Skip to main content

Josua 23 – Josua roep die leiers op tot gehoorsaamheid aan die Here

Josua sluit af met twee toesprake, albei aan die einde van sy lewe. Soos die aartsvaders Jakob en Josef, en soos die groot profeet Moses, só gee Josua sy finale woorde van bemoediging en aanmoediging.

Die een toespraak is gerig op die leiers en wy uit oor God se vervulling van sy beloftes aan hulle – Josua 23. Die ander toespraak is gerig op die hele volk en begelei hulle in die hernuwing van hulle verbond met God in Sigem, die plek waar Josua sy grondgebied gekry het – Josua 24.

Josua praat met die leiers, die hoofde, die regters, die ampsdraers, en herinner hulle aan die feit dat God vir hulle goed was deur ander nasies se land vir hulle te gee. Hy het vir hulle die oorlog gevoer om sy beloftes vir hulle in vervulling te laat gaan. Selfs oor die dele van die land, en oor dié nasies wat nog tussen hulle woon, sal die Here vir hulle oorwinning gee. Iets wat ons in Rigters verder van sal lees.

Josua herhaal sy sterk appèl aan hulle dat hulle: “sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses.” Hulle moet, soos Josua dit regdeur sy lewe gedemonstreer het, nie daarvan links of regs afwyk nie, sodat hulle nie by afgodery betrokke raak nie.

Hulle moet hulle daarop toelê om: “die Here julle God lief te hê.” As hulle ’n ander pad gaan loop en met die nasies ondertrou wat nog tussen hulle woon, dan sal die Here ook sy uitroei aksie staak.

Die gevolg sal wees dat die ander nasies: “vir julle strikke en wippe word, swepe op julle rûe en skerp dorings in julle oë, en uiteindelik sal julle verdwyn uit hierdie goeie land wat die Here julle God aan julle gegee het.

Josua weet dat sy paadjie op aarde ten einde loop. Maar net so seker as sy komende dood is die feit dat die Here nie een van al die goeie beloftes wat Hy oor hulle gemaak het vir hulle onvervuld laat bly het nie: “Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervuld gebly nie.”

Maar God se beloftes sluit nie net die goeie in waarmee Hy hulle seën nie. Dit sluit ook sy toorn in, as hulle die verbondsverpligtinge wat Hy op hulle gelê het, nie nakom nie. Ongehoorsaamheid sal hulle nie net blootstel aan die rampe wat God oor hulle sal bring nie, soos Moses in Deuteronomium 27-28 belowe het nie, maar hulle uitroei uit die goeie land wat Hy hulle gegee het.

Gehoorsaamheid het gevolge – God wat sy beloftes van seën vervul en waarmaak. Ongehoorsaamheid het ook gevolge – God wat sy beloftes van straf vervul en waarmaak.

Boodskap

Dieselfde aanmoediging kom aan die adres van Christene in die NT. God se genade kom tot sy volle werking in gehoorsaamheid aan Hom.

Soos Paulus dit in sy brief aan die Efesiërs stel: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” (Ef 2:8-10).

Genade is ‘n geskenk wat inhou dat ons ons lewe aan gehoorsaamheid wy. Alle gelowiges moet hulle: “met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fil 2:12-13). Gehoorsaamheid is ‘n gewillige oorgawe aan God se wil vir jou lewe.

Paulus is ook ernstig daaroor dat dít nie net ‘n algemene gehoorsaamheid is nie. Dit is baie spesifiek in terme van bv die huwelik waar binne die geloof getrou moet word (1 Kor 7; 2 Kor 6). Dit toon ‘n verband met die verbod op huwelike met ander nasies in Josua. Die verbod het natuurlik met geloof te make, nie met etnisiteit nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!