Skip to main content

Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes

Ek word in dié gedeelte net weereens getref deur die omvangryke bediening van Jesus.

Jesus se bediening is insluitend.  Dit sluit nie net die Fariseërs en skrifkenners in, al dring Hy net nie deur tot hulle nie, ook nie net die skare wat om genesing en voorsiening smag nie, maar ook ’n Kanaänitiese vrou uit die omgewing van Tirus en Sidon, wat met groot geloof Jesus beweeg tot genesing van haar kind, al wil Jesus op dié stadium nog nie sy bediening na die heidennasies uitbrei nie.

In ’n sekere sin sien ’n mens die gelykenis van die grond hom afspeel in die reaksies van dié mense.

  • Die Fariseërs en skrifkenners is soos die grond langs die pad, droog en glad nie ontvanklik nie, vol skynheiligheid en geldgierigheid.
  • Die skare is soos die twee ander soorte, rotsagtige en doringagtige grond en meesal net mooiweer – en materiële volgelinge.
  • Maar, daar is diegene, soos die Kanaänitiese vrou wat goeie grond is, wat groot geloof openbaar en groot dinge van God ontvang.

Steeds hou Jesus vol met sy saaiwerk.  Sy missie is om die koninkryk van God te laat kom en Hy sal Hom nie laat afsit deur die teenstand en onbetroubaarheid van sommige nie, sodat Hy die vrug van die goeie grond kan oes!

Jesus se bediening voorsien in baie behoeftes.  Sy bediening is dus nie net insluitend van aard nie.  Hy raak ’n wye reeks behoeftes aan en voorsien daarin.  Hy daag die intellektuele stommiteite van die Fariseër en die skrifkenners uit.  Hy lê die tradisies op sinvolle en betekenisvolle maniere uit, sodat dit lewe bring en nie verstarring nie.  Hy wys baie spesifiek die gevaar van skynheiligheid en geldgierigheid uit.  Hy genees en Hy voorsien en Hy skram terselfdertyd nie weg van robuuste lewegewende gesprekke nie.  Voorwaar ’n Herderleier, soos God dit van Hom aangekondig het in Matteus 2.

Skynheiligheid en geldgierigheid is ’n groot gevaar – 15:1-20

Die problematiek van skynheiligheid sowel as geldgierigheid word weer aangeroer in hierdie geskil tussen die Fariseërs, skrifkenners en Jesus oor tradisies.  Die tradisie van die voorgeslagte dui hier op die interpretasies wat die Fariseërs mettertyd rondom die OT tekste opgebou het en wat deel van die ongeskrewe reëls vir die godsdiens van die Joodse volk geword het.

Die spesifieke tradisie van handewas staan dus nie in die OT nie en was nooit ’n voorskrif vir Israel nie.  Die enigste OT voorskrif wat daarmee in verband gebring kan word, was dat die priesters in die tempel hulle hande moes was (Eks. 30:17-20), sodat hulle rein kon wees om die tempelwerk te doen.  Die Fariseërs het dus die gewone mense se lewens aan bande gelê met ’n voorskrif wat net vir die tempel bedoel was.  En onthou, higiëne was nie die doel daarvan nie, hoewel ons vandag weet dat dit eintlik ’n goeie ding is om hande te was!  Die Fariseërs wou eintlik net hulle greep op die Jode selfs in die gewone loop van die lewe behou.

Jesus se antwoord ontbloot hulle skynheiligheid en ook geldgierigheid wat God se woord sy krag ontneem.  Hy wys hulle op ’n ander tradisie – die sogenaamde korban tradisie – wat Jode toegelaat het om hulle ouers se versorging na te laat deur die onderhoud van hulle ouers eerder vir die tempel as ’n offergawe te gee.  Die godsdienstige leiers het dus voordeel daaruit getrek en die ouers skade gely. Dié manier van doen kom dus onder dieselfde oordeel as wat Jesaja oor leiers uitspreek wat allerhande voorskrifte vir die mense leer, maar hulle eie harte is vêr van God af (Jes. 29:13).

Jesus roep dan die skare nader om hulle te leer dat reinheid iets aan die binnekant van ’n mens is, nie iets aan die buitekant nie.  Die dissipels is egter bekommerd dat die Fariseërs aanstoot geneem het aan Jesus se woorde oor hulle skynheiligheid.  Jesus antwoord hulle dan met ’n kort gelykenis wat sê dat die dissipels die Fariseërs moet uitlos, omdat hulle blinde leiers is.

Petrus verstaan egter steeds nie, waarop Jesus uitbrei op die idee dat reinheid met die hart te make het, nie met dit wat die liggaam uitskei nie.  Ongewaste hande maak jou egter nie onrein nie.  Petrus sou mettertyd nog dieper in dié idee ingelei word, wanneer die Here vir hom ’n visioen gee wat hom oortuig dat reinheid eintlik met God se werk in mense verband hou (Hand. 10).

’n Groot geloof laat groot dinge gebeur – 15:21-28

Die verhaal van die Kanaänitiese vrou uit die omgewing van Tirus en Sidon is ’n juweel.

Sy nader Jesus vir genesing van haar demoon besete dogter en noem hom interessant genoeg: “Here, Seun van Dawid.”  Aanvanklik antwoord Jesus haar nie eers nie.  Selfs die dissipels wil haar wegstuur en Jesus is duidelik daaroor dat Hy net gestuur is na die verlore skape van Israel.  Sy laat haar egter nie daardeur afskrik nie en val voor Hom neer en smeek Hom om haar te help.  Sy antwoord is dat ’n mens nie die kinders se brood neem en vir die hondjies gooi nie – hondjie is natuurlik ’n woord wat ook gebruik is om na heidene te verwys.  Dit het dus ’n dubbele betekenis.  Sy antwoord Jesus egter op ’n briljante manier dat die hondjies darem die krummels van die tafel afeet, wat haar geloof aan Jesus demonstreer.  Haar dogter is onmiddellik genees.

Soos met die geval van die hekatontarg se seun wat genees is (Matt. 8:5-13), is die verhaal ’n voorafskaduwing van die boodskap wat na al die nasies geneem sal word.

Jesus se wonders verheerlik God – 15:29-31

Jesus se se bediening van genesing van verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander neem net toe.  Dit is opmerklik dat hulle die God van Israel verheerlik.

Jesus voorsien in oorvloed vanweë sy innige meegevoel vir die skare – 15:32-39

Jesus genees nie net nie.  Hy illustreer weereens dat Hy vir sy mense kan voorsien met die tweede wonder van brood en vissies wat dié keer vierduisend mans voed afgesien van ’n hele aantal vroue en kinders.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms