Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid

Hoofstuk sewe bevat ’n klomp samevattende gedagtes van Jesus wat agt laaste opdragte vir die dissipels gee en só ’n prentjie van die vrug van geregtigheid in die dissipels se lewe vir ons skets.

7:1-5 – Oordeel regverdig

Waar hoofstuk 6 begin het met die waarskuwing teen skynheiligheid, begin hoofstuk 7 met die waarskuwing teen oordeel.  Daarmee word eintlik veroordeling bedoel, soos dit blyk uit vers vyf waar die verkeerde tipe oordeel juis aan skynheiligheid verbind word.  Dit beteken dat die feit dat ’n mens oordeel nie as sodanig die probleem is nie, maar dat jy skynheilig kan oordeel.  Dan raak dit veroordeling.

Die probleem is daarby nie net dat só ’n oordeel jouself suur kan bekom nie – dit kan bv. die maat word waarmee jy gemeet word – maar jy sal nie reg of billik kan oordeel in sake wat van belang is en die gemeenskap met jou insig kan help nie.  Dan mis jy die vrug van geregtigheid in jou lewe.

Jesus gebruik die metafoor van die splinter (dit kan ook met “stoffie” vertaal word, d.w.s. enigiets wat in jou oog waai) in jou medegelowige se oog wat jy eers goed kan raaksien, as die balk in jou eie oog verwyder is.  Dit beteken dat geregtigheid net gedien kan word – deur ’n billike oordeel – as jy eers sorg dat geregtigheid in jou eie lewe die deurslag gee.  Dán kan jy beter aandag gee aan ander wat reggehelp moet word en dra geregtigheid die regte tipe vrug in jou lewe.

7:6 – Getuig met onderskeiding

Hierdie vers is losweg verbind aan die vorige deurdat dit ook praat van “oordeel”, maar in die sin van die noodsaak van onderskeiding teenoor wié ’n mens getuig.  Jesus sê hier met die metafoor – dat ’n mens nie dit wat heilig is vir honde gee nie, of pêrels voor varke gooi nie – dat ’n mens gesonde oordeel aan die dag moet lê in die proses van die evangelie verkondiging, want honde en varke kan – by wyse van spreke – dit nie waardeer nie en op die koop toe, vir jou bykom, jou getuienis teen jou gebruik.

Waar weerstand en vyandigheid teen die evangelie toeneem, moet ’n mens met die uiterste versigtigheid te werk gaan.  Soms is dit beter om liewer na ander werksterreine te beweeg, soos Jesus inderdaad ook in Matt. 10:13-14 sy dissipels aanraai.

7:7-11 – Vra jou vrygewige Vader

Een van die groot voordele van ’n lewe met God is dat Hy ’n vrygewige Vader is.  Daarom moedig Jesus sy dissipels aan om met groot vrymoedigheid tot God te bid, uitgedruk met die drie woorde vra, soek en klop.  God is ’n beter Vader as aardse vaders wat brood en vis vir hulle kinders sal gee.  Hy sal goeie dinge gee aan dié wat  van Hom vra.  ’n Mens hoor hier die vorige hoofstuk se belofte eggo – julle Hemelse Vader weet tog wat alles julle nodig het – en dit laat ’n mens ook vorentoe kyk na die twee broodvermeerderings (Matt. 14-15)  waar dit juis brood en vis is wat ’n rol gaan speel.  Gebedsverhoring is dus een van die vrugte van ’n lewe van geregtigheid.

7:12 – Leef volgens die Goue Reël

Hierdie opdrag van Jesus het mettertyd as die sogenaamde Goue Reël bekend geword: “Alles wat julle wil hê dat die mense vir julle moet doen, doen ook so vir hulle.”   Dié reël kom ook in ander kulture en godsdienste voor, meer kere in die negatiewe vorm, bv. “Wat jy haat, moenie aan ander doen nie.”

Dit word deur baie geleerdes verbind aan Lev. 19:18: “Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”  Jesus gebruik dit hier om weereens die kern van die Wet en die Profete te beskryf as vrug van ’n lewe van geregtigheid.  Waar God die Here is, waar Hy erken en gedien word, dáár doen ’n mens aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê.

Hierdie vers uit Levitikus 19 vorm ook die basis van die tweede deel van die latere liefdesgebod wat Matteus in hfst. 22:34-40 gaan opteken.  Daarby eggo dit ook die vorige paar verse se belofte dat God ‘n vrygewige Vader is, een wat vertrou kan word dat Hy in liefde sal optree teen diegene wat Hom as Vader erken.

7:13-14 – Leef nougeset

Die metafoor van die twee weë – in dié geval ook die twee poorte – is ’n baie bekende een, wat ook in ander kulture en godsdienste voorkom, maar hier waarskynlik verwys na die klem op die keuse vir die pad van die lewe eerder as die pad van die dood soos Moses in Deut. 30:15, Jeremia in Jer. 21:8 en die Psalmis in Ps. 1:6 uitspel.  Die een pad – die breë pad en die wye poort – is die pad van die dood, die pad van die goddelose.  Die ander pad – die nou pad en die smal poort – is die pad van die lewe, die pad van die regverdige.  Dít is die een wat Jesus by hulle aanbeveel.

Hy dring dus by die dissipels aan om die pad van die regverdige te kies, nie dié van die goddelose nie.  ’n Mens hoor hier waarskynlik ook iets van wat Jesus later sou sê oor Homself, dat Hyself die weg is na die lewe, ook die poort na die lewe (Joh. 10).

7:15-20 – Oordeel volgens vrugte

Waar Jesus tot hier in dié hoofstuk gefokus het op die persoonlike keuses en vrug van ’n lewe van geregtigheid, waarsku Hy in hierdie paar verse op die effek wat valse profete in die lewe van die geloofsgemeenskap kan hê.  Hulle is kom in “skaapsklere”, maar is in hulle binneste “wolwe” wat verskeur.

Die manier om hulle egter uit te ken en aan die kaak te stel, is deur na die vrug op hulle lewe te kyk – spesifiek die kenmerke van ’n lewe van geregtigheid.  Druiwe pluk ’n mens nie van doringstruike of vye van dissels nie.  Goeie bome dra goeie vrugte.  Slegte bome dra slegte vrugte.  Moontlik verwys Jesus hier ook terug na sy waarskuwing teen skynheiligheid.  Die toets lê nie in wat mense sê nie, maar in hoe hulle lewe, d.w.s. die vrug van hulle lewe.

7:21-23 – Doen God se wil – moenie op jou gawes staatmaak nie

Jesus waarsku egter ook teen mense wat weer só klem lê op die vrug – spesifiek hier die buitengewone charismatiese gawes van profesie, demoon uitdrywing en kragtige dade – dat hulle die primêre verhouding met God self vergeet en dit nie koester en in standhou nie. Só ’n halfgebakte geestelike lewe wat net in doen bestaan, sonder om aan God self en sy genade verbind te bly, is vir die Here so goed soos wetteloosheid.  Hy soek mense wat met Hom die pad stap.

Donald Hagner (Word) sê dit so mooi: “Perhaps no passage in the NT expresses more concisely and more sharply that the essence of discipleship, and hence of participation in the kingdom, is found not in words, nor in religiosity, nor even in the performance of spectacular deeds in the name of Jesus, but only in the manifestation of true righteousness— i.e. the doing of the will of the Father as now interpreted through the teaching of Jesus … The seriousness of the ethical demand upon the disciples does not cancel out the priority or significance of grace manifested in Jesus and the kingdom.

7:24-27 – Luister en doen

Soos Jesus die dissipels aangemoedig het met die metafoor van die twee weë/poorte om die pad van geregtigheid te loop, sluit Hy hier die Bergrede af met ’n soortgelyk metafoor of gelykenis, die een van die twee bouers.  Die verstandige man bou sy huis op rots weg van die moontlikheid van oorstromings in die droë rivierlope (wadis).  Die onverstandige man bou sy huis op sand, presies waar die skielike vloede chaos kan veroorsaak.

Daarmee onderstreep Hy die appèl tot gehoorsaamheid aan die dissipels, om nie net te luister na wat Hy gesê het nie, maar te doen wat Hy gesê het.  Dit is iets wat Jesus nog ’n hele paar keer gaan beklemtoon, ook in Matteus waar Hy onder andere sê: “Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”

7:28-29 – Jesus se woorde dra gesag

Die Bergrede word afgesluit met die verstomming van die skare oor Jesus se onderrig.  Die gesag waarmee Hy gepraat het, het hulle beïndruk.  Dit is steeds só vandag, nie waar nie!?

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Marietjie van Niekerk

    Ds Chris ek het n vraag oor Matt 7: 21 – 23. Ek het Die Bergrede en Matt 7 aan hand van Adrio Konig se boek gedoen. My vraag is, hoe kan iemand in die Naam duiwels uitdryf en wonders doen, maar tog nie in verhouding met Jesus Christus wees nie? Dis asof daar teen strydigheid is – kom sulke games nie van die Heilige Gees nie? Maar ten spyte is daar nie verhouding met die Here nie?

    • Hi Marietjie. Die gedeelte wys dat ‘n mens ‘n oppervlakkig verhouding met Jesus kan hê, wat dinge soos profetiese aktiwiteit insluit (kyk na Mrk 9:38; Hand 19:13 waar spesiek na duiweluitdrywery verwys word wat deur ander groepe gedoen is). Maar, waar jy nie gehoorsaam is aan Jesus en die wet verbreek – soos Hy hier uitspel – beteken jou verhouding niks nie. Die 1933 / 53 vertaling het in vers 23: “julle wat die ongeregtigheid werk!”. maar die 1983-vertaling het heel korrek “julle wat die wet van God oortree.” Die 2020-vertaling vertaal ook so: “julle wat wetteloosheid bedryf!” Dissipelskap behels dus dat jy God in elke detail van sy Woord gehoorsaam, nie maar net duiwels uitdryf nie.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: