Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën

Ons kom by die laaste drie hoofstukke van Matteus, die slot van sy evangelie, hoofstuk 26-28.  Alles wat hy tot dusvêr vir ons vertel het, mond uit op:

  • die omvattende Lyding van Jesus – hoofstuk 26.  Dit sluit sy verwerping deur die Joodse leiers en sy dissipel Judas, sy worsteling in Getsemane en sy gevangeneming, sy verhoor deur die Joodse Raad en die verloëning deur Petrus in, sowel as die salwing vir sy begrafnis en die laaste Pasga saam met sy dissipels wat op die instelling van die Nagmaal uitloop.
  • die onskuldige Kruisiging van Jesus – hoofstuk 27.  Dit sluit sy oorlewering aan Pilatus, sy ondervraging, sy oorlewering vir die kruisdood in stede van Barabbas, sy bespotting deur die soldate en uiteindelik sy kruisiging op Golgota, sy sterwe en begrafnis in.  Die hoofstuk vertel ook van die selfdood van Judas.
  • die verrassende Opstanding en Groot Opdrag van Jesus – hoofstuk 28.  Die enigste getuies van die Opstanding waaroor Matteus uitbrei, was Maria Magdalena en Jesus se ma Maria. Daarna haas Matteus hom na die laaste opdrag wat Jesus gee met sy Hemelvaart, die opdrag wat as die Groot Opdrag bekend sou word.  Die leuens van die Jode oor die opstanding van Jesus word ook in die verbygaan vermeld.

Jesus word verwerp deur die Joodse leiers – 26:1-5

Twee gesprekke vind ná Jesus se profetiese rede plaas, waarskynlik op die Woensdag.  Die een is tussen Jesus en sy dissipels om die Pasga (vgl. Eks 12) te reël wat oor twee dae sou plaasvind.  Die ander is tussen die leierpriesters en die familiehoofde om die kruisiging te reël wat oor twee dae voltrek sou word.

Let op dat hulle eintlik nie wou hê dat Jesus se dood op die Paasfees moes plaasvind nie, maar dat Jesus duidelik is daaroor dat dit juis die tyd vir sy kruisiging sal wees, soos Hy vir sy dissipels inlig.  Hulle slinkse planne speel dus ironies genoeg in God se hande.

Jesus word gesalf vir sy begrafnis – 26:6-13

In die huis van Simon, ’n geneesde melaatse, in Betanië, salf ’n ongenoemde vrou, waarskynlik Maria (Joh. 12:3), die suster van Marta en Lasarus, Jesus se  kop met ’n albasterfles baie kosbare reukolie.  Op die dissipels se verontwaardiging dat die armes eerder hierby kon baat vind, prys Jesus die simboliek van die daad in die konteks van sy begrafnis.

Jesus word verraai deur sy dissipel Judas – 26:14-16

Vir dertig denarii verraai Judas vir Jesus, ’n bedrag van ongeveer R3 000 in vandag se terme – gegewe dat ‘n denarius die normale dagloon van daardie tyd was en met die aanname dat R100 ‘n minimum loon vandag verteenwoordig.  Matteus wy nie uit oor die redes vir sy verraad nie.

Jesus hou die laaste Pasga saam met sy dissipels – 26:17-25

Die laaste Pasga word die Donderdagaand gehou in Jerusalem by nog ’n ongenoemde persoon se huis, waarskynlik Maria s’n (Hand. 12:12), die ma van Johannes Markus wat later saam met Paulus en Barnabas sou reis en vir die evangelie van Markus verantwoordelik sou wees.

Onthou die Joodse dag het altyd die vorige aand begin, d.w.s. Donderdagaand het die Vrydag ingelui, soos Vrydagaand die Sabbat ingelui het.  Dit was daarom ook die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood (Eks 12).

Jesus se bekendmaking van iemand wat Hom gaan verraai, is ontstellend vir die dissipels, maar natuurlik uiteindelik ’n nagmerrie vir dié een wat Hom sal verraai, soos in hoofstuk 27 vertel sal word.  “Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.” sê Jesus oor Judas, sodat net hy die boodskap kry, maar nog nie die ander dissipels nie.

The line between commitment and betrayal can be a thin one as the disciples themselves were to discover in the very near future.” (Hagner, Word kommentaar).

Jesus stel die Nagmaal in – 26:26-30

Jesus transformeer dié Pasga ete deur gewone elemente van die Pasga maaltyd, brood en wyn, te neem en die voortdurende viering daarvan met sy dood te verbind waardeur Hy ’n verbond met hulle en dié wat ná hulle sou kom, sluit tot vergifnis van sondes.  Dié Nagmaal is ook vir Jesus ’n moment van beslissing, ’n eie verbintenis, dat Hy self nie weer brood en wyn sal geniet, totdat Hy  dit met die volle aanbreek van die koninkryk van sy Vader, weer saam met sy dissipels sal kan doen nie.

Jesus voorspel dat Petrus en die ander dissipels Hom sal verloën – 26:31-35

Let op dat dit nie net Petrus is wat dié nag sy lojaliteit aan Jesus sal verbreek nie, maar de laaste ander dissipel.  “Julle almal sal in hierdie nag oor My struikel.”  Jesus haal Sag. 13:7 aan as bevestiging van sy verwagting van verwerping.  Petrus sal Jesus baie prominent verloën.  Maar, Hy gee ook die hoopvolle opdrag dat Hy hulle weer in Galilea sal ontmoet, ná Hy opgewek is uit die dood.

Jesus worstel in Getsemane – 26:36-46

Die drie dissipels wat die ervaring op die berg van verheerliking gehad het, is dié keer saam met Jesus in Getsemane, maar kry dit nie reg om Hom by te staan in die geweldige worsteling wat Hy het om die beker van lyding wat vir Hom voorlê, te drink nie.  Hy onderwerp uiteindelik Homself aan die wil van die Vader, ’n keuse wat Hy lank gelede reeds gemaak het, maar nou ’n realiteit word.  Hy sê ja vir die bestemming wat God vir Hom het, die verlossing van die wêreld deur die dood aan die kruis.

Jesus word in hegtenis geneem in Getsemane – 26:47-56

Judas verraai Jesus met ’n soen terwyl Jesus hom as vriend aanspreek – hoe ironies!  Jesus weier egter om met geweld daarop te reageer en leer selfs in sy oomblik van grootste nood sy dissipels om dieselfde te doen.  Dit is nie dat Jesus nie die vermoë het om met geweld te reageer nie.  Hy het immers meer as twaalf legioene engele tot Sy beskikking.  ’n Legioen was 6 000 mense sterk, d.w.s. 72 000 engele!  Dit dui dus op ’n groot getal.  Maar, Hy kies om die pad van die Skrif te volg, die pad van die Lydende Messias, die Een wat deur die kruisdood vergifnis vir die hele wêreld sal bring.  En Hy laat hulle toe om Hom in hegtenis te neem.

Dit is egter te veel vir die dissipels se lojaliteit en moed en hulle slaan op die vlug.

Jesus word verhoor deur die Joodse Raad – 26:57-68

Jesus verskyn dan voor die Joodse Raad en uiteindelik met twee valse getuies wat Jesus se woorde oor die afbreek van die tempel van God verdraai as lasterlik, word Jesus tot die dood veroordeel.

Dit is duidelik dat die Joodse leiers bevooroordeeld teenoor Jesus was en dat dié verhoor nie aan die eise van geregtigheid voldoen het nie.  Hulle wou egter alles in hulle vermoë doen om Jesus se stem so vinnig as moontlik stil te maak, sodat Hy nie nog ’n groter impak in Jerusalem sou hê nie.  Dat Jesus erken dat Hy die Seun van God is, al is dit retories: “Ú het dit gesê,” is genoeg rede vir hulle om Jesus oor te lewer aan die Romeine om die doodsvonnis te voltrek.  Jesus haal boonop uit Daniël 7:13 aan en identifiseer Homself met God self wat al is wat die hoëpriester nodig het om sy lot te beseël.

Jesus word verloën deur Petrus – 26:69-75

Die onreg wat die Joodse leiers pleeg teenoor Jesus laat ons sin vir regverdigheid opvlam, maar die wyse waarop Petrus Jesus in die steek laat deurdat hy nie die moed het om selfs te erken dat hy Hom ken nie, maak ’n mens net hartseer.  Ook, omdat dit ’n wekroep vir onsself is om ons lojaliteit aan Christus Jesus nie in ons eie krag te soek nie, maar in die krag van die Gees wat Jesus gee.  Soos Paulus later vir Timoteus sou bemoedig: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim 1:7).

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: