Skip to main content

Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer

Dieselfde gemengde ontvangs van die koninkryk word in hoofstuk 12 vertel, maar die teenstand word meer met die Fariseërs verbind.  Die Fariseërs bevraagteken onder andere die wyse waarop Jesus-hulle die Sabbat hou (12:1-8), dat Hy iemand op die Sabbat genees (12:9-14), en dat Hy ’n blinde, stom demoon-besetene genees (12:22-32).  Hulle idee van geregtigheid en Syne verskil dus dramaties.  Hulle begin daarom planne beraam om Hom om die lewe te bring.

Hierdie groeiende teenstand, veral die feit dat hulle sy dood begin beplan, laat Jesus skerp reageer op hulle boosheid met ’n duidelike boodskap dat hulle rekenskap sal moet gee (12:33-37) en dat hulle uiteinde slegter sal wees as die begin (12:43-45).  Ironies genoeg is Jesus wel bereid om vir hulle een teken te gee, toe die skrifkenners en Fariseërs dit van Hom vra.  Maar, dit is die teken van sy kruisdood, presies dit wat hulle ten kwade beplan, maar wat die hoogtepunt van sy bediening sal wees, die verlossing van die mensdom (12:38-42).

Daarteenoor staan die dissipels in skerp kontras, mense wat sy woorde en bediening met oop arms ontvang en Hom in alles navolg, hoewel sy moeder en broers steeds bekommerd is oor Hom (12:46-50).  Hy is immers die vervulling van die OT verwagting, soos Matteus vir die soveelste keer uit die OT aanhaal, hierdie keer uit  Jes. 42:1-4, met die boodskap dat Hy die Groot Geneesheer is (12:15-21).  Sommige verstaan dit en omhels Hom.  Ander weier om dit raak te sien en staan Hom teë.

Die Fariseërs neem aanstoot dat Jesus Here oor die Sabbat is – 12:1-8

Die Fariseërs veroordeel Jesus oor sy dissipels op die Sabbat (koring)-are pluk en eet.  Omdat die vryf-aksie om die koring uit die are te kry as werk beskou is deur die Fariseërs, het hulle dit as Sabbatsontheiliging beskou.

Jesus antwoord hulle op vier maniere:

  1. Hy haal die verhaal van Dawid aan wat wydingsbrode geëet het in die huis van God, toe hy en sy mense honger was en moes vlug vir Saul (1 Sam. 21:1-6).  Dit is ’n baie betekenisvolle verwysing.  Ons lees in Samuel dat dit ‘n tydperk was van uiterste gevaar vir Dawid.  Hy was ‘n uitgeworpene in die koningshuis, sonder sy wapens en kos, en op hierdie stadium sonder enige manskappe.  Dan gebeur daar twee betekenisvolle goed, hy kry die swaard van Goliat en gewyde brood by die priester Agimelek.  En net hierna sou manskappe by hom aansluit, selfs sy broers.  Hy word hiermee dus toegerus vir die stryd wat kom.  Die Here is dus by hom, terwyl hy in gevaar verkeer. Die Fariseërs sou die implisiete boodskap, dat Jesus die Seun van Dawid is, nie gemis het nie, soos ons binnekort gaan raaksien as die skare dit van Hom vra tot argwaan van die Fariseërs.
  2. Hy haal ook die gebruik van die OT bedeling aan dat priesters op die Sabbat diens mag gedoen het (bv. Num. 28:9-10).  Hoe dan anders!  Hiermee gee Jesus natuurlik ook ’n leidraad na sy (Hoë)-priesterskap, iets wat die Fariseërs kwalik sou kon mis.  Iemand groter as die tempel is in hulle midde, maar hulle kies om oor die uitleg van die wet te kibbel.
  3. Hy haal Hosea (6:16) aan in die baie bekende woorde: “Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie.” As die Fariseërs dít van God ter hart geneem het, sou hulle die onskuldige dissipels nie veroordeel het nie.
  4. Die toppunt van die gedeelte is egter dat Hy sy antwoord afsluit met die duidelike boodskap dat Hy die Here is en dit beteken dat Hy as die Seun van die mens, die Here is ook van die Sabbat.

Daarmee illustreer Hy natuurlik ook nie net dat Hy Here is van die Sabbat nie, maar dat die Sabbat gemaak is vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie, soos op ander plekke in die evangelies beredeneer word.

Die Fariseërs neem aanstoot dat Jesus iemand genees op die Sabbat – 12:9-14

Dit is steeds die Fariseërs wat Jesus hier teenstaan – vgl. vers 14.  Let op dat dit slegs die moontlikheid  van die genesing van die man met ’n verdorde hand op die Sabbatdag is wat hulle noop om nie net ’n vraag te vra waarmee hulle Hom later kan aankla nie, maar inderdaad hierna planne teen Hom te beraam om Hom om die lewe te kon bring.  Die genesing is vir hulle van baie minder belang as dat hulle iets teen Hom wil kry.

Sy antwoord is nie net dat ’n mens meer werd is as die Sabbatdag en die reëls daar rondom nie, maar dat goeddoen op alle dae toelaatbaar is.  Hy teken eintlik ook ’n prentjie van Homself dat mense soos sy skape is wat Hy verseker uit die put sal red as hulle daarin val, selfs op die Sabbat.  Hulle sou immers dieselfde doen, hoewel dit ironies genoeg illustreer dat hulle diere belangriker is vir hulle as iemand wat ly aan ’n gebrek.  Ten spyte van hulle ooglopende bose bedoelings maak Jesus dus die man, “sy skaap”, gesond.

Jesus se genesing is die vervulling van die OT beloftes – 12:15-21

Jesus se genesingsbediening vermeerder sterk, maar Hy waarsku teen die voortydige bekendmaking daarvan, onder andere weens die groeiende teenstand soos ons uit die eerste vers agterkom: “Toe Jesus dit agterkom …”  waar Hy na die Fariseërs se planne verwys.  Maar dit is ook omdat Hy nie wil hê dat mense die verkeerde idee oor Hom sal kry nie.

Hy is nie ’n populêre politieke Messias nie, maar een wat dien, wat nie probeer naam maak nie, maar fokus op die reg wat vir die geknakte riete en die rokende lamppitte moet seëvier, soos ’n mens uit die lang aanhaling uit Jes. 42:1-4 agterkom.  Sy effektiwiteit lê in die paradoks van lyding en opoffering wat die reg laat seëvier.  Iets wat ons in terme van ons eie lewe ter harte moet neem.

Dit beteken ook dat Jesus se bediening baie kragte en genesings insluit, maar dat dit nie die essensie daarvan is nie.  Die vestiging van geregtigheid op aarde is die passie van sy bediening soos reeds in die Bergrede duidelik gemaak.  Dié geregtigheid word daarby nie met twis en geskreeu en groot toesprake in die strate gevestig nie, maar deur aandag te gee daaraan dat ’n geknakte riet nie afgebreek word nie, dat ’n rokende lamppit  nie uitgedoof word nie, totdat die reg regdeur die wêreld vir alle nasies ’n werklikheid word.

Dít is die Messias waarop die nasies met reg hulle hoop kan vestig, ook vandag.

Die Fariseërs neem aanstoot dat Jesus ’n demoon-besete persoon bevry – 12:22-32

Let op dat die Fariseërs reageer op die mense wat Jesus as die Seun van Dawid, die lank verwagte Messias, begin eien.  Die genesing van die blinde stom demoon besetene is vir hulle van absoluut minder belang.

Hulle skryf Jesus se werk – om demoon besetenes te genees – aan die aanvoerder van die demone toe, Beëlsebul, een van die name van Satan.  Beëlsebul was ’n naam wat aanvanklik aan ’n Filistynse god, Baälsebul, behoort het (2 Kon. 2-16).  Mettertyd is dit ’n naam wat ook vir Satan gebruik is, met die betekenis “’prins van die demone”.  Hulle kla Jesus dus waarskynlik aan van towery.

Jesus – wat hulle gedagtes ken en daarmee eintlik sy goddelikheid aan hulle bewys – wys die valsheid van hulle argumentasie uit.

  1. ’n Koninkryk, dorp of huis wat teen homself verdeeld is, kan nie staande bly nie.
  2. Die praktyk van demoon uitdrywing was bekend in daardie tyd ook onder die Jode (Hand. 19:13) wat hulle besware teen Jesus eintlik belaglik maak.

Hy openbaar die bron van sy demoon uitdrywery as die Gees van God.  Dit dra die boodskap aan hulle dat die koninkryk in Jesus en in die wonders hulle nou bereik het.  Dit impliseer dat die “sterk man” waarvan hulle praat, die Satan, gebind is en dat mense van sy mag bevry kan word. Johannes sou waarskynlik later hieroor skryf in Openbaring 20:2, hoewel dit ook op die finale eskatologiese oorwinning oor die Satan kan dui.

Daarmee gaan hy hulle skerp teë en ontbloot hulle teëstand as ’n verstrooiing van hulle volgelinge wat tot hulle ewige skade sal dien.  Nie net ’n verstrooiing nie, hulle openbaar ’n absolute weiering om die boodskap van die koninkryk te aanvaar en maak hulle boonop skuldig aan die sonde en lastering teen die Heilige Gees.  Dit verteenwoordig ’n absolute verwerping van God se genade wat hulle daarvan uitsluit, nou en in die bedeling wat kom.

Die “onvergeefbare sonde” het dus direk te make met die Fariseërs wat ’n genesingswonder sien en dan weier om die krediet daarvoor aan die werk van die Gees in Jesus toe te skryf, selfs al wys Hy vir hulle die absurditeit van hulle argumente uit en lê Hy dit korrek uit vir hulle. Dit gaan dus nie om ’n misverstand van wie Jesus is en wat Hy doen nie, maar die direkte teenstand teen die koninkryk wat Hy kom vestig en die weiering om te aanvaar dat dit van die Gees van God, van God self af kom.

Donald Hagner (Word) sê dit so mooi: “The only unforgivable sin is that of deliberately denying God in a fundamental way, one which goes against plain and obvious evidence. Such hardheartedness is the result of one’s own deliberate insensitivity and cuts one off from forgiveness. However, any person who is genuinely worried about having committed the unforgivable sin against God, by virtue of this concern, can hardly be guilty of such blasphemy or denial.”

Ek kan dit nie beter sê nie.

Jesus spreek hulle skerp aan dat hulle rekenskap van hulle boosheid sal gee – 12:33-37

Jesus brei uit op sy gesprek met die Fariseërs en wys uit dat die lasterlikheid van hulle beskuldiging dat Jesus eintlik ’n gesant van die Satan is van hulle verdorwe natuur af kom.  Hulle noem goed sleg en sleg goed.  Geen wonder dat hulle in sy oë die Addergeslag is!

In woorde wat herinner aan hfst. 7:16-20 gebruik hy die metafoor van ’n boom wat aan sy vrugte herken sal word.  Hoe kan hulle dan iets slegs sê van Hom wat besig is om goed te doen!

Hy gebruik hulle boosheid as waarskuwing aan alle mense om te let op wat hulle sê en doen, want van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel moet rekenskap gee.  Let op hoe Jesus hier woorde aan die gedagtes in die skatkamer van die hart verbind.  Dieselfde kan natuurlik van dade gesê word.

Soos Spreuke sê: ““Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (4:23).  Paulus eggo dit in sy brief aan die Kolossense: “En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol. 3:17).

Jesus gee vir hulle die teken van Jona, sy kruisdood – 12:38-42

Die reaksie van die skrifkenners en die Fariseërs hierop wys op ondubbelsinnige wyse hulle ongemotiveerde teëstand teen Jesus.  Hulle vra van Hom ’n teken, terwyl hulle al vele gesien het.  Daarmee wys hulle hul ongeloof en weiering om Hom as die Seun van God te aanvaar.

Jesus se reaksie daarop wys dat Hy die boosheid en “owerspeligheid” van die Joodse leiers raaksien.  Hulle wil nie God se werk in Jesus raaksien en erken nie, wat beteken dat hulle God nie wil dien nie, nie aan Hom getrou wil wees nie, ten spyte van hulle getrouheid aan die wet.  Hy gee dus vir hulle ’n teken, maar dit is die teken van die profeet Jona, om by wyse van spreke, drie dae en nagte in die diepte (letterlik: hart) van die aarde te wees.

Daarmee verwys Hy na sy kruisdood, sowel as na die tyd tussen sy dood en sy opstanding, ’n ervaring wat Paulus in min of meer dieselfde woorde eggo:  “dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe.” (Ef. 4:9).  Petrus interpreteer die gebeure waarna Jesus verwys met dié teken as volg: “En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het.” (1 Pet. 3:19-20).  Daardeur het Jesus die mag oor die dood en die doderyk verwerf, soos Johannes later in die Openbaring skryf: “Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” (Openb. 1:18).  In die Christelike belydenisse vorm dit die agtergrond van die belydenis dat Christus “ter helle neergedaal het”, hoewel die frase “ter helle neergedaal” nie so in die NT voorkom nie.

Paulus sou later oor hierdie sug van die Jode na wondertekens skryf en spesifiek sê dat hy hom daarteenoor voorgeneem het om net oor Jesus en baie spesifiek Hy as gekruisigde met die mense van Korinte te praat (1 Kron. 1:22 ).

Jesus gee dan uitdrukking aan sy afgryse oor die Joodse leiers se halstarrigheid met twee metafore.  Een, dié van die mense van Nineve wat die Joodse leiers sal veroordeel, omdat Jona hulle kon oortuig tot bekering, maar Jesus nie genoeg was vir die Joodse leiers nie.  En twee, dié van die koningin van die Suide (Skeba – vgl. 1 Kon. 10 – lees hier meer in my bydrae oor Konings) wat die Joodse leiers sal veroordeel, omdat Salomo se wysheid haar tot ’n besoek beweeg het en die Wysheid self, Jesus Christus, nie vir hulle genoeg was nie.

Jesus waarsku hulle dat hulle uiteinde slegter sal wees as die begin – 12:43-45

Jesus waarsku hulle dan dat hulle uiteinde slegter sal wees as hulle begin deur ’n metafoor, amper ’n gelykenis, te gebruik.  In die kontak met Jesus kry hulle ’n voorsmakie van wat dit beteken om met God ’n pad te begin loop, hoe sy koninkryk geregtigheid en genesing te weeg sal bring, so pas geïllustreer deur die genesing van demoon besetenes.  Maar, as hulle nie Jesus die middelpunt van hulle lewens maak en Hom begin volg nie, sal hulle slegter daaraan toe wees, as hulle nie meer in sy teenwoordigheid is nie.  Trouens, só sal dit nie net met die Joodse leiers gaan nie, maar met almal wat die boosheid verkies bo Jesus.

Jesus prys die dissipels dat hulle die wil van die Vader doen – 12:46-50

Matteus vertel nie vir ons die redes waarom Jesus se moeder en broers met Hom wou praat nie, maar dit is waarskynlik dieselfde rede as wat Markus (3:21)  aangee, dat hulle bekommerd was dat Hy besig is om van sy kop af te raak, deurdat Hy net aangaan om mense te bedien en nie selfs tyd afknyp om te eet nie.  Jesus gebruik dié versoek van sy moeder en broers om iets positief te sê oor die dissipels, dat hulle eintlik sy moeder en broers en susters is, omdat hulle die wil van sy Vader in die hemele doen, anders as die Fariseërs wat Hom teenstaan.  Hulle is sy ware familie.

Jesus se broers het wel later tot bekering gekom en sommige van hulle het leiersrolle in die vroeë kerk gespeel, bv. Jakobus, soos ons in Handelinge lees asook Judas, soos ons in die brief van Judas lees.  Jesus het vier broers gehad, Jakobus, Josef, Simon en Judas, asook nog ’n paar susters (Matt. 13:55).

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar