Skip to main content

Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur

Matteus spring van Jesus se geboorte en uiteindelike verblyf in Nasaret direk na die voorbereidingswerk van Johannes die Doper (3:1-12) en die publieke aankondiging van Jesus as God se geliefde Seun, soos deur sy doop met water en deur die neerdaal van die Gees in die vorm van ‘n duif op Hom bevestig word (3:13-17).

Johannes die Doper maak die pad vir die Here gereed – 3:1-12

Johannes die Doper begin sy bediening om die Joodse gemeenskap voor te berei om die boodskap van die koninkryk van die hemele wat in Jesus aanbreek, te kan ontvang.  Dit behels ‘n eenvoudige maar duidelike boodskap van bekering.  Dat dit só ’n groot impak gehad het, word deur Matteus verbind aan die feit dat Johannes se bediening die vervulling van Jesaja 40:3 se profetiese belofte behels.

Johannes se klere van kameelhaar met ‘n leergordel om sy heupe roep daarby ook die profeet Elia in herinnering (vgl. 2 Kon. 1:8 – Elia dra velklere en ‘n velgordel; vgl. ook Sag. 13:4 wat ‘n harige kleed met profetewerk assosieer).  Later in die evangelie sal Jesus Johannes op twee geleenthede ook direk met Elia verbind (vgl. Matt. 11:12-14 en 17:9-13).

Omdat Johannes se bediening deur ‘n groot deel van die Jode erken word as van profetiese belang laat baie van hulle hul deur hom doop in die Jordaanrivier met die belydenis van hulle sondes.  Dit is interessant dat hulle kies om die doop van Johannes te aanvaar, omdat dié doop waarskynlik verband gehou het met die ander Joodse doopsgebruik van dié tyd vir mense wat uit die heidense nasies die Joodse geloof aanvaar het.  Die simboliese afwas van sondes was waarskynlik die vernaamste motivering waarom dit vir hulle gepas was.

Die Fariseërs en Sadduseërs wat na sy doop kom kyk het, word egter deur Johannes baie skerp tereggewys.  Die NAV vertaling van vers 7 kan ‘n mens laat dink dat hulle ook gedoop wou word, maar in die oorspronklike staan eintlik net dat hulle “na sy doop” gekom het, sommige waarskynlik nuuskierig, ander omdat hulle gedoop wou word, en nog ander, soos ‘n mens later in die verhaal gaan agterkom, omdat hulle hom as teenstander beskou het.

Johannes laat hulle egter onder geen illusies nie.  In die eerste plek, sê hy, as hulle gedoop wil word,  moet hulle vrugte dra wat by die bekering pas, anders sal die doop niks help nie (vers 7-8).  Sondebelydenis moet ’n nuwe lewenswyse inlei.  In die tweede plek, sê hy, moet hulle ook nie die fout maak om te dink dat hulle Joodse afkoms hulle gaan help in die verlossende oordeel van God wat op pad is nie (vers 9-10).  Die regte geslagsregister sal hulle nie help nie; net ’n gehoorsame lewe.

Hierdie verlossende oordeel van God word dan aan die een wat ná Johannes kom, gekoppel.  Jesus is die een wat hierdie verlossende oordeel van God sal voltrek – verlossing deur die Heilige Gees vir die gelowiges/gehoorsames (koring) en oordeel deur die doop met vuur vir die ongelowiges/ongehoorsames (kaf) op die dorsvloer van die wêreld (vers 11-12).

Jesus word as Seun van God bevestig deur die doop en die duif – 3:13-17

Jesus dring aan daarop dat Johannes Hom doop: “want dit is goed dat ons op hierdie manier alle geregtigheid vervul” (soos dit in die oorspronklike Grieks staan).  Dit is net deur Jesus se eie kontak met die bediening van sy voorloper, Johannes die Doper, dat Jesus sy eie bediening as uitvloeisel van Johannes s’n kan voortsit.  Só word God se wil, sy geregtigheid, vervul.  Die doop bevestig ook Jesus se menslikheid.

Nadat Jesus gedoop is, daal die Gees van God soos ’n duif op Hom neer en ’n stem uit die hemele bevestig Jesus se Seunskap: “Hy is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”  Al vier evangelies praat van die Gees se neerdaling in die vorm van ’n duif wat waarskynlik verwys na die aanvanklike beweging van die Gees van God wat oor die waters gesweef het aan die begin van die skepping (Gen. 1:2) en deur sommige rabbi’s uitgelê is met die beeld van ’n duif (Hagner).  Die duif bevestig ook Jesus se goddelikheid.

Hiermee word God se herskepping van alles wat bestaan dus beslissend ingelui.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders