Skip to main content

Josua 14 – Die verdeling van die land wes van die Jordaan begin met Kaleb

In die volgende hoofstukke word nou ‘n oorsig van die indeling van die land wes van die Jordaan gegee, die eintlike gebied van Kanaän.

‘n Verduideliking word egter eers weer gegee vir die besluit om twee en ‘n halwe stamme aan die oostekant van die Jordaan tereg te laat kom. Daarom word die inligting oor die nageslag van Josef wat verdeel is in twee stamme weer herhaal: die stam van Manasse (Josef se eersgeborene) en die stam van Efraim (Josef se tweede seun wat ‘n groter seën van Jakob ontvang het – vgl Gen 47-48).

Dit verklaar ook weereens hoekom die helfte van die stam van Manasse saam met Ruben en Gad aan die oostekant van die Jordaan gaan bly het. Manasse is waarskynlik in twee verdeel weens die groot aantal mense van die stam. Hulle het amper verdubbel tydens die woestynreis (vgl Num 26).

Hierdie gebied was egter nog steeds nie groot genoeg vir hulle nie, want Manasse en Efraim vra later nog meer grondgebied van Josua wat hy inderdaad ook vir hulle toeken in die Bergland (Jos 17:14-18).

Manasse speel ook aanvanklik ‘n belangrike rol in die verdere geskiedenis van Israel met twee van die rigters wat uit hulle geledere gekom het, Gideon (Rigt 6-8) en Jefta (Rigt 11-12).

Die inligting oor die Leviete wat net dorpe en weidingsgebiede ontvang het, word ook herhaal (detail eers in Jos 21), as verduideliking daarvan dat hulle in terme van grondgebied effens “afgeskeep” word. Hulle erfdeel is die Here self, ‘n vooruitwysing na die erfenis van gelowiges in die nuwe verbond.

Die indeling van die land word telkens aan die Here se besluit gekoppel soos Hy dit deur Moses aan hulle oorgedra het. Dit verloop as volg oor die volgende agt hoofstukke:

  • Hebron word aan Kaleb van die stam van Juda toegeken – Jos 14:6-15;
  • Juda kry grondgebied in die suide van die land – Jos 15;
  • Josef – Efraim en die halwe stam van Manasse – kry grondgebied in die noorde van die land – Jos 16-17;
  • Die res van die stamme – sewe in getal – kry die res van die land: Benjamin, Simeon, Sebulon, Issaskar, Aser, Naftali, en Dan, met Josua wat ‘n deel in die Efraimsberge kry – Jos 18-19;
  • Die asielstede word geïdentifiseer – Jos 20;
  • Die Leviete se stede en weivelde word uitgedeel – Jos 21

Daarna het almal na hulle onderskeie dele vertrek – Jos 22. Josua roep aan die einde van sy lewe weer almal bymekaar om afskeid van hulle te neem by Sigem. Dit is die plek wat Jakob gekoop het by Gamor (Gen 33). Dit is ook waar Josef se beendere uiteindelik begrawe is, soos hy lank terug versoek het – Jos 23-24. Die boek sluit met die verhaal van die dood van die groot Intogleier Josua en die Hoëpriester Eleasar.

Hebron word aan Kaleb toegeken – Josua 14:6-15

Kaleb was die verkenner wat uitgestaan het in sy vertroue op die Here. Hy het die moed van sy oortuiging gehad om die minderheidsverslag aan die volk voor te hou dat die land Kanaän inderdaad ingeneem kan word met hulle eerste aankoms by die land Kanaän. Josua het hom ondersteun téén die ander tien verkenners wat egter in hulle meerderheidsverslag die deurslag gegee het dat die volk teruggedeins het van die uitdaging om die land in besit te gaan neem.

Die Here se belofte was dat Kaleb en Josua inderdaad die land met die tweede probeerslag sal ingaan (Num 32:12), die enigste twee wat dit reggekry het. Daarom kry Kaleb dan ook nou die eerste deel van die land, selfs voor die stam van Juda. Die Here is inderdaad ‘n beloner van dié wat in Hom glo en Hom vertrou (Hebr 11:6).

Kaleb herinner vir Josua aan hulle gesamentlike geskiedenis en die tragedie van die verraad van hulle medeverkenners. Dié het die hart van die volk laat verstyf van angs. Hy het egter sy vertroue op die Here geplaas en Hom getrou gevolg. Hy vra daarom dat die belofte wat die Here gegee het dat die grondgebied wat hy gaan verken het, inderdaad syne sal word met die Intog.

Hy vra dit ook nie as ‘n geskenk wat ander mense eers vir hom mee moet help om dit in te neem nie. Selfs op 85 jaar oud is hy nog meer as mans genoeg om die reuse in die bergwêreld te takel: “Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.

Met Josua se seën neem Kaleb daarom Hebron in. Hy verdryf drie reuse in die proses (Rigt 1:20). ‘n voorskou van wat een van Juda se kroonprinse, Dawid, later met Goliat sou doen (1 Sam 17). En onthou ook, dit is presies dié plek, Hebron, waar Dawid later deur Juda as koning gekroon sou word (2 Sam 2), om sewe jaar later in Jerusalem tot koning van die hele volk gekroon te word (2 Sam 5).

Die skrywer merk op: “Die oorlog was verby, die land het gerus.” Kaleb het sy doel bereik. Sy vertroue op die Here, sy grootste nalatenskap, was nie verniet nie. Sela.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…