Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs
Die verhale, simboliese handelinge, gelykenisse, gesprekke en die laaste genesingsverhaal van hoofstuk 19-22 word opgevolg met die vyfde en laaste toespraak van Jesus, dié keer ’n profetiese rede, in verband met die verdere koms van die koninkryk – hfst. 23-25.
Dit sluit ’n verdoemende veroordeling van die skrifkenners en Fariseërs se skynheiligheid in (23:1-12), sewe oordele oor hulle omdat hulle mense van die koninkryk uitsluit met hulle skynheiligheid (23:13-36) asook ’n veroordeling van Jerusalem wat God se genade versmaai het (23:37-39) en tot die vernietiging van die tempel sal lei (24:1-2).
’n Verdoemende veroordeling van die skrifkenners en Fariseërs se skynheiligheid – 23:1-12
Jesus begin sy toespraak deur die skare en die dissipels te waarsku teen die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs. Hulle het die gesag –hulle sit op die stoel van Moses – en het baie te sê, maar verroer nie ’n vinger om iets daarvan uit te voer nie. Wanneer hulle wel sovêr kom om iets te doen, is dit om gesien en vereer te word.
Daarteenoor raai Jesus hulle aan om die pad van nederigheid te kies: “die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees.” Aanspreekvorme soos rabbi (dit beteken meester), vader en leraar moet nie ’n belangrike onderskeidingsteken wees nie, omdat net Een hulle rabbi is, dit is Christus, net Een hulle Vader is, dit is die God in die hemel en net Een hulle Leraar is, dit is Christus.
Die punt hiervan is nie dat daar geen onderskeidingsteken mag wees tussen medegelowiges in die liggaam van Christus nie, maar dat niemand hom- of haarself mag aanstel daaroor nie. Hoekom nie? Want almal van hulle is afhanklik van God vir alles.
Sewe oordele oor die Fariseërs omdat hulle mense van die koninkryk uitsluit met hulle skynheiligheid – 23:13-36
Dan vervolg Jesus met sewe oordeel oor die Fariseërs, elke keer ingelui deur dieselfde frase, veral omdat hulle mense van die koninkryk uitsluit met hulle skynheiligheid en self nie die moeite doen om daarin te gaan nie.
- Ellende wag op hulle omdat hulle ander verhinder om die koninkryk binne te gaan.
- Ellende wag op hulle omdat hulle ander leer om net soos hulle en erger te wees.
- Ellende wag op hulle omdat hulle blinde en dwase leiers is wat mense mislei.
- Ellende wag op hulle omdat hulle die reg, barmhartigheid en trou nalaat ten koste van onbenullige dinge.
- Ellende wag op hulle omdat hulle die buitekant skoon hou en nie die binnekant nie.
- Ellende wag op hulle omdat hulle van buite blink is, maar van binne stink.
- Ellende wag op hulle omdat hulle dooie profete vereer met monumente, maar steeds dié lewendige profete doodmaak, soos binnekort natuurlik met Jesus self sal gebeur.
Dit is harde woorde dié, amper genadeloos, om die onhoudbaarheid van skynheiligheid uit te wys. En waar dit hier gerig was teen die Fariseërs, het dié woorde universele waarde vir alle gelowiges reg deur die eeue. Daar is min dinge wat so destruktief is vir gemeenskap met God sowel as vir gemeenskap met mekaar as skynheiligheid.
’n Veroordeling van Jerusalem wat God se genade versmaai het – 23:37-39
Jesus fokus wyer op die stad Jerusalem, omdat wat Hy van die Fariseërs gesê het, eintlik ook waar is van Jerusalem deur die eeue. Dikwels wou God hulle bymekaarmaak soos ’n hen haar kinders bymekaarmaak, maar hulle wou nie. Dit laat net een toekoms vir hulle: verwoesting.
Die vernietiging van die tempel word voorspel – 24:1-2
Jesus verlaat dan die tempelterrein met die finale boodskap dat ook die tempel afgebreek sal word, waarna die profetiese rede, in ’n sekere sin die hart van Jesus se laaste toespraak aan die orde kom.
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels
- Lees die vier evangelies en Handelinge
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie
- Lei ons nie in versoeking nie
Tags: Matteus
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus