Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie
Die evangelie volgens Matteus word nie om dowe neute aan die begin van die NT geplaas nie. Dit is die evangelie wat die verhaal van Jesus Christus op die mees direkte wyse aan die OT verbind. Daarom plaas Matteus bv. Jesus se Joodse geslagsregister reg aan die begin van sy evangelie, anders as wat Lukas dit doen (Luk. 3), en doen hy baie moeite regdeur sy evangelie om Jesus se lewe en bediening aan die vervulling van OT beloftes en profesieë te koppel (meer as 60 verwysings).
Jesus is volgens Matteus die hoogtepunt en vervulling van die Messiaanse verwagting van die hele OT verhaal. Jesus se lewensveranderende woorde (aangebied in vyf toesprake), sy magtige dade (geïllustreer onder andere deur agtien wonderwerke) en sy simboolryke optredes (bv. die reiniging van die tempel en die vervloeking van die vyeboom) wys onomwonde dat Hy die langverwagte Messias van die profetiese tradisie is.
Hy is ook beide die “Seun van Dawid” (Matt. 1:1 en nog agt ander kere só genoem) as die “Seun van God” (Matt. 14:33 en nog sewe ander kere só genoem, onder andere deur die duiwel, die dissipels en die Romeinse offisier en sy soldate by die kruisiging), titels wat beide sy menslike as sy Goddelike kant beklemtoon. Dié Jesus, sê Matteus, Hý is Koning beide as nakomeling van Dawid sowel as nakomeling van God.
Geen wonder dus dat dié evangelie die mees-gebruikte evangelie van die vroeë kerk was nie, soos ons aflei uit die feit dat die vroeë kerkvaders twee keer meer keer uit dié evangelie aanhaal in hulle geskrifte as uit die ander drie evangelies saam (Gordon Fee).
Indeling van die leeswerk
Ons begin die 16de Januarie met die eerste inleidende bydrae, en gaan dan die evangelie volgens Matteus (byeenkomste ingekleur) oor die volgende ses weke lees, min of meer ’n hoofstuk ’n dag. Hier volg die skedule: