Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
Hierdie gedeelte van Matteus – wat ’n mens kan tipeer as die weerspieëling van die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Joodse volk gehad het, hfst. 11-13 – word nou afgesluit met die derde toespraak van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede van hoofstuk 13.
Dit bestaan uit ’n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend as die gelykenis van die Saaier (of die saad). As jy dit egter wil tipeer in terme van die funksie van die gelykenis, dat dit op die ontvangs van die koninkryk fokus, is dit beter om dit die gelykenis van die grond te noem. Dit maak veral sin omdat die res van die gelykenisse in die hoofstuk almal ’n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk beklemtoon, met die een oor die onkruid tussen die koring wat ook besonder prominent is, en ook apart aan die dissipels verklaar word.
Dit is ook belangrik om die volgende in ag te neem in jou interpretasie van gelykenisse. Gelykenisse word deur baie geleerdes beskou as ’n verhaal wat net een punt wil maak wat ’n mens deur goeie eksegese en goeie kennis van die wêreld waarvoor dit geskep is, kan agterkom. Dié manier van lees, word egter toenemend bevraagteken in studies oor metafore en die teorieë oor die betekenis wat lesers aan ’n teks gee. Dit beteken dat ’n mens met reg die veelvlakkige betekenis van die onderskeie gelykenisse kan ontgin, om só ’n ryk en gevarieerde boodskap daaruit te put. Die gelykenisse interpreteer immers ook vir ons, nie net ons die gelykenisse nie. Dit is ’n lewende woord aan ons wat deur God se Gees gebruik word om met ons te praat.
Net so is daar baie pogings al aangewend om die onderliggende struktuur van die rangskikking van die gelykenisse in hierdie hoofstuk te beskryf. Hoewel die idee – dat die gelykenis van die saad die toon aangee – redelike steun geniet (met die ander gelykenisse wat dan verdere perspektiewe daarop verleen) is daar nóg ’n belangriker indeling wat ’n mens help om die hoofstuk te verstaan.
JESUS ONTMAGTIG DIE SKARE MET GELYKENISSE: Jesus is in die eerste helfte van die hoofstuk, vers 1-36, meesal met die skare langs die see op die strand besig (vgl. 13:2,34). Soms het Hy, waarskynlik terwyl die skare nog daar was, net met die dissipels gepraat, toe hulle nader gekom het aan Hom, om sy dieper verklaring te hoor (13:10-23). Maar in die breë is Hy met die skare besig. In totaal het hy dus vier gelykenisse hier met die skare gedeel sonder verdere verduidelikings aan hulle – die gelykenis van die grond, die onkruid tussen die koring, die mosterdsaad en die suurdeeg. “Sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie,” sê Matteus, sodat die Skrif vervul sou word uit Ps. 78:2, hoewel die gelykenisse aan die skare op ’n negatiewe aanwending van die Psalm dui.
JESUS BEMAGTIG DIE DISSIPELS MET GELYKENISSE: In die res van die hoofstuk, vers 36-53, is Jesus net met die dissipels binne die huis besig, nadat die skare weggestuur is (13:36). Hy verklaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring en gebruik nog vier gelykenisse – die gelykenis van die skat, die pêrel, die treknet en die skrifkenner met nuwe en ou skatte. Die laaste een kan ook net ’n beskrywende opmerking wees, maar het met die tema van die koninkryk te make en word dus as gelykenis interpreteer.
Dit bevestig ook die veelvlakkige betekenis van die gelykenisse.
Die laaste perikoop van die hoofstuk handel oor die verwerping in Nasaret wat nie deel van die koninkryksrede vorm nie.
Die gelykenis van die grond – 13:1-9
Jesus lewer dié gelykenis langs die See van Galilea vanuit ’n skuit op die see aan ’n skare wat op die strand bly staan het. Die detail van die gelykenis van die grond is vir ons baie bekend. Die saad word in vier kontekste, vier tipes grond, gesaai. Die voëls pik die saad langs die pad op. Die son verskroei die saad in rotsagtige plekke dat dit verdroog. Die dorings verstik die saad wat tussen hulle val. Die goeie grond lewer ’n goeie tot uitstekende opbrengs. Die effektiwiteit van die saad hang dus af van beide die werk van die Saaier, sowel as die ontvanklikheid van die grond.
Jesus som dit op met sy woorde: “Wie ore het, moet luister.” Dit gee ons ’n sleutel vir die wyse waarop die gelykenisse beide ontmagtigend sowel as bemagtigend in die res van die hoofstuk werk.
Die ontmagtigende effek van die gelykenisse – 13:10-18
Die dissipels ontvang ’n verklaring van die doel van die gelykenisse. Dit is God se manier om sy boodskap verstaanbaar te maak vir sy dissipels – “omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die koninkryk van die hemele te verstaan”. Maar terselfdertyd, met dieselfde gelykenis, maak Hy dit nie verstaanbaar vir die skare nie: “omdat hulle siende blind en horende dood is en dus nie verstaan nie.” Dit, sê Jesus, is ’n vervulling van die profesie van Jesaja 6:9-10 (aangehaal uit die Griekse vertaling van die OT, die Septuaginta of LXX – vgl. ook Joh. 12:40 waar Johannes ook Jesaja aanhaal, sowel as Hand. 28:26-27 waar Paulus dit ook doen).
Daarmee gee Jesus uitdrukking aan die misterieuse kant van die genade. God gee ontvanklikheid vir wie Hy wil. ’n Mens kan net dankbaar wees as jy genade ontvang, nie regtig dit ten diepste begryp nie. Genade is per definisie onverdiend en afhanklik van God se besluit. Maar, die ander kant is ook waar. Die onbegrip is ook te wyte aan die tipe grond en die gesindheid van “siende blind” en “horende doof”. Gelykenisse help en bemagtig dus dié wat gehoorsaam en ontvanklik is. Gelykenisse dwarsboom en ontmagtig dié wat nie gehoorsaam en ontvanklik is nie.
Die bemagtigende verklaring van die gelykenis van die grond – 13:19-23
Jesus se verklaring van die gelykenis van die grond bevestig die feit dat gelykenisse veelvlakkig is. Hy verduidelik die redes waarom die grond op spesifieke maniere op die saad reageer.
- Die grond van die pad dui op mense wat die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie. Die Bose roof wat in hulle harte gesaai is.
- Die rotsagtige grond dui op mense wat die woord met vreugde hoor, maar struikel as gevolg van verdrukking of vervolging, sogenaamde “mooiweer Christene”. Hulle hou net ’n rukkie.
- Die doringagtige grond dui op mense wat die woord hoor, maar nie vrug dra nie as gevolg van bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom, sogenaamde “materiële Christene”. Die wêreld en die sug na welvaart verstik die woord.
- Die goeie grond dui op mense wat die woord hoor en begryp en daarom vrug dra.
Die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:24-30
Jesus verduidelik die gemengde werklikheid waarbinne gelowiges moet saamleef met ongelowiges met die gelykenis van die onkruid tussen die koring. Die gelykenis het dus nie dieselfde betekenis as dié van die derde tipe grond van die vorige gelykenis van die grond nie. Dié gelykenis kom ook net in Matteus voor.
Daar is in dié gelykenis nie net ’n man wat goeie saad saai op die land nie, ook ’n vyand, wat onkruid tussen die koring saai. Die problematiek is dan hoe om die koring tussen die onkruid te hanteer, want die tipe onkruid (zizanion – in Engels darnel, in Afrikaans waarskynlik drabok) waarvan hier gepraat word, het baie soos koring gelyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes. Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe. Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word. Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.
Die betekenis hiervan sal eers aan die dissipels verduidelik word as hulle alleen terug in die huis is.
Die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg – 13:31-33
Jesus sluit sy lering van die skare af met twee gelykenisse.
Die gelykenis van die mosterdsaad dui op die groei van die koninkryk van die hemele wat van ’n klein begin ’n omvattende ruimte vir al God se mense verskaf.
Die gelykenis van die suurdeeg dui ook op die groei van die koninkryk van die hemele van ’n klein begin af, maar lê meer klem op die “aansteeklike krag” wat in die evangelie opgesluit lê.
Die openbaarmakende karakter van die gelykenisse – 13:34-35
In dié gedeelte haal Jesus uit Ps. 78:2 aan en interpreteer die gelykenisse aan die skare as ’n vervulling daarvan, hoewel dit die Psalm in die lig van die gebrek aan ontvanklikheid by die skare op negatiewe manier op die gelykenisse betrek. Die positiewe betekenis van die Psalm kan egter wel deeglik by die gelykenisse aan die dissipels gesien word. God maak Homself bekend aan dié wat ontvanklik is daarvoor. Die omgekeerde gebeur met dié wat nie ontvanklik is vir Hom nie.
Die verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:36-43
Jesus stuur die skare weg en gaan met sy dissipels in die huis in, waarskynlik Kapernaum en verklaar, op hulle versoek, vir hulle die gelykenis van die onkruid tussen die koring en vertel nog vier ander gelykenisse om die idee van die koninkryk van die hemele nog verder vleis te gee in hulle begrip daarvan.
Hy lê die eienaar uit as die Seun van die Mens, wat natuurlik weereens sy identifikasie met hulle op die tafel sit. Die goeie saad is die kinders van die koninkryk. Die onkruid is die kinders van die Bose. Die oes is die voleinding van die wêreld waar die kinders van die Bose met vuur verbrand sal word en die regverdiges, die kinders van die koninkryk, sal skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.
Met hierdie gelykenis motiveer Jesus dus die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelowiges wat langs mekaar bestaan as ’n feit wat aanvaar word, en dat die inherente konflik tussen hulle in terme van waardestelsels en geloof eenvoudig verduur sal moet word, totdat geregtigheid uiteindelik seëvier. Daarmee hou Jesus die hoop op God se toekoms aan die brand.
Die gelykenisse van die skat, die pêrel en die treknet – 13:44-50
Met dié drie gelykenisse gee Jesus ’n glorieryke prentjie van wat die koninkryk van die hemele vir die kinders van die koninkryk, die dissipels en die ander volgelinge van Jesus, sal inhou. Dit is noodsaaklik in terme van die uitdaging wat dit vir hulle inhou om uit te hou en aan te hou in ’n tyd waarin onreg en ongeregtigheid baie keer seëvier.
Die eerste twee, die gelykenis van die skat in die veld, sowel as die kosbare pêrel, dra beide die betekenis van die allesoortreffende betekenis en belang van die koninkryk van die hemele. Dit is alles wat jy besit, werd.
Die derde een, oor die treknet wat goeie en slegte visse gevang het, versterk die boodskap van die gelykenis van die onkruid tussen die koring en verseker die gelowiges dat die regverdiges nie dieselfde lot as die bose mense te beurt sal val nie.
Die gelykenis van die skrifkenner met nuwe en ou skatte – 13:51-53
Die koms van die koninkryk laat jou alles herwaardeer. Daarom vra Jesus of sy dissipels verstaan. En om seker te maak, vertel hy die gelykenis van die skrifkenner (sommige dink dat Matteus hier van homself praat!) se nuwe en ou skatte as hy ’n leerling raak in die koninkryk van die hemele.
- Daar is diskontinuïteit – dinge werk anders in die teenwoordigheid van Jesus. Daar is dus nuwe skatte vir die skrifkenner.
- Daar is egter ook kontinuïteit – dinge wat dieselfde is as in die ou bedeling. Daar is dus ook ou skatte vir die skrifkenner.
Dit is ’n baie belangrike afsluiting van hierdie toespraak van Jesus, een wat ons eintlik met reg ter harte kan neem as ons dink aan die blywende impak van die OT:
- Daar is dinge wat net so voortgaan in die NT: God se genade en liefde, sy eis tot geloof en gehoorsaamheid.
- En daar is dinge wat tot ’n einde gekom het, die versoening deur offers, die onderhouding van die wet in terme van die besnydenis en die Sabbat.
- En daar is natuurlik nuwe dinge, soos die doop en die nagmaal wat die unieke uitkomste van die bedeling van die NT verteenwoordig.
Jesus word in Nasaret verwerp – 13:54-58
Die ontvangs van Jesus se boodskap in Nasaret, sy tuisdorp, kom vervolgens onder die vergrootglas en dit illustreer die oorwegend negatiewe ontvangs wat Hy onder die Joodse volk, sowel as spesifiek die Joodse leiers, geniet het. Sy wysheid en kragtige dade word gediskrediteer omdat hulle hom kan etiketteer as deel van die familie van die skrynwerker (waarskynlik eintlik ’n bouer) wie se vrou by die naam genoem word, Maria, maar nie meer sy pa Josef nie, omdat hy waarskynlik teen dié tyd oorlede is.
Hulle neem dus aan Hom aanstoot, soveel só dat Hy vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade daar gedoen het nie.
Ons leer hier dat Jesus vier broers gehad, Jakobus, Josef, Simon en Judas, asook nog ’n paar susters. Ons weet dat Jakobus nie net later ’n belangrike Christelike leier in Jerusalem geword het nie, maar ook die brief van Jakobus geskryf het en wat in die NT opgeneem is. Ons weet ook dat Judas die brief geskryf het wat sy naam dra en ook in die NT opgeneem is. Dit sê nogal iets van die impak wat Jesus ná sy opstanding ook op sy eie familie gehad het. Uiteindelik is Hy dus ten minste in ’n deel van sy huis geëer, al was dit nie die geval in sy tuisdorp nie.
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie - January 4, 2014
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus - January 16, 2014
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte - January 17, 2014
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom - January 20, 2014
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur - January 21, 2014
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening - January 22, 2014
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid - January 23, 2014
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid - January 24, 2014
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid - January 27, 2014
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings - January 28, 2014
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes - January 29, 2014
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit - January 30, 2014
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee - January 31, 2014
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer - February 3, 2014
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse - February 4, 2014
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees - February 5, 2014
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes - February 6, 2014
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap - February 7, 2014
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese - February 10, 2014
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe - February 11, 2014
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit - February 12, 2014
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit - February 13, 2014
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers - February 14, 2014
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs - February 17, 2014
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs - February 18, 2014
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid - February 19, 2014
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid - February 20, 2014
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën - February 21, 2014
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe - February 24, 2014
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels - February 25, 2014
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie - July 15, 2016
- Lei ons nie in versoeking nie - July 11, 2019
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.