vervulling gaan deur hulle gehoorsaamheid aan God se opdrag.

Die Here gee Josua twee bykomende beloftes, die beloftes van oorwinning en God se teenwoordigheid: “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie.” En: “Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie.

Josua kan die uitdaging van die Intog aanpak in volle versekering dat God met hom sal wees. En hierdie belofte word uitgebrei dat dit die roeping wat God vir hom het, insluit. “Jy moet hierdie volk die land in besit laat neem – Wees daarom sterk, want Ek is by jou.”

Die Here beklemtoon daarmee die werklikheid van die belofte. Hy het die land aan hulle gegee, soos Hy aan Abraham (Gen 12:1-7) en Moses (Deut 4:1-5) belowe het. Trouens, ‘n mens kan “dit gee Ek aan julle” as verlede tyd vertaal “dit het Ek aan julle gegee”.

Maar dit bly steeds ook iets wat hulle in besit moet neem. Dit is “elke plek waarop julle voetsool trap” wat aan hulle gegee is en word.

Dié beloftes sal dus vir Josua, en die volk, in vervulling gaan in hulle gehoorsaamheid aan twee opdragte van die Here.

  1. Die eerste is hulle gehoorsaamheid aan elke opdrag van God wat vier keer herhaal word: “Wees sterk, wees vasberade.” – vers 6,7,9,18. Hulle moet doen wat Hy vra.
  2. Die tweede is hulle gehoorsaamheid aan elke woord van God: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie.” Hulle moet luister na wat Hy sê.

Josua moet die wet dus prakties uitvoer in sy lewe. En hoe moet hy dit doen?

  1. Josua moet dit die rigsnoermaak vir alles wat hy sê. Sy woorde moet daardeur bepaal word.
  2. Hy moet dit dag en nag oordink. Die Hebreeuse woord wat hier met “oordink” vertaal word, beteken eintlik “prewel” soos ons dit in Psalm 1 ook aantref. Sy gedagtesmoet dus vol word van die woorde van God.
  3. Hy moet sorg dat hy alles uitvoerwat daarin geskryf staan. Sy dade moet dit ten uitvoer bring. Die Woord moet prakties word in sy lewe.

Kortom, sy hele lewe moet deur die geskrewe Woord van God begelei word.

Dit is die resep vir oorwinning.  Waar die wetboek ‘n rigsnoer word vir alles wat hulle sê en doen, sal hulle slaag met die groot onderneming waartoe die Here hulle roep.

Die Here se aanmoediging van Josua (vgl ook Jos 10:25) word regdeur die OT gevind (Deut 31:6-7; 2 Sam 10:12; 1 Kron 22:13; 28:20; 2 Kron 32:7; Ps 27:14; 31:24), ook in die NT: “Wees manmoedig, wees sterk.” (1 Kor 16:13; 2 Tim 2:1).

Josua 1:10-18 – Wees u net sterk en vasberade!

Josua huiwer ook nie soos Moses met sy aanvanklike roeping nie. Hy tree dadelik op.  Hy begin met die beamptes van die volk en gebruik hulle om die volk op te kommandeer om reg te maak om deur die Jordaan te trek om die land in besit te nee.

Hy sorg ook dat almal inkoop deur baie spesifiek die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam te herinner aan hulle belofte om eers die res van Israel te help om hulle grondgebied in besit te neem, voor hulle terugtrek na hulle eie gebied.  Josua laat hulle ook heel voor trek!

Saam met die res van die volk skaar hulle hulle agter Josua om alles te doen wat hy hulle beveel, en daarmee hulle gehoorsaamheid aan die Here te bewys.  Let op hoe hulle op hulle beurt vir Josua bemoedig: “Wees u net sterk en vasberade.

Ekskursie oor die wyse waarop God met mense praat

Draaipunt in God se kommunikasie met mense

Josua 1 is ‘n baie belangrike draaipunt in die kommunikasie van God met mense. Josua hoef nie meer te wag vir drome nie. God se wil was alreeds duidelik, beide in terme van beloftes sowel as in die bevryding uit Egipte en die begeleiding deur die woestyn.

Josua moes net uitvoer wat God sê.  Hy moes aan die beloftes van God vashou en daarvolgens optree.  Daarvoor het hy die Woord nodig gehad, en baie moed!

God se Woord raak dus toenemend sy belangrikste kommunikasie met sy mense.

Voor Josua het God op baie maniere met mense gepraat

Ons lees van die volgende maniere wat God met mense praat:

  • direkmet die oermense: Adam, Eva, Abel, Kain en Noag ook met natuurtekens, soos die reënboog, en deur engele;
  • steeds direk met die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob, sowel as deur gesigte en engele en dan uiteindelik veral deur dromemet Josef.
  • Wanneer Moses op die toneel verskyn, sien ‘n mens aan die eenkant hoe God in die natuurpraat, die braambos wat brand in die woestyn, die plae wat die Here stuur in Egipte en die donderslae op die berg Sinai wat die gawe van die wet begelei, maar aan die ander kant is daar ook ‘n persoonlike kant waar Moses letterlik so naby aan God kom dat hy toegelaat word om God van agter te sien.

In Eksodus 33 word Moses en God se gemeenskap met mekaar as volg beskryf: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend.” (vers 11).

Met Josua kom daar ‘n verskuiwing 

Ons tref Josua vir die eerste keer aan in Eksodus 17:8-16 in die geveg teen die Amalekiete. En die konflik tussen Amalek en Israel sou baie jare voortduur. Selfs in die verhaal van Ester sou dit nog ’n rol speel – Haman wat die Jode wou uitmoor, was ’n Amalekiet.

Sommige geleerdes dink dat daar ’n dispuut oor “die water uit die rots” by Refidim ontstaan het. Moses het daar met die kierie in opdrag van die Here op ’n rots geslaan waaruit daar toe water uitgeloop het. Amalek wou dié wonderwater vir hulleself inpalm. Moses kies dan vir Josua om ’n weermag saam te stel om die bedreiging van die Amalekiete af te weer. Julle sal die verhaal onthou uit die prentjie van Aäron en Hur wat Moses se arms omhoog gehou het waarmee op ’n bonatuurlike wyse Josua se oorwinning bepaal is.

Maar dan is daar hierdie wonderlike ding wat in vers 14 gesê word: “die Here het vir Moses gesê: ‘Skryf hierdie woorde op in ’n boek as ’n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg”!

Daardie geskrif was dus die begin van wat die Bybel as die woorde van Moses aan ons bekendstel – en dit word hier baie spesifiek en in die eerste plek deur die Here aan Josua gerig.

En daarmee is die patroon vir Josua vasgestel, waarop Josua 1 voortborduur. God praat op baie maniere – selfs met Josua – maar die manier wat God begin verkies, is om deur die geskrewe Woord te praat.

Josua probeer ook op ander maniere na God luister

Die volgende plek waar ons van Josua lees is in Eksodus 24:1-18 waar Josua – hy word as Moses se “assistent” beskryf (vers 13) – saam met Moses verder op teen die berg op bevel van God gaan, terwyl die volk agterbly onder Aäron se leierskap. Nou ons lees nie veel oor Josua se rol in hierdie ongelooflike gebeurtenis nie. Maar dat hy baie geïnteresseerd was in wat daar gebeur, kan ons sonder twyfel aanvaar. Maar, hy word nie in die gesprek met God ingesluit nie. Aan die einde van hierdie 40 dae op die berg tref ons Josua wel aan in gesprek met Moses, moontlik met die terugkeer na die kamp, maar sonder dat dit lyk asof God ook met hom gepraat het (Eks 32:17).

Hierna lyk dit asof Josua Moses nie onder sy oë laat uitgaan nie, en deurentyd naby aan Moses probeer bly, aan die een kant natuurlik om te leer van Moses, maar aan die ander kant moontlik ook om dieselfde ervarings met God te hê as wat Moses gehad het. Ons lees bv in Eksodus 33:7-23 – van verskillende ontmoetinge wat Moses met God in die tent van ontmoeting gehad het. En dan lees ons hierdie interessante mededeling.

Na die verskyning van God aan Moses, is Moses terug kamp toe, “maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.” ( vers 11) Josua het dus alles probeer om in die teenwoordigheid van God te bly, of ten minste so na as moontlik daaraan te kom. Tog het dit nie met hom gebeur nie op dieselfde wyse as met Moses nie.

En so verloop sy verhaal deurgaans. Hy is ’n uitnemende ontwikkelende leier, waarvan sy rol in die storie van die mislukte eerste Intog uitstaan – Numeri 13-15 – waar hy saam met Kaleb, anders as die ander 10 verkenners, gedink het hulle het ’n goeie kans om die land in te neem – met God aan hulle kant – hoewel dit hom die gramskap van die ander verkenners en die volk op die hals haal. En ons weet sy stem het daar ongelukkig nog nie genoeg gewig gedra nie en die volk moes uiteindelik 40 jaar rondtrek in die woestyn.

God praat deur Sy Woord

Hier in Josua 1 tref ons Josua dus uiteindelik aan as die leier van die volk, wat deur Moses aangestel is as sy opvolger (Deut 31) en wat die volk suksesvol in Kanaän inlei.

Maar dit wat ons reeds aan die begin van sy leierskap sien, dat God met geskrewe woorde met hom praat, dít maak die Here nou die fokus van sy hele lewe – soos God dit vandag nog met ons doen – deur die geskrewe Woord.

Weliswaar gebeur daar ook nog wonders in sy lewe. In Jos 5:13 vertel die skrywer ons dat Josua ‘n engel, die leërowerste van die Here, sien, net voor hy Jerigo inval, maar die primêre manier waarop God met hom praat, bly die geskrewe woorde van God.

Josua kry ook die voorreg om self later by te dra tot die Bybel. Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan (Jos 24:26). En so is daar Sameul na hom, en Dawid en die profete en later die NT skrywers, wat almal God se gesproke woorde en hulle nadenke daaroor op skrif gestel het, sodat ons vandag die geskrewe Woord van God in ons hand kan vashou.

View all posts in this series

Josua


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • christamarais111@gmail.com

    Dankie Chris
    Sou ‘n mens kon se dis wat God ook vir elkeen van Sy kinders se?

    • Ja. Psalm 27:14 maak dié opdrag op alle gelowiges van toepassing: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!” Dieselfde geld die opdrag in Psalm 31:25: “Wees dus sterk en hou goeie moed, julle almal wat julle vertroue in die Here stel.

      As ‘n mens Psalm 27:14 letterlik vertaal, dan kom die boodskap vir my nog helderder deur:
      Wag op die Here, wees uiterlik sterk, hou innerlik moed, en wag op die Here.” (In Hebreeus: “Kawweeh ‘êl-Jahwêh, ḥazâk, weja‘ameets libêkâ, wekawweeh ‘êl-Jahwêh.“)

      • Die sterk wees (ḥazâk) beteken om dapper/ferm/oortuig in jou gedrag te wees.
      • Die moedhou (weja‘ameets libêkâ) beteken om jou hart te beskerm van negatiewe gedagtes deur die Here te vertrou en sterk te staan in die oortuigings wat Hy gee.
      • Die wag op die Here (Kawweeh ‘êl-Jahwêh x2) beteken om telkens te soek na en te wag op die Here se lig en beskerming.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: