Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe
Jesus se vierde toespraak, die sogenaamde kerkrede, begin met ’n vraag van die dissipels oor wie nou eintlik die belangrikste in die koninkryk van die hemele is. Dit is nogal ironies gegewe dat Jesus so pas oor sy eie kruispad gepraat het. Jesus antwoord daarom nie net dié vraag nie, maar brei uit oor die verhoudinge binne die kerk wat pas by die model van selfontlediging wat Hy so pas vir hulle gegee het.
Dit handel onder andere oor die regte gesindhede (18:1-5), die vermyding van struikelblokke (18:6-9), die uitreik na afgedwaaldes (18:10-16), die opdrag tot onderlinge teregwysing (18:18-20) en tegelykertyd die opdrag tot oorvloedige vergifnis wat in die vorm van ’n gelykenis oorgedra word (18:21-35). Daarmee word die gedeelte wat handel oor die gemeenskap van die koninkryk afgesluit.
Koninkrykskinders is nie bewus van hulle eie belangrikheid nie – 18:1-5
Dat Jesus ’n kind hier gebruik om as lewende gelykenis die dissipels te help om doelbewus nie op hulle eie belangrikheid al dan nie te fokus, is waarskynlik om die kind se lae sosiale status, sy afhanklikheid en selfs ’n kind se gebrek aan selfbewussyn as navolgingswaardige voorbeeld vir hulle te gee.
Die dissipels moet doelbewus “wêreldse belangrikheid” vermy. Een manier om dit te doen, is om ander koninkrykskinders met gasvryheid, grasie en eer te ontvang.
Koninkrykskinders vermy struikelblokke en help ander om dit te vermy – 18:6-9
Jesus waarsku hier teen twee gevare. Die een gevaar is dat ’n mens een van die volgelinge van Jesus wat in Hom glo, kan laat struikel, deur óf só iemand aanstoot te gee, óf só iemand te verlei tot sonde. So iemand is beter af om diep in die see te gaan wegkruip, weg van die toorn van God.
Die ander gevaar is dat ’n mens self kan struikel, want daar is baie struikelblokke in die wêreld – dinge wat jy doen (hande), of plekke waarheen jy gaan (voete), of dinge wat jy sien (oë) en begeer. ’n Mens moet jouself eerder leed aandoen as toelaat dat jou aksies, optredes, of begeertes jou verlei en laat struikel. Onberispelikheid in handel en wandel is ononderhandelbaar in die gemeenskap van die gelowiges.
Koninkrykskinders reik uit na afgedwaaldes – 18:10-16
Hier sien ons een van die belangrike waardes daarvan om die Bybel in konteks te lees. ’n Mens sou dié gedeelte kon lees as ’n gelykenis wat die evangeliste onder ons oproep om verlorenes te gaan bearbei. Maar, omdat dié gelykenis van die verlore skaap in die konteks van gasvryheid en die vermyding van struikelblokke vertel word, beteken dié gelykenis dat die geloofsgemeenskap as sodanig die opdrag het om uit te reik na mense wat uit hulle geledere afdwaal. Dit is wat die Herder, Jesus, van hulle verwag, want dít is wat Hy sou doen.
Jesus begin die gelykenis deur die dissipels te waarsku om nie neer te sien op een van die geringes nie. Die rede is, dat elkeen in die koninkryk, vir God belangrik is. Trouens, die feit dat hier van ’n direkte verband tussen hulle engele en die Vader in die hemel gepraat word, is merkwaardig. Lukas praat ook daaroor in Hand. 12:15 (N.A.V. vertaal gees, maar in die oorspronklike staan daar engel, d.w.s. Petrus se engel – en onthou ’n engel van die Here het Petrus in die eerste plek uit die tronk bevry) en die Hebreërskrywer is duidelik daaroor dat die engele (hulle word daar dienende geeste genoem) in diens van God is om dié te dien wat die saligheid gaan beërf, die koninkrykskinders (Hebr. 1:14!)
Iets om oor na te dink as koningskind. God is terdeë bewus van wat in jou lewe en rondom jou aangaan via nie net sy Gees nie, maar ook via sy engele wat die opdrag het om jou te dien in die uitvoering van jou verantwoordelikheid in die koninkryk van God. Hoe presies dít werk, word nie in die Bybel uitgespel nie. Sommige dink aan ’n soort intersessie – soos trouens Jesus natuurlik reeds vóór (Joh. 17) en steeds ná sy Hemelvaart doen (Hebr. 7:25) – ander aan ’n meer direkte betrokkenheid by wat gebeur – soos sommige gelowiges deur die eeue van getuig (vgl. bv. Hebr. 13:2). Die punt is nie hoe nie, maar dat. En dit moet jou spesiaal laat voel in God se oë.
Dit moet ons ook met ander oë na mekaar laat kyk. Ons moet alles in ons vermoë doen om te sorg dat niemand van die geloofsgemeenskap afvallig raak nie.
Koninkrykskinders wys mekaar onderling tereg – 18:18-20
Jesus gaan al hoe dieper in op die wyse waarop onderlinge verhoudings optimaal in standgehou kan word. Hier gee Hy die opdrag dat daar op ’n liefdevolle wyse uitgereik moet word na iemand wat teen jou sondig.
In die eerste rondte probeer jy dit uitsorteer “tussen jou en hom/haar alleen”. In die tweede rondte, as ’n gesprek onder vier oë nie suksesvol was nie, neem mens een of twee mense, steeds ’n klein groepie, saam om as getuies te dien van jou eerlike poging om die saak te besleg. In die derde rondte word die gemeente (ekklesia – kerk) ingelig en in die vierde en laaste rondte word hy of sy nie meer as deel van die geloofsgemeenskap geag nie.
Dit het natuurlik meer effek gehad in die eerste paar eeue, omdat jy dan sonder opsies was om in ’n geloofgemeenskap tereg te kom, maar die onus rus steeds op die geloofsgemeenskap om onderlinge konflik en sondige optredes uit te sorteer voor dit in onderlinge vetes verander.
Jesus wys hiermee op die geweldige verantwoordelikheid wat rus op die geloofsgemeenskap om dié manier van doen te volg, want dit het ewige konsekwensies. Want waar twee of drie saamstem hieroor, sal God die Vader dit aan hulle toestaan. God is immers in hulle midde.
Hierdie is nog ’n duidelike voordeel daarvan om ’n teks in konteks te lees, omdat die gebedsverhoring hier nie maar net op enigiets dui nie (daar is ander tekste wat natuurlik oor ander tipes gebedsverhoring praat). Hier dui dit net op dít wat met onderlinge vermaning te make het.
Koninkrykskinders vergewe mekaar oorvloediglik – 18:21-35
Dit is daarom logies om die volgende aspek van onderlinge gemeenskap uit te lig, naamlik vergifnis. Petrus is bekommerd dat Jesus hulle nou ’n reël gegee het – om ’n saak te gaan besleg met iemand wat teen jou gesondig het – wat deur die sondaar uitgebuit en misbruik kan word. Daarom vra hy, hoeveel maal moet ek hom of haar vergewe? Hy dog hy is vrygewig deur te dink dat sewe keer moontlik genoeg is. Jesus se antwoord wys dat vergifnis die diepste waarde in die Christelike geloofsgemeenskap is. Nie sewe keer nie, maar sewe maal sewe keer moet ons mekaar vergewe. D.w.s. elke keer!
Jesus vertel dan die gelykenis van die slaaf wie se massiewe skuld afgeskryf is, omdat die koning, sy heer, hom innig jammer gekry het. Sy skuld was tienduisend talente wat doodgewoon dui op die grootste bedrag denkbaar. Vir dié wat die som wil uitwerk: ’n talent was sesduisend denarii werd en ’n denarius was ongeveer die minimum dagloon van arbeiders van daardie tyd werd. As die dagloon dus R100 per dag in ons geldeenheid sou verteenwoordig, het die slaaf R6 000 000 000 geskuld, 6 Triljoen Rand! Die koning het dus ’n amper onmoontlike hoeveelheid skuld afgeskryf en die slaaf vergewe.
Dié slaaf het egter nie dieselfde barmhartigheid teenoor sy medeslaaf betoon nie en laat hom in die tronk gooi oor honderd denarii – ongeveer R10 000 as dieselfde som as bo gemaak word. Die koning het dus sy vergifnis teruggetrek omdat die slaaf nie op dieselfde wyse teenoor sy medemense opgetree het nie.
Daarmee gee Jesus vir ons dus die eintlike maatstaf waarmee ons met dié wat teen ons oortree, moet handel. Ons moet soos God vergewe, want Hy is soos die koning in die gelykenis! Daar mag dus ook geen beperking op ons vergifnis van ons medegelowiges te wees nie. Ons moet oorvloedig in vergifnis wees.
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie - January 4, 2014
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus - January 16, 2014
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte - January 17, 2014
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom - January 20, 2014
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur - January 21, 2014
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening - January 22, 2014
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid - January 23, 2014
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid - January 24, 2014
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid - January 27, 2014
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings - January 28, 2014
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes - January 29, 2014
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit - January 30, 2014
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee - January 31, 2014
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer - February 3, 2014
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse - February 4, 2014
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees - February 5, 2014
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes - February 6, 2014
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap - February 7, 2014
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese - February 10, 2014
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe - February 11, 2014
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit - February 12, 2014
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit - February 13, 2014
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers - February 14, 2014
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs - February 17, 2014
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs - February 18, 2014
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid - February 19, 2014
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid - February 20, 2014
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën - February 21, 2014
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe - February 24, 2014
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels - February 25, 2014
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie - July 15, 2016
- Lei ons nie in versoeking nie - July 11, 2019