Skip to main content

Die relatiewe waarde van argeologiese en historiese getuienis

My aanpak in hierdie Bybelskool is om met die verhale te werk soos ons dit in die Bybel het, want dit is in dié teks wat gelowiges deur die eeue God se woord gehoor het. Ek wil hierdie gelowiges navolg en jou help om in jou refleksie en nadenke oor die teks God se woord ook vir jou lewe te hoor.

Dit beteken natuurlik nie dat ek oogklappe aansit vir die navorsing wat oor die eeue gedoen is, en die resultate wat onder andere uit die argeologiese en historiese navorsing na vore gekom het nie.  Daar is groot waarde daarin opgesluit, hoewel ‘n mens ook moet erken dat dit ‘n beperkte waarde het.

Die waarde van die argeologie en historiese navorsing

Argeologie is ‘n wetenskap wat sin probeer uitmaak uit die artefakte wat deur opgrawings opgediep word. Ontdekkings by die volgende plekke gee ‘n mens ‘n insiggewende kykie in die kultuur, taal, godsdiens en lewe van die verskillende volke in Kanaän:

  • Amarna – oor die stadstate kultuur in Kanaän,
  • Mari – oor die nomadiese lewenswyse van die aartsvaders,
  • Nuzi – oor gebruike soos dié waar ‘n slavin as vrou vir ‘n man gegee kan word as die vrou nie self kinders kan hê nie, en
  • Ugarit – oor die Kanaänitiese afgodediens.

Die Amarnabriewe bevat bv verskeie briewe wat vanuit Kanaän aan die konings van Egipte gestuur is, in Babilonies, wat moontlik die diplomatieke taal van daardie tyd was. Die briewe skets ‘n prentjie van ‘n land met stadstate waarvan die plaaslike vorste onderling óf in vyandskap óf in vrede met mekaar gelewe het.

Soms was hulle dus in koalisies met mekaar verbind, soos ons uit Josua ook kan aflei. Van die Kanaänitiese woorde wat in die briewe ingevoeg is, kom ook ooreen met van die Hebreeuse woorde in die Ou Testament.

In sommige van die briewe is daar ‘n woord habiru wat met die Israeliete verbind kan word, veral in die begin stadium met die Intog, hoewel later daar ook ‘n onderskeid tussen die Israeliete en die “Hebreërs” gemaak is (1 Sam 14:21).

Die spykerskriftablette van Ugarit het ons kennis van die Baäl godsdiens verdiep sowel as ons kennis van die wyse waarop die offerkultus gewerk het. In die een epos van Baäl blyk dit dat die Baälgodsdiens met ‘n panteon (godevergadering) gewerk het, waarin Baäl as ‘n kragtige strydgod geteken word. Hy was ook die vrugbaarheidsgod wat verantwoordelik was vir die seisoene en die groei van die oes.

Die verskil met die God van Israel is duidelik: Baäl is die verpersoonliking van die natuurmagte, hy is die reën, hy is die weerligstraal, hy is die vrugbaarheid self. Die God van Israel staan egter bo die natuurkragte en veroorsaak die reën, Hy veroorsaak die weerlig en vrugbaarheid.

Daarby gaan Baäl op sikliese wyse dood (om weer op te staan) terwyl God as die God van die doderyk geteken word, wat die lewe en die dood in sy hand het, wat ewig lewe. Uit hierdie beskrywing blyk alreeds duidelik hoe radikaal die godsdiens van Israel teenoor die Baälgodsdiens te staan gekom het.

‘n Hele aantal kontrakte in Ugarities is ook opgediep wat wys hoe die regstelsel van daardie tyd gelyk het en het ons insig in Bybelse wette verdiep..

Die beperkinge van die argeologie en historiese navorsing

Baie keer is die antwoorde wat die argeologie en ander historiese navorsing gee op historiese vrae egter onvolledig. Dit hang af van die beskikbaarheid van artefakte en dokumente wat weens die lang tydsverloop aan die verwering van die elemente en die wispelturigheid van die bewaring daarvan uitgelewer is

Baie selde kan ‘n opgrawing ook presies met ‘n historiese stad se skriftelike storie verbind word wat beteken dat jy nie maklik die resultate van die argeologie direk met die Bybelse getuienisse kan vergelyk nie. Dan verskil geleerdes ook soms radikaal in hulle interpretasie van presies dieselfde data.  Dit bly daarom altyd ‘n voorlopige en beperkte wetenskap.

Desnieteenstaande is daar tans min verskil oor die oorhoofse feit dat daar uit die opgrawings blyk dat ‘n aantal stede in Kanaän in die tweede helfte van die tweede millennium vC deur een of ander gewelddadige menslike proses verwoes is (en nie deur iets soos aardbewings of ‘n ander natuurlike ramp nie) soos veral uit die werk van Weippert en Yadin blyk (wat die vroere werk van Albright en Bright bevestig).

Van hierdie stede is herbou, soms op dieselfde plek, soms op ‘n naasliggende plek (soos Jerigo), en vertoon ‘n beduidend ander kultuur en argitektuur. Maar om meer as dit histories te sê, waaruit ‘n meer objektiewe historiese prentjie van die Intog in Kanaän gevorm sou kon word, is glad nie so eenvoudig nie.  Dit is wel duidelik dat daar ‘n Intog en Vestiging van die volk Israel in Kanaän in die tweede helfte van die tweede millennium vC was. Dit is vir ons lees van die Bybel heeltemal genoeg.

Die mure van Jerigo

Deur die loop van die twintigste eeu is daar uitvoerig opgrawings gemaak om die verhaal van Jerigo histories te probeer verifieer. Julle sou waarskynlik kennis geneem het van die kontroversie wat daaroor bestaan, en moontlik ook verwarrende menings daaroor gelees of gesien het.

Daar is weliswaar min data uit die opgrawings van Jerigo beskikbaar oor hierdie spesifieke tyd, maar tog heeltemal genoeg om te kan bewys dat Jerigo in die 14de eeu vC bewoon was met die Intog en Vestiging van Israel, en dat die Bybelse verhaal daarom nie argeologies of histories gesproke ‘n legende is nie (Negev: The Archaeological encyclopedia of the Holy Land).

Argeoloë erken dat die min data oor die 14de eeu vC onder andere is weens die talle opgrawings daar. Jerigo bestaan immers meer as 10 000 jaar en daar is baie opgrawings al daar gedoen. Daar is ook ‘n pad wat gebou is oor ‘n deel van die ruïnes van Jerigo. Dit het bygedra tot die vernietiging van data uit daardie tyd.

Dat daar dus min getuienis gevind kon word vir die bestaan van stadsmure uit die tyd van Josua is begryplik, gegewe die effek van erosie, sowel as die verbod van Josua op enige nuwe bouwerk op die ruïnes van Jerigo (Jos 6:26).  Dit het gegeld tot in die tyd van Elia in die agtste eeu vC (1 Kon 16:34; 2 Kon 2:4 – vgl Achtemeier), hoewel die bouwerk uit hierdie tyd ook nie in die opgrawings opgetel word nie.

Ten spyte van die geweldige erosie wat daardie tyd in die opgrawings kenmerk – wat natuurlik die interpretasie bemoeilik – is daar heeltemal genoeg gegewens om Jerigo as bewoonde stad in die tyd van die Intog te kan plaas.  Daar is bv getuienis van bouwerk wat aan ‘n nedersetting uit daardie tyd moes behoort, sowel as potskerwe, en reste van geraamtes.

Die argeoloog Garstang het daarom reeds vroeg in die twintigste eeu uit sy navorsing die datum van die oorwinning oor Jerigo op nie later as 1385 vC gestel nie, ‘n datum wat perfek by die Bybelse datering inpas. Dit is deur die moderne argeoloog Bryant Wood ‘n dekade gelede bevestig wat die vorige kritiek daarop van bv Kenyon in die vyftigerjare as ongeldig bevind het (Mitchell en Karen in hulle artikel “Jericho” van 2003 in die Holman Illustrated Bible Dictionary).

Wat dus seker is, is dat die storie van ‘n Intog deur die volk Israel ‘n historiese basis het. Argeologiese gegewens te same met ander buite-Bybelse historiese gegewens bevestig dit.

Ek het vroeër geskryf oor die voorkoms van die naam Israel op die Merneptah stele van ongeveer 1220 vC sowel as die onlangse fonds van ‘n standbeeld waarop die naam van Israel ook voorkom en wat uit die laat 15de eeu vC dateer.  Ook hierdie gegewens gee historiese ondersteuning aan die verhale wat die Bybel oor die tyd van Moses en Josua vertel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar