Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe

Matteus vertel die laaste dag van Jesus se lyding in nege episodes.  Dit strek van die besluit om Hom dood te maak deur die leierpriesters en familiehoofde (27:1-2) – let op dat dit almal van hulle was – sluit die selfdood van Judas in (27:3-10) en beweeg deur die ondervraging van Pilatus (27:11-14), sy oorlewering van Jesus om gekruisig te word (27:15-26), wat die bespotting deur die soldate insluit (27:27-31) tot by sy kruisiging self (27:32-44).  Jesus sterf  net ná drie die Vrydagmiddag (27:45-56) en word begrawe in die graf van Josef van Arimatea (27:57-61) met die Joodse leiers wat die graf beveilig teen enige moontlike menslike ingrype om dit te laat lyk asof Jesus opgestaan het (27:62-66).

Die leierpriesters en familiehoofde besluit om Hom dood te maak – 27:1-2

Vroegdag breek die nuus dat die Joodse leiers teen Jesus ’n besluit geneem het om Hom dood te maak.  Hulle kon egter nie die doodstraf uitvoer nie en moet Hom oorlewer aan Pilatus, die prokurator wat namens die Romeinse keiser in beheer van Palestina was.

Judas pleeg selfdood – 27:3-10

Judas se spyt kom te laat.  Ek weet nie wat hy gedink het nie, maar sy verraad het tot die veroordeling van Jesus gely en die feit dat hy die geld teruggegee het, kon nie sy bose daad ongedaan maak nie.  Hy neem daarom sy eie lewe met die leierpriesters wat die “bloedgeld” vir ’n begraafplaas vir vreemdelinge aangewend het.  Matteus sien in dié gebeure ’n vervulling van ’n profesie van Sagaria 11:12-13.  Hy noem verkeerdelik dat dit Jeremia is, waarskynlik omdat die verwysing na ’n pottebakker hom aan Jeremia laat dink het (vgl. Jer. 18 en 32).

Pilatus ondervra Jesus oor sy koningskap – 27:11-14

Pilatus ondervra Jesus oor sy koningskap, maar volgens Matteus het Hy hom niks geantwoord nie tot verwondering van Pilatus.  Sy waardigheid in die aangesig van die aanslag op Hom, beïndruk hom.  Soos die Joodse leiers Hom aan die kruis wil sien, is Jesus se fokus ook op die kruis.  Waar hulle Hom wil seermaak, wil Hy die hele wêreld genees deur hierdie daad. Dieselfde houtkruis, totaal verskillende doelwitte.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word eerder as Barabbas – 27:15-26

Onthou dat dit Paasfees is en volgens gebruik mag ’n gevange vrygelaat word.  Pilatus probeer Jesus vrylaat deur die skare ’n keuse tussen Jesus van Nasaret en ’n berugte gevangene Jesus Barabbas (dit is onseker of sy naam ook Jesus was) te gee.  Dit is tragies dat hy geweet het dat die Joodse leiers afgunstig op Jesus was en boonop nog deur sy vrou gewaarsku is om nie onregverdig op te tree nie en hy nogtans sy hande in onskuld was en Jesus laat gesel en oorlewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus – 27:27-31

Die soldate dryf op liederlike wyse met Jesus se koningskap die spot – waarna Hy weggelei word om gekruisig te word – min wetende dat hulle eendag voor Hom as ware Koning sal staan en geoordeel sal word.

Jesus word gekruisig – 27:32-44

Die verhaal van Simon van Sirene word hier vertel – moontlik dieselfde man wat later in Antiogië een van die leraars was – wat Jesus help met sy kruis (Hand. 13:1).  Jesus kry ’n verdowingsmiddel – ’n wyn-gal mengsel – wat hy nie wou drink nie.  Sy klere word verdeel en bo sy kop die klag teen Hom aangebring: “Hy is Jesus, die koning van die Jode.”  Die ironie is skreiend!

Anders as die ander evangeliste spot albei rowers met Jesus, soos ook die verbygangers, leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde.  As hulle maar net geweet het, hoe waar dit is wat hulle spottenderwyse sê.  Jesus kan inderdaad Homself nie red nie, want dan sou Hy nie die vermoë hê om ander te rede nie!

Jesus sterf  net ná drie die Vrydagmiddag – 27:45-56

Die finale uur het vir Jesus aangebreek, laat die Vrydagmiddag, om ongeveer drie-uur.  Net na die duisternis oor die hele land het Hy na God geroep en sy laaste asem uitgeblaas.

Die voorhangsel skeur as ’n getuienis daarvan dat die toegang tot God vir almal geopen is en die grafte van baie ontslape heiliges het oopgegaan en van hulle is opgewek, as voorafskaduwing van die opstanding van Jesus.  Die Romeinse hektatontarg, ’n offisier oor honderd manskappe, kom tot inkeer en sê: “Waarlik, hierdie man was God se Seun.”

Let op die vroue wat by die kruis genoem word, want van hulle sal ook die eerste wees wat getuies van die opstanding van Jesus  sou wees: Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus en Josef, wat natuurlik ook Jesus se ma was (Matt. 13:55), en die ongenoemde moeder van die seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, wat moontlik die naam Salome gehad het (Mark. 15:41).

Dit is betekenisvol dat die vroue by die kruis is tot aan die einde.  Al die dissipels het gevlug, maar die vroue het gebly!

Jesus word begrawe in die graf van Josef van Arimatea – 27:57-61

Die ryk dissipel van Jesus, Josef van Arimatea, nader vir Pilatus en laat Jesus in ’n nuwe graf begrawe.  Maria Magdalena en Maria het by die graf gewaak nadat ’n groot klip oor die opening gerol is.

Die Joodse leiers beveilig die graf teen menslike ingrype – 27:62-66

Die Saterdag is ’n wag van soldate deur Pilatus gegee op versoek van die leierpriesters en Fariseërs om die graf te beveilig, omdat hulle bang was dat die dissipels die liggaam sou steel sodat hulle sou kon sê dat Jesus opgestaan het.  Die feit was dus redelike algemene kennis, dat Jesus gesê het dat Hy gaan opstaan.  En op ironies wyse versterk die Joodse leiers dié gedagte met hulle vrees vir iets wat na die opstanding kan lyk.

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Goeie dag,
    Vraag: Wat het hulle bedoel met “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom”
    Matv27:22-25

    • Hi Joey. Dit beteken dat die skare die verantwoordelikheid vir Jesus se dood ook op hulleself as ‘n nasie geneem het, sodat dit nie net die Joodse leiers se besluit was om Jesus te kruisig nie, maar ook hulle eie.

      Hulle uitspraak: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!” berus op ‘n metafoor uit Deuteronomium 19:10 wat hulle omkeer en doelbewus op hulleself van toepassing maak, en daarmee sê, Jesus is skuldig aan Godslastering en verdien om gekruisig te word:

      “Daar mag nie onskuldige bloed vergiet word in die land wat die Here jou God aan jou as besitting sal gee nie, want dan sal daar bloedskuld op jou rus.”

      Johannes lewer daarop op kommentaar as hy in die proloog van sy evangelie skryf:

      “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.” (Joh 1:11)

      Gelukkig het Johannes ook verklaar:

      “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh 1:12)

      Johannes voeg daarby dat hierdie geloof nie kom van Joodse afkoms nie, of menslike gedrag of keuses nie, maar van God self af:

      “Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.” (Joh 1:13)

      Dit geld ons almal.

      Die skuld vir die kruisdood het dus gelê op beide die Joodse leiers en die skares van daardie tyd. Hulle het ook hulle eie kinders daarby ingesleep, en sou hierna ook die kerk van Jesus vervolg (Hand 7-8).

      Jesus het dit natuurlik voorspel in die profetiese rede:

      “Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? Luister dus goed! Ek stuur profete, wyse manne en leraars na julle toe. Julle sal party van hulle doodmaak en kruisig, en party in julle sinagoges gesel en hulle van die een dorp na die ander vervolg. So sal julle verantwoordelik wees vir die bloed van al die vromes wat op die aarde uitgestort is, van die bloed van die onskuldige Abel af tot by die bloed van Sagaria seun van Berekja, vir wie julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. Dit verseker Ek julle: Die straf vir al hierdie dinge sal op die mense van vandag neerkom.” (Matt 23:33-36)

      Jesus het dus ‘n straf oor hulle geprofeteer. Hierdie straf is voltrek in die jaar 70 nC op hierdie mense met die verwoesting van Jerusalem deur die Romeinse ryk en die verstrooiing van die Jode oor die wêreld.

      Maar, dit het nie gelei tot ‘n volskaalse verwerping van die Joodse volk daarna nie. Daaroor skryf Paulus in Romeine 9-11. Daar is steeds Jode wat in Jesus glo en daarom deel is van die koninkryk van God.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: