Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit

Matteus sluit hierdie gedeelte oor die krag en missie van die koninkryk af met die tweede belangrike toespraak van Jesus, die uitsendingsrede, wat onderrig aan die dissipels gee vir die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur.  Dit gee sewe perspektiewe wat die dissipels vir hulle taak moet motiveer en versterk, ten spyte van die werklikheid van vervolginge, uitdagings, verdeeldheid. 

Matteus vertel egter nie hoe dit met hulle op dié sending gegaan het nie.  Markus en Lukas daarenteen vertel wel ook van dié uitsending, maar baie korter en met ’n kort beskrywing van die resultaat op hulle werk (Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6).  Lukas vertel daarby ook van die uitsending van die 72, iets wat ons net by Lukas aantref, hoewel ’n gedeelte van Jesus se woorde aan dié sendelinge op ’n ander plek in Matteus herhaal word (Matt. 11:20-24).

Jesus stuur die twaalf dissipels uit – Matt. 10:1-4

Let op dat Matteus die twaalf beide dissipels as apostels noem.  Dit is net dié twaalf wat apostels genoem word waarmee aangedui word dat hulle die gesagvolle verteenwoordigers en gestuurdes (dit is wat die Griekse woord apostel beteken) van Jesus is.

Ek het reeds vroeër ’n paar opmerkings oor die onderskeie lyste van die twaalf in die evangelies en ook in Handelinge gemaak wat jy gerus kan lees.

Jesus se opdragte aan die twaalf – Matt. 10:5-15

Dit is belangrik om die konteks te verstaan waarvoor Jesus die opdragte gee dat daar nie voorsiening vir geld en ’n reissak met allerlei benodigdhede gemaak word nie.  Die twaalf dissipels word vir eers net na die mense van Israel gestuur, op wie se gasvryheid en ondersteuning hulle kan staatmaak.  Dit is daarom nie ’n opdrag vir alle sendelinge van alle tye.  Waar ’n mens in ongasvrye omgewings ingestuur word, sal ander opdragte van die Here geld.

Die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur, word uitgespel as die verkondiging van die koninkryk, die genesing van siekes, die opwekking van dooies, die reiniging van melaatses en die uitdryf van demone – presies wat Jesus tot dusvêr gedoen het (10:7-8).  Net soos Jesus dit gratis gedoen het, moet hulle ook.  Die enigste weglating uit Jesus se bediening in die vorige twee hoofstukke is die vergifnis van sonde, hoewel die vrede wat Jesus vra dat hulle vir die huismense skenk (of laat terugkeer) ’n interessante ekstra opdrag is.

Die waardigheid (gesindheid, soos dit in die N.A.V. vertaal is) van die huismense al dan nie, wat bepaal of hulle die vrede kan behou, dui nie op een of ander verdienste aan hulle kant nie, maar of hulle ontvanklik daarvoor is of nie, wat duidelik sou word uit die feit of die dissipels verwelkom word of nie.

Die werklikheid van vervolginge – Matt. 10:16-25

Dit is opmerklik dat Matteus met hierdie perikoop die uitsendingsrede aanpas met opmerkings wat eintlik met die sending na die heidennasies te make het, iets wat wel sin maak in sy skrywe aan die geloofsgemeenskap in Sirië wat besig is met die Groot Opdrag, maar nie werklik inpas in die aanvanklike uitsendingsrede aan die dissipels nie.

Dit sien ons in die feit dat daar hier van prokurators (goewerneurs) en konings gepraat word aan wie die dissipels uitgelewer sal word, dat hulle voor heidennasies sal getuig en dat die Gees van die Vader, wat op dié punt nog nie uitgestort is nie, deur hulle sal praat.  Vergelyk dit met die eerste paar opdragte dat hulle juis nie na die heidennasies moet gaan nie, selfs nie na die Samaritane nie (vers 5).

Die eskatologiese karakter van die volgende verse daarna, vers 21-23, waar van ’n onvoltooide sending aan die Jode gepraat word by die (weder)koms van die Seun van die mens, dui ook daarop dat dit ’n woord van Matteus aan sy lesers in Sirië is, uiteraard gekoppel aan die boodskap van Jesus.

Omdat Matteus dus sy lesers wil aanmoedig om hulle huidige taak uit te voer, om die evangelie na die heidennasies te neem, sluit hy dié gedeelte hier in.  Daarby waarsku hy hulle skerp teen die heel ander omgewing wat hulle onder die heidennasies sal aantref, een waar hulle behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe moet wees.  Hulle moet dus wys wees en op hulle hoede vir die listigheid van mense, terwyl hulle sorg dra dat hulle in alles onberispelik optree.  Daarmee sal die Gees van hulle Vader hulle help.

Matteus wy uit oor die verdeeldheid wat selfs in huise voor sal kom, sowel as die verguising en vervolging wat hulle sal beleef, iets wat hulle natuurlik in Jesus self raakgesien het en uit wie se voorbeeld en teenwoordigheid hulle krag en motivering kan put.

Moenie bang wees nie, God sal sorg – Matt. 10:26-31

Met hierdie woorde moedig Matteus die gelowiges aan om nie uit vrees vir die gevolge van hulle woorde, eerder stil te bly nie.  Hulle moet bly getuig van dít wat Jesus hulle geleer het, want hulle Vader het die vermoë om vir hulle te sorg.  Selfs die moontlikheid van die dood moet hulle nie afskrik om getrou te bly aan die woorde van die Here Jesus nie.

Aanmoediging om Christus te bely en nie te verloën nie – Matt. 10:32-33

Die logiese gevolgtrekking wat die dissipels uit die voorafgaande aanmoediging moet maak, is dat getuienis nie opsioneel is nie, maar verpligtend. Dit het ewige gevolge nie net vir dié teenoor wie getuig word nie, maar ook vir die mense wat getuig, vir ons as gelowiges.  Dit is ’n harde woord wat ons goed moet hoor.

Lojaliteit aan Jesus bring skeiding – Matt. 10:34-39

Matteus raak nou ’n pynlike realiteit aan, dat lojaliteit aan Jesus die effek kan hê in huise dat kinders en ouers met mekaar dit haaks kan hê oor die verbintenis aan Hom en dat ’n mens se huismense jou vyande kan wees.  Tragies, ontstellend, maar die realiteit van die keuse waarvoor Jesus mense plaas.

Die vrede wat Jesus bring, is die vrede van ’n paradoks.  Dit manifesteer soms in die teendeel daarvan, in skeiding, verdeeldheid en vyandskap.  Wie egter sy lewe ter wille van Jesus verloor, sal dit behou, sê vers 39.

Gasvryheid en ondersteuning van dissipels bring beloning – Matt. 10:40-42

Die uitsendingsrede word afgesluit met ’n woord oor die mense wat die boodskap ontvang.  Dié wat die dissipels met gasvryheid ontvang en hulle ondersteun, ontvang daarmee eintlik die Here Jesus self, d.w.s. God self, en sal hulle beloning verseker kry.  Dit word drie maal herhaal om dit te onderstreep.

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Ek het ‘n navraag gekry oor Matteus 10:29-31, die twee metafore oor die mossies en die hare op ons kop wat getel is. Hier is ‘n bietjie meer daaroor:

    Vers 29-31 illustreer met twee metafore die nougesette aandag van God aan selfs die kleinste dingetjies wat in die wêreld gebeur. Die implikasie is dat niks God se aandag en soewereiniteit ontglip nie. Niks gebeur sonder sy medewete en betrokkenheid nie. Dit geld vir die voorsiening vir ons lewe (metafoor van die mossies) en dit geld vir bewaring van die gevaar van vyandskap en die dood (metafoor van die hare op die kop).

    Die eerste metafoor sê dat mossies wel min werd mag wees, die goedkoopste maaltyd van daardie tyd, maar dat nie een van hulle doodgaan sonder ons Vader nie. As Hy dan vir mossies sorg, wat min werd is, dan kan ons weet dat Hy baie meer sorg aan die dag sal lê in ons as sy kinders se lewe. Interessant: die Griekse woord wat daar gebruik word, en dinamies vertaal is as “‘n sent” in die N.A.V weergawe, is eintlik ‘n “assarion”. Dit was min werd. Dié Romeinse kopermuntstuk, die assarion, was maar 1/16 van ‘n denarius werd, ‘n Romeinse silwermuntstuk, wat die minimumloon van dagarbeiders in daardie tyd was. In vandag se terme, as ‘n minimumloon sê maar R100 ‘n dag is, was twee mossies verkoop vir R6,25. Die betekenis is dat God sal voorsien. Daarop kan ‘n mens staatmaak.

    Die tweede metafoor – dat selfs die hare op ons kop getel is, moontlik ‘n idioom uit daardie tyd (vgl. 1 Sam. 14:45; 2 Sam. 14:11) – word gebruik as argument dat God in alles by magte is om ons te beskerm van die (ewige) dood. Dit is belangrik om Lukas 21:18 hiermee saam te lees, want daar word die metafoor ook gebruik, maar in die konteks daarvan dat sommige van die dissipels wel doodgemaak sal word, ter wille van Jesus se naam (vers 16-17). Tóg sê Jesus: “daar sal selfs nie ‘n haar van julle kop af val nie” (vers 18). Wat Hy dus bedoel, is dat selfs die dood ons nie van die liefde van God, sy sorg, en sy intense betrokkenheid kan skei nie. Wat dus ook al met ons gebeur, selfs wanneer slegte goed gebeur, ons is spesiaal vir God. En in dié konteks van Lukas 21 gebruik Jesus dié bemoedigende woorde om hulle aan te spoor: “Deur julle volharding moet jullle julleself red.”

    Die doel van dié twee metafore in Matteus 10:29-31 is dus om ons vrees te besweer en ons vertroue in God se sorg en beskerming te versterk. Ons hoef nie swaarkry te vrees nie. Ons hoef nie vyande te vrees nie. Ons hoef selfs nie die dood te vrees nie.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: