Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees
Matteus begin met dié hoofstuk ’n nuwe aksent in sy evangelie wat ’n mens kan tipeer as die gemeenskap van die koninkryk – hfst. 14-18.
Uiteraard het dit steeds met teenstand te make, soos dit die geval was met die verhale van gemengde ontvangs in hfst. 11-13. Johannes die Doper verloor sy lewe (14:1-12), die Fariseërs vat Jesus skerp aan oor sy interpretasie van die wet (15:1-20), die Fariseërs en die Sadduseërs vra weer vir ’n teken (16:1-4) waarna Jesus die dissipels waarsku teen hulle invloed (16:5-12).
Dit vorm die agtergrond vir die feit dat Jesus begin om al hoe duideliker te praat oor sy komende kruisdood (16:21-23; 17:22-23), wat ook as ’n metafoor dien vir die wyse waarop hulle Hom moet volg (16:24-28). Die hoopvolle is dat Hy ook tegelykertyd van sy opstanding begin praat (16:21; 17:9,23).
Maar die gedeelte sluit ook ’n aantal wonderlike getuienisse van die wonder van sy teenwoordigheid in wat telkens met die verhale van teenstand en lyding verweef is. Ons lees van die twee broodwonders (14:13-21; 15:32-39), Jesus en Petrus wat op die water loop (14:22-33), talle mense wat genees word (14:34-36; 15:29-31; 17:14-20), die uitnemende geloof van die Kanaänitiese vrou (15:21-28), Petrus wat die eerste van die dissipels word wat Jesus as die Christus, die Seun van God bely (16:13-20), Jesus se verheerliking op die berg (17:1-13) en sy wondervoorsiening vir die tempelbelasting wat hulle verskuldig is (17:24-27).
Matteus fokus nou ook op die gemeenskap wat Jesus in die proses skep onder sy mense, ’n gemeenskap wat ’n uiters belangrike ruimte gaan vorm om die teenstand van die wêreld te hanteer. Daarom word dié deel afgesluit met die vierde langer toespraak van Jesus wat spesifiek handel oor verhoudinge binne die kerk, die sogenaamde kerkrede, hfst. 18. Daarin praat Jesus oor hoe die gemeenskap van gelowiges die verhoudinge met mekaar, binne die kerk wat begin tot stand kom, moet hanteer. Dit handel onder andere oor die regte gesindhede (18:1-5), die vermyding van struikelblokke (18:6-9), die uitreik na afgedwaaldes (18:10-16), die opdrag tot onderlinge teregwysing (18:18-20) en tegelykertyd die opdrag tot oorvloedige vergifnis wat in die vorm van ’n gelykenis oorgedra word (18:21-35).
Johannes die Doper betaal die hoogste prys – 14:1-12
Die dood van Johannes die Doper word eintlik as agtergrond vertel vir die kommer wat Herodes het dat Jesus eintlik die opgestane Johannes die Doper is, omdat hy soveel kragtige dade doen. Dié Herodes (Antipas) het oor ’n kwart van sy pa, Herodes die Grote, se ryk regeer. Omdat Johannes hom aangespreek het oor sy huwelik met Herodias, sy broer Filippus se vrou, het hy Johannes aanvanklik in die tronk laat opsluit en toe op grusame wyse laat onthoof op aandrang van sy dogter (Salomi volgens Josephus) en vrou, al was dit eintlik teen sy sin.
Johannes die Doper se dood is ’n voorafskaduwing van die dood van Jesus en van vele martelare vir hulle geloof, soos ook Stefanus later sou moes deurmaak. God keer nie dat hulle die hoogste prys vir hulle gehoorsaamheid aan Hom betaal nie. Dit bring eer aan God – dat aan Hom getrou gebly word, ten spyte van die koste daarvan – en dit bring eer aan die gehoorsame volgeling van God. Dit beteken ook dat die dood in die oë van God ’n baie kleiner probleem is as dat mense van Hom afvallig word. Om die waarheid te sê, ironies genoeg is die dooie Johannes in ’n baie beter verhouding met God as die lewendige Herodes, Herodias en Salomi.
Jesus gee vyfduisend mense kos – 14:13-21
Die nuus oor Johannes die Doper laat Jesus na ’n verlate plek (woestyn) onttrek om op sy eie alleen te wees. Klaarblyklik het die nuus Hom ontstel, hoewel ons geen detail daaroor het nie. Die skare het Hom egter daarheen gevolg. Hy was dus eintlik net alleen terwyl Hy in die skuit op die meer was. Met sy uitklim op droë grond, het die skare Hom ingewag, hoewel Hy tog later dit sou regkry om alleen te kon wees (14:23). Omdat Hy hulle egter innig jammer gekry het, het Hy nie net hulle siekes gesond gemaak nie, maar gesorg dat hulle iets te ete kry, met die vyf brode en twee visse wat die dissipels aangebied het.
Die wonder wys dat in die hande van die Here ’n klein bietjie eintlik verstommend veel kan wees. Vyfduisend mans, laat staan nog om al die vroue en kinders by te tel, kon eet. Dit is ook ’n baie betekenisvolle aanduiding dat Jesus inderdaad die lank verwagte Messias is wat in staat is om vir sy mense te voorsien. Eintlik verwys dié wonder ook terug na die ervaring in ’n ander woestyn toe God manna en kwartels vir sy volk met die Uittog uit Egipte in die woestyn verskaf het. Dieselfde God wat in die OT opgetree het, tree ook nou in die NT op en die verwagting is dat Hy steeds vandag vir ons kan voorsien.
Baie geleerdes het vandag egter probleme met só ’n wonder, meer so as met die wonder van die genesing van demoon-besetenes, omdat hulle wêreldbeeld net natuurlike verklarings toelaat. Omdat ’n mens besetenheid met iets meer verstaanbaar soos epilepsie in verband kan bring, is daardie tipe wonders meer verteerbaar, maar die vermeerdering van brood, glad nie verteerbaar nie. Hulle geslote wêreldbeeld beperk hulle interpretasie en uiteindelik ook hulle geloof.
Ek het egter geen probleem om dit as ’n wonder te aanvaar, net soos Matteus dit vir ons beskryf nie. Die historiese getuienis hieroor het wye aanvaarding onder nie net die dissipels geniet nie, maar ook onder die skares Jode wat agter Jesus aangegaan het. Daar is niemand wat dit aanskou het en gesê het dit is oëverblindery nie. Selfs sy teenstanders, die Fariseërs en koning Herodes – soos ons hier lees! – het dit as historiese gebeure aanvaar. Dit is hierna vir eeue as histories aanvaar en het tot vandag toe nog ’n effek op die lewens van duisende gelowiges. My prentjie van God, sowel as die historiese getuienis, laat dus vir my toe om te aanvaar en te glo dat Hy op wonderbaarlike nuwe maniere dinge kan laat gebeur in die wêreld – toe en nou. Hy is nie vasgevang in ons idee van wat moontlik is en wat nie.
Jesus sowel as Petrus loop op die water – 14:22-33
Jesus kry dit uiteindelik reg om alleen te wees om in afsondering te kan bid teen die berg op, nadat Hy die skare weggestuur en die dissipels in die skuit na die oorkant toe te laat vaar. Êrens tussen drie-uur en ses-uur in die oggend, die vierde nagwaak (“Teen dagbreek” in die N.A.V. vertaal), het Jesus hulle ingehaal met hulle gesukkel teen die wind terwyl Hy op die see loop. Jesus stel die dissipels gerus in hulle angs en beveel Petrus om na Hom toe op die water te loop. Terwyl hy Jesus in die oog gehou het, kon hy dit doen, maar toe sy fokus skuif het die twyfel hom laat sink.
Die wonder dien as sterk getuienis dat Jesus inderdaad die Seun van God is, soos die dissipels inderdaad van Hom bely. Dit sou ’n ongelooflike belangrike bindende faktor in die ontwikkeling van die Christelike kerk verskaf. Jesus kan nie net voorsien nie – die wonder van brood. Hy het ook beheer oor die Skepping, soos die Gees van God dit aanvanklik met die eerste Skeppingswonder gehad het (Gen. 1) – die wonder van die waterloop.
In die verlengde hiervan sou die dissipels Jesus ook kon vertrou vir die tipiese storms wat hulle in die werklike lewe ook ervaar het, met die versekering dat God groter is as enige storm en dat Hy kan voorsien in enige behoefte.
Jesus genees die mense in Gennesaret – 14:34-36
Die hoofstuk word afgesluit met die verdere berigte van Jeus se genesingswonders in Gennesaret waarin die aanraking van die soom van sy bokleed ook ’n rol gespeel het, soos tevore met die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.
Ons lees later van soortgelyke gebeurtenisse in die vroeë kerk in Jerusalem (Hand. 5:15: “Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val.”).
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels
- Lees die vier evangelies en Handelinge
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie
- Lei ons nie in versoeking nie
Tags: Matteus
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus
Chris van Wyk
| #
Hi Awie, “beter” beteken hier “het ‘n groter impak.” Dit is my weergawe van Paulus se lering dat Korintiërs hulle moet toelê op die “groter / belangriker gawes” soos die Grieks in 1 Korintiërs 12:31 vertaal moet word (χαρίσματα τὰ ⸀μείζονα). Hy gee die lering omdat die Korintiërs die spreek in tale verkies (hoër geag) het eerder as profesie, terwyl profesie juis ‘n belangriker gawe was wat ‘n groter impak in die gemeente gehad het. Dit is waarom die 2020-vertaling van “belangriker genadegawes” praat (1 Kor 12:31). Want, dit is waaroor dit gaan. Op soortgelyke wyse vertaal die 2020-vertaling die een wat profeteer as “van groter waarde” as die een wat in tale spreek (1 Kor 14:5). Gawes is dus gelyk in die sin dat die Gees dit aan elkeen uitdeel soos Hy dit wil. Maar dit is ongelyk in terme van die impak wat dit in ander se lewe kan hê. Tale stig jouself en as dit reg gedoen word, is dit ‘n teken aan ongelowiges (1 Kor 14:22), maar profesie – die uitleg van God se Woord vir vandag – bring almal tot insig, verantwoording en aanbidding omdat die geheime van die hart blootgelê word (1 Kor 14:24-25). Profesie is dus ‘n “groter” of “belangriker” gawe in die konteks van die gemeente. Hoop dit help!
Chris van Wyk
| #
Hi Roland, ek verduidelik dit in die breër konteks van die perikoop. Lukas 17:20-36:
Teks en konteks
Let op hoe Jesus in die eerste twee verse in gesprek met die Fariseërs gaan oor die huidige onsigbaarheid van die koninkryk van God. Om net daarna tot en met vers 37 met sy dissipels oor die uiteindelike sigbaarheid van die koninkryk van God te praat. Die boodskap van die huidige onsigbaarheid is dus vir die Fariseërs wie se oë blind is vir wat Hy doen onder hulle. Die boodskap van die toekomstige sigbaarheid is vir sy eie mense om hulle hoop te versterk, selfs al moet hulle self in verwagting leef en nie in aanskoue nie.
17:20-21 Met die Fariseërs praat Jesus hier oor die feit dat die koninkryk van God wel in sy aardse bediening raakgesien kan word. Dit is wat die frase beteken: “die koninkryk van God is onder julle.” Hulle het egter ‘n politieke of militêre koninkryk verwag. Daarom is die koninkryk vir hulle onsigbaar. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Dis die “vinger van God” wat uit die onsigbare geestelike sfeer sy impak in hierdie wêreld maak (vgl Luk 11:20; Matt 12:28). Die Fariseërs het nie oë om dit raak te sien nie, want hulle glo nie in Hom nie.
17:22-23 Met die dissipels praat Jesus oor die toekomstige koninkryk van God wat uiteindelik sigbaar sal word wanneer Hy weer na die aarde toe sal terugkom. Dit sal aan die een kant ‘n uitdaging vir hulle wees, omdat hulle sal verlang om dit te sien, maar dat die wagtyd lank gaan wees. Waarvoor hulle veral versigtig moet wees, is om nie mislei te word deur mense wat voortydig allerlei aansprake maak dat Hy hier is of daar.
17:24 Jesus se wederkoms sal onverwags, maar duidelik herkenbaar wees, soos die weerlig op een plek slaan, maar die hele hemelruim verlig.
17:25 Dan keer Jesus terug na die hede en praat oor sy lyding en verwerping deur “hierdie geslag”, ‘n verwysing na die Joodse leiers.
Jesus verwys dan na twee voorbeelde uit die geskiedenis wat die dissipels sal help om die wederkoms te verstaan. Die verhaal van Noag en die oordeel van die vloed. En die verhaal van Lot en die oordeel oor Sodom. Albei hierdie verhale is van ‘n ongeïnhibeerde boosheid wat die samelewing oorgeneem het. Totdat God met sy oordeel ingegryp het.
17:26-27 Die mense het in Noag se tyd vir ongeveer ‘n eeu lank aangegaan met hulle lewe terwyl Noag die ark gebou het. Geëet, gedrink, en getrou. Totdat alles klaar was, Noag in die ark ingegaan het, die vloed van God se oordeel gekom en almal uitgewis is. So sal dit ook wees met Jesus se wederkoms.
17:28-30 Die mense het in Lot se tyd dieselfde gedoen. Hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant, gebou. Maar, op die dag wat die engele Lot en sy mense uit Sodom gered het, het die vuur en swael van God se oordeel uit die hemel gereën en almal uitgewis. So sal dit ook wees die dag waarop die Seun van die mens aan almal geopenbaar sal word. Hy sal kom met ‘n verlossende oordeel.
17:31-32 Jesus illustreer die gereedheid wat hy van sy dissipels verwag met die voorbeeld van iemand wat op die dak van sy huis is. Hy moenie nog tyd verspil om ‘n paar besittings uit die huis te gaan haal as die Here kom nie. Hy wat in die veld is, moenie terugdraai na wat by die huis is nie. “Onthou Lot se vrou!” Sy het in ‘n pilaar van sout verander toe sy teruggedraai het na wat agtergebly het in Sodom en Gomorra en is agtergelaat (Gen 19:17, 26). Sy het só haar redding verloor.
17:33 Jesus verklaar hierdie beginsel vir sy dissipels soos volg. As jy hier jou lewe probeer behou deur in te pas by hierdie wêreld, sal jy juis jou lewe daar met die wederkoms verloor. Maar, selfs as jy jou lewe hier verloor, omdat jy aan Hom getrou bly, sal jy jou lewe vir ewig behou in die hiernamaals (vgl Luk 9:24).
17:34-35 Die wederkoms sal ook ‘n skeiding bring tussen mense. Tussen eggenote en werkgenote. Die “aanneming” is ‘n verwysing na die engele se werk om die gelowiges van die ongelowiges te skei by die wederkoms. Wie Jesus in hierdie lewe “aanneem” (Joh 1:12), sal met sy Wederkoms “aangeneem word.”
17:36 Die dissipels probeer dan die plek agterkom waar dit sal gebeur. As die tyd dan onbekend is. Miskien kan hulle ten minste die plek identifiseer waar dit sal gebeur. Jesus antwoord hulle egter nie direk nie. Hy gebruik ‘n moeilike interpreteerbare verwysing na aasvoëls. Dit kan dui op die herkenbaarheid van die wederkoms, soos ’n mens weet daar is ’n lyk as aasvoëls daarom vlieg. Hulle sal dus weet as die wêreld ryp is vir oordeel. Die wêreld sal soos ’n verrottende lyk wees waarom die aasvoëls draai. Dan sal die einde kom.
Boodskap en betekenis
Hierdie verhale van Noag en Lot, en Jesus se toepassing daarvan, moet ons waaksaam maak om Jesus te gehoorsaam in hierdie lewe, en gereed maak sodat ons Hom in die volgende lewe kan ontvang as Hy terugkeer. Die tragiese feit dat die wederkoms ook skeiding sal bring tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie, moet ons aanvuur om die evangelie aan almal te bring.