Bybelskool oor Josua en Rigters hervat 17 Januarie 2018
Ek beplan om Josua in die eerste kwartaal 2018 hoofstuk vir hoofstuk deur te lees. Ek begin DV 17 Januarie 2018. Daarna beplan ek om Rigters deur te lees vanaf 21 Februarie 2018.
‘n Lusmaker
Die boek Josua is die eerste een van die Vroeë Profete in die Ou Testament. Die ander is Rigters, 1-2 Samuel, en 1-2 Konings (wat jy by die skakels kan bereik en hoofstuk-vir-hoofstuk kan deurlees).
Die boeke word profeties genoem omdat die doel van die beskrywing van dié verhale van Israel was om vanuit ‘n teologiese en Goddelike perspektief te beskrywe wat en hoe dinge gebeur het sodat dit as geestelike onderrig vir die volk kan dien.
In Josua handel die profetiese onderrig oor die inname en verdeling van die land Kanaän, veral uit die hoek van die suksesse wat onder die leiding van Josua behaal is in hulle gehoorsaamheid aan die roeping en begeleiding van die Here self.
Interessant is dat ons met die boek Josua ‘n duidelike proses begin raaksien van die skrifstelling van die uiteindelike OT. Die skrifstelling van die Bybel is deur Moses begin (Eks 24:4) en het die hart van die wetboek gevorm wat deur die Leviete bewaar is in die Tabernakel (Deut 31:9). Die wetboek was bedoel om deur hulle en die ander leiers bestudeer te word as rigsnoer vir die lewe.
Onthou ook dat die naam van die boek Deuteronomium die “tweede wet” beteken. ‘n Afskrif van die wetboek is aan die leiers gegee – veral later ook aan die koning – om gereeld te lees en in alles as rigsnoer te gebruik: “Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik. Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe.” (Deut 17:18-19).
Hierdie wetboek raak dus die boek wat Josua sy eie maak (Jos 1:7). Hy kry ook die voorreg om later die wetboek aan te vul (Jos 24:26). Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan. In sy tyd was daar ook nog die Boek van die Opregte (Jos 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is).
Ons sien dus hier by Josua die begin van ‘n kern-kanon (kanon beteken “maatstaf“), die begin van die Bybel. Later sou Samuel ook regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam 10:25) en dit saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar. Van tyd tot tyd is die verhale van Josua opgedateer (van die stede in Jos 15 het moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom) om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou.