Skip to main content

Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit

In hierdie hoofstuk vind ons die volgende vier perikope:

  • Jesus vertel die eerste van vier gelykenisse – die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is – wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel. Hier spel Hy die deelnemers uit in terme van wie eerste is en wie laaste – 20:1-16.
  • Jesus kondig die derde en laaste keer sy lyding, kruisdood en opstanding aan vir die dissipels, waardeur Hy sy identiteit as die lydende Seun van die Mens bevestig.  Hy is nie die triomfantelike Messias wat die Jode verwag het nie – 20:17-19.
  • Jesus brei verder uit oor die waardes wat in die koninkryk geld, deur klem te lê op die dienende karakter van leierskap in antwoord op die vraag van die twee seuns van Sebedeus, die twee dissipels, Jakobus en Johannes – 20:20-28.
  • Jesus genees twee blindes langs die pad van Jerigo af wat Hom as die Here, die Seun van Dawid (h)erken – 20:29-34Die genesingsverhaal word simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas as ironiese kommentaar op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan die Jode die verband lê tussen Jesus as die “Seun van Dawid” en Jesus as: “die profeet van Nasaret in Galilea”, soos ons in hfst. 21 gaan lees.   Die insig keer hulle egter nie om Hom ‘n kruisdood te laat sterwe nie.

Laastes sal eerste wees, en eerstes sal laaste wees – 20:1-16

Jesus vertel die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is om aan die een kant almal wat Jesus volg, te troos dat God se beloftes inderdaad vir hulle bedoel is, al kry hulle teëstand van die volk se Joodse leiers en sien dié op hulle neer.  Die Joodse leiers dink miskien dat hulle eerste in die ry staan vir God se guns weens hulle getrouheid aan die wet.  Maar, omdat hulle God se Seun misken, is hulle eintlik laaste in die ry.  Dié wat die roepstem van Jesus gehoor en deel van die koninkryk geword het, dié sal eerste in die ry voor God staan.

Aan die ander kant wil Jesus met die gelykenis ook die geloofsgemeenskap help om op hulle beurt geen onderskeid onderling te tref, nie op grond van die lengte van hulle dissipelskap of die relatiewe waarde daarvan vir die koninkryk nie.  ‘n Mens verdien nie meer in die koninkryk van God op grond van jou die lengte of gehalte van jou dienswerk nie.  Alle deelnemers aan die koninkryk van God staan, by wyse van spreke, eerste in die koninkryk van God.  Selfs die Joodse Christene het geen voorrang bo die Christene uit die heidennasies nie.

Jesus is die lydende Seun van die Mens – 20:17-19

Jesus rig nou sy oë op Jerusalem, omdat Hy weet sy tyd het gekom.  Daarom kondig Hy vir die derde en laaste keer sy lyding, kruisdood en opstanding aan vir die twaalf dissipels.  Hy gee ‘n bietjie meer inligting oor die leierpriesters en skrifkenners se rol in die ter dood veroordeling en Sy oorlewing aan die heidene om Hom te bespot, te gesel en aan die kruis te laat sterwe.  Die opstanding word egter ook beklemtoon, hoewel die dissipels dit eers na die opstanding sou begryp.

Daarmee beklemtoon Jesus dat sy Messiasskap nie ‘n triomfantelike oorwinning gaan wees nie, maar dat Hy die Lydende Kneg van Jesaja is, die Lydende Messias wat deur sy dood die oorwinning gaan bewerk.  Dit is sy identiteit.

Dienende leierskap is een van die sleutel koninkrykswaardes  – 20:20-28

Die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, het bekend gestaan as die “seuns/manne van die donder” (Boanerges – Mark. 3:14), maar hulle ma was ook blykbaar ‘n vrou om mee rekening te hou!  Sy vra van Jesus dat haar seuns in ereposisies in die komende koninkryk by Jesus sal sit.

Jesus se eerste respons is om te vra of hulle die lydingsbeker sal kan drink wat vir Hom voorlê, waarop hulle bevestigend antwoord.  Jesus se tweede respons is om hulle gelyk te gee, maar tog te sê dat dit alleen God die Vader is wat daaroor sal besluit.  Ná die ander dissipels met verontwaardiging op die ma en haar seuns se versoek gereageer het, gee Jesus sy derde respons en beklemtoon dienende leierskap.  Dit is die enigste manier waarop iemand van regtige waarde in die koninkryk van die hemele kan wees.

Jesus bevestig daarmee sy ware identiteit, soos met die vorige aankondiging van sy lyding, kruisdood en opstanding, dat Hy gekom het om te dien sodat sy lewe ’n losprys vir baie sal wees.  Daarmee slaan hy die wydverspreide idee die nek in, nl. dat die hoogste goed iets is wat jou belange bevorder.  Die koninkryk se waardes is radikaal anders as dié van die wêreld en selfs as dié van die menslike natuur.  Dienende leierskap het die hoogste waarde in die koninkryk.

Jesus raak die oë aan van dié wat Hom vra – 20:29-34

Jesus se laaste aksie voor Hy Jerusalem binnegaan, is om twee blindes langs die pad van Jerigo af te genees.  Wat uitstaan van hulle is dat hulle Hom as die Here, die Seun van Dawid (h)erkenDie genesingsverhaal het dus nie net ’n wonderlike uitkoms vir die twee blindes nie, maar het ook ’n simboliese betekenis deur ironiese kommentaar te lewer op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan hulle die verband lê tussen Jesus as die “Seun van Dawid” en Jesus as: “die profeet van Nasaret in Galilea”, soos ons in hfst. 21 gaan lees.   Die insig keer hulle egter nie om Hom uiteindelik ‘n kruisdood te laat sterwe nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…