Josua 9 – Die Israeliete tree dwaas op, maar slim vang sy baas

Die oorwinnings oor Jerigo en Ai het die hele Kanaän in rep en roer gekry. Al die nasies van Kanaän wes van die Jordaan het besef dat hulle sal moet saamstaan om die aanslag af te weer. Wat hulle moed gegee het, was die aanvanklike nederlaag teen Ai as gevolg van die sonde van Akan. Israel was dus nie só onoorwinlik as wat dit begin lyk het ná Jerigo nie.

Dit wys die destruktiewe gevolge van die sonde, selfs al is dit net een persoon s’n. Wie weet hoe dinge kon verloop het as Akan nié gesondig het nie? Dink net wat die effek op Kanaän kon gewees het as dieselfde lot vir Ai as vir Jerigo getref het! Verdere oorlogvoering kon miskien vermy gewees het as die hele Kanaän eerder verdrae probeer sluit het met Israel, óf nog beter, soos Ragab in die Here begin glo het.

Die inwoners van Gibeon, deel van die Hewiete van Kanaän, het egter ‘n slinkse plan bedink om hulleself te vermom as vreemdelinge wat met Israel by Gilgal ‘n verdrag wou sluit. Hulle wou direkte konfrontasie vermy en ten minste uitwissing vermy, selfs al het hulle die gevaar geloop om Israel se slawe te word.

Josua-hulle was bedag op die moontlikheid van bedrog, maar het nie die Here geraadpleeg om die waarheid van dié situasie uit te vind nie. Hoe jammer! Hulle het geval vir die heuning om die mond smeerdery.  Soos die skrywer sê: “Die Israeliete het na die padkos gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie.” ‘n Waarskuwing aan elkeen van ons, maak nie saak in watter situasie ons onsself bevind nie.

Josua en die ander leiers het dus die Gibeoniete goed behandel en met hulle ’n verdrag gesluit, téén die eksplisiete opdragte van die Here in. Let op dat hulle benewens die Here, ook nie die volk geraadpleeg het nie. Selfs dié kommunikasie kon hulle moontlik al van verkeerde besluite gevrywaar het. Maar helaas, die leiers tree onafhanklik op en veroorsaak só dat die Here se opdrag om almal in Kanaän uit te wis ‘n al hoe meer onhaalbare droom word.

Drie dae later het die nuus egter gebreek dat die Gibeoniete hulle ‘n rat voor die oë gedraai het, en dat hulle eintlik Kanaäniete was. Die Israeliete het onmiddellik vertrek om die waarheid vir hulleself te gaan vasstel, en by die stede van die Gibeoniete uitgekom: Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim, stede wat later ‘n rol sou speel in verskeie verhale van Israel. Al die stede sou ook uiteindelik in die stamgebied van Benjamin val.

Die Israeliete moes egter hou by hulle ooreenkoms, want anders sou hulle met nog minder integriteit opgetree het. Maar hulle moes toe die gramskap nie net van die Here trotseer nie, maar ook van die volk wat gemor het dat hulle ook nie geraadpleeg is nie.

Ironies genoeg word die Gibeoniete se misleidende versoek: “Ons wil onderdane wees”, hulle uiteindelike lotsbestemming! Hulle kry dus wat hulle gevra het. En daarmee kon die volk ook tevrede gestel word, deurdat die Gibeoniete houtkappers en waterdraers van die hele volk geword het.  Hulle is dus tot ‘n dienskneg bestaan verdoem deur hulle verraderlike optrede.

Die Gibeoniete het dié reëling van Josua aanvaar. Hulle het in ruil vir beskerming die onderdane van die Israeliete geword, interessant genoeg ook in diens van die altaar van die Here op die plek wat die Here later sou kies, Jerusalem. Slim vang dus sy baas!

Tog is dit op ‘n vreemde manier ook ‘n stuk evangelie. Net hierna word dié verbintenis aan Gibeon getoets en moet Josua-hulle hierdie bondgenote van hulle verdedig (Jos 10). Dit lei tot die son-stilstand wonderwerk in Gibeon en die Ajalon laagte. Die onbedoelde uitkoms van hierdie oorwinning is dat Israel die suidelike koalisie kon baasraak. ‘n Verleentheid word dus ‘n geleentheid.

Gibeon word jare later ook die plek waar Salomo sy openbaring van die Here kry wat ironies genoeg lei tot die gawe van sy allesoortreffende wysheid (1 Kon 3). Die dwaasheid van ‘n Josua word omgekeer in die wysheid van ‘n Salomo.

View all posts in this series

Josua


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Neels Hubinger

    More Chris, weer eens dankie dat ons jou kan volg op hierdie historiese, maar ook toepaslike reis na God se plan met sy volk.
    Ek het ‘n vragie oor jou verstaan en perspektief oor die praktiese wyse waarop Jerigo verower is. Toe ek gister langs die see stap in die Strand, wonder ek hoe mens die 7 dae se “omloop & verowering” prakties moet verstaan in die lig van die Wet dat daar 6 dae gewerk moet word, maar die sewende is ‘n dag van rus. Dink jy die opdrag van God aan Josua is in 7 opeenvolgende dae uitgevoer, of sou daar ‘n rusdag in die week wees? Ek wonder maar net.

    Vriendelike groete

    • Hi Neels. Die kommentare fokus op ‘n kombinasie van twee Skriftradisies as agtergrond vir die sewe dae se liturgiese prosessie om Jerigo.

      1. Die eerste is die skeppingstradisie wat in herinnering geroep word. Soos die ses skeppingsdae uitmond op die sewende dag se rus (Gen 1), só gebeur dit ook met hierdie liturgiese prosessie om Jerigo. Die sewende dag bring afhandeling en afronding met die oorwinning oor Jerigo (Jos 6).
      2. Die tweede is die Uittogtradisie met die Paasfees en die fees van die ongesuurde brood. Dit het ook sewe dae aangehou en het geëindig met die viering van die oorwinning oor Egipte en die rus waarheen God hulle nou na Kanaän gaan lei (Eks 12-13). Onthou dat Israel ook só pas die Paasfees by Gilgal gevier het, waarin dié Uittog in herinnering geroep is. Hulle is nou in die tyd van die fees van die ongesuurde brood (Jos 5). Die liturgiese prosessie rondom Jerigo lê dus in die verlengde van dié fees. Die sewende dag bring dus hier by Jerigo ook oorwinning (Jos 6).

      Of dit ‘n Sabbatdag was, is egter onseker, want dit staan nie in die teks nie. Maar, dit sou sin maak as dit was. Hulle het in elk geval nie die trekkery om Jerigo opgeskort indien die Sabbatdag êrens anders in die week geval het nie.

  • Neels Hubinger

    Dankie Chris vir die perspektief van “afhandeling, afronding, oorwinning, lofprysing” en sluit in ons tyd aan by ons Sondag van aanbidding, rus en lofprysing in die gemeenskap van gelowiges… Groete

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: