Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers
Jesus arriveer uiteindelik in Jerusalem vir die volvoering van sy roeping – sy lyding, kruisdood en opstanding – soos Hy nou al drie maal duidelik aan die dissipels gekommunikeer het.
Hoofstuk 21 fokus op:
- die impak van Jesus se Intog in Jerusalem op die stad en sy mense (21:1-11);
- die impak van Jesus op die tempel en die kultus deur Jesus se reiniging van die tempel (21:12-17);
- die simboliese vervloeking van die vyeboom deur Jesus (21:18-22) as inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat handel oor drie wesenlike sake:
- Jesus se gesag (21:23-27);
- Die noodsaak van gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders (21:28-32);
- Die noodsaak van geloof om die koninkryk te beërwe na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46).
Die implikasies hiervan kan nie misgekyk word nie, soos die leierpriesters en die Fariseërs uiteindelik te kenne gee dat hulle dit begin besef. Dit is, dat God die koninkryk van hulle sal wegneem en sal gee aan dié wat in Hom glo. Die Jode maak die fout, sê Jesus, om te dink dat hulle Hom uit die weg kan ruim deur Hom dood te maak. Maar wat eerder sal gebeur, verklaar Jesus, is dat hulle verpletter sal word, juis op dié klip wat hulle, die bouers, as hoeksteen vir God se gebou afgekeur het. Hoe tragies.
Die impak van Jesus se Intog in Jerusalem op die stad en sy mense (21:1-11)
Toe Jesus naby aan Jerusalem kom, by die klein dorpie Betfage teen die Olyfberg (waar Getsemane ook was) stuur Jesus twee dissipels om ’n vasgemaakte donkiemerrie met vul en al vir Hom as rydier te gaan haal. “Die Here het hulle nodig!” Hulle is waarskynlik na Betanië gestuur (die twee dorpies was baie naby mekaar – Mark. 11:1) waar Lasarus, Maria en Marta, sy goeie vriende, gebly het. Dit verklaar ook moontlik hoekom Jesus kon aanspraak maak op die donkies.
Interessant genoeg word die naam Betfage meesal as “huis van onryp vye” verklaar, wat die simboliese vervloeking van die vyeboom sonder vrugte, as ware voorafskadu. Betanië het weer “huis van ellende” beteken … waar Jesus vroeër met nardusolie gesalf is met die oog op sy lyding en kruisdood (Joh. 12:1). Al die verwysings in dié evangelie is dus swanger aan betekenis. Boonop is Betanië ook die plek waar Jesus se hemelvaart plaasgevind het (Luk. 24:50).
Matteus noem dié verkryging van die donkies ’n vervulling van die OT profesieë (Jes. 62:11 en Sag. 9:9) wat Jesus se gesag verder onderstreep. Hy is inderdaad die Koning wat op pad is na Sion, dit is Jerusalem en sy mense.
Op feestelike wyse ry Jesus só Jerusalem binne met ’n groot skare wat Hom verwelkom as die “Seun van Dawid” – in vervulling van die OT aanhaling uit Ps. 118:25-26 – terwyl hulle Hom ook identifiseer as “die profeet Jesus van Nasaret in Galilea”. Hoewel die hele stad in rep en roer hieroor was, lei dit hulle egter nie tot geloof in Hom nie, maar skreeu uiteindelik saam met die Joodse leiers, kruisig Hom, kruisig Hom.
Die impak van Jesus op die tempel en die kultus deur Jesus se reiniging van die tempel (21:12-17)
Die eerste ding wat Jesus in Jerusalem doen, is om die tempelterrein binne te gaan en dit skoon te maak van die mense wat daar handel gedrywe het met geld en duiwe. Hy verklaar sy optrede as die herstel van die tempel as ’n huis van gebed (Jes. 56:7).
In nog ’n teken van sy Goddelikheid maak Jesus blindes en verlamdes op die tempelterrein gesond, hoewel Hy Hom só die gramskap van die leierpriesters en skrifkenners op die lyf haal. Op hulle beswaar dat die “kinders” – hier verwys hulle na die eenvoudigheid van die skare – Hom as die Seun van Dawid eer, haal Jesus Psalm 8:3 aan dat God se lof juis uit die mond van kleuters en suigelinge besing word, ’n duidelike aanklag teen hulle wat Hom nie as God se gawe vir Jerusalem erken nie.
Die aand is Hy terug na Betanië teen die Olyfberg waar Hy die hele week tot met sy kruisdood sou oornag.
Die simboliese vervloeking van die vyeboom deur Jesus (21:18-22)
Vroegoggend die volgende dag op pad terug na Jerusalem, probeer Jesus ontbyt kry by ’n vyeboom, maar tevergeefs. Hy vervloek die vyeboom tot verbasing van die dissipels. Hy gebruik die verdroging van die vyeboom om hulle verder te leer oor die mag van geloof in die uitvoering van hulle roeping: “Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”
Maar daar is ook ’n duidelike simboliese betekenis, want die vervloeking van die vyeboom is ook ’n inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat net hierna volg en waarin Hy hulle leweloosheid aan die kaak sal stel. Jesus het gekom om die vrug van die Joodse vyeboom te geniet, maar verniet.
Daarom praat Hy met hulle oor sy gesag en die noodsaak van gehoorsaamheid en geloof.
Die gesprek met die Joodse leiers oor Jesus se gesag (21:23-27)
Na Jesus die vorige dag die tempelterrein gereinig het tot ’n huis van gebed en die Goddelike teenwoordigheid gedemonstreer het met die genesing van blindes en verlamdes, spandeer Hy sy tyd vêrder aan onderrig, die primêre fokus van sy bediening.
Die leierpriesters van die tempel en die familiehoofde van die volk vra Hom egter na sy gesag uit.
Dat hulle daarmee eintlik skynheilig optree, blyk uit hulle weiering om Jesus te antwoord oor wat hulle van Johannes die Doper se bediening gedink het. Hulle is bang om hulle mening te gee, want hulle is bang dat dit nie in die smaak van die skare val nie. Daarom antwoord Jesus hulle ook nie, hoewel Hy, ironies genoeg, eintlik sy gesag demonstreer.
Hulle blaas bedroë die aftog met ’n: “Ons weet nie.” Hulle ongeloof is aan die kaak gestel, want geloof word immers in dade duidelik. Hulle is egter nie ontvanklik vir die boodskap van Jesus nie, net soos die grond langs die pad in die gelykenis van die grond in hfst. 13. Daarom dra hulle nie vrug nie.
Die gesprek met die Joodse leiers oor gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders (21:28-32)
Jesus onderstreep sy boodskap aan die Joodse leiers met die volgende twee gelykenisse (eintlik ook die eerste gelykenis van hfst. 22 oor die bruilofsfees). Daarmee wys Hy hulle onbetroubaarheid en ongehoorsaamheid onomwonde uit.
Die gelykenis van die twee kinders illustreer dit helder. Dit is die een wat gehoorsaam is, wat die wil van die Vader doen, al gebeur dit ook eers na ’n tyd. Daarom sal tollenaars en prostitute voor die Joodse leiers die koninkryk van God binnegaan. Hoewel die Joodse leiers die boodskap van God in Johannes die Doper sowel as in Jesus, die Seun van God, gesien en gehoor het, het hulle nie sovêr gekom om berou te hê en te glo nie.
Die gesprek met die Joodse leiers oor geloof na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46)
Jesus volg die gesprek oor gehoorsaamheid op met hierdie gesprek oor geloof na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd. Hy verwoord hiermee eintlik die hele lang geskiedenis van teenstand teen God wat die Joodse leiers telkens gewys het in hulle hantering van die profete wat God gestuur het. Dieselfde, sê Jesus, gaan met God se Seun gebeur. Duideliker kan dit seker nie – die gelykenis spel letterlik die geskiedenis uit wat binnekort voltrek sal word!
Die verdere implikasies wat Jesus dus hiermee uitspel, kan nie langer misgekyk word nie, soos die leierpriesters en die Fariseërs uiteindelik te kenne gee. Dit is, dat God die koninkryk van hulle sal wegneem en sal gee aan dié wat werklik in Hom glo.
Die Jode maak die fout, sê Jesus hiermee, om te dink dat hulle Hom uit die weg kan ruim deur Hom dood te maak. Maar wat eerder sal gebeur, verklaar Jesus, is dat hulle verpletter sal word, juis op dié klip wat hulle, die bouers, as hoeksteen vir God se gebou afgekeur het – weereens gegrond op ’n aanhaling uit Ps. 118:22-23 (soos Lukas en Petrus ook in Hand. 4:11 en 1 Pet. 2:7 sal doen). Hoe tragies.
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie - January 4, 2014
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus - January 16, 2014
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte - January 17, 2014
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom - January 20, 2014
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur - January 21, 2014
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening - January 22, 2014
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid - January 23, 2014
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid - January 24, 2014
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid - January 27, 2014
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings - January 28, 2014
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes - January 29, 2014
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit - January 30, 2014
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee - January 31, 2014
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer - February 3, 2014
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse - February 4, 2014
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees - February 5, 2014
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes - February 6, 2014
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap - February 7, 2014
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese - February 10, 2014
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe - February 11, 2014
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit - February 12, 2014
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit - February 13, 2014
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers - February 14, 2014
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs - February 17, 2014
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs - February 18, 2014
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid - February 19, 2014
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid - February 20, 2014
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën - February 21, 2014
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe - February 24, 2014
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels - February 25, 2014
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie - July 15, 2016
- Lei ons nie in versoeking nie - July 11, 2019
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.