Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur
Matteus spring van Jesus se geboorte en uiteindelike verblyf in Nasaret direk na die voorbereidingswerk van Johannes die Doper (3:1-12) en die publieke aankondiging van Jesus as God se geliefde Seun, soos deur sy doop met water en deur die neerdaal van die Gees in die vorm van ‘n duif op Hom bevestig word (3:13-17).
Johannes die Doper maak die pad vir die Here gereed – 3:1-12
Johannes die Doper begin sy bediening om die Joodse gemeenskap voor te berei om die boodskap van die koninkryk van die hemele wat in Jesus aanbreek, te kan ontvang. Dit behels ‘n eenvoudige maar duidelike boodskap van bekering. Dat dit só ’n groot impak gehad het, word deur Matteus verbind aan die feit dat Johannes se bediening die vervulling van Jesaja 40:3 se profetiese belofte behels.
Johannes se klere van kameelhaar met ‘n leergordel om sy heupe roep daarby ook die profeet Elia in herinnering (vgl. 2 Kon. 1:8 – Elia dra velklere en ‘n velgordel; vgl. ook Sag. 13:4 wat ‘n harige kleed met profetewerk assosieer). Later in die evangelie sal Jesus Johannes op twee geleenthede ook direk met Elia verbind (vgl. Matt. 11:12-14 en 17:9-13).
Omdat Johannes se bediening deur ‘n groot deel van die Jode erken word as van profetiese belang laat baie van hulle hul deur hom doop in die Jordaanrivier met die belydenis van hulle sondes. Dit is interessant dat hulle kies om die doop van Johannes te aanvaar, omdat dié doop waarskynlik verband gehou het met die ander Joodse doopsgebruik van dié tyd vir mense wat uit die heidense nasies die Joodse geloof aanvaar het. Die simboliese afwas van sondes was waarskynlik die vernaamste motivering waarom dit vir hulle gepas was.
Die Fariseërs en Sadduseërs wat na sy doop kom kyk het, word egter deur Johannes baie skerp tereggewys. Die NAV vertaling van vers 7 kan ‘n mens laat dink dat hulle ook gedoop wou word, maar in die oorspronklike staan eintlik net dat hulle “na sy doop” gekom het, sommige waarskynlik nuuskierig, ander omdat hulle gedoop wou word, en nog ander, soos ‘n mens later in die verhaal gaan agterkom, omdat hulle hom as teenstander beskou het.
Johannes laat hulle egter onder geen illusies nie. In die eerste plek, sê hy, as hulle gedoop wil word, moet hulle vrugte dra wat by die bekering pas, anders sal die doop niks help nie (vers 7-8). Sondebelydenis moet ’n nuwe lewenswyse inlei. In die tweede plek, sê hy, moet hulle ook nie die fout maak om te dink dat hulle Joodse afkoms hulle gaan help in die verlossende oordeel van God wat op pad is nie (vers 9-10). Die regte geslagsregister sal hulle nie help nie; net ’n gehoorsame lewe.
Hierdie verlossende oordeel van God word dan aan die een wat ná Johannes kom, gekoppel. Jesus is die een wat hierdie verlossende oordeel van God sal voltrek – verlossing deur die Heilige Gees vir die gelowiges/gehoorsames (koring) en oordeel deur die doop met vuur vir die ongelowiges/ongehoorsames (kaf) op die dorsvloer van die wêreld (vers 11-12).
Jesus word as Seun van God bevestig deur die doop en die duif – 3:13-17
Jesus dring aan daarop dat Johannes Hom doop: “want dit is goed dat ons op hierdie manier alle geregtigheid vervul” (soos dit in die oorspronklike Grieks staan). Dit is net deur Jesus se eie kontak met die bediening van sy voorloper, Johannes die Doper, dat Jesus sy eie bediening as uitvloeisel van Johannes s’n kan voortsit. Só word God se wil, sy geregtigheid, vervul. Die doop bevestig ook Jesus se menslikheid.
Nadat Jesus gedoop is, daal die Gees van God soos ’n duif op Hom neer en ’n stem uit die hemele bevestig Jesus se Seunskap: “Hy is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Al vier evangelies praat van die Gees se neerdaling in die vorm van ’n duif wat waarskynlik verwys na die aanvanklike beweging van die Gees van God wat oor die waters gesweef het aan die begin van die skepping (Gen. 1:2) en deur sommige rabbi’s uitgelê is met die beeld van ’n duif (Hagner). Die duif bevestig ook Jesus se goddelikheid.
Hiermee word God se herskepping van alles wat bestaan dus beslissend ingelui.
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie - January 4, 2014
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus - January 16, 2014
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte - January 17, 2014
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom - January 20, 2014
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur - January 21, 2014
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening - January 22, 2014
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid - January 23, 2014
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid - January 24, 2014
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid - January 27, 2014
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings - January 28, 2014
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes - January 29, 2014
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit - January 30, 2014
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee - January 31, 2014
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer - February 3, 2014
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse - February 4, 2014
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees - February 5, 2014
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes - February 6, 2014
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap - February 7, 2014
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese - February 10, 2014
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe - February 11, 2014
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit - February 12, 2014
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit - February 13, 2014
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers - February 14, 2014
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs - February 17, 2014
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs - February 18, 2014
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid - February 19, 2014
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid - February 20, 2014
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën - February 21, 2014
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe - February 24, 2014
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels - February 25, 2014
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie - July 15, 2016
- Lei ons nie in versoeking nie - July 11, 2019
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar