Skip to main content

Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes

Ek word in dié gedeelte net weereens getref deur die omvangryke bediening van Jesus.

Jesus se bediening is insluitend.  Dit sluit nie net die Fariseërs en skrifkenners in, al dring Hy net nie deur tot hulle nie, ook nie net die skare wat om genesing en voorsiening smag nie, maar ook ’n Kanaänitiese vrou uit die omgewing van Tirus en Sidon, wat met groot geloof Jesus beweeg tot genesing van haar kind, al wil Jesus op dié stadium nog nie sy bediening na die heidennasies uitbrei nie.

In ’n sekere sin sien ’n mens die gelykenis van die grond hom afspeel in die reaksies van dié mense.

  • Die Fariseërs en skrifkenners is soos die grond langs die pad, droog en glad nie ontvanklik nie, vol skynheiligheid en geldgierigheid.
  • Die skare is soos die twee ander soorte, rotsagtige en doringagtige grond en meesal net mooiweer – en materiële volgelinge.
  • Maar, daar is diegene, soos die Kanaänitiese vrou wat goeie grond is, wat groot geloof openbaar en groot dinge van God ontvang.

Steeds hou Jesus vol met sy saaiwerk.  Sy missie is om die koninkryk van God te laat kom en Hy sal Hom nie laat afsit deur die teenstand en onbetroubaarheid van sommige nie, sodat Hy die vrug van die goeie grond kan oes!

Jesus se bediening voorsien in baie behoeftes.  Sy bediening is dus nie net insluitend van aard nie.  Hy raak ’n wye reeks behoeftes aan en voorsien daarin.  Hy daag die intellektuele stommiteite van die Fariseër en die skrifkenners uit.  Hy lê die tradisies op sinvolle en betekenisvolle maniere uit, sodat dit lewe bring en nie verstarring nie.  Hy wys baie spesifiek die gevaar van skynheiligheid en geldgierigheid uit.  Hy genees en Hy voorsien en Hy skram terselfdertyd nie weg van robuuste lewegewende gesprekke nie.  Voorwaar ’n Herderleier, soos God dit van Hom aangekondig het in Matteus 2.

Skynheiligheid en geldgierigheid is ’n groot gevaar – 15:1-20

Die problematiek van skynheiligheid sowel as geldgierigheid word weer aangeroer in hierdie geskil tussen die Fariseërs, skrifkenners en Jesus oor tradisies.  Die tradisie van die voorgeslagte dui hier op die interpretasies wat die Fariseërs mettertyd rondom die OT tekste opgebou het en wat deel van die ongeskrewe reëls vir die godsdiens van die Joodse volk geword het.

Die spesifieke tradisie van handewas staan dus nie in die OT nie en was nooit ’n voorskrif vir Israel nie.  Die enigste OT voorskrif wat daarmee in verband gebring kan word, was dat die priesters in die tempel hulle hande moes was (Eks. 30:17-20), sodat hulle rein kon wees om die tempelwerk te doen.  Die Fariseërs het dus die gewone mense se lewens aan bande gelê met ’n voorskrif wat net vir die tempel bedoel was.  En onthou, higiëne was nie die doel daarvan nie, hoewel ons vandag weet dat dit eintlik ’n goeie ding is om hande te was!  Die Fariseërs wou eintlik net hulle greep op die Jode selfs in die gewone loop van die lewe behou.

Jesus se antwoord ontbloot hulle skynheiligheid en ook geldgierigheid wat God se woord sy krag ontneem.  Hy wys hulle op ’n ander tradisie – die sogenaamde korban tradisie – wat Jode toegelaat het om hulle ouers se versorging na te laat deur die onderhoud van hulle ouers eerder vir die tempel as ’n offergawe te gee.  Die godsdienstige leiers het dus voordeel daaruit getrek en die ouers skade gely. Dié manier van doen kom dus onder dieselfde oordeel as wat Jesaja oor leiers uitspreek wat allerhande voorskrifte vir die mense leer, maar hulle eie harte is vêr van God af (Jes. 29:13).

Jesus roep dan die skare nader om hulle te leer dat reinheid iets aan die binnekant van ’n mens is, nie iets aan die buitekant nie.  Die dissipels is egter bekommerd dat die Fariseërs aanstoot geneem het aan Jesus se woorde oor hulle skynheiligheid.  Jesus antwoord hulle dan met ’n kort gelykenis wat sê dat die dissipels die Fariseërs moet uitlos, omdat hulle blinde leiers is.

Petrus verstaan egter steeds nie, waarop Jesus uitbrei op die idee dat reinheid met die hart te make het, nie met dit wat die liggaam uitskei nie.  Ongewaste hande maak jou egter nie onrein nie.  Petrus sou mettertyd nog dieper in dié idee ingelei word, wanneer die Here vir hom ’n visioen gee wat hom oortuig dat reinheid eintlik met God se werk in mense verband hou (Hand. 10).

’n Groot geloof laat groot dinge gebeur – 15:21-28

Die verhaal van die Kanaänitiese vrou uit die omgewing van Tirus en Sidon is ’n juweel.

Sy nader Jesus vir genesing van haar demoon besete dogter en noem hom interessant genoeg: “Here, Seun van Dawid.”  Aanvanklik antwoord Jesus haar nie eers nie.  Selfs die dissipels wil haar wegstuur en Jesus is duidelik daaroor dat Hy net gestuur is na die verlore skape van Israel.  Sy laat haar egter nie daardeur afskrik nie en val voor Hom neer en smeek Hom om haar te help.  Sy antwoord is dat ’n mens nie die kinders se brood neem en vir die hondjies gooi nie – hondjie is natuurlik ’n woord wat ook gebruik is om na heidene te verwys.  Dit het dus ’n dubbele betekenis.  Sy antwoord Jesus egter op ’n briljante manier dat die hondjies darem die krummels van die tafel afeet, wat haar geloof aan Jesus demonstreer.  Haar dogter is onmiddellik genees.

Soos met die geval van die hekatontarg se seun wat genees is (Matt. 8:5-13), is die verhaal ’n voorafskaduwing van die boodskap wat na al die nasies geneem sal word.

Jesus se wonders verheerlik God – 15:29-31

Jesus se se bediening van genesing van verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander neem net toe.  Dit is opmerklik dat hulle die God van Israel verheerlik.

Jesus voorsien in oorvloed vanweë sy innige meegevoel vir die skare – 15:32-39

Jesus genees nie net nie.  Hy illustreer weereens dat Hy vir sy mense kan voorsien met die tweede wonder van brood en vissies wat dié keer vierduisend mans voed afgesien van ’n hele aantal vroue en kinders.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda