Skip to main content

Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën

Ons kom by die laaste drie hoofstukke van Matteus, die slot van sy evangelie, hoofstuk 26-28.  Alles wat hy tot dusvêr vir ons vertel het, mond uit op:

  • die omvattende Lyding van Jesus – hoofstuk 26.  Dit sluit sy verwerping deur die Joodse leiers en sy dissipel Judas, sy worsteling in Getsemane en sy gevangeneming, sy verhoor deur die Joodse Raad en die verloëning deur Petrus in, sowel as die salwing vir sy begrafnis en die laaste Pasga saam met sy dissipels wat op die instelling van die Nagmaal uitloop.
  • die onskuldige Kruisiging van Jesus – hoofstuk 27.  Dit sluit sy oorlewering aan Pilatus, sy ondervraging, sy oorlewering vir die kruisdood in stede van Barabbas, sy bespotting deur die soldate en uiteindelik sy kruisiging op Golgota, sy sterwe en begrafnis in.  Die hoofstuk vertel ook van die selfdood van Judas.
  • die verrassende Opstanding en Groot Opdrag van Jesus – hoofstuk 28.  Die enigste getuies van die Opstanding waaroor Matteus uitbrei, was Maria Magdalena en Jesus se ma Maria. Daarna haas Matteus hom na die laaste opdrag wat Jesus gee met sy Hemelvaart, die opdrag wat as die Groot Opdrag bekend sou word.  Die leuens van die Jode oor die opstanding van Jesus word ook in die verbygaan vermeld.

Jesus word verwerp deur die Joodse leiers – 26:1-5

Twee gesprekke vind ná Jesus se profetiese rede plaas, waarskynlik op die Woensdag.  Die een is tussen Jesus en sy dissipels om die Pasga (vgl. Eks 12) te reël wat oor twee dae sou plaasvind.  Die ander is tussen die leierpriesters en die familiehoofde om die kruisiging te reël wat oor twee dae voltrek sou word.

Let op dat hulle eintlik nie wou hê dat Jesus se dood op die Paasfees moes plaasvind nie, maar dat Jesus duidelik is daaroor dat dit juis die tyd vir sy kruisiging sal wees, soos Hy vir sy dissipels inlig.  Hulle slinkse planne speel dus ironies genoeg in God se hande.

Jesus word gesalf vir sy begrafnis – 26:6-13

In die huis van Simon, ’n geneesde melaatse, in Betanië, salf ’n ongenoemde vrou, waarskynlik Maria (Joh. 12:3), die suster van Marta en Lasarus, Jesus se  kop met ’n albasterfles baie kosbare reukolie.  Op die dissipels se verontwaardiging dat die armes eerder hierby kon baat vind, prys Jesus die simboliek van die daad in die konteks van sy begrafnis.

Jesus word verraai deur sy dissipel Judas – 26:14-16

Vir dertig denarii verraai Judas vir Jesus, ’n bedrag van ongeveer R3 000 in vandag se terme – gegewe dat ‘n denarius die normale dagloon van daardie tyd was en met die aanname dat R100 ‘n minimum loon vandag verteenwoordig.  Matteus wy nie uit oor die redes vir sy verraad nie.

Jesus hou die laaste Pasga saam met sy dissipels – 26:17-25

Die laaste Pasga word die Donderdagaand gehou in Jerusalem by nog ’n ongenoemde persoon se huis, waarskynlik Maria s’n (Hand. 12:12), die ma van Johannes Markus wat later saam met Paulus en Barnabas sou reis en vir die evangelie van Markus verantwoordelik sou wees.

Onthou die Joodse dag het altyd die vorige aand begin, d.w.s. Donderdagaand het die Vrydag ingelui, soos Vrydagaand die Sabbat ingelui het.  Dit was daarom ook die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood (Eks 12).

Jesus se bekendmaking van iemand wat Hom gaan verraai, is ontstellend vir die dissipels, maar natuurlik uiteindelik ’n nagmerrie vir dié een wat Hom sal verraai, soos in hoofstuk 27 vertel sal word.  “Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” sê Jesus oor Judas, sodat net hy die boodskap kry, maar nog nie die ander dissipels nie.

The line between commitment and betrayal can be a thin one as the disciples themselves were to discover in the very near future.” (Hagner, Word kommentaar).

Jesus stel die Nagmaal in – 26:26-30

Jesus transformeer dié Pasga ete deur gewone elemente van die Pasga maaltyd, brood en wyn, te neem en die voortdurende viering daarvan met sy dood te verbind waardeur Hy ’n verbond met hulle en dié wat ná hulle sou kom, sluit tot vergifnis van sondes.  Dié Nagmaal is ook vir Jesus ’n moment van beslissing, ’n eie verbintenis, dat Hy self nie weer brood en wyn sal geniet, totdat Hy  dit met die volle aanbreek van die koninkryk van sy Vader, weer saam met sy dissipels sal kan doen nie.

Jesus voorspel dat Petrus en die ander dissipels Hom sal verloën – 26:31-35

Let op dat dit nie net Petrus is wat dié nag sy lojaliteit aan Jesus sal verbreek nie, maar de laaste ander dissipel.  “Julle almal sal in hierdie nag oor My struikel.”  Jesus haal Sag. 13:7 aan as bevestiging van sy verwagting van verwerping.  Petrus sal Jesus baie prominent verloën.  Maar, Hy gee ook die hoopvolle opdrag dat Hy hulle weer in Galilea sal ontmoet, ná Hy opgewek is uit die dood.

Jesus worstel in Getsemane – 26:36-46

Die drie dissipels wat die ervaring op die berg van verheerliking gehad het, is dié keer saam met Jesus in Getsemane, maar kry dit nie reg om Hom by te staan in die geweldige worsteling wat Hy het om die beker van lyding wat vir Hom voorlê, te drink nie.  Hy onderwerp uiteindelik Homself aan die wil van die Vader, ’n keuse wat Hy lank gelede reeds gemaak het, maar nou ’n realiteit word.  Hy sê ja vir die bestemming wat God vir Hom het, die verlossing van die wêreld deur die dood aan die kruis.

Jesus word in hegtenis geneem in Getsemane – 26:47-56

Judas verraai Jesus met ’n soen terwyl Jesus hom as vriend aanspreek – hoe ironies!  Jesus weier egter om met geweld daarop te reageer en leer selfs in sy oomblik van grootste nood sy dissipels om dieselfde te doen.  Dit is nie dat Jesus nie die vermoë het om met geweld te reageer nie.  Hy het immers meer as twaalf legioene engele tot Sy beskikking.  ’n Legioen was 6 000 mense sterk, d.w.s. 72 000 engele!  Dit dui dus op ’n groot getal.  Maar, Hy kies om die pad van die Skrif te volg, die pad van die Lydende Messias, die Een wat deur die kruisdood vergifnis vir die hele wêreld sal bring.  En Hy laat hulle toe om Hom in hegtenis te neem.

Dit is egter te veel vir die dissipels se lojaliteit en moed en hulle slaan op die vlug.

Jesus word verhoor deur die Joodse Raad – 26:57-68

Jesus verskyn dan voor die Joodse Raad en uiteindelik met twee valse getuies wat Jesus se woorde oor die afbreek van die tempel van God verdraai as lasterlik, word Jesus tot die dood veroordeel.

Dit is duidelik dat die Joodse leiers bevooroordeeld teenoor Jesus was en dat dié verhoor nie aan die eise van geregtigheid voldoen het nie.  Hulle wou egter alles in hulle vermoë doen om Jesus se stem so vinnig as moontlik stil te maak, sodat Hy nie nog ’n groter impak in Jerusalem sou hê nie.  Dat Jesus erken dat Hy die Seun van God is, al is dit retories: “Ú het dit gesê,” is genoeg rede vir hulle om Jesus oor te lewer aan die Romeine om die doodsvonnis te voltrek.  Jesus haal boonop uit Daniël 7:13 aan en identifiseer Homself met God self wat al is wat die hoëpriester nodig het om sy lot te beseël.

Jesus word verloën deur Petrus – 26:69-75

Die onreg wat die Joodse leiers pleeg teenoor Jesus laat ons sin vir regverdigheid opvlam, maar die wyse waarop Petrus Jesus in die steek laat deurdat hy nie die moed het om selfs te erken dat hy Hom ken nie, maak ’n mens net hartseer.  Ook, omdat dit ’n wekroep vir onsself is om ons lojaliteit aan Christus Jesus nie in ons eie krag te soek nie, maar in die krag van die Gees wat Jesus gee.  Soos Paulus later vir Timoteus sou bemoedig: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim 1:7).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda