Skip to main content

Josua in die res van die Bybel

Josua in die res van die OT

Na Josua as persoon word net drie keer in die res van die OT terugverwys.

1.  Die eerste is in Rigters 1-2 (x7) waar telkens terugverwys word na die Intog en Vestiging in Kanaän onder sy leiding. Dit skakel die twee boeke Josua en Rigters daarmee ook aan mekaar.

2.  Die tweede keer is in 1 Koning 16:34 waar van die vervulling van sy vloek in Jos 6:26 vertel word. Josua het plegtig verklaar dat die Here die man sal straf wat dié stad, Jerigo, probeer herbou: “Dit sal hom sy oudste seun kos as hy die fondament lê en sy jongste as hy die poortdeure hang.

Dit het ses eeue later gebeur toe Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou het. “Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.

Interessant genoeg is daar later ná die ballingskap mense van Jerigo wat teruggekom het en bv Nehemia gehelp het met die herbou van die mure van Jerusalem (Esra 2:24; Neh. 3:2; 7:36).  Die feit dat Jerigo herbou is, het dus nie net negatiewe gevolge gehad nie.  Daar was ook Jode van Ai wat ná die ballingskap weer teruggekeer het na die land van belofte (Esra 2:28; Neh 7:32).

3.  Die derde keer is in ‘n geslagregister in 1 Kronieke 7:27 waar sy naam gelys word.

Josua in die NT

Josua word net 2 keer in die NT genoem. Stefanus herroep Josua se leiding met die Intog in sy toespraak voor die Joodse Raad (Hand. 7:45) en die Hebreërskrywer gebruik die Intog onder leiding van Josua as ‘n aanduiding van die onvolledige rus wat dit vir die volk van God gegee het. Die volle rus het eers in Jesus aangebreek.

Daar is egter meer verbande met die boodskap van die NT as ‘n mens in gedagte hou dat Jesus eintlik ‘n Verlosser is soos Josua.  Dit sien ‘n mens op die volgende plekke in die NT:

  1. Deurdat Maria die opdrag kry om haar seun Jesus te noem (Matt 1:21), trek die NT alreeds ‘n sterk verband met Josua van die OT. Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua. Soos Josua die volk die beloofde land moes binnelei, só kan dieselfde van Jesus gesê word. Die beloofde land waarheen Jesus egter gelowiges lei, is die koninkryk van God wat uiteindelik ‘n nuwe hemel en aarde insluit.
  2. Jesus eindig sy aardse lewe op ‘n berg (Matt 28), soos Moses dit ook gedoen het (Deut 34). Soos Moses vir Josua in opdrag van die Here gestuur het om die beloofde land binne te trek (Deut 31:32), só stuur Jesus die dissipels die wye wêreld in om die boodskap van die koninkryk aan al die nasies te gaan verkondig (Matt. 28:18-20). Soos Moses beklemtoon het dat Josua en die volk alles moet doen wat die Here hulle deur sy bediening beveel het (Deut 31:12), só doen Jesus dit ook (Matt. 28:20).
  3. Soos Josua rus vir die volk gebring het in die beloofde land (Jos 11:23; 21:44), só doen Jesus dit ook (Hebr. 4:1-11; 12:1-2).

Die boek Josua (en die persoon van Josua) vorm dus ‘n integrale deel van die verhale wat deur die NT as aansporing (en soms ook as waarskuwing) vir gelowiges aangehaal word.  Ons moet dit dus só lees, as voorbeeld verhale in ons verhouding met die Here Jesus en mekaar op ons reis na die ewige bestemming wat God vir ons belowe het (1 Kor. 10; Rom 15; Hebr 4).

Indeling van die boek

Ons gaan die boek hoofstuk vir hoofstuk lees in sy 4 hoofdele:

  1. Israel trek die land Kanaän binne (1:1-5:12)
  2. Israel neem die land in besit (5:13-12:24)
  3. Die land word verdeel onder die 12 stamme (13:1-21:45)
  4. Die volk hernuwe hulle verbond met die Here (22-24)
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar