Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening

Die lewe is darem nie maklik nie! Van die hoogtepunt van die doop en die duif … word Jesus gelei na die dieptepunt  van die duiwel se versoeking.  Dit is egter nie slegte nuus nie.  Dit is goeie nuus, dit is die evangelie.  Hoekom?  Want Jesus aanvaar die uitdaging sonder skroom, sonder klag, sonder om terug te deins.  Dit is immers al die eerste oorwinning; om nie in te gee voor die behoefte om dinge makliker in die lewe te hê  nie.  En Hy slaag die toets uiteindelik met vlieënde vaandels as ewige getuienis dat ons in Hom die oorwinning oor die duiwel, die versoeker en aanklaer, het.

Baie van ons is bekend met die gelade sin waarmee Scott Peck sy boek The Road Less Travelled begin: “Life is difficult.” Maar minder van ons weet of onthou wat hy direk daarna skryf: “This is a great truth, one of the greatest truths.  It is a great truth because once we truly see this truth, we transcend it.  Once we truly know that life is difficult – once we truly understand and accept it – then life is no longer difficult.  Because once it is accepted, the fact that life is difficult no longer matters.”  Dit is die eintlike punt van die besef dat die lewe moeilik is. As jy dit eenmaal aanvaar dat die lewe moeilik is, kan jy daarmee handel, kan jy met moed en oortuiging daarop reageer.

Matteus vertel dus dié verhaal van Jesus se versoeking (4:1-11) as belangrike inleiding tot die begin van sy verkondiging (4:12-17), die roeping van sy eerste dissipels (4:18-22) en die barmhartige hart wat Hy aan sy mense bewys deur hulle nie net te onderrig nie, maar ook van elke siekte en kwaal te genees (4:23-25).

Jesus se versoeking – 4:1-11

Die Gees se eerste taak ná Hy op Jesus neergedaal het, is om Jesus sterk te maak vir die uitdagings wat in sy bediening op Hom gaan wag.  “Jesus must face these temptations now, and win at least an initial victory over them. If he doesn’t, they will meet him suddenly, in the middle of his work, and they may overwhelm him.” (NT Wright – Matthew for Everyone).  En ‘n mens kan kwalik aan drie versoekings dink wat beter aan God se doel met dié woestyn tydperk in Jesus se lewe beantwoord.

Die versoeking van die duiwel is in die eerste plek dat Jesus iets wonderbaarliks sal doen om sy honger te stil – dat Hy van klippe brode moet maak.  Die doel van die duiwel is daarmee dat Jesus sal val vir die versoeking om sy krag ter wille van Homself te gebruik.  Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy later wonders kan doen sonder om daarmee die aandag op Homself te fokus.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 8:3 dat die fokus op God se woorde belangriker is as die fokus op wonderbrood.  Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog later vir God vir wonders te vra, waar dit in God se bedoeling inpas en nie om Homself gaan nie.  En later in die evangelie vermeerder Hy brood by twee geleenthede (hfste. 14 en 15) benewens nog ‘n klomp ander wonderdade.

Die versoeking van die duiwel is in die tweede plek dat Jesus God se beloftes van beskerming in die Skrif – Ps. 91 – sal gebruik om vir Hom naam te maak deur van hoogste punt van die tempel af te spring.  Die doel van die duiwel is daarmee dat Hy God se beloftes ter wille van Homself sal misbruik.  Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy voluit op God se beloftes ter wille van ander kan staatmaak, maar nie ter wille van Homself nie.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:16 dat Hy God se naam hoog wil hou, deur Hom nie uit te tart of te versoek nie.  Daarmee verwerf Hy die vrymoedigheid om tog op God se beloftes aanspraak te maak in vele situasies in sy bediening, onder andere in die vele kere wat Hy gelowiges verseker van God se bereidheid om gebede te verhoor.

Die versoeking van die duiwel is in die derde plek dat Jesus sy koninkryk op aarde sal vestig, deur voor die duiwel neer te kniel en hom te aanbid.  Die duiwel se doel daarmee is om Jesus te oorreed om die maklike uitweg, die weg van die minste weerstand, die kortpad na roem en eer, te volg.  Die doel van die Gees is darenteen dat Jesus vir dié versoeking sal néé sê, sodat Hy van die begin af die baie moeiliker pad van die lydenspad en die kruis sal volg, sodat Hy daardeur verlossing vir almal wat in Hom glo, kan verwerf.

Jesus staan die duiwel teë met die woord uit Deut. 6:13 dat ‘n mens net God alleen mag aanbid en dien.  Daarmee skaar Hy Hom volledig aan God se kant en verklaar Hy Homself bereid om God se pad met Hom te stap, al kos dit ook wat.

Wat natuurlik ten diepste hier op die spel is, is Jesus se Seunskap en of Hy God daarmee gaan dien of Homself.  Die duiwel wil twyfel daaroor by Jesus saai en Hom onafhanklik van God laat optree.  Hy ís immers God!  Die Gees wil Jesus egter leer om dit te omhels, sonder om sy Seunskap te ontken, maar sy status nie ter wille van Homself te misbruik nie, maar ter wille van God se bedoeling uit te leef, wat uiteindelik die swaarste ding van alles van Hom sou vra, die kruisdood.

Let op dat die engele wel vir Jesus kom versorg het ná die duiwel Hom met rus gelaat het.  God kom dus sy belofte in Ps. 91 na, sonder dat Jesus eers hoef te vra!

Jesus se verkondiging – 4:12-17

Johannes se bediening word in dieselfde tyd beëindig met sy inhegtenisname (vgl. die res van die verhaal in hfst. 14) waarna Jesus met sy openbare bediening begin.  Sy basis skuif na Kapernaum by die see vanwaar af Jesus groter beweegruimte gehad het in Galilea.  Dit is ook die vervulling van die profesie in Jes. 8:23-9:1.

Die inhoud van sy boodskap is dieselfde as Johannes die Doper s’n: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande.”  Sy wonderwerke wat hierna volg, is dus ondergeskik aan sy verkondiging, en dien eintlik net die doel om gesag aan sy verkondiging te verleen.

Die roeping van die eerste dissipels – 4:18-22

Jesus roep twee stelle broers, Simon en Andreas, en Jakobus en Johannes om Hom te volg en vissers van mense te word.  Die hele idee van gestuurdheid is dus van die begin af deel van Jesus se boodskap.  Hulle onmiddellike gehoorsaamheid getuig van die groot gesag waarmee Hy optree.

Jy kan hier meer lees oor die onderskeie lyste van die dissipels in die evangelies en Handelinge.

Jesus bewys barmhartigheid aan baie mense – 4:23-25

Jesus se bediening word hier drie-ledig uitgespel: onderrig, verkondiging, en genesing.

  • Mense het nodig om geleer te word wat die beginsels van God se koninkryk is – soos Jesus net hierna in hfst 5-7 met sy uitnemende Bergrede gaan doen en later in nog vier ander toesprake in die evangelie (Bergrede – hfst. 5-7; Onderrig aan dissipels – hfst. 10; Gelykenisse van die koninkryk – hfst. 13; Verhoudinge in die kerk – hfst. 18; Koms van die koninkryk – hfst. 23-25).
  • Mense het ook nodig om die roepstem tot bekering te hoor wat indruis teen die geneigdheid wat ons het om tevrede te wees met die gebrokenheid van die wêreld en ons eie sondige lewe.  Dit sal Jeus ook aanraak in sy toesprake, maar ook in die verskillende optredes reg deur die evangelie waarin Jesus sommige mense verwyt het dat hulle hulle nie bekeer het al het Hy soveel kragtige dade onder hulle gedoen (vgl. bv. 11:20-24) en weer aan ander wat vermoeid en swaar belas is, sy rus aangebied het (vgl. bv. 11:25-30).
  • Mense het ook genesing nodig van die siektes en kwale waaraan hulle ly. Daarom is mense met allerhande siektes na Hom gebring, en het Hy hulle genees. Genesing was dus ‘n sentrale deel van sy bediening, en demonstreer hier die deurbreek van die koninkryk van God in hierdie wêreld.  Vandag nog is genesing ‘n teken van die koninkryk van God en daarom ‘n geskenk uit sy hand. Ons moet natuurlik nie aan genesing net in terme van individuele siektes dink nie. Daar is ook sosiale of kollektiewe soorte siektes, soos armoede, geweld en verslawing. Daar is ook baie gestaltes van genesing, van wonderbaarlike genesing deur gebed tot genesing deur mediese ingrepe, of selfs in die aanpas van mense se lewensstyle, of die veranderinge van onderlinge gesindhede en die impak van vergifnis op mense se gesondheid. Hierdie genesings kan nie van mekaar losgemaak word nie en staan almal in die verlengde van wat Jesus hier demonstreer van sy bediening.  Dié bediening gaan immers voort!

Groot skares het Jesus begin volg wat die tafel gedek het vir een van die belangrikste toesprake wat ooit gelewer is, die Bergrede.

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d