Josua 14 – Die verdeling van die land wes van die Jordaan begin met Kaleb

In die volgende hoofstukke word nou ‘n oorsig van die indeling van die land wes van die Jordaan gegee, die eintlike gebied van Kanaän.

‘n Verduideliking word egter eers weer gegee vir die besluit om twee en ‘n halwe stamme aan die oostekant van die Jordaan tereg te laat kom. Daarom word die inligting oor die nageslag van Josef wat verdeel is in twee stamme weer herhaal: die stam van Manasse (Josef se eersgeborene) en die stam van Efraim (Josef se tweede seun wat ‘n groter seën van Jakob ontvang het – vgl Gen 47-48).

Dit verklaar ook weereens hoekom die helfte van die stam van Manasse saam met Ruben en Gad aan die oostekant van die Jordaan gaan bly het. Manasse is waarskynlik in twee verdeel weens die groot aantal mense van die stam. Hulle het amper verdubbel tydens die woestynreis (vgl Num 26).

Hierdie gebied was egter nog steeds nie groot genoeg vir hulle nie, want Manasse en Efraim vra later nog meer grondgebied van Josua wat hy inderdaad ook vir hulle toeken in die Bergland (Jos 17:14-18).

Manasse speel ook aanvanklik ‘n belangrike rol in die verdere geskiedenis van Israel met twee van die rigters wat uit hulle geledere gekom het, Gideon (Rigt 6-8) en Jefta (Rigt 11-12).

Die inligting oor die Leviete wat net dorpe en weidingsgebiede ontvang het, word ook herhaal (detail eers in Jos 21), as verduideliking daarvan dat hulle in terme van grondgebied effens “afgeskeep” word. Hulle erfdeel is die Here self, ‘n vooruitwysing na die erfenis van gelowiges in die nuwe verbond.

Die indeling van die land word telkens aan die Here se besluit gekoppel soos Hy dit deur Moses aan hulle oorgedra het. Dit verloop as volg oor die volgende agt hoofstukke:

  • Hebron word aan Kaleb van die stam van Juda toegeken – Jos 14:6-15;
  • Juda kry grondgebied in die suide van die land – Jos 15;
  • Josef – Efraim en die halwe stam van Manasse – kry grondgebied in die noorde van die land – Jos 16-17;
  • Die res van die stamme – sewe in getal – kry die res van die land: Benjamin, Simeon, Sebulon, Issaskar, Aser, Naftali, en Dan, met Josua wat ‘n deel in die Efraimsberge kry – Jos 18-19;
  • Die asielstede word geïdentifiseer – Jos 20;
  • Die Leviete se stede en weivelde word uitgedeel – Jos 21

Daarna het almal na hulle onderskeie dele vertrek – Jos 22. Josua roep aan die einde van sy lewe weer almal bymekaar om afskeid van hulle te neem by Sigem. Dit is die plek wat Jakob gekoop het by Gamor (Gen 33). Dit is ook waar Josef se beendere uiteindelik begrawe is, soos hy lank terug versoek het – Jos 23-24. Die boek sluit met die verhaal van die dood van die groot Intogleier Josua en die Hoëpriester Eleasar.

Hebron word aan Kaleb toegeken – Josua 14:6-15

Kaleb was die verkenner wat uitgestaan het in sy vertroue op die Here. Hy het die moed van sy oortuiging gehad om die minderheidsverslag aan die volk voor te hou dat die land Kanaän inderdaad ingeneem kan word met hulle eerste aankoms by die land Kanaän. Josua het hom ondersteun téén die ander tien verkenners wat egter in hulle meerderheidsverslag die deurslag gegee het dat die volk teruggedeins het van die uitdaging om die land in besit te gaan neem.

Die Here se belofte was dat Kaleb en Josua inderdaad die land met die tweede probeerslag sal ingaan (Num 32:12), die enigste twee wat dit reggekry het. Daarom kry Kaleb dan ook nou die eerste deel van die land, selfs voor die stam van Juda. Die Here is inderdaad ‘n beloner van dié wat in Hom glo en Hom vertrou (Hebr 11:6).

Kaleb herinner vir Josua aan hulle gesamentlike geskiedenis en die tragedie van die verraad van hulle medeverkenners. Dié het die hart van die volk laat verstyf van angs. Hy het egter sy vertroue op die Here geplaas en Hom getrou gevolg. Hy vra daarom dat die belofte wat die Here gegee het dat die grondgebied wat hy gaan verken het, inderdaad syne sal word met die Intog.

Hy vra dit ook nie as ‘n geskenk wat ander mense eers vir hom mee moet help om dit in te neem nie. Selfs op 85 jaar oud is hy nog meer as mans genoeg om die reuse in die bergwêreld te takel: “Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.

Met Josua se seën neem Kaleb daarom Hebron in. Hy verdryf drie reuse in die proses (Rigt 1:20). ‘n voorskou van wat een van Juda se kroonprinse, Dawid, later met Goliat sou doen (1 Sam 17). En onthou ook, dit is presies dié plek, Hebron, waar Dawid later deur Juda as koning gekroon sou word (2 Sam 2), om sewe jaar later in Jerusalem tot koning van die hele volk gekroon te word (2 Sam 5).

Die skrywer merk op: “Die oorlog was verby, die land het gerus.” Kaleb het sy doel bereik. Sy vertroue op die Here, sy grootste nalatenskap, was nie verniet nie. Sela.

View all posts in this series

Josua


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: