Skip to main content

Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes

Hoofstuk nege gee vir ons ’n verdere vyf wonderwerke van Jesus weer wat ingevleg word saam met drie bydraes van Jesus oor dissipelskap, waarvan die laaste een die groot uitsending van die twaalf, waarvan ons in hoofstuk 10 gaan lees, inlei.

Jesus genees ’n verlamde man as bewys van sy volmag om sondes te vergewe – 9:1-8

Vir die eerste keer word die tema van die vergifnis van sonde aan ’n genesing gekoppel, nogal in sy tuisdorp, Nasaret.  Jesus is nie net die Groot Geneesheer nie.  Hy is ook die Groot Vergewer van sondes.  Dit is duidelik dat Matteus Markus se verhaal verkort en die detail van die vriende van die verlamde man wat hom deur die dak na Jesus toe laat afsak, uitlaat (Mark. 2:1-12; vgl.  ook Luk. 5:17-26).

Wat veral interessant is, is dat Matteus die enigste van die drie Sinoptiese evangeliste is wat byvoeg dat Jesus die man moed ingepraat het.  Soos in die ander evangeliste word die vergifnis as van groter belang geag as die genesing, hoewel die genesing wel uiteindelik gedoen word, om daarmee te illustreer dat Jesus die mag het om beide te doen.  Die sonde staan immers aan die wortel van alle lyding en siekte en Jesus kan beide genees.

Jesus roep Matteus as dissipel as bewys van sy sending na sondaars – 9:9-13

Dit is eintlik logies dat Matteus hier die verhaal van sy eie roeping plaas, omdat hy daarmee te kenne gee dat Jesus gekom het vir sondaars.  Al is sommige van hulle nie siek soos die verlamde man nie, het almal die genesing van die vergifnis van sonde en die roeping tot ’n lewe saam met Jesus nodig.

Die roeping van Matteus en sy onmiddellike reaksie om Jesus te volg, bring ’n hele skare tollenaars en sondaars in beweging om van Hom te leer.  Die Fariseërs gooi egter sterk wal, omdat hulle sulke kontak ten sterkste afgekeur het.  Jesus gebruik dié teenstand om sy missie te verduidelik – Hy het gekom vir die siekes, dié wat barmhartigheid nodig het.  Die mense wat in die oë van die Fariseërs onwaardig is om mee gemeenskap te hou, dié word juis deur Jesus uitgekies.  Daarmee wys Hy dat sy teenwoordigheid uit genade gegee word, nie uit verdienste nie.

Matteus is dieselfde persoon as die dissipel Levi, soos ons duidelik agterkom uit die feit dat hy in dieselfde verhaal  in die ander twee Sinoptici as Levi aangedui word (Mark. 2:15; Luk. 5:29).

Jesus leer die dissipels van Johannes dat Hy alles verander – 9:14-17

Onthou dat Johannes die Doper teen dié tyd al in hegtenis geneem het.  Sy dissipels was dus eintlik alleen gelaat en het boonop gebruike gehandhaaf wat sterk asketies was, onder andere deur te vas.  Hulle wonder nou hoekom die dissipels van Jesus nie die wettiese gebruik van die vas nakom nie.  Immers, selfs die Fariseërs doen dit en Jesus het vroeër in die Bergrede gesê dat die dissipels se geregtigheid groter moet wees as dié van die Fariseërs.

Jesus se antwoord wentel om die metafoor van die bruilofsfees waar niemand vas nie. Netso kan niemand in die teenwoordigheid van die Bruidegom, Jesus, vas nie.  Daar sal wel tye kom wat vas weer nodig sal wees, maar dit sal nie presies dieselfde funksie hê as wat vas vir Johannes die Doper-hulle of die Fariseërs gehad het nie.

Dít illustreer duidelik dat Jesus se bediening nie net ’n voortsetting van Johannes die Doper se bediening is nie, ook nie net ’n voortsetting van die OT wet nie, maar ’n vervulling en ’n radikale ander inkleding, uitgedruk met die metafoor van die ongekrimpte lap wat nie op ’n ou lap vasgewerk word nie en die nuwe wyn wat nie in ou leersakke gegooi word nie.  Dit sal beide vernietig – die oue en die nuwe.

En Jesus nooi hulle uit om nie hulle agtergrond en gebruike af te skryf nie – dit het immers sy doel gehad – maar saam met Hom fees te vier en sý volgelinge te word.  Die Judaïsme het sy plek gehad. Die bediening van Johannes die Doper het sy plek gehad.  Maar, nou het die nuwe gekom, die verbintenis aan Jesus.  En dit eis dat alles nou om Hom draai.

Jesus genees ’n vrou en wek ’n dogtertjie uit die dood uit op – 9:18-26

Twee genesingsverhale word hier saam vertel.

Die eerste is van die dogtertjie van ’n leiersfiguur (in die sinagoge) wat Jesus vra om sy dogter uit die dood op te wek.  Let op dat hy glo dat Jesus dit kan doen en dat Jesus onmiddellik opstaan om te gaan doen wat Hy vra.  Die verhale van Elia (1 Kon. 17) en Elisa (2 Kon. 4) wat by geleentheid mense uit die dood opgewek het, kon miskien ’n rol gespeel het in sy geloof, soos ’n mens aflei uit sy versoek: “kom lê U hand op haar en sy sal leef.”

Jesus genees dan ook die dogtertjie terwyl Hy ook met sy beskrywing dat sy maar net slaap eintlik ’n aanduiding gee dat die dood vir Hom nie die finale sê oor enigiemand het nie.  Dit het tot die gebruik in die vroeë kerk gelei om van die gelowiges wat gesterf het op baie hoopvolle wyse as die “ontslapenes” te praat (bv. 1 Tes 4:13).  Dié verhaal van die dogtertjie het dus die hele verwagting van die kerk dat daar inderdaad ’n opstanding is, ingelei, soos uiteindelik met Jesus se eie opstanding helder bevestig is.

Die tweede verhaal van die vrou wat vir jare aan bloedvloeiing (waarskynlik erge menstruele bloeding) gely het, word vertel terwyl Jesus op pad is.  Weereens word haar geloof uitgesonder – in dié geval uitgedruk in die geloof dat sy genees sal word as sy aan sy kleed kan raak.  Let op dat sy eers genees word nádat Jesus na haar gekyk het, waarmee Matteus die klem wil laat val op die feit dat dit Jesus is wat haar genees en nie die magiese verwagting dat die aanraking outomaties tot genesing sal lei nie.  Let ook op hoe Jesus ook vir haar sê om moed te hou, soos Hy dit vir die verlamde man ook vroeër gesê het.

Jesus genees twee blindes wat in Hom glo – 9:27-31

Interessant genoeg word hierdie genesing direk aan dissipelskap gekoppel.  Nádat Jesus ’n geloofsgesprek met hulle gevoer en hulle genees het – dit vind binne die huis plaas in ’n intieme situasie – gaan hulle uit en die nuus oor Jesus versprei in daardie omgewing.  Dat hulle deur Jesus aangespreek is om te sorg dat niemand hiervan te hore kom nie, waarskynlik om te keer dat die teenstand teen sy bediening te vinnig te groot raak, help dus nie.  Hulle kan nie stilbly oor hoe hulle lewe verander is nie.

Matteus is lief vir duplikate wat gesamentlik die waarheid wat hulle verkondig, nog meer bevestig, en hierdie verhaal is een van die gevalle. Ons lees in hfst. 20:29-34 van nog twee blindes (buite Jerigo) wat genees word.  Daar is ’n groot mate van ooreenstemming in die detail (bv. twee blindes, noem Jesus die Seun van Dawid), maar ook beduidende verskille (volg Jesus vs sit langs die pad; niemand anders betrokke nie vs ’n skare wat hulle probeer stilmaak; genesing uiteindelik in ’n huis vs genesing langs die pad; gesprek oor geloof vs gesprek oor wat hulle wil hê ensomeer).

Jesus genees ’n stom besete man waarop die Fariseërs met misleiding reageer – 9:32-35

Die wonder van die genesing van die stom besete man, gee hom sy spraak terug, wat die skare verwonderd laat, maar die Fariseërs met misleiding laat reageer.  “Deur die aanvoerder van die demone dryf Hy die demone uit.”  Nóg só ’n verhaal word in Matt. 12:22-24 vertel waar dieselfde misleiding gepleeg word en die skare wonder of Jesus nie dan tóg die Seun van Dawid is nie.

Jesus roep sy dissipels tot gebed op vir meer arbeiders onder die skare volgelinge – 9:36-38

Die gedeelte wys die hart van Jesus wat deur ’n innige jammerte vir verwarde en verstrooide mense gedryf word.  Daarom roep Hy sy dissipels op om te bid vir meer arbeiders om die oes wat God gereedmaak en wat bestaan uit sulke mense, te gaan insamel.  En in die volgende hoofstuk gaan Hy hulle inderdaad uitstuur om presies dit te gaan doen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda