Skip to main content

Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings

Met hoofstuk agt kom ‘n volgende hoofdeel van Matteus se verhaal op die tafel, wat ek in die inleiding as volg gedefinieer het: die krag en missie van die koninkryk – hfst. 8-10.  Die drie hoofstukke handel oor ‘n seleksie van verhale uit Jesus se bediening wat twee hoofaksente bevat:

  • GENESINGS: Matteus fokus sterk op die verhale van Jesus se genesings en wonders; daar is nege genesingsverhale (‘n melaatse, verskillende verlamdes, ‘n koorsige skoonma, verskillende besetenes, ‘ n bloeiende vrou, en ‘n gestorwe dogter) en een wonderverhaal oor die storm wat stil gemaak word, verweef met die ander verhale.  Só word God se krag gedemonstreer;
  • DISSIPELSKAP: Matteus fokus sterk op ‘n beskrywing van hoe Jesus gevolg moet word.  Tussen die verhale van genesings en wonders is daar verskillende verhale van volgelingskap ingeweef, soos die verhaal van Matteus se roeping, en die verhaal oor die uitsending van die twaalf, waarin Jesus ook uitbrei oor die ontberinge van dissipelskap en die eis tot lojaliteit aan Hom, waarby ook sy lering oor vastye en feestye ingesluit word.  Só word God se missie uitgevoer.

Hoofstuk agt bevat vier genesingsverhale en een wonderverhaal, sowel as die eerste lering oor hóé Jesus gevolg moet word.

Let op na drie interessante aspekte van die genesingsverhale:

  • GEMEENSKAP: Die eerste en laaste genesings betrek mense wat uit die gemeenskap gedryf is weens hulle siekte/besetenheid (‘n melaatse en twee demonies besetenes).  Die tweede genesing betrek ‘n slaaf wat ook uit die gemeenskap uitgesluit is weens sy status in die gemeenskap, hoewel dit wel wonderlik is dat sy baas anders as die normale optree, deur sy slaaf se saak by Jesus te bepleit.   Die derde genesing, die skoonma s’n, het ook ‘n subtiele, maar duidelike boodskap oor insluiting in die gemeenskap van die familie. Al die genesings het dus met die herstel van gemeenskap te make.
  • GELOOF: Die genesings word in twee gevalle direk aan geloof gekoppel – die melaatse maak sy genesing afhanklik van Jesus se “wil” en die hekatontarg (hoofman oor honderd) word spesifiek vir sy geloof uitgesonder deur Jesus, hoewel dit waarskynlik eerder geloof in aksie is, soos geïllustreer met sy versoek aan Jesus.  Selfs die twee demonies besetenes kom “Hom tegemoet”, hoewel die demone nie juis daarmee tevrede is nie.  Maar, die skoonma word genees, doodgewoon omdat Jesus haar raaksien.  Dit help ons verstaan dat die genesings, en selfs die geloof wat daarby betrokke is, nie verdienstelik is nie.  God gee dit ook waar Hy nie gevra word nie!
  • GESPREK: Die genesings vind meesal plaas in die konteks van ‘n gesprek met Jesus, waarin mense na Hom toe kom en met Hom in gesprek tree, en Hy hulle aanraak!  Net die geval van Petrus se skoonmoeder is effens anders, want dit is Jesus wat haar met sy besoek en verblyf in Petrus se huis, raaksien, en genees.  Maar, die genesing en verdere verloop van die besoek het alles met die ervaring van Jesus se teenwoordigheid te make.

Die wonderverhaal betrek ook al drie hierdie aspekte – gemeenskap (“ons vergaan”), geloof (“kleingelowiges”) en gesprek – dit het selfs gesprek en verwondering by ander mense as die dissipels uitgelok.

Jesus genees ‘n melaatse man – 8:1-4

Melaatsheid – die Griekse woord kan eintlik na verskillende velsiektes verwys – het dié wat daaraan gely het kulties onrein gemaak.  Hulle is dus uit die gemeenskap en uit die tempel uitgesluit.  Dit was daarom een van die mees gevreesde siektes van die antieke tyd.  Dit is belangrik om te weet dat die man vra dat Jesus hom sal rein maak (nie gesond, soos dit in die NAV staan nie), soos dit in die oorspronklike staan!  Jesus se ja vir dié man, is eintlik ‘n ja vir almal wat uitgesluit is van die gemeenskap met ander in die teenwoordigheid van God.

Jesus handhaaf hier ook baie duidelik die eise van die wet om die gemeenskap van die melaatse met die res van die volk te herstel deur die voorgeskrewe offer.  Dit wys dat Jesus se duidelike woorde in die Bergrede nie ydele praatjies was nie.  Hy het inderdaad nie gekom om die wet en die profete te ontbind nie, maar te vervul.  Die genesing is egter daarby ‘n bewys van God se krag aan die priesters.

Jesus genees ‘n Romeinse hekatontarg se slaaf – 8:5-13

Die Griekse woord wat Matteus hier vir slaaf gebruik, kan ook op seun dui, maar die konteks dui duidelik daarop dat die hekatontarg (hoofman oor honderd) in ‘n gesagsverhouding met die slaaf staan.  Die offisier vra dat sy verlamming en pyn genees sal word.

Die Romeinse hekatontarg weet dat ‘n Jood nie aan huis van ‘n heiden mag gaan nie, en probeer dit dus vir Jesus makliker maak deur te sê dat hy nie dit werd is dat Jesus na sy huis toe kom nie.  Daardeur illustreer hy egter sy groot geloof soos Jesus inderdaad opmerk, en Jesus genees die heidense hekatontarg se slaaf.

Die geloof gee Jesus ‘n visie op die toekoms waarin die orde tussen heidene en Jode omgekeer sal word, en dié aan wie die koninkryk van die hemele eintlik behoort, nie daarvan deel sal hê nie.  Gelowiges uit die heidene sal aan die feesmaal in die koninkryk van die hemele kom aanlê.  Die gelykenisse van die boere en die wingerd (Matt. 21) en die bruilof (Matt. 22) sal verder hierop uitbrei.

Jesus genees Petrus se skoonma van koors – 8:14-17

Jesus se aanraking en genesing van Petrus se skoonma is nie net belangrik weens die gemeenskapskeppende hand wat Hy na haar uitsteek nie, maar ook die genesing wat spesifiek aan Jesaja 53 verbind word, as illustrasie daarvan dat Jesus ons krankhede op Hom geneem het en ons siektes gedra het.  Daarop kan ons in die verlengde hiervan van al die koorsighede in ons eie lewe op Hom staatmaak vir genesing.

Jesus wys hóé Hy gevolg moet word – 8:18-22

Jesus lewer hier kommentaar op die besluite van sommige volgelinge om Hom te volg.  Hy praat hier in oortreffende alles-of-niks trant om sy punt te maak dat dissipelskap radikaal en alles-omvattend is:

  • Soos Jesus nie ‘n vaste tuiste het nie, moet dissipels bereid wees om sonder ‘n vaste tuiste te leef. Die kerk het telkens nodig om dié boodskap ter harte te neem, en nie te gemaklik deel van die normale patroon van doen te word nie.
  • Sy dissipels moet ook bereid wees om by wyse van spreke, sommige normale sosiale verwagtinge – dat kinders hulle ouers tot hulle dood toe te versorg – te laat vaar.  Implisiet in die beskrywing van die familie as “dooies” lê waarskynlik ook ‘n tipering van hulle as “geestelike dooies” wat nie toegelaat mag word om die fokus op dissipelskap te verhinder nie.

Jesus gebruik hier die titel “Seun van die mens” vir Homself waarskynlik ook in die betekenis van die nederige vereenselwing met die mensdom waaraan Hy Hom blootgestel het met sy geboorte as mens.

Jesus laat die wind en see kalm word – 8:23-27

Direk ná die gesprek oor die radikale volgelingskap van Jesus, kom hierdie verhaal wat twee goed doen.

  • Dit dien as ’n toets/versoeking vir die dissipels wat Hom volg.
  • En dit dien as demonstrasie van Jesus se gesag en God se krag.

In ’n baie spesifieke sin kom die boodskap van hoofstuk 8-10 hier by mekaar, met die dubbele boodskap dat:

  • ’n mens bereid moet wees om Jesus te volg maak nie saak hoe geweldig die storms, die wind en die weer, is nie EN
  • dat ’n mens kan staatmaak op Sy ingrype wat kalmte bring.  Die wind en die see gehoorsaam Hom.

Jesus bevry twee besetenes van demone – 8:28-34

Jesus kom met sy dissipels aan in Gadara.  Twee gevaarlike demoon besete mans uit die rotsgrafte kom Hom tegemoet.  Let op dat die demone Jesus die Seun van God noem, maar natuurlik uit vrees vir hulle lot.  Op hulle versoek gee Jesus vir hulle verlof om in die varke te vaar wat terstond die hele spul in die see laat versuip, tot groot konsternasie van die dorpenaars.

Die dorpenaars gaan ook vir Jesus tegemoet, maar om Hom te smeek om uit hulle gebied weg te gaan.  Die twee gevaarlike mans ontmoet die Here dus en word van hulle demone verlos tot hulle ewige bevryding.  Die dorpenaars ontmoet Hom en dryf Hom weg tot hulle ewige beskaming.

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar