Skip to main content

Die fundamentele vertrekpunt in etiese sake

Ek het in my stiltetyd vanoggend stilgestaan by Romeine 13:8-14.  Ek is net weer getref deur die feit dat die fundamentele vertrekpunt in etiese sake die liefde bly.  As Paulus etiese riglyne wil neerlê vir die gelowiges in Rome dan begrond hy dit in die een deel van die wet van God wat saamgevat kan word in die liefdesgebod: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Let op hoe hy dan vier gebooie uit die tweede deel van die wet aanhaal, sonder om dit volledig te doen, want hy gebruik dit net as illustrasie van die feit dat enige gebod eintlik dié motivering het. Die motivering van die liefde geld immers enige ander gebod wat met etiese sake te doene het. En die motivering is, sê Paulus: “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.

So, as jy die liefdesgebod uitvoer, as jy jou naaste liefhê soos jouself en sorg dat jy jou naaste geen kwaad aandoen nie, sal jy nie egbreuk pleeg nie (7de gebod); sal jy nie moord pleeg nie (6de gebod); sal jy nie steel nie (8ste gebod); sal jy nie begeer nie (10de gebod). Positief gestel:

  • Jy sal dus getrou bly vir en in die huwelik wat God se plan vir menslike seksualiteit is. Want jy doen jou naaste geen kwaad aan nie. Jy het jou naaste lief soos jouself. Jy gun hom of haar om God se plan vir seksualiteit na te volg. Jy sal alles in jou vermoë doen om self egbreuk te vermy, en jou naaste te help om nie in die strik van egbreuk te val nie deur heilig te lewe.
  • Jy sal dus jou naaste se lewe beskerm en hom nie vermoor nie. Want jy doen jou naaste geen kwaad aan nie. Jy het jou naaste lief soos jouself. Jy gun hom of haar die lewe wat God vir ons almal gegee het. Jy sal alles in jou vermoë doen om te keer dat jy of iemand anders ’n lewe wederregtelik neem.
  • Jy sal dus tevrede wees met wat jy het en nie iets van iemand anders steel nie. Want jy doen jou naaste geen kwaad aan nie. Jy het jou naaste lief soos jouself. Jy gun hom of haar die gawes wat God vir hulle gegee het. Jy sal alles in jou vermoë doen om te keer dat jy of iemand anders ’n besittting van iemand anders vervreem.
  • Jy sal dus tevrede wees met wie jy is en nie iets van iemand anders begeer wat jou nie toekom nie. Want jy doen jou naaste geen kwaad aan nie. Jy het jou naaste lief soos jouself. Jy gun hom of haar die lewe wat God vir hulle gegee het. Jy sal alles in jou vermoë doen om te keer dat jy of iemand anders deur begeertes iets van iemand anders besoedel of beduiwel.

Dit is waarom Paulus sê dat ons niemand iets verskuldig moet wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Want hierdie tipe liefde staan bo-oor alles. Dit rig ons denke en ons dade teenoor mekaar.

Dit is ook waarom Paulus daaraan byvoeg dat hierdie besef van die liefde ons sal laat ophou met die werke van die duisternis, en die wapens van die lig sal laat opneem. Die liefde leer ons immers dat ons welvoeglik moet lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.  Dit doen die naaste kwaad aan en dwarsboom die gebod tot naasteliefde.

Nee, sê Paulus, ons moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om ons sondige begeertes te bevredig nie, die dinge wat hy natuurlik al van Romeine 1 af uitspel. Ons moet hierdie begeertes deur die Gees doodmaak, soos hy in Romeine 8 uitspel, en ons liggame as ’n heilige offer vir die Here gee, soos hy in Romeine 12 uitspel op voetspoor van die beweegoffer van die Leviete as dienaars van die Here in Numeri 8, sodat ons aanbidding en gemeenskap met God en mekaar sinvol en gepas kan wees.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Etiek


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar