Skip to main content

Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening

Die lewe is darem nie maklik nie! Van die hoogtepunt van die doop en die duif … word Jesus gelei na die dieptepunt  van die duiwel se versoeking.  Dit is egter nie slegte nuus nie.  Dit is goeie nuus, dit is die evangelie.  Hoekom?  Want Jesus aanvaar die uitdaging sonder skroom, sonder klag, sonder om terug te deins.  Dit is immers al die eerste oorwinning; om nie in te gee voor die behoefte om dinge makliker in die lewe te hê  nie.  En Hy slaag die toets uiteindelik met vlieënde vaandels as ewige getuienis dat ons in Hom die oorwinning oor die duiwel, die versoeker en aanklaer, het.

Baie van ons is bekend met die gelade sin waarmee Scott Peck sy boek The Road Less Travelled begin: “Life is difficult.” Maar minder van ons weet of onthou wat hy direk daarna skryf: “This is a great truth, one of the greatest truths.  It is a great truth because once we truly see this truth, we transcend it.  Once we truly know that life is difficult – once we truly understand and accept it – then life is no longer difficult.  Because once it is accepted, the fact that life is difficult no longer matters.”  Dit is die eintlike punt van die besef dat die lewe moeilik is. As jy dit eenmaal aanvaar dat die lewe moeilik is, kan jy daarmee handel, kan jy met moed en oortuiging daarop reageer.

Matteus vertel dus dié verhaal van Jesus se versoeking (4:1-11) as belangrike inleiding tot die begin van sy verkondiging (4:12-17), die roeping van sy eerste dissipels (4:18-22) en die barmhartige hart wat Hy aan sy mense bewys deur hulle nie net te onderrig nie, maar ook van elke siekte en kwaal te genees (4:23-25).

Jesus se versoeking – 4:1-11

Die Gees se eerste taak ná Hy op Jesus neergedaal het, is om Jesus sterk te maak vir die uitdagings wat in sy bediening op Hom gaan wag.  “Jesus must face these temptations now, and win at least an initial victory over them. If he doesn’t, they will meet him suddenly, in the middle of his work, and they may overwhelm him.” (NT Wright – Matthew for Everyone).  En ‘n mens kan kwalik aan drie versoekings dink wat beter aan God se doel met dié woestyn tydperk in Jesus se lewe beantwoord.

Die versoeking van die duiwel is in die eerste plek dat Jesus iets wonderbaarliks sal doen om sy honger te stil – dat Hy van klippe brode moet maak.  Die doel van die duiwel is daarmee dat Jesus sal val vir die versoeking om sy krag ter wille van Homself te gebruik.  Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy later wonders kan doen sonder om daarmee die aandag op Homself te fokus.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 8:3 dat die fokus op God se woorde belangriker is as die fokus op wonderbrood.  Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog later vir God vir wonders te vra, waar dit in God se bedoeling inpas en nie om Homself gaan nie.  En later in die evangelie vermeerder Hy brood by twee geleenthede (hfste. 14 en 15) benewens nog ‘n klomp ander wonderdade.

Die versoeking van die duiwel is in die tweede plek dat Jesus God se beloftes van beskerming in die Skrif – Ps. 91 – sal gebruik om vir Hom naam te maak deur van hoogste punt van die tempel af te spring.  Die doel van die duiwel is daarmee dat Hy God se beloftes ter wille van Homself sal misbruik.  Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy voluit op God se beloftes ter wille van ander kan staatmaak, maar nie ter wille van Homself nie.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:16 dat Hy God se naam hoog wil hou, deur Hom nie uit te tart of te versoek nie.  Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog op God se beloftes aanspraak te maak in vele situasies in sy bediening, onder andere in die vele kere wat Hy gelowiges verseker van God se bereidheid om gebede te verhoor.

Die versoeking van die duiwel is in die derde plek dat Jesus sy koninkryk op aarde sal vestig, deur voor die duiwel neer te kniel en hom te aanbid.  Die duiwel se doel daarmee is om Jesus te oorreed om die maklike uitweg, die weg van die minste weerstand, die kortpad na roem en eer, te volg.  Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy van die begin af die baie moeiliker pad van die lydenspad en die kruis sal volg, sodat Hy daardeur verlossing vir almal wat in Hom glo, kan verwerf.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:13 dat ‘n mens net God alleen mag aanbid en dien.  Daarmee skaar Hy Hom volledig aan God se kant en verklaar Hy Homself bereid om God se pad met Hom te stap, al kos dit ook wat.

Wat natuurlik ten diepste hier op die spel is, is Jesus se Seunskap en of Hy God daarmee gaan dien of Homself.  Die duiwel wil twyfel daaroor by Jesus saai en Hom onafhanklik van God laat optree.  Hy ís immers God!  Die Gees wil Jesus egter leer om dit te omhels, sonder om sy Seunskap te ontken, maar sy status nie ter wille van Homself te misbruik nie, maar ter wille van God se bedoeling uit te leef, wat uiteindelik die swaarste ding van alles van Hom sou vra, die kruisdood.

Let op dat die engele wel vir Jesus kom versorg het ná die duiwel Hom met rus gelaat het.  God kom dus sy belofte in Ps. 91 na, sonder dat Jesus eers hoef te vra!

Jesus se verkondiging – 4:12-17

Johannes se bediening word in dieselfde tyd beëindig met sy inhegtenisname (vgl. die res van die verhaal in hfst. 14) waarna Jesus met sy openbare bediening begin.  Sy basis skuif na Kapernaum by die see vanwaar af Jesus groter beweegruimte gehad het in Galilea.  Dit is ook die vervulling van die profesie in Jes. 8:23-9:1.

Die inhoud van sy boodskap is dieselfde as Johannes die Doper s’n: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande.”  Sy wonderwerke wat hierna volg, is dus ondergeskik aan sy verkondiging, en dien eintlik net die doel om gesag aan sy verkondiging te verleen.

Die roeping van die eerste dissipels – 4:18-22

Jesus roep twee stelle broers, Simon en Andreas, en Jakobus en Johannes om Hom te volg en vissers van mense te word.  Die hele idee van gestuurdheid is dus van die begin af deel van Jesus se boodskap.  Hulle onmiddellike gehoorsaamheid getuig van die groot gesag waarmee Hy optree.

Jy kan hier meer lees oor die onderskeie lyste van die dissipels in die evangelies en Handelinge.

Jesus bewys barmhartigheid aan baie mense – 4:23-25

Jesus se bediening word hier drie-ledig uitgespel: onderrig, verkondiging, en genesing.

  • Mense het nodig om geleer te word wat die beginsels van God se koninkryk is – soos Jesus net hierna in hfst 5-7 met sy uitnemende Bergrede gaan doen en later in nog vier ander toesprake in die evangelie (Bergrede – hfst. 5-7; Onderrig aan dissipels – hfst. 10; Gelykenisse van die koninkryk – hfst. 13; Verhoudinge in die kerk – hfst. 18; Koms van die koninkryk – hfst. 23-25).
  • Mense het ook nodig om die roepstem tot bekering te hoor wat indruis teen die geneigdheid wat ons het om tevrede te wees met die gebrokenheid van die wêreld en ons eie sondige lewe.  Dit sal Jeus ook aanraak in sy toesprake, maar ook in die verskillende optredes reg deur die evangelie waarin Jesus sommige mense verwyt het dat hulle hulle nie bekeer het al het Hy soveel kragtige dade onder hulle gedoen (vgl. bv. 11:20-24) en weer aan ander wat vermoeid en swaar belas is, sy rus aangebied het (vgl. bv. 11:25-30).
  • Mense het ook genesing nodig van die siektes en kwale waaraan hulle ly. Daarom is mense met allerhande siektes na Hom gebring, en het Hy hulle genees. Genesing was dus ‘n sentrale deel van sy bediening, en demonstreer hier die deurbreek van die koninkryk van God in hierdie wêreld.  Vandag nog is genesing ‘n teken van die koninkryk van God en daarom ‘n geskenk uit sy hand. Ons moet natuurlik nie aan genesing net in terme van individuele siektes dink nie. Daar is ook sosiale of kollektiewe soorte siektes, soos armoede, geweld en verslawing. Daar is ook baie gestaltes van genesing, van wonderbaarlike genesing deur gebed tot genesing deur mediese ingrepe, of selfs in die aanpas van mense se lewensstyle, of die veranderinge van onderlinge gesindhede en die impak van vergifnis op mense se gesondheid. Hierdie genesings kan nie van mekaar losgemaak word nie en staan almal in die verlengde van wat Jesus hier demonstreer van sy bediening.  Dié bediening gaan immers voort!

Groot skares het Jesus begin volg wat die tafel gedek het vir een van die belangrikste toesprake wat ooit gelewer is, die Bergrede.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.