Skip to main content

Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes

Hoofstuk nege gee vir ons ’n verdere vyf wonderwerke van Jesus weer wat ingevleg word saam met drie bydraes van Jesus oor dissipelskap, waarvan die laaste een die groot uitsending van die twaalf, waarvan ons in hoofstuk 10 gaan lees, inlei.

Jesus genees ’n verlamde man as bewys van sy volmag om sondes te vergewe – 9:1-8

Vir die eerste keer word die tema van die vergifnis van sonde aan ’n genesing gekoppel, nogal in sy tuisdorp, Nasaret.  Jesus is nie net die Groot Geneesheer nie.  Hy is ook die Groot Vergewer van sondes.  Dit is duidelik dat Matteus Markus se verhaal verkort en die detail van die vriende van die verlamde man wat hom deur die dak na Jesus toe laat afsak, uitlaat (Mark. 2:1-12; vgl.  ook Luk. 5:17-26).

Wat veral interessant is, is dat Matteus die enigste van die drie Sinoptiese evangeliste is wat byvoeg dat Jesus die man moed ingepraat het.  Soos in die ander evangeliste word die vergifnis as van groter belang geag as die genesing, hoewel die genesing wel uiteindelik gedoen word, om daarmee te illustreer dat Jesus die mag het om beide te doen.  Die sonde staan immers aan die wortel van alle lyding en siekte en Jesus kan beide genees.

Jesus roep Matteus as dissipel as bewys van sy sending na sondaars – 9:9-13

Dit is eintlik logies dat Matteus hier die verhaal van sy eie roeping plaas, omdat hy daarmee te kenne gee dat Jesus gekom het vir sondaars.  Al is sommige van hulle nie siek soos die verlamde man nie, het almal die genesing van die vergifnis van sonde en die roeping tot ’n lewe saam met Jesus nodig.

Die roeping van Matteus en sy onmiddellike reaksie om Jesus te volg, bring ’n hele skare tollenaars en sondaars in beweging om van Hom te leer.  Die Fariseërs gooi egter sterk wal, omdat hulle sulke kontak ten sterkste afgekeur het.  Jesus gebruik dié teenstand om sy missie te verduidelik – Hy het gekom vir die siekes, dié wat barmhartigheid nodig het.  Die mense wat in die oë van die Fariseërs onwaardig is om mee gemeenskap te hou, dié word juis deur Jesus uitgekies.  Daarmee wys Hy dat sy teenwoordigheid uit genade gegee word, nie uit verdienste nie.

Matteus is dieselfde persoon as die dissipel Levi, soos ons duidelik agterkom uit die feit dat hy in dieselfde verhaal  in die ander twee Sinoptici as Levi aangedui word (Mark. 2:15; Luk. 5:29).

Jesus leer die dissipels van Johannes dat Hy alles verander – 9:14-17

Onthou dat Johannes die Doper teen dié tyd al in hegtenis geneem het.  Sy dissipels was dus eintlik alleen gelaat en het boonop gebruike gehandhaaf wat sterk asketies was, onder andere deur te vas.  Hulle wonder nou hoekom die dissipels van Jesus nie die wettiese gebruik van die vas nakom nie.  Immers, selfs die Fariseërs doen dit en Jesus het vroeër in die Bergrede gesê dat die dissipels se geregtigheid groter moet wees as dié van die Fariseërs.

Jesus se antwoord wentel om die metafoor van die bruilofsfees waar niemand vas nie. Netso kan niemand in die teenwoordigheid van die Bruidegom, Jesus, vas nie.  Daar sal wel tye kom wat vas weer nodig sal wees, maar dit sal nie presies dieselfde funksie hê as wat vas vir Johannes die Doper-hulle of die Fariseërs gehad het nie.

Dít illustreer duidelik dat Jesus se bediening nie net ’n voortsetting van Johannes die Doper se bediening is nie, ook nie net ’n voortsetting van die OT wet nie, maar ’n vervulling en ’n radikale ander inkleding, uitgedruk met die metafoor van die ongekrimpte lap wat nie op ’n ou lap vasgewerk word nie en die nuwe wyn wat nie in ou leersakke gegooi word nie.  Dit sal beide vernietig – die oue en die nuwe.

En Jesus nooi hulle uit om nie hulle agtergrond en gebruike af te skryf nie – dit het immers sy doel gehad – maar saam met Hom fees te vier en sý volgelinge te word.  Die Judaïsme het sy plek gehad. Die bediening van Johannes die Doper het sy plek gehad.  Maar, nou het die nuwe gekom, die verbintenis aan Jesus.  En dit eis dat alles nou om Hom draai.

Jesus genees ’n vrou en wek ’n dogtertjie uit die dood uit op – 9:18-26

Twee genesingsverhale word hier saam vertel.

Die eerste is van die dogtertjie van ’n leiersfiguur (in die sinagoge) wat Jesus vra om sy dogter uit die dood op te wek.  Let op dat hy glo dat Jesus dit kan doen en dat Jesus onmiddellik opstaan om te gaan doen wat Hy vra.  Die verhale van Elia (1 Kon. 17) en Elisa (2 Kon. 4) wat by geleentheid mense uit die dood opgewek het, kon miskien ’n rol gespeel het in sy geloof, soos ’n mens aflei uit sy versoek: “kom lê U hand op haar en sy sal leef.”

Jesus genees dan ook die dogtertjie terwyl Hy ook met sy beskrywing dat sy maar net slaap eintlik ’n aanduiding gee dat die dood vir Hom nie die finale sê oor enigiemand het nie.  Dit het tot die gebruik in die vroeë kerk gelei om van die gelowiges wat gesterf het op baie hoopvolle wyse as die “ontslapenes” te praat (bv. 1 Tes 4:13).  Dié verhaal van die dogtertjie het dus die hele verwagting van die kerk dat daar inderdaad ’n opstanding is, ingelei, soos uiteindelik met Jesus se eie opstanding helder bevestig is.

Die tweede verhaal van die vrou wat vir jare aan bloedvloeiing (waarskynlik erge menstruele bloeding) gely het, word vertel terwyl Jesus op pad is.  Weereens word haar geloof uitgesonder – in dié geval uitgedruk in die geloof dat sy genees sal word as sy aan sy kleed kan raak.  Let op dat sy eers genees word nádat Jesus na haar gekyk het, waarmee Matteus die klem wil laat val op die feit dat dit Jesus is wat haar genees en nie die magiese verwagting dat die aanraking outomaties tot genesing sal lei nie.  Let ook op hoe Jesus ook vir haar sê om moed te hou, soos Hy dit vir die verlamde man ook vroeër gesê het.

Jesus genees twee blindes wat in Hom glo – 9:27-31

Interessant genoeg word hierdie genesing direk aan dissipelskap gekoppel.  Nádat Jesus ’n geloofsgesprek met hulle gevoer en hulle genees het – dit vind binne die huis plaas in ’n intieme situasie – gaan hulle uit en die nuus oor Jesus versprei in daardie omgewing.  Dat hulle deur Jesus aangespreek is om te sorg dat niemand hiervan te hore kom nie, waarskynlik om te keer dat die teenstand teen sy bediening te vinnig te groot raak, help dus nie.  Hulle kan nie stilbly oor hoe hulle lewe verander is nie.

Matteus is lief vir duplikate wat gesamentlik die waarheid wat hulle verkondig, nog meer bevestig, en hierdie verhaal is een van die gevalle. Ons lees in hfst. 20:29-34 van nog twee blindes (buite Jerigo) wat genees word.  Daar is ’n groot mate van ooreenstemming in die detail (bv. twee blindes, noem Jesus die Seun van Dawid), maar ook beduidende verskille (volg Jesus vs sit langs die pad; niemand anders betrokke nie vs ’n skare wat hulle probeer stilmaak; genesing uiteindelik in ’n huis vs genesing langs die pad; gesprek oor geloof vs gesprek oor wat hulle wil hê ensomeer).

Jesus genees ’n stom besete man waarop die Fariseërs met misleiding reageer – 9:32-35

Die wonder van die genesing van die stom besete man, gee hom sy spraak terug, wat die skare verwonderd laat, maar die Fariseërs met misleiding laat reageer.  “Deur die aanvoerder van die demone dryf Hy die demone uit.”  Nóg só ’n verhaal word in Matt. 12:22-24 vertel waar dieselfde misleiding gepleeg word en die skare wonder of Jesus nie dan tóg die Seun van Dawid is nie.

Jesus roep sy dissipels tot gebed op vir meer arbeiders onder die skare volgelinge – 9:36-38

Die gedeelte wys die hart van Jesus wat deur ’n innige jammerte vir verwarde en verstrooide mense gedryf word.  Daarom roep Hy sy dissipels op om te bid vir meer arbeiders om die oes wat God gereedmaak en wat bestaan uit sulke mense, te gaan insamel.  En in die volgende hoofstuk gaan Hy hulle inderdaad uitstuur om presies dit te gaan doen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…