Skip to main content

Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid

Nadat Jesus hierdie ses sleutel aspekte van die stryd vir geregtigheid op die tafel gesit het, fokus Hy op hóé mens die lewe van geregtigheid beoefen.  En onthou, dit omsluit eintlik almal met wie jy in ‘n verhouding is.  Mense wat naby aan jou is soos huweliksmaats, en mense wat jou teenstanders en selfs jou vyande is.  Mense wat wat jou kwaad maak en ontstel met hulle dwaasheid en “nikswerdgeid” (“a useless soort van vent,” soos een van my vriende soms uit radeloosheid opmerk), sowel as jou verhouding met jouself, waarin dit belangrik is om reg te kyk, reg te praat en reg op te tree teenoor dié wat jou kwaad (kan) aandoen.

Jesus lig in hierdie hoofstuk twee oorhoofse aspekte van die lewe van geregtigheid uit:

  1. Liefdadigheid, gebed en vas – die lewe met God – 6:1-18;
  2. Fokus op God nie op jou eie welvaart nie – die lewe in die gemeenskap – 6:19-34.

Liefdadigheid, gebed en vas – die lewe met God – Matt. 6:1-18

Die eerste ding wat Jesus in hierdie deel van sy toespraak doen, is om skynheiligheid te ontbloot: “Wees op julle hoede dat julle nie julle geregtigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word nie …”  Liefdadigheid, net soos gebed en vas, is deel van jou lewe met God, wat wel mense se lewens aanraak, maar nie bedoel is om jouself in die kalklig te stel nie.  Dié wat liefdadigheid ontvang moet God in die liefdesdaad raaksien.

Jesus waarsku dus onomwonde teen die gevaar van liefdadigheid ter wille van die aansien wat dit die een gee aan die een wat ‘n liefdesdaad verrig.  Die linkerhand moet nie weet wat die regterhand doen nie.  Dan is daar wel die belofte van God wat jou sal beloon, want Hy sien in die verborge.

Dieselfde geld die gebede in die sinagoges en op die straathoeke waarvoor sommige in Jesus se tyd so lief was.  Hy raai sy volgelinge aan om eerder na hulle binneste kamer te gaan, die deur toe te maak en in die verborgenheid tot die Vader te bid.  Dit was waarskynlik die binneste kamer in die Joodse huise wat as pakplek gedien het en nie vensters gehad het nie.  Daar in die verborgenheid moet hulle tot God bid, want God weet immers wat hulle nodig het voordat hulle Hom nog vra.

Matteus gee dan die ses aspekte van Jesus se Ons Vader gebed weer wat as omvattende model vir dié “binneste kamer” gebed kan dien.

Drie daarvan het met God self te make (ek gebruik die Nuwe Afrikaanse Proefvertaling):

  1. Laat u Naam geheilig word;
  2. Laat u koninkryk kom;
  3. Laat u wil geskied – soos in die hemel, so ook op die aarde (vgl. Openb. 4-5!).

Drie daarvan het met onsself te make:

  1. Gee ons vandag ons daaglikse brood;
  2. Vergeef ons ons skulde – omdat ons ook hulle vergeef het (let op die verlede tyd!) wat teenoor ons skuldig staan;
  3. Bring ons nie in versoeking nie – maar red ons van die Bose.

Daarby lewer Jesus ‘n stukkie ekstra kommentaar op die vyfde bede waarmee Hy daaraan ‘n belangrike prominensie verleen: As julle vergeef, sal die hemelse Vader julle ook vergeef; as julle egter nie vergeef nie, sal die Vader julle ook nie vergeef nie.  Dit versterk die idee van hoofstuk 5 dat ons lewe daarop gefokus moet wees om van vyande vriende te maak. Geseënd is die vredemakers …

Laastens behels die geregtigheid van die lewe met God die wyse waarop ons ons afsonder vir Hom, hier uitgedruk met die gebruik om te vas.  Weereens moet die dissipels waak teen skynheiligheid, en nie met ‘n lang gesig vas, sodat mense kan sien hoe swaar jy kry nie.  Dit is nie die mense wat moet sien dat jy vas nie, maar God!

Fokus op God nie jou eie welvaart nie – die lewe in die gemeenskap – Matt. 6:19-34

Jesus fokus hier op die geregtigheid van ons lewe in die gemeenskap.  Ons word geroep om te fokus op God, sy koninkryk en sy geregtigheid, en nie op ons eie welvaart nie.  Dit omsluit:

  • ons besittings en waarvoor ons dit aanwend, óf vir God óf vir ons eie welvaart (Mammon) – 7:19-24 – en
  • ons bekommernisse, dít waarvoor ons lewe: vir kos, drank en klere óf vir die koninkryk van God en sy geregtigheid – 7:25-34.

Jesus gee hier as’t ware ‘n nuwe doel en strategie vir die lewe in die gemeenskap.  Aan die basis daarvan lê ‘n revolusionêre waardestelsel.  Jesus sê, “Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het; soek daarom bo alles na God se koninkryk en sy geregtigheid, en al die lewensmiddele sal vir julle bygevoeg word.”  (6:32-33 – vry vertaal).  Geloof in dié belofte van God bepaal ons fokus na die een of die ander kant toe.

Oor besittings: Jou hart (vers 21) en jou oog (vers 22-23) is waar jou skatte is, sê Jesus.  As jy fokus op die koninkryk en sy geregtigheid en jou besittings gebruik dat die koninkryk kan kom, sal jou hart en jou oë ook daar wees.  As jy egter op die aarde en jou voortbestaan op aarde fokus, sal jou hart eerder hier wees, en is jy nie net uitgelewer aan die vernielsug van mot en roes, sowel as die gevaar van inbrekers en diewe nie, maar verduister jy eintlik jou eie lewe met jou gebrek aan geestelike insig, en mis jy boonop die sorg van jou hemelse Vader.

Jy kan nie twee base dien nie (vers 24).  Jy sal óf vir God leef en dié dien en Hom vertrou.  Óf jy sal jou eie welvaart (Mammon staan vir geld en besittings in die sin van iets waarop jy jou vertroue plaas) en dít dien en daarop vertrou.

Oor bekommernisse: As ‘n mens op God vertrou en dié dien, beteken dit dat jy jou nie hoef te bekommer oor die lewensmiddele van kos, drank en klere nie.  God weet wat jy nodig het, en sal vir jou voorsien.  Dat dít waar is, kan jy in die natuur sien: voëls, veldblomme, en gras.  God sal meer vir ons doen as vir die natuur.  Daarom kan ons soek na God se koninkryk en sy geregtigheid.  Hy sal vir ons al die lewensmiddele verskaf.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…