Skip to main content

Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees

Matteus begin met dié hoofstuk ’n nuwe aksent in sy evangelie wat ’n mens kan tipeer as die gemeenskap van die koninkryk – hfst. 14-18.

Uiteraard het dit steeds met teenstand te make, soos dit die geval was met die verhale van gemengde ontvangs in hfst. 11-13.  Johannes die Doper verloor sy lewe (14:1-12), die Fariseërs vat Jesus skerp aan oor sy interpretasie van die wet (15:1-20), die Fariseërs en die Sadduseërs vra weer vir ’n teken (16:1-4) waarna Jesus die dissipels waarsku teen hulle invloed (16:5-12).

Dit vorm die agtergrond vir die feit dat Jesus begin om al hoe duideliker te praat oor sy komende kruisdood (16:21-23; 17:22-23), wat ook as ’n metafoor dien vir die wyse waarop hulle Hom moet volg (16:24-28).  Die hoopvolle is dat Hy ook tegelykertyd van sy opstanding begin praat (16:21; 17:9,23).

Maar die gedeelte sluit ook ’n aantal wonderlike getuienisse van die wonder van sy teenwoordigheid in wat telkens met die verhale van teenstand en lyding verweef is.  Ons lees van die twee broodwonders (14:13-21; 15:32-39), Jesus en Petrus wat op die water loop (14:22-33), talle mense wat genees word (14:34-36; 15:29-31; 17:14-20), die uitnemende geloof van die Kanaänitiese vrou (15:21-28),  Petrus wat die eerste van die dissipels word wat Jesus as die Christus, die Seun van God bely (16:13-20), Jesus se verheerliking op die berg (17:1-13) en sy wondervoorsiening vir die tempelbelasting wat hulle verskuldig is (17:24-27).

Matteus fokus nou ook op die gemeenskap wat Jesus in die proses skep onder sy mense, ’n gemeenskap wat ’n uiters belangrike ruimte gaan vorm om die teenstand van die wêreld te hanteer.  Daarom word dié deel afgesluit met die vierde langer toespraak van Jesus wat spesifiek handel oor verhoudinge binne die kerk, die sogenaamde kerkrede, hfst. 18.  Daarin praat Jesus oor hoe die gemeenskap van gelowiges die verhoudinge met mekaar, binne die kerk wat begin tot stand kom, moet hanteer.  Dit handel onder andere oor die regte gesindhede (18:1-5), die vermyding van struikelblokke (18:6-9), die uitreik na afgedwaaldes (18:10-16), die opdrag tot onderlinge teregwysing (18:18-20) en tegelykertyd die opdrag tot oorvloedige vergifnis wat in die vorm van ’n gelykenis oorgedra word (18:21-35).

Johannes die Doper betaal die hoogste prys – 14:1-12

Die dood van Johannes die Doper word eintlik as agtergrond vertel vir die kommer wat Herodes het dat Jesus eintlik die opgestane Johannes die Doper is, omdat hy soveel kragtige dade doen.  Dié Herodes (Antipas) het oor ’n kwart van sy pa, Herodes die Grote, se ryk regeer.  Omdat Johannes hom aangespreek het oor sy huwelik met Herodias, sy broer Filippus se vrou, het hy Johannes aanvanklik in die tronk laat opsluit en toe op grusame wyse laat onthoof op aandrang van sy dogter (Salomi volgens Josephus) en vrou, al was dit eintlik teen sy sin.

Johannes die Doper se dood is ’n voorafskaduwing van die dood van Jesus en van vele martelare vir hulle geloof, soos ook Stefanus later sou moes deurmaak.  God keer nie dat hulle die hoogste prys vir hulle gehoorsaamheid aan Hom betaal nie.  Dit bring eer aan God – dat aan Hom getrou gebly word, ten spyte van die koste daarvan – en dit bring eer aan die gehoorsame volgeling van God.  Dit beteken ook dat die dood in die oë van God ’n baie kleiner probleem is as dat mense van Hom afvallig word.  Om die waarheid te sê, ironies genoeg is die dooie Johannes in ’n baie beter verhouding met God as die lewendige Herodes, Herodias en Salomi.

Jesus gee vyfduisend mense kos – 14:13-21

Die nuus oor Johannes die Doper laat Jesus na ’n verlate plek (woestyn) onttrek om op sy eie alleen te wees.  Klaarblyklik het die nuus Hom ontstel, hoewel ons geen detail daaroor het nie.  Die skare het Hom egter daarheen gevolg.  Hy was dus eintlik net alleen terwyl Hy in die skuit op die meer was.  Met sy uitklim op droë grond, het die skare Hom ingewag, hoewel Hy tog later dit sou regkry om alleen te kon wees (14:23).  Omdat Hy hulle egter innig jammer gekry het, het Hy nie net hulle siekes gesond gemaak nie, maar gesorg dat hulle iets te ete kry, met die vyf brode en twee visse wat die dissipels aangebied het.

Die wonder wys dat in die hande van die Here ’n klein bietjie eintlik verstommend veel kan wees.  Vyfduisend mans, laat staan nog om al die vroue en kinders by te tel, kon eet.  Dit is ook ’n baie betekenisvolle aanduiding dat Jesus inderdaad die lank verwagte Messias is wat in staat is om vir sy mense te voorsien. Eintlik verwys dié wonder ook terug na die ervaring in ’n ander woestyn toe God manna en kwartels vir sy volk met die Uittog uit Egipte in die woestyn verskaf het.  Dieselfde God wat in die OT opgetree het, tree ook nou in die NT op en die verwagting is dat Hy steeds vandag vir ons kan voorsien.

Baie geleerdes het vandag egter probleme met só ’n wonder, meer so as met die wonder van die genesing van demoon-besetenes, omdat hulle wêreldbeeld net natuurlike verklarings toelaat.  Omdat ’n mens besetenheid met iets meer verstaanbaar soos epilepsie in verband kan bring, is daardie tipe wonders meer verteerbaar, maar die vermeerdering van brood, glad nie verteerbaar nie.  Hulle geslote wêreldbeeld beperk hulle interpretasie en uiteindelik ook hulle geloof.

Ek het egter geen probleem om dit as ’n wonder te aanvaar, net soos Matteus dit vir ons beskryf nie.  Die historiese getuienis hieroor het wye aanvaarding onder nie net die dissipels geniet nie, maar ook onder die skares Jode wat agter Jesus aangegaan het.  Daar is niemand wat dit aanskou het en gesê het dit is oëverblindery nie.  Selfs sy teenstanders, die Fariseërs en koning Herodes – soos ons hier lees! – het dit as historiese gebeure aanvaar.  Dit is hierna vir eeue as histories aanvaar en het tot vandag toe nog ’n effek op die lewens van duisende gelowiges.  My prentjie van God, sowel as die historiese getuienis, laat dus vir my toe om te aanvaar en te glo dat Hy op wonderbaarlike nuwe maniere dinge kan laat gebeur in die wêreld – toe en nou.  Hy is nie vasgevang in ons idee van wat moontlik is en wat nie.

Jesus sowel as Petrus loop op die water – 14:22-33

Jesus kry dit uiteindelik reg om alleen te wees om in afsondering te kan bid teen die berg op, nadat Hy die skare weggestuur en die dissipels in die skuit na die oorkant toe te laat vaar.  Êrens tussen drie-uur en ses-uur in die oggend, die vierde nagwaak (“Teen dagbreek” in die N.A.V. vertaal), het Jesus hulle ingehaal met hulle gesukkel teen die wind terwyl Hy op die see loop.  Jesus stel die dissipels gerus in hulle angs en beveel Petrus om na Hom toe op die water te loop.  Terwyl hy Jesus in die oog gehou het, kon hy dit doen, maar toe sy fokus skuif het die twyfel hom laat sink.

Die wonder dien as sterk getuienis dat Jesus inderdaad die Seun van God is, soos die dissipels inderdaad van Hom bely.  Dit sou ’n ongelooflike belangrike bindende faktor in die ontwikkeling van die Christelike kerk verskaf.  Jesus kan nie net voorsien nie – die wonder van brood.  Hy het ook beheer oor die Skepping, soos die Gees van God dit aanvanklik met die eerste Skeppingswonder gehad het (Gen. 1) – die wonder van die waterloop.

In die verlengde hiervan sou die dissipels Jesus ook kon vertrou vir die tipiese storms wat hulle in die werklike lewe ook ervaar het, met die versekering dat God groter is as enige storm en dat Hy kan voorsien in enige behoefte.

Jesus genees die mense in Gennesaret – 14:34-36

Die hoofstuk word afgesluit met die verdere berigte van Jeus se genesingswonders in Gennesaret waarin die aanraking van die soom van sy bokleed ook ’n rol gespeel het, soos tevore met die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.

Ons lees later van soortgelyke gebeurtenisse in die vroeë kerk in Jerusalem (Hand. 5:15: “Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val.”).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…