Skip to main content

Lei ons nie in versoeking nie

Volgens berigte was die voorstel van die pous dat die Engelse vertaling van die sesde bede van die Ons Vader (Matt 6:13) nie moet lees: “Lead us not into temptation,” (soos in die meeste Engelse vertalings) nie, maar: “Do not let us fall into temptation.”

Daarmee kan hy die sesde bede van die Ons Vader beter harmonieer met Jakobus se duidelike lering dat God niemand versoek nie (Jak 2:12-15).

1. Die Griekse werkwoord ter sprake is eispherō. Dit beteken om te veroorsaak dat iets met iemand gebeur. Dit kan vertaal word met woorde soos: om te veroorsaak, om te laat, om te bring, om te lei (Louw-Nida).

Die Griekse selfstandige naamwoord ter sprake is peirasmos wat beteken om te probeer om iemand te laat sondig. Die woord kan vertaal word met woorde soos: versoeking en valstrik.

Saam met hierdie woord vir versoeking – wat ook valstrik kan beteken – kan jy dan vertaal: “Do not let us fall into …”.

2. ‘n Mens kan egter ‘n ander roete opgaan om die teologiese probleem op te los.

Die Griekse selfstandige naamwoord peirasmos kan in ander gevalle ook met ‘n woord soos: toetsing of vuurproef, vertaal word (Louw-Nida). Soos dit bv in 1 Petrus 4:12 vertaal word.

Jy kan dus in die Engelse vertaling die woord “testing” eerder as “temptation” gebruik. Dit gee ‘n vertaling “Do not lead us into (a time of) testing …” soos baie kommentare die sesde bede in elk geval uitlê. Dit klink ook beter op die oor, ten minste in terme van hoe mense oor God dink.

3. Maar, as jy in elk geval weet dat God niemand kan versoek nie, soos Jakobus tereg dit sê, hoef ‘n mens nie ‘n probleem met die oorspronklike Engelse of Afrikaanse vertalings te hê nie, want jy weet dit is nie in konflik met die res van die boodskap van die Skrif nie.

Dieselfde geld die vertaling van die Ons Vader volgens Lukas 11:4 wat net die eerste deel van die sesde bede weergee: “En bring ons nie in versoeking nie.” (BDV)

Die sesde bede beteken dus dat ons van God vra: “laat ons nie sondig nie”. Ons vra van God om ons digby Hom te hou, sodat ons nie afdwaal deur ons sonde nie, soos vier Afrikaanse vertalings dit weergee (NLV; DB; ABA; NTK).

Die laaste frase in die sesde bede: “red/verlos/bevry ons van die Bose,” (al die Afrikaanse vertalings) vra daarby dat God finaal met die Bose sal klaarspeel. Die Bose (ponerou) kan ook onpersoonlik verstaan word (soos ‘n hele paar vertalings dit het), maar verpersoonliking maak vir my hier beter sin weens die bepaalde lidwoord wat daarmee saam gebruik word. Dit is ook hoe dit gebruik word in Matt. 5:39 vir ‘n bose mens.

Jesus leer die dissipels nog twee keer in Getsemane om min of meer dieselfde gebed te bid.

  • Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie (Matt 26:41) – Bid sodat julle nie in versoeking kom nie. (Luk 22:40)
  • Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. (Luk 22:46)

Met dit in gedagte kan ‘n mens nou kyk na ‘n paar vertalings en self oordeel watter vir jou die boodskap die beste oordra.

8 Afrikaanse vertalings

  • En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. (OAV)
  • En laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. (NAV)
  • En bring ons nie in versoeking nie, maar red ons van die Bose. (BDV)
  • Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; maar bevry ons van die greep van die Bose. (NLV)
  • En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose. (ASV)
  • Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen. (DB)
  • En help ons dat niks sal gebeur wat ons sal laat sonde doen nie. Maar beskerm ons teen die duiwel. (ABA)
  • Help ons om nie sonde te doen of na die duiwel te luister nie. (NTK)

8 Engelse vertalings

  • And lead us not into temptation, but deliver us from evil. (KJV; RSV)
  • And do not lead us into temptation, But deliver us from the evil one. (NKJV)
  • And do not lead us into temptation, but deliver us from the evil one. (NET)
  • And lead us not into temptation, but deliver us from the evil one. (NIV)
  • And lead us not into temptation, but deliver us from evil. (ESV)
  • And do not bring us into temptation, but deliver us from the evil one. (LEB)
  • Keep us safe from ourselves and the Devil. (MSG)

Dit is ook uiters interessant om ‘n bietjie te kyk na hoe na versoekings in die res van die NT gekyk word, want dit help ‘n mens om die Ons Vader beter te verstaan.

Paulus leer ons dat God juis in versoeking uitkomste verskaf in 1 Korintiërs 10:13

Geen versoeking het oor julle gekom behalwe ‘n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur. (BDV)

Paulus spel ook in 1 Timoteus 6:9-12 uit dat die begeerte na rykdom ons in versoeking kan bring, en dat ons versigtig moet wees daarvoor.

Wie ryk wil wees, val in versoeking en ‘n strik van baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. Want geldgierigheid is ‘n wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, o mens van God, vlug weg van hierdie dinge!  Streef eerder na geregtigheid, vroomheid, betroubaarheid, liefde, volharding, sagmoedigheid. Hardloop die goeie wedloop van die geloof; gryp na die ewige lewe waartoe jy geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. (BDV)

Die Hebreërskrywer verwys ook na die tyd van versoeking in die woestyn waar dit juis die volk was wat God versoek (of getoets) het (Hebr 3:7-15). Hy waarsku die gelowiges dat hulle nie in dieselfde valstrik val nie.

Daarom, soos die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard soos met die opstand in die tyd van versoeking in die woestyn toe julle voorouers My versoek en beproef het nie, al het hulle my dade gesien — veertig jaar lank.  Daarom het my toorn ontvlam teenoor hierdie geslag  en het Ek gesê, ‘In hulle harte is hulle altyd op ‘n dwaalspoor, en my paaie wou hulle nie leer ken nie.’ Dus het Ek in my toorn gesweer, ‘In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie!’ ”Broers, waak daarteen dat nie een van julle ooit ‘n bose hart vol ongeloof kry deur van die lewende God afvallig te word nie. Maar spoor mekaar elke dag aan, solank daar nog van “vandag” sprake is, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Ons het inderdaad deelgenote van Christus geword, mits ons enduit stewig bly vashou aan ons aanvanklike geloofsvertroue — soos gesê word: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard soos tydens die opstand nie.”

Jakobus bevestig dat ‘n mens beproewing as ‘n toets kan verstaan en verduidelik hoe versoeking iets is wat vanuit ons eie begeertes kom (Jak 2:12-15).

Geseënd is die man wat beproewing deurstaan, want as hy die toets deurstaan, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek,” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood. (BDV)

Petrus bevestig God se vermoë om mense uit versoeking te red in 2 Petrus 2:9

Dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat ‘n toegewyde lewe lei, uit versoeking te red. (BDV)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…