Skip to main content

Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit

In hierdie hoofstuk vind ons die volgende vier perikope:

  • Jesus vertel die eerste van vier gelykenisse – die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is – wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel. Hier spel Hy die deelnemers uit in terme van wie eerste is en wie laaste – 20:1-16.
  • Jesus kondig die derde en laaste keer sy lyding, kruisdood en opstanding aan vir die dissipels, waardeur Hy sy identiteit as die lydende Seun van die Mens bevestig.  Hy is nie die triomfantelike Messias wat die Jode verwag het nie – 20:17-19.
  • Jesus brei verder uit oor die waardes wat in die koninkryk geld, deur klem te lê op die dienende karakter van leierskap in antwoord op die vraag van die twee seuns van Sebedeus, die twee dissipels, Jakobus en Johannes – 20:20-28.
  • Jesus genees twee blindes langs die pad van Jerigo af wat Hom as die Here, die Seun van Dawid (h)erken – 20:29-34Die genesingsverhaal word simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas as ironiese kommentaar op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan die Jode die verband lê tussen Jesus as die “Seun van Dawid” en Jesus as: “die profeet van Nasaret in Galilea”, soos ons in hfst. 21 gaan lees.   Die insig keer hulle egter nie om Hom ‘n kruisdood te laat sterwe nie.

Laastes sal eerste wees, en eerstes sal laaste wees – 20:1-16

Jesus vertel die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is om aan die een kant almal wat Jesus volg, te troos dat God se beloftes inderdaad vir hulle bedoel is, al kry hulle teëstand van die volk se Joodse leiers en sien dié op hulle neer.  Die Joodse leiers dink miskien dat hulle eerste in die ry staan vir God se guns weens hulle getrouheid aan die wet.  Maar, omdat hulle God se Seun misken, is hulle eintlik laaste in die ry.  Dié wat die roepstem van Jesus gehoor en deel van die koninkryk geword het, dié sal eerste in die ry voor God staan.

Aan die ander kant wil Jesus met die gelykenis ook die geloofsgemeenskap help om op hulle beurt geen onderskeid onderling te tref, nie op grond van die lengte van hulle dissipelskap of die relatiewe waarde daarvan vir die koninkryk nie.  ‘n Mens verdien nie meer in die koninkryk van God op grond van jou die lengte of gehalte van jou dienswerk nie.  Alle deelnemers aan die koninkryk van God staan, by wyse van spreke, eerste in die koninkryk van God.  Selfs die Joodse Christene het geen voorrang bo die Christene uit die heidennasies nie.

Jesus is die lydende Seun van die Mens – 20:17-19

Jesus rig nou sy oë op Jerusalem, omdat Hy weet sy tyd het gekom.  Daarom kondig Hy vir die derde en laaste keer sy lyding, kruisdood en opstanding aan vir die twaalf dissipels.  Hy gee ‘n bietjie meer inligting oor die leierpriesters en skrifkenners se rol in die ter dood veroordeling en Sy oorlewing aan die heidene om Hom te bespot, te gesel en aan die kruis te laat sterwe.  Die opstanding word egter ook beklemtoon, hoewel die dissipels dit eers na die opstanding sou begryp.

Daarmee beklemtoon Jesus dat sy Messiasskap nie ‘n triomfantelike oorwinning gaan wees nie, maar dat Hy die Lydende Kneg van Jesaja is, die Lydende Messias wat deur sy dood die oorwinning gaan bewerk.  Dit is sy identiteit.

Dienende leierskap is een van die sleutel koninkrykswaardes  – 20:20-28

Die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, het bekend gestaan as die “seuns/manne van die donder” (Boanerges – Mark. 3:14), maar hulle ma was ook blykbaar ‘n vrou om mee rekening te hou!  Sy vra van Jesus dat haar seuns in ereposisies in die komende koninkryk by Jesus sal sit.

Jesus se eerste respons is om te vra of hulle die lydingsbeker sal kan drink wat vir Hom voorlê, waarop hulle bevestigend antwoord.  Jesus se tweede respons is om hulle gelyk te gee, maar tog te sê dat dit alleen God die Vader is wat daaroor sal besluit.  Ná die ander dissipels met verontwaardiging op die ma en haar seuns se versoek gereageer het, gee Jesus sy derde respons en beklemtoon dienende leierskap.  Dit is die enigste manier waarop iemand van regtige waarde in die koninkryk van die hemele kan wees.

Jesus bevestig daarmee sy ware identiteit, soos met die vorige aankondiging van sy lyding, kruisdood en opstanding, dat Hy gekom het om te dien sodat sy lewe ’n losprys vir baie sal wees.  Daarmee slaan hy die wydverspreide idee die nek in, nl. dat die hoogste goed iets is wat jou belange bevorder.  Die koninkryk se waardes is radikaal anders as dié van die wêreld en selfs as dié van die menslike natuur.  Dienende leierskap het die hoogste waarde in die koninkryk.

Jesus raak die oë aan van dié wat Hom vra – 20:29-34

Jesus se laaste aksie voor Hy Jerusalem binnegaan, is om twee blindes langs die pad van Jerigo af te genees.  Wat uitstaan van hulle is dat hulle Hom as die Here, die Seun van Dawid (h)erkenDie genesingsverhaal het dus nie net ’n wonderlike uitkoms vir die twee blindes nie, maar het ook ’n simboliese betekenis deur ironiese kommentaar te lewer op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan hulle die verband lê tussen Jesus as die “Seun van Dawid” en Jesus as: “die profeet van Nasaret in Galilea”, soos ons in hfst. 21 gaan lees.   Die insig keer hulle egter nie om Hom uiteindelik ‘n kruisdood te laat sterwe nie.

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar