Skip to main content

Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers

Jesus arriveer uiteindelik in Jerusalem vir die volvoering van sy roeping – sy lyding, kruisdood en opstanding – soos Hy nou al drie maal duidelik aan die dissipels gekommunikeer het.

Hoofstuk 21 fokus op:

  • die impak van Jesus se Intog in Jerusalem op die stad en sy mense (21:1-11);
  • die impak van Jesus op die tempel en die kultus deur Jesus se reiniging van die tempel (21:12-17);
  • die simboliese vervloeking van die vyeboom deur Jesus (21:18-22) as inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat handel oor drie wesenlike sake:
    • Jesus se gesag (21:23-27);
    • Die noodsaak van gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders  (21:28-32);
    • Die noodsaak van geloof om die koninkryk te beërwe na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46).

Die implikasies hiervan kan nie misgekyk word nie, soos die leierpriesters en die Fariseërs uiteindelik te kenne gee dat hulle dit begin besef.  Dit is, dat God die koninkryk van hulle sal wegneem en sal gee aan dié wat in Hom glo.   Die Jode maak die fout, sê Jesus, om te dink dat hulle Hom uit die weg kan ruim deur Hom dood te maak.  Maar wat eerder sal gebeur, verklaar Jesus, is dat hulle verpletter sal word, juis op dié klip wat hulle, die bouers, as hoeksteen vir God se gebou afgekeur het.  Hoe tragies.

Die impak van Jesus se Intog in Jerusalem op die stad en sy mense (21:1-11)

Toe Jesus naby aan Jerusalem kom, by die klein dorpie Betfage teen die Olyfberg (waar Getsemane ook was) stuur Jesus twee dissipels om ’n vasgemaakte donkiemerrie met vul en al vir Hom as rydier te gaan haal.  “Die Here het hulle nodig!”  Hulle is waarskynlik na Betanië gestuur (die twee dorpies was baie naby mekaar – Mark. 11:1) waar Lasarus, Maria en Marta, sy goeie vriende, gebly het.  Dit verklaar ook moontlik hoekom Jesus kon aanspraak maak op die donkies.

Interessant genoeg word die naam Betfage meesal as “huis van onryp vye” verklaar, wat die simboliese vervloeking van die vyeboom sonder vrugte, as ware voorafskadu.  Betanië het weer “huis van ellende” beteken … waar Jesus vroeër met nardusolie gesalf is met die oog op sy lyding en kruisdood (Joh. 12:1).  Al die verwysings in dié evangelie is dus swanger aan betekenis.  Boonop is Betanië ook die plek waar Jesus se hemelvaart plaasgevind het (Luk. 24:50).

Matteus noem dié verkryging van die donkies ’n vervulling van die OT profesieë (Jes. 62:11 en Sag. 9:9) wat Jesus se gesag verder onderstreep.  Hy is inderdaad die Koning wat op pad is na Sion, dit is Jerusalem en sy mense.

Op feestelike wyse ry Jesus só Jerusalem binne met ’n groot skare wat Hom verwelkom as die “Seun van Dawid” – in vervulling van die OT aanhaling uit Ps. 118:25-26 – terwyl hulle Hom ook identifiseer as “die profeet Jesus van Nasaret in Galilea”.  Hoewel die hele stad in rep en roer hieroor was, lei dit hulle egter nie tot geloof in Hom nie, maar skreeu uiteindelik saam met die Joodse leiers, kruisig Hom, kruisig Hom.

Die impak van Jesus op die tempel en die kultus deur Jesus se reiniging van die tempel (21:12-17)

Die eerste ding wat Jesus in Jerusalem doen, is om die tempelterrein binne te gaan en dit skoon te maak van die mense wat daar handel gedrywe het met geld en duiwe.  Hy verklaar sy optrede as die herstel van die tempel as ’n huis van gebed (Jes. 56:7).

In nog ’n teken van sy Goddelikheid maak Jesus blindes en verlamdes op die tempelterrein gesond, hoewel Hy Hom só die gramskap van die leierpriesters en skrifkenners op die lyf haal.  Op hulle beswaar dat die “kinders” – hier verwys hulle na die eenvoudigheid van die skare – Hom as die Seun van Dawid eer, haal Jesus Psalm 8:3 aan dat God se lof juis uit die mond van kleuters en suigelinge besing word, ’n duidelike aanklag teen hulle wat Hom nie as God se gawe vir Jerusalem erken nie.

Die aand is Hy terug na Betanië teen die Olyfberg waar Hy die hele week tot met sy kruisdood sou oornag.

Die simboliese vervloeking van die vyeboom deur Jesus (21:18-22)

Vroegoggend die volgende dag op pad terug na Jerusalem, probeer Jesus ontbyt kry by ’n vyeboom, maar tevergeefs.  Hy vervloek die vyeboom tot verbasing van die dissipels.  Hy gebruik die verdroging van die vyeboom om hulle verder te leer oor die mag van geloof in die uitvoering van hulle roeping: “Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”

Maar daar is ook ’n duidelike simboliese betekenis, want die vervloeking van die vyeboom is ook ’n inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat net hierna volg en waarin Hy hulle leweloosheid aan die kaak sal stel.  Jesus het gekom om die vrug van die Joodse vyeboom te geniet, maar verniet.

Daarom praat Hy met hulle oor sy gesag en die noodsaak van gehoorsaamheid en geloof.

Die gesprek met die Joodse leiers oor Jesus se gesag (21:23-27)

Na Jesus die vorige dag die tempelterrein gereinig het tot ’n huis van gebed en die Goddelike teenwoordigheid gedemonstreer het met die genesing van blindes en verlamdes, spandeer Hy sy tyd vêrder aan onderrig, die primêre fokus van sy bediening.

Die leierpriesters van die tempel en die familiehoofde van die volk vra Hom egter na sy gesag uit.
Dat hulle daarmee eintlik skynheilig optree, blyk uit hulle weiering om Jesus te antwoord oor wat hulle van Johannes die Doper se bediening gedink het.  Hulle is bang om hulle mening te gee, want hulle is bang dat dit nie in die smaak van die skare val nie.  Daarom antwoord Jesus hulle ook nie, hoewel Hy, ironies genoeg, eintlik sy gesag demonstreer.

Hulle blaas bedroë die aftog met ’n: “Ons weet nie.”  Hulle ongeloof is aan die kaak gestel, want geloof word immers in dade duidelik.  Hulle is egter nie ontvanklik vir die boodskap van Jesus nie, net soos die grond langs die pad in die gelykenis van die grond in hfst. 13.  Daarom dra hulle nie vrug nie.

Die gesprek met die Joodse leiers oor gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders  (21:28-32)

Jesus onderstreep sy boodskap aan die Joodse leiers met die volgende twee gelykenisse (eintlik ook die eerste gelykenis van hfst. 22 oor die bruilofsfees).  Daarmee wys Hy hulle onbetroubaarheid en ongehoorsaamheid onomwonde uit.

Die gelykenis van die twee kinders illustreer dit helder.  Dit is die een wat gehoorsaam is, wat die wil van die Vader doen, al gebeur dit ook eers na ’n tyd.  Daarom sal tollenaars en prostitute voor die Joodse leiers die koninkryk van God binnegaan. Hoewel die Joodse leiers die boodskap van God in Johannes die Doper sowel as in Jesus, die Seun van God, gesien en gehoor het, het hulle nie sovêr gekom om berou te hê en te glo nie.

Die gesprek met die Joodse leiers oor geloof na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46)

Jesus volg die gesprek oor gehoorsaamheid op met hierdie gesprek oor geloof na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd.  Hy verwoord hiermee eintlik die hele lang geskiedenis van teenstand teen God wat die Joodse leiers telkens gewys het in hulle hantering van die profete wat God gestuur het.  Dieselfde, sê Jesus, gaan met God se Seun gebeur.  Duideliker kan dit seker nie – die gelykenis spel letterlik die geskiedenis uit wat binnekort voltrek sal word!

Die verdere implikasies wat Jesus dus hiermee uitspel, kan nie langer misgekyk word nie, soos die leierpriesters en die Fariseërs uiteindelik te kenne gee.  Dit is, dat God die koninkryk van hulle sal wegneem en sal gee aan dié wat werklik in Hom glo.

Die Jode maak die fout, sê Jesus hiermee, om te dink dat hulle Hom uit die weg kan ruim deur Hom dood te maak.  Maar wat eerder sal gebeur, verklaar Jesus, is dat hulle verpletter sal word, juis op dié klip wat hulle, die bouers, as hoeksteen vir God se gebou afgekeur het – weereens gegrond op ’n aanhaling uit Ps. 118:22-23 (soos Lukas en Petrus ook in Hand. 4:11 en 1 Pet. 2:7 sal doen).  Hoe tragies.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda