Skip to main content

Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe

Jesus se vierde toespraak, die sogenaamde kerkrede, begin met ’n vraag van die dissipels oor wie nou eintlik die belangrikste in die koninkryk van die hemele is.  Dit is nogal ironies gegewe dat Jesus so pas oor sy eie kruispad gepraat het.  Jesus antwoord daarom nie net dié vraag nie, maar brei uit oor die verhoudinge binne die kerk wat pas by die model van selfontlediging wat Hy so pas vir hulle gegee het.

Dit handel onder andere oor die regte gesindhede (18:1-5), die vermyding van struikelblokke (18:6-9), die uitreik na afgedwaaldes (18:10-16), die opdrag tot onderlinge teregwysing (18:18-20) en tegelykertyd die opdrag tot oorvloedige vergifnis wat in die vorm van ’n gelykenis oorgedra word (18:21-35).  Daarmee word die gedeelte wat handel oor die gemeenskap van die koninkryk afgesluit.

Koninkrykskinders  is nie bewus van hulle eie belangrikheid nie – 18:1-5

Dat Jesus ’n kind hier gebruik om as lewende gelykenis die dissipels te help om doelbewus nie op hulle eie belangrikheid al dan nie te fokus, is waarskynlik om die kind se lae sosiale status, sy afhanklikheid en selfs ’n kind se gebrek aan selfbewussyn as navolgingswaardige voorbeeld vir hulle te gee.

Die dissipels moet doelbewus “wêreldse belangrikheid” vermy.  Een manier om dit te doen, is om ander koninkrykskinders met gasvryheid, grasie en eer te ontvang.

Koninkrykskinders vermy struikelblokke en help ander om dit te vermy – 18:6-9

Jesus waarsku hier teen twee gevare.  Die een gevaar is dat ’n mens een van die volgelinge van Jesus wat in Hom glo, kan laat struikel, deur óf só iemand aanstoot te gee, óf só iemand te verlei tot sonde.  So iemand is beter af om diep in die see te gaan wegkruip, weg van die toorn van God.

Die ander gevaar is dat ’n mens self kan struikel, want daar is baie struikelblokke in die wêreld – dinge wat jy doen (hande), of plekke waarheen jy gaan (voete), of dinge wat jy sien (oë) en begeer.  ’n Mens moet jouself eerder leed aandoen as toelaat dat jou aksies, optredes, of begeertes jou verlei en laat struikel.  Onberispelikheid in handel en wandel is ononderhandelbaar in die gemeenskap van die gelowiges.

Koninkrykskinders reik uit na afgedwaaldes – 18:10-16

Hier sien ons een van die belangrike waardes daarvan om die Bybel in konteks te lees.  ’n Mens sou dié gedeelte kon lees as ’n gelykenis wat die evangeliste onder ons oproep om verlorenes te gaan bearbei.  Maar, omdat dié gelykenis van die verlore skaap in die konteks van gasvryheid en die vermyding van struikelblokke vertel word, beteken dié gelykenis dat die geloofsgemeenskap as sodanig die opdrag het om uit te reik na mense wat uit hulle geledere afdwaal. Dit is wat die Herder, Jesus, van hulle verwag, want dít is wat Hy sou doen.

Jesus begin die gelykenis deur die dissipels te waarsku om nie neer te sien op een van die geringes nie.  Die rede is, dat elkeen in die koninkryk, vir God belangrik is.  Trouens, die feit dat hier van ’n direkte verband tussen hulle engele en die Vader in die hemel gepraat word, is merkwaardig.  Lukas praat ook daaroor in Hand. 12:15 (N.A.V. vertaal gees, maar in die oorspronklike staan daar engel, d.w.s. Petrus se engel – en onthou ’n engel van die Here het Petrus in die eerste plek uit die tronk bevry) en die Hebreërskrywer is duidelik daaroor dat die engele (hulle word daar dienende geeste genoem) in diens van God is om dié te dien wat die saligheid gaan beërf, die koninkrykskinders (Hebr. 1:14!)

Iets om oor na te dink as koningskind.  God is terdeë bewus van wat in jou lewe en rondom jou aangaan via nie net sy Gees nie, maar ook via sy engele wat die opdrag het om jou te dien in die uitvoering van jou verantwoordelikheid in die koninkryk van God.  Hoe presies dít werk, word nie in die Bybel uitgespel nie. Sommige dink aan ’n soort intersessie – soos trouens Jesus natuurlik reeds vóór (Joh. 17) en steeds ná sy Hemelvaart doen (Hebr. 7:25) – ander aan ’n meer direkte betrokkenheid by wat gebeur – soos sommige gelowiges deur die eeue van getuig (vgl. bv. Hebr. 13:2).  Die punt is nie hoe nie, maar dat.  En dit moet jou spesiaal laat voel in God se oë.

Dit moet ons ook met ander oë na mekaar laat kyk.  Ons moet alles in ons vermoë doen om te sorg dat niemand van die geloofsgemeenskap afvallig raak nie.

Koninkrykskinders wys mekaar onderling tereg – 18:18-20

Jesus gaan al hoe dieper in op die wyse waarop onderlinge verhoudings optimaal in standgehou kan word.  Hier gee Hy die opdrag dat daar op ’n liefdevolle wyse uitgereik moet word na iemand wat teen jou sondig.

In die eerste rondte probeer jy dit uitsorteer “tussen jou en hom/haar alleen”.  In die tweede rondte, as ’n gesprek onder vier oë nie suksesvol was nie, neem mens een of twee mense, steeds ’n klein groepie, saam om as getuies te dien van jou eerlike poging om die saak te besleg.  In die derde rondte word die gemeente (ekklesia – kerk) ingelig en in die vierde en laaste rondte word hy of sy nie meer as deel van die geloofsgemeenskap geag nie.

Dit het natuurlik meer effek gehad in die eerste paar eeue, omdat jy dan sonder opsies was om in ’n geloofgemeenskap tereg te kom, maar die onus rus steeds op die geloofsgemeenskap om onderlinge konflik en sondige optredes uit te sorteer voor dit in onderlinge vetes verander.

Jesus wys hiermee op die geweldige verantwoordelikheid wat rus op die geloofsgemeenskap om dié manier van doen te volg, want dit het ewige konsekwensies.  Want waar twee of drie saamstem hieroor, sal God die Vader dit aan hulle toestaan.  God is immers in hulle midde.

Hierdie is nog ’n duidelike voordeel daarvan om ’n teks in konteks te lees, omdat die gebedsverhoring hier nie maar net op enigiets dui nie (daar is ander tekste wat natuurlik oor ander tipes gebedsverhoring praat).  Hier dui dit net op dít wat met onderlinge vermaning te make het.

Koninkrykskinders vergewe mekaar oorvloediglik – 18:21-35

Dit is daarom logies om die volgende aspek van onderlinge gemeenskap uit te lig, naamlik vergifnis.  Petrus is bekommerd dat Jesus hulle nou ’n reël gegee het – om ’n saak te gaan besleg met iemand wat teen jou gesondig het – wat deur die sondaar uitgebuit en misbruik kan word.  Daarom vra hy, hoeveel maal moet ek hom of haar vergewe?  Hy dog hy is vrygewig deur te dink dat sewe keer moontlik genoeg is.  Jesus se antwoord wys dat vergifnis die diepste waarde in die Christelike geloofsgemeenskap is.  Nie sewe keer nie, maar sewe maal sewe keer moet ons mekaar vergewe.  D.w.s. elke keer!

Jesus vertel dan die gelykenis van die slaaf wie se massiewe skuld afgeskryf is, omdat die koning, sy heer, hom innig jammer gekry het.  Sy skuld was tienduisend talente wat doodgewoon dui op die grootste bedrag denkbaar.  Vir dié wat die som wil uitwerk: ’n talent was sesduisend denarii werd en ’n denarius was ongeveer die minimum dagloon van arbeiders van daardie tyd werd.  As die dagloon dus R100 per dag in ons geldeenheid sou verteenwoordig, het die slaaf R6 000 000 000 geskuld, 6 Triljoen Rand!  Die koning het dus ’n amper onmoontlike hoeveelheid skuld afgeskryf en die slaaf vergewe.

Dié slaaf het egter nie dieselfde barmhartigheid teenoor sy medeslaaf betoon nie en laat hom in die tronk gooi oor honderd denarii – ongeveer R10 000 as dieselfde som as bo gemaak word.  Die koning het dus sy vergifnis teruggetrek omdat die slaaf nie op dieselfde wyse teenoor sy medemense opgetree het nie.

Daarmee gee Jesus vir ons dus die eintlike maatstaf waarmee ons met dié wat teen ons oortree, moet handel.  Ons moet soos God vergewe, want Hy is soos die koning in die gelykenis!  Daar mag dus ook geen beperking op ons vergifnis van ons medegelowiges te wees nie.  Ons moet oorvloedig in vergifnis wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms