Skip to main content

Josua 20-21 – Die asielstede en die stede van die Leviete

Die asielstede kom volgende aan die beurt.

Die Here het reeds hierdie voorsiening bó aan die lys geplaas van die genadige sorg wat daar vir mense moes wees waar hulle deur toevallige onbeplande moord die sesde gebod (jy mag nie doodslaan nie) oortree het (Eks 21).

Moses het aanvanklik ses stede uitgesit vir hierdie doel – drie wes en drie oos van die Jordaan – sodat daar ‘n regverdige beslissing in die geval van moord gevel kon word, sodat die familie van die oorledene nie onregverdige wraak sou neem nie (Num 35). Hy het in sy eerste preek oor die wet uitgebrei oor die drie stede oos van die Jordaan toe Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse die gebied vir hulleself toegeëien het (Deut 4) en in sy laaste afskeidspreek die praktyk daarvan met voorbeelde uitgespel (Deut 19).

Die Here beveel Josua nou om uitvoering aan dié reëling te gee sodat iemand wat hieraan skuldig is, na een van dié stede toe kan vlug. By die ingang van die stadspoort kan hy sy saak aan die leiers van die stad stel waarop hulle hom dan asiel kan verleen in die stad. Dit het ‘n woonplek ingesluit.

Interessant genoeg moes die persoon dan daar bly vir so lank as wat die hoëpriester wat hom vrygespreek het, sou lewe. Eers as die hoëpriester dood is, kon die persoon na sy plek van oorsprong terugkeer en mag die ander familie nie meer teen hom opgetree het nie.

Dit wil voorkom asof die hoëpriester se dood ‘n soort versoening gedoen het vir die lewe van die oortreder, ‘n verskuilde tipe van Christus se soendood in die NT. In Christus het ons as gelowiges die asiel vir al ons sonde, want Hy is ons volkome versoening (Hebr 9:11-10:28).

Kedes in Naftali, Sigem in Efraim, en Hebron in Juda is binne die beloofde land afgesonder. Beser in Ruben, Ramot in Gad en Golan in Manasse is oos van die Jordaan afgesonder.

Die stede van die Leviete kom volgende aan die beurt.

Die stede wat deur die familiehoofde afgestaan is aan die Leviete was ‘n manier waarop hulle dankie gesê het vir die erfdeel wat die Here vir hulle gegee het. Hulle kom by die heiligdom van Silo bymekaar en loot hoe die stede verdeel sou word tussen die drie Levitiese groepe (vgl Numeri 3-4 vir ‘n beskrywing van hulle verantwoordelikhede).

  • Die Kehatgroep – hulle het in die woestyn vir die Tabernakel self, die heiligdom en sy meubels gesorg – kry dertien stede met hulle weivelde in die stamgebied van Juda, Simeon, en Benjamin, dws in die suide van die land naby Jerusalem. Daarby kom tien stede in die noorde in Efraim, Dan en die halwe Manasse wes van die Jordaan.
  • Die Gersongroep – hulle het in die woestyn vir die bedekking van tente en seile van die Tabernakel gesorg, die besondere gewyde voorwerpe – kry dertien stede met hulle weivelde in die stamgebied van Issaskar, Aser, Naftali en die halwe Manassestam oos van die Jordaan.
  • Die Merarigroep – hulle het in die woestyn vir die struktuur van die Tabernakel, die raamwerk en gereedskap, gesorg – het twaalf stede met hulle weivelde gekry in die stamgebied van Ruben en Gad oos van die Jordaan, en ook in Sebulon binne die land.

Hulle het dus altesaam 48 stede met hulle weivelde gehad.

Die skrywer sluit dié verdeling van die land af met die teologiese perspektief dat dit alles in vervulling was van die Here se belofte:

Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het. Hulle het dit in besit geneem en daar gaan woon. Die Here het hulle na alle kante toe rus gegee soos Hy met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het. Nie een van al hulle vyande kon teen hulle standhou nie. Die Here het al hulle vyande in hulle mag oorgegee. Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.

Inderdaad! Op God se beloftes kan ‘n mens staatmaak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.