Josua 7 – Die Here wys met die nederlaag teen Ai dat sy heiligheid ononderhandelbaar is

Josua-hulle lei na die oorwinning oor Jerigo duidelik aan ‘n oormaat misplaaste selfvertroue. Só asof daar nie ‘n ingrype van God was om die oorlog in hulle guns te beslis nie! Hulle leer dié les ook moeilik, want met die afvaardiging van Gibeon doen hulle steeds nie moeite om die Here te raadpleeg vóór hulle hulle optrede beplan nie (Jos 9).

Maar, dit is nie al nie. Sonder die medewete van die leiers van die volk, trouens van enigiemand anders, het Akan van die goed wat aan die Here gewy was, gevat.  En al was dit ‘n enkele persoon wat “troueloos gehandel” het (dieselfde woord word vir die ontrouheid van owerspel gebruik – Num 5:12-13) met die buit van Jerigo, ontvlam die toorn van die Here teen die hele volk Israel.

Josua is nie bewus daarvan nie, maar maak verder die fout om die verkenners se verslag oor Ai te aanvaar, en nie die Here te raadpleeg nie.  Menslike strategiese oorwegings oorheers dus in die veldtog met noodwendige destruktiewe gevolge. Die manne van Ai verslaan die kleiner mag wat teen hulle opgetrek het, en maak 36 Israeliete dood.

Dit het die volk se moed gebreek en Josua en die ander leiers tot verootmoediging gedryf met hulle gesigte in die grond voor die ark van die Here. Hulle het nie net gerou oor die manne wat dood was nie, maar ook oor die feit dat hulle moes vlug voor hulle vyande.

In sy gebed verkwalik Josua die Here vir die Intog, wat aanvanklik so goed verloop het, om hulle net daarna in die land te versaak sodat hulle voor hulle vyande moes vlug. Let op dat sy gebed tog uiteindelik nie net by hulle ervaring bly nie, maar eindig by die feit dat dit God se Naam in gedrang sal bring, soos Moses ook talle kere in die woestyn aan die Here uitgewys het.

Die Here is egter helder in sy antwoord op die gebed van Josua. Hulle hoef nie te rou en met hulle gesig in die grond te lê nie. Hulle moet regstel wat verkeerd is. Die voorskrifte van die verbond is oortree. Hulle het gesondig en goed gevat wat aan die Here behoort. Daarmee het hulle self nou mense geword wat die toorn van die Here verdien en vernietig moet word!

Dit dra die boodskap dat die teenwoordigheid van die Here ‘n heilige teenwoordigheid is. Waar Hy by sy mense is, beskerm en bewaar Hy hulle en laat Hy hulle voorspoedig wees in alles wat Hy hulle beveel. Maar waar nie volgens sy voorskrifte opgetree word nie, sal die volk van die Here nooit staande kan bly nie.

Hulle moes dus hulleself reinig deur die goed wat gevat is, terug te besorg, en die familie van Akan, die man wat waarskynlik deur die Unim en Tummim of een of ander vorm van ‘n lotery aangewys is, uit te wis.

Dit is vir my swaar om te lees dat Akan sy sonde bely: “ek wou dit (silwer en goud) baie graag hê”, maar dat hy en sy familie steeds uitgewis word. Hierdie oortreding van die tiende gebod (jy mag nie begeer nie) word nie oorgesien of vergewe nie (Eks 20:17; Deut 5:21). Soos Eva ook in die tuin na die boom van die kennis van goed en kwaad gekyk het, die vrugte begeer het, en die straf daarvoor moes dra (Gen 3:6).

Maar, Josua se opmerking daaroor bring perspektief, letterlik vertaal: “Hoekom het jy oor óns gebring moeilikheid? Moeilikheid bring die Here oor jóú vandag!” Sonde het gevolge, en in dié geval het 36 manne gesneuwel weens Akan se sonde. Omdat dit ander families in rou gedompel het, en die heiligheid van die Here aangetas het, word die hele familie uitgewis en die buit van die Here teruggeneem.

Daarom het Israel die plek die naam van Akorlaagte gegee, want Akor beteken “moeilikheid”, “onrus” of “ramp”. Eers daarna het die Here se toorn bedaar.

Uit hierdie verhaal kom die volgende twee perspektiewe.

1. Akan se verhaal bevestig dat God sonde nie sonder meer oorsien nie

Josua se hantering van die sonde van Akan vind nie net ‘n weerklank in die OT nie. Agab se nageslag word gestraf weens sy sonde teen Nabot (1 Kon 21:21). Daniël bely die sonde van die voorgeslagte asof dit die mense van sy tyd se sonde is (Dan 9). Ná die terugkeer uit ballingskap begelei die Leviete die hele volk in skuldbelydenis op ‘n vasdag, nie net vir hulle eie sondes nie, maar vir dié van die voorgeslagte (Neh 9:2).

Hierdie hantering van sonde vind egter ook ‘n weerklank in die NT met Petrus se hantering van die sonde van Ananias en Safira (Hand 5). Omdat hulle ‘n deel van dit wat hulle vir die Here beloof het, teruggehou het, word hulle uitgewis.

Ons sal goed doen as ons nie dié gedagtes verban na die OT of die oorgangstyd met die NT nie. Dit geld elke gelowige, maar ook selfs die geloofsgemeenskap. Wanneer gelowiges in gebreke bly om die sonde van gemeentelede te hanteer, dra dit immers destruktiewe gevolge vir die hele gemeente.

Vergelyk twee van Paulus se verskeie opmerkings hieroor.

In die geval van onwaardige deelname aan die nagmaal het dit ook fisiese gevolge in die gemeente – swakkes, sieklikes en sterfgevalle (1 Kor 11:27-32). Die gemeente word opgeroep tot selfondersoek en ‘n waardige deelname aan die nagmaal. Dit het veral ingesluit hoe met die armer lede van die geloofsgemeenskap by die nagmaal omgegaan is.

In die geval van bloedskande beveel hy die gemeente om daarmee te handel deur berisping en die vermyding van geloofsgemeenskap met die oortreders (1 Kor 5:2). Vergifnis en bemoedig kom egter ook in spel as die aanvanklike handeling die gewenste gevolg gehad het (2 Kor 2:5-11; 13:5-10).

Die heiligheid van God binne die gemeenskap van die gelowiges is nie onderhandelbaar nie. Nie in terme van ons geestelike lewe nie.  Ook nie in terme van ons gedrag nie.  Sonde moet hanteer word, want daarsonder sal ‘n geestelike lewe altyd mank gaan aan oortuiging en vrug.

Daarvan sal die verhaal van Ai vir altyd ‘n getuienis bly.

Maar Ai word ook ‘n baken van hoop, soos die volgende hoofstuk sal vertel …

2. Die Akorlaagte word ook ‘n poort na ‘n nuwe toekoms

Die OT verwys ook terug na die Akorlaagte op twee plekke, maar verkondig daarmee saam die hoop wat die Here in die toekoms sal bring om die “moeilikheid” van die verlede om te keer waar mense vrede en voorspoed sal beleef in hulle nougesette navolging van die Here se wil:

  • 65:10 “Die Saronvlakte sal ’n weiveld wees vir die kleinvee, die Akorlaagte ’n lêplek vir die beeste, vir dié uit my volk wat vra na my wil.
  • Hosea 2:13-19: “Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte ’n poort na ’n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het. Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as ’n Baäl beskou nie. Ek sal sorg dat jy die name van die Baäls nie weer noem nie en dat jy hulle nooit weer aanroep nie. Dié dag sal Ek vir Israel ’n ooreenkoms sluit met die wilde diere, die voëls en alles wat op die grond kruip. Ek sal die wapens vernietig en ’n einde maak aan oorloë in die land sodat daar rus en vrede kan wees. Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.

Die gevolge van die sonde word deur sy onverbreekbare trou verbreek, want in sy genade bind Hy ons aan Homself sodat ons sy liefde kan beantwoord, iets wat in die NT met die koms van Jesus ‘n werklikheid geword het.

View all posts in this series

Josua


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Die feit dat Akan sy sonde bely en tog gestraf word het my vreemd opgeval. Ek probeer dit dan verstaan teen die feit dat God regverdig is, en sonde straf. Ek gaan haal die regverdigheid van God uit die sondeval (Gen 3) met die oordeel oor Adam en Eva. Ek verstaan dit ook so dat God vergewe, maar dat die gevolge van die sonde nie ontkom of opgehef word nie.

    • Jy is reg. Met die NT breek die genadetyd aan, waarin Jesus die straf vir die sonde dra, sodat elkeen wat in Hom glo, nie net vergifnis sal ontvang nie, maar ook die ewige lewe. Dié wat dit nie aanvaar nie, bly in die sonde en smaak uiteindelik die ewige dood.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: