Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid
Nadat Jesus hierdie ses sleutel aspekte van die stryd vir geregtigheid op die tafel gesit het, fokus Hy op hóé mens die lewe van geregtigheid beoefen. En onthou, dit omsluit eintlik almal met wie jy in ‘n verhouding is. Mense wat naby aan jou is soos huweliksmaats, en mense wat jou teenstanders en selfs jou vyande is. Mense wat wat jou kwaad maak en ontstel met hulle dwaasheid en “nikswerdgeid” (“a useless soort van vent,” soos een van my vriende soms uit radeloosheid opmerk), sowel as jou verhouding met jouself, waarin dit belangrik is om reg te kyk, reg te praat en reg op te tree teenoor dié wat jou kwaad (kan) aandoen.
Jesus lig in hierdie hoofstuk twee oorhoofse aspekte van die lewe van geregtigheid uit:
- Liefdadigheid, gebed en vas – die lewe met God – 6:1-18;
- Fokus op God nie op jou eie welvaart nie – die lewe in die gemeenskap – 6:19-34.
Liefdadigheid, gebed en vas – die lewe met God – Matt. 6:1-18
Die eerste ding wat Jesus in hierdie deel van sy toespraak doen, is om skynheiligheid te ontbloot: “Wees op julle hoede dat julle nie julle geregtigheid voor die mense beoefen om deur hulle gesien te word nie …” Liefdadigheid, net soos gebed en vas, is deel van jou lewe met God, wat wel mense se lewens aanraak, maar nie bedoel is om jouself in die kalklig te stel nie. Dié wat liefdadigheid ontvang moet God in die liefdesdaad raaksien.
Jesus waarsku dus onomwonde teen die gevaar van liefdadigheid ter wille van die aansien wat dit die een gee aan die een wat ‘n liefdesdaad verrig. Die linkerhand moet nie weet wat die regterhand doen nie. Dan is daar wel die belofte van God wat jou sal beloon, want Hy sien in die verborge.
Dieselfde geld die gebede in die sinagoges en op die straathoeke waarvoor sommige in Jesus se tyd so lief was. Hy raai sy volgelinge aan om eerder na hulle binneste kamer te gaan, die deur toe te maak en in die verborgenheid tot die Vader te bid. Dit was waarskynlik die binneste kamer in die Joodse huise wat as pakplek gedien het en nie vensters gehad het nie. Daar in die verborgenheid moet hulle tot God bid, want God weet immers wat hulle nodig het voordat hulle Hom nog vra.
Matteus gee dan die ses aspekte van Jesus se Ons Vader gebed weer wat as omvattende model vir dié “binneste kamer” gebed kan dien.
Drie daarvan het met God self te make (ek gebruik die Nuwe Afrikaanse Proefvertaling):
- Laat u Naam geheilig word;
- Laat u koninkryk kom;
- Laat u wil geskied – soos in die hemel, so ook op die aarde (vgl. Openb. 4-5!).
Drie daarvan het met onsself te make:
- Gee ons vandag ons daaglikse brood;
- Vergeef ons ons skulde – omdat ons ook hulle vergeef het (let op die verlede tyd!) wat teenoor ons skuldig staan;
- Bring ons nie in versoeking nie – maar red ons van die Bose.
Daarby lewer Jesus ‘n stukkie ekstra kommentaar op die vyfde bede waarmee Hy daaraan ‘n belangrike prominensie verleen: As julle vergeef, sal die hemelse Vader julle ook vergeef; as julle egter nie vergeef nie, sal die Vader julle ook nie vergeef nie. Dit versterk die idee van hoofstuk 5 dat ons lewe daarop gefokus moet wees om van vyande vriende te maak. Geseënd is die vredemakers …
Laastens behels die geregtigheid van die lewe met God die wyse waarop ons ons afsonder vir Hom, hier uitgedruk met die gebruik om te vas. Weereens moet die dissipels waak teen skynheiligheid, en nie met ‘n lang gesig vas, sodat mense kan sien hoe swaar jy kry nie. Dit is nie die mense wat moet sien dat jy vas nie, maar God!
Fokus op God nie jou eie welvaart nie – die lewe in die gemeenskap – Matt. 6:19-34
Jesus fokus hier op die geregtigheid van ons lewe in die gemeenskap. Ons word geroep om te fokus op God, sy koninkryk en sy geregtigheid, en nie op ons eie welvaart nie. Dit omsluit:
- ons besittings en waarvoor ons dit aanwend, óf vir God óf vir ons eie welvaart (Mammon) – 7:19-24 – en
- ons bekommernisse, dít waarvoor ons lewe: vir kos, drank en klere óf vir die koninkryk van God en sy geregtigheid – 7:25-34.
Jesus gee hier as’t ware ‘n nuwe doel en strategie vir die lewe in die gemeenskap. Aan die basis daarvan lê ‘n revolusionêre waardestelsel. Jesus sê, “Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het; soek daarom bo alles na God se koninkryk en sy geregtigheid, en al die lewensmiddele sal vir julle bygevoeg word.” (6:32-33 – vry vertaal). Geloof in dié belofte van God bepaal ons fokus na die een of die ander kant toe.
Oor besittings: Jou hart (vers 21) en jou oog (vers 22-23) is waar jou skatte is, sê Jesus. As jy fokus op die koninkryk en sy geregtigheid en jou besittings gebruik dat die koninkryk kan kom, sal jou hart en jou oë ook daar wees. As jy egter op die aarde en jou voortbestaan op aarde fokus, sal jou hart eerder hier wees, en is jy nie net uitgelewer aan die vernielsug van mot en roes, sowel as die gevaar van inbrekers en diewe nie, maar verduister jy eintlik jou eie lewe met jou gebrek aan geestelike insig, en mis jy boonop die sorg van jou hemelse Vader.
Jy kan nie twee base dien nie (vers 24). Jy sal óf vir God leef en dié dien en Hom vertrou. Óf jy sal jou eie welvaart (Mammon staan vir geld en besittings in die sin van iets waarop jy jou vertroue plaas) en dít dien en daarop vertrou.
Oor bekommernisse: As ‘n mens op God vertrou en dié dien, beteken dit dat jy jou nie hoef te bekommer oor die lewensmiddele van kos, drank en klere nie. God weet wat jy nodig het, en sal vir jou voorsien. Dat dít waar is, kan jy in die natuur sien: voëls, veldblomme, en gras. God sal meer vir ons doen as vir die natuur. Daarom kan ons soek na God se koninkryk en sy geregtigheid. Hy sal vir ons al die lewensmiddele verskaf.
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie - January 4, 2014
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus - January 16, 2014
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte - January 17, 2014
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom - January 20, 2014
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur - January 21, 2014
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening - January 22, 2014
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid - January 23, 2014
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid - January 24, 2014
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid - January 27, 2014
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings - January 28, 2014
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes - January 29, 2014
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit - January 30, 2014
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee - January 31, 2014
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer - February 3, 2014
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse - February 4, 2014
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees - February 5, 2014
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes - February 6, 2014
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap - February 7, 2014
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese - February 10, 2014
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe - February 11, 2014
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit - February 12, 2014
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit - February 13, 2014
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers - February 14, 2014
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs - February 17, 2014
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs - February 18, 2014
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid - February 19, 2014
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid - February 20, 2014
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën - February 21, 2014
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe - February 24, 2014
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels - February 25, 2014
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie - July 15, 2016
- Lei ons nie in versoeking nie - July 11, 2019
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Chris van Wyk
‘n Paar verdere opmerkings oor die Ons Vader gebed. Sal graag wil hoor hoe julle hieroor dink.
Die vierde bede: “Gee ons vandag ons daaglikse brood,” kan op verskillende maniere verstaan word. Dit wentel om die verskillende betekenisse wat die Griekse byvoeglike naamwoord “epiousio” wat normaalweg as “daaglikse” vertaal word, kan inhou.
* Epiousio kan as “daaglikse” brood verstaan word: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Dit is die normale manier waarop dit verstaan word, en maak sin in die lig van ander uitsprake van die Here wat sê dat ons ons nie oor die dag van môre moet bekommer nie. Dit is ook soos die manna wat net vir die dag wat dit gegee is, vars gebly het, behalwe op Vrydae wat dit ook tot die Saterdae gehou het.
* Epiousio kan ook “bestaan” beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons bestaansbrood.” Dit maak eweneens sin dat dit gaan oor die kos wat ons nodig het om van te lewe. Dit is soos Peterson dit dinamies vertaal: “Keep us alive with three square meals.”
* Epiousio kan ook “die volgende dag” beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons brood vir môre.” Dit maak ook sin as ‘n mens dit in die aand bid met die oog op die volgende dag.
* Epiousio kan ook “toekoms” beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons brood vir/van die toekoms.” Dit maak vir baie geleerdes sin, want dit beteken dat ons eintlik bid dat God se beloftes vir die toekoms vandag waar sal word.
Die keuse is joune! Wat maak vir jou die meeste sin?
Die vyfde bede se laaste deel is eintlik in die verlede tyd geskrywe. Ons bid dus dat God ons sal vergewe, soos ons ons skuldenaars vergewe “het”, dws reeds in die verlede vergewe het. Dit is nogal belangrik in die lig van die waarskuwing in die volgende verse dat God met ons sal maak, soos ons met ander doen, spesifiek in terme van vergifnis.
Die sesde bede: “Lei ons nie in versoeking nie”, kan ook vertaal word as “Lei ons nie in (‘n tyd van) toetsing nie” wat retories verstaan kan word as “laat ons nie sondig nie”. Dit maak vir my baie sin, want God kan niemand versoek nie, en die gebed gaan mos eintlik oor die feit dat ons van God vra om ons digby Hom te hou, sodat ons nie afdwaal deur ons sonde nie.
Die frase in dieselfde bede: “Verlos ons van die Bose,” is ‘n beter vertaling as “bewaar ons van die Bose”. Dit gaan oor die verlange dat God finaal met die Bose sal klaarspeel. Die Bose (ponerou) kan ook onpersoonlik verstaan word, maar verpersoonliking maak vir my hier beter sin weens die bepaalde lidwoord wat daarmee saam gebruik word. Dit is ook hoe dit gebruik word in Matt. 5:39.
Laastens, die byvoeging “Want aan U behoort …” wat soms in later manuskripte voorkom, is waarskynlik liturgies bygevoeg, en kom uit ‘n aanhaling uit die OT, 1 Kron. 29:11.
brian
baie dankie chris vind jou uitleggings baie insiggewend