Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie

Ek het ‘n navraag gekry oor Matt. 5:22 en wat dit vir ons beteken vandag.

The Sermon on the Mount Carl Bloch, 1890
The Sermon on the Mount
Carl Bloch, 1890

Jesus fokus in die Bergrede op geregtigheid – die stryd daarvoor (Matt. 5), die lewe daarvan (Matt. 6), en die vrug daarvan (Matt. 7).

In hoofstuk 5 praat hy van dié wat stry vir geregtigheid as God se geseëndes (Matt. 5:1-12). Hulle is die sout vir die aarde en maak God sigbaar in die wêreld (Matt. 5:13-16). Hulle is volmaak soos hulle Vader in die hemel volmaak is en maak van vyande vriende (Matt. 5:17-48).

In laasgenoemde gedeelte, Matt. 5:17-48, sluit Jesus aan by die Tien Gebooie en herinterpreteer veral die tweede tafel van die wet radikaal. Hy praat oor moord pleeg (5:21-26), owerspel (5:27-30), egbreuk (5:31-32), eedswering (5:34-37), vergelding (5:38-42), en vyande (5:43-47) met ‘n afsluitende oproep dat ons volmaak moet wees soos sy Vader volmaak is (5:48).

In Matteus 5:21-26 lê Jesus die sesde gebod van die Tien Gebooie uit: “Jy mag nie moord pleeg nie.” (Eks. 20:13).

Vers 22 lui as volg: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is.  En wie vir sy broer sê, Raka!’, is strafbaar voor die Sanhedrin.  En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur.”

Jesus wys in vers 22 dat dit nie net die fisiese daad van moord is wat deur die wet verbied word nie, maar ook ‘n mens se innerlike gesindheid van haat teenoor ander mense. Om kwaad te bly vir iemand (“wat kwaad is”) of die uitskel van iemand as ‘n gek (die Griekse woord “Raka” kan ook “domkop” of “nikswerd” beteken) of as ‘n dwaas (die Griekse woord “more” kan ook “idioot”, “rebel”, “ketter”, of “onnosel” beteken) is alreeds oortredings van die wet.

Dit is strafbaar “voor die reg” (plaaslike hof), “voor die Sanhedrin” (hoogste hof in Jerusalem met 71 lede), en uiteindelik “in Gehenna met sy vuur” (voor God met die laaste eskatologiese oordeel).  Let op hoe die implikasies daarvan eskaleer.  Soos die apostel Johannes ook later in 1 Joh. 3:15 skrywe: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.”

Dit beteken dat enige onvanpaste etikettering van iemand op “karakter-moord” neerkom, soos ons al ‘n paar keer dié jaar in die pers en op Facebook gesien het in terme van “rassistiese” en ander etiketterende skeldtaal. Dit is benede standaard vir volgelinge van Jesus. Dit kan ook ewige gevolge vir ons hê.  “Karakter-moord” verdien in beginsel presies dieselfde straf as fisiese “moord”.  Ons word geroep om so volmaak “soos God” in ons verhoudinge teenoor ons naaste op te tree, soos die wet inderdaad van ons gevra het in die OT.  Die NT vra eintlik nog meer van ons as wat die wet in die OT gevra het.

Jesus wys met vers 22 dat alle sondes uit die hart kom (Matt. 15:19) en dat die geregtigheid wat God van ons vra nie net oor uiterlike dade gaan nie, maar ook oor innerlike gesindhede. Ons het Hom nodig om ons van binne af te transformeer dat ons vanuit ‘n rein hart geregtigheid kan nastreef beide in innerlike gesindheid as in uiterlike gedrag.

View all posts in this series

Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

    • Hi Sarah, “Bloedskuld” verwys na die skuld wat op iemand rus as hy moord pleeg, ‘n oortreding van die sesde gebod (Eks. 20:13; Deut. 5:17). Moord is uiteraard wanneer jy ‘n onskuldige se lewe neem, óf die reg in eie hande neem en iemand vermoor sonder dat jy verlof het daarvoor. So waarsku Abigajil vir Dawid om nie Nabal te vermoor nie, want dan sal hy die reg in eie hande neem (1 Sam. 25:26). Dawid distansieer homself ook van die moord op Abner om dieselfde rede (2 Sam. 3:28-29). Dié reël sluit natuurlik verskillende “wettige” vorme van doodmaak uit, bv. waar die wet die doodstraf aan iemand opgelê het (bv. in die geval van moord – Lev. 24:17) of in oorlog (Num. 31:7).

      In die konteks van Psalm 51 – wat geskryf is na aanleiding daarvan dat die profeet Natan na Dawid toe gekom het oor sy owerspel met Batseba, waarin hy vir Urija laat doodmaak het – bid Dawid dus dat die Here hom sal vergewe van die “bloedskuld” wat die moord op Urija op hom gelê het. Die geskiedenis word vir ons vertel in 2 Samuel 11. Let op dat Natan Dawid daar direk van moord beskuldig, al het Dawid dit deur ‘n gekonkelry reggekry: “Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so ’n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.” (2 Sam. 12:9).

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: