Skip to main content

Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid

Hierdie toespraak van Jesus, die sogenaamde Bergrede (hfst. 5-7), is die mees indringende verkondiging van wat die koninkryk van God behels.  Ten diepste handel die koninkryk oor die vestiging van God se geregtigheid in elke aspek van die lewe – godsdienstig, sosiaal, persoonlik.  Dit kan as die etiek van die koninkryk beskryf word wat aansluit by die boodskap van die OT, maar in alle opsigte dieper en vêrder as dit gaan.  Die sentrale plek wat die “Ons Vader” gebed in die Bergrede neem, val ook op, waarin die gebed vir die koninkryk ook sentraal staan (6:9-13).

Die woord geregtigheid word eksplisiet op vyf plekke genoem (hfst. 5:6,10,20; 6:1,33), maar lê vir my onderliggend aan die meeste van Jesus se uitsprake in dié drie hoofstukke:

  • die fokus op “goeie werke” waardeur God sigbaar word (5:16);
  • die sentrale toepassing en vervulling van die “wet en profete” deur Jesus (5:17-48; ook 7:12);
  • die drie kern godsdienstige handelinge: “liefdadigheid” (6:2), “gebed” (6:5-6) en “vas” (6:16-18);
  • die keuse vir eksklusiewe “lojaliteit” (6:24);
  • die keuse vir ’n regverdige “oordeel” (7:1-5);
  • die belofte van God wat “goeie dinge” gee (7:11);
  • die fokus op en beoordeling van “goeie vrugte” (7:15-20);
  • die fokus daarop om “God se wil” te doen (7:21-23).

In die lig hiervan kan ’n mens die drie hoofstukke van die Bergrede in Matteus met drie titels beskrywe:

  1. Die stryd vir geregtigheid – hfst. 5
  2. Die lewe van geregtigheid – hfst. 6
  3. Die vrug van geregtigheid – hfst. 7

Hoofstuk vyf beskryf die stryd vir geregtigheid aan die hand van drie aspekte:

  1. Dié wat stry vir geregtigheid is God se geseëndes en word vir hulle swaarkry beloon – Matt. 5:1-12
  2. Dié wat stry vir geregtigheid is die sout van die aarde en maak God sigbaar in die wêreld – Matt. 5:13-16
  3. Dié wat stry vir geregtigheid is volmaak soos God en maak van vyande vriende – Matt. 5:17-48

Terloops, Lukas plaas die Bergrede eintlik ná ’n gebed op die berg as ’n korter toespraak op die vlakte vóór die berg (Luk. 6:12-49).  Die meeste van die ander dele van Matteus se weergawe van die Bergrede word deur Lukas op ander plekke in sy eie evangelie geplaas.

Dié wat stry vir geregtigheid is God se geseëndes en word vir hulle swaarkry beloon – Matt. 5:1-12

Dit val op dat die woorde van Jesus van hoër belang geag word as die onderskeie verhale van genesing wat dié Bergrede voorafgaan.  Matteus heg dus meer waarde aan Jesus se onderrig as aan die oorvloed van genesings die vorige dae.

Dit val ook op dat Jesus nie wegskram van die moeilike vrae van die lewe en die noodsaak vir die stryd vir geregtigheid nie, maar sy mense aanmoedig om midde in die swaarkry, vas te staan en bly te wees oor die beloning wat vir hulle wag. Trouens, dit is dié mense, dié wat stry vir geregtigheid, wat geseëndes is.

In nege saligsprekinge, elkeen aangedui met die woord makarioi (geseënd), spel Jesus die kenmerke van sy geseëndes uit: afhanklikes (geestelik arm), treurendes (oor alles wat nie reg is nie), sagmoediges, hongeriges en dorstiges vir geregtigheid, barmhartiges, suiweres van hart, vredemakers (soos Jesus – vgl. Kol 1:20), vervolgdes ter wille van geregtigheid, beledigdes en beskuldigdes om Jesus se ontwil.

Dié mense wat bereid is om swaar te kry ter wille van geregtigheid asook om Jesus se ontwil, dié kan weet dat hulle swaarkry nie verniet is nie, maar dat hulle beloning groot is in die hemele.  Hulle word daarom ook beskryf as mense aan wie die koninkryk van die hemele behoort (twee maal), wat vertroosting sal ervaar, wat die (nuwe) aarde sal erf (vgl. Ps. 37:11), wat versadig sal word, wat barmhartigheid sal ontvang, wat God sal sien, wat kinders van God genoem sal word, wat nie net ’n groot beloning sal ontvang nie, maar in dieselfde asem as die profete van ouds genoem sal word.

Dié wat stry vir geregtigheid is die sout van die aarde en maak God sigbaar in die wêreld – Matt. 5:13-16

Die praktiese aard van die onderrig wat die Jesus op die berg in Galilea gee, is eintlik verstommend.  Jesus gebruik hier twee metafore om hulle aan te moedig om God deur hulle goeie dade sigbaar te maak vir ander.

Die eerste metafoor vir sy mense is om hulle as die sout van die aarde te beskryf.  Dié metafoor is baie gepas in die lig van die probleme wat mense in daardie tyd ervaar het met die sout wat van die Dooie See af kom. Dit was soms só onsuiwer dat niemand daarmee kon kook nie en dit buite gegooi is en deur die mense vertrap is.  God se mense moet bruikbaar wees in die gemeenskap en doen wat sout doen: smaak gee en bederf teëwerk in hierdie wêreld.

Die tweede metafoor vir sy mense is om hulle as die lig vir die wêreld te beskryf (stad en lamp).  God se mense moet só optree dat hulle goeie werk die lig op God kan laat val en die Vader in die hemele verheerlik kan word.

Dié wat stry vir geregtigheid is volmaak soos God en maak van vyande vriende – Matt. 5:17-48

Met hierdie kernagtige gedeelte het Jesus die bom op spreekwoordelike wyse laat bars deur die hart van die Joodse godsdiens, die wet van Moses (en die boodskap van die Profete), op radikale wyse te herïnterpreteer.  Sy basiese boodskap, soos opgesom in vers 48, is aardskuddend.  God verwag nie net dat sy mense die wet gehoorsaam nie, maar dat hulle soos Hy sal wees, volmaak.

God verwag daarmee die onverwagte, soos veral vers 43-47 uitspel, dat sy mense van hulle vyande vriende maak.  Dit geld vir al ses teenstellings wat Jesus aanraak (telkens aangedui met: “Julle het gehoor [vers 21,27,31,33,38,43] … maar Ek sê vir julle” [vers 22,28,32,34,39,44]) na Hy duidelik gemaak het dat sy vertolking die vervulling van die Wet en die Profete is.  Trouens, gelowiges se geregtigheid moet meer wees as dié van die skrifkenners en Fariseërs:

  1. OOR MOORD PLEEG: Kwaadwees is al strafbaar, sowel as om iemand as nikswerd (Raka) te beskou of as ’n dwaas, praat nie eers van moord pleeg nie (6de gebod), want onversoendheid met medegelowiges bring jou verhouding met God in gedrang – vers 21-26;
  2. OOR OWERSPEL: Die kyk met begeerte na ’n vrou word al as egbreuk geag, nie eers die daad van egbreuk of owerspel nie (7de gebod) – vers 27-30;
  3. OOR EGSKEIDING: Egskeiding het ’n dramatiese uitwerking op die geloofsgemeenskap deurdat alle volgende verhoudinge daardeur geraak word, wat nie deur die gee van ’n skeibrief opgelos word (7de gebod), soos die wet voorskryf nie, vandaar die verdere uitbreiding van Jesus se lering oor huweliksverhoudinge – vers 31-32;
  4. OOR EEDSWERING: Jou ja moet ja wees en jou nee nee – wat beteken dat ’n mens in alles met integriteit moet optree, nie net wanneer jy ’n eed gesweer het of ’n gelofte aan God gemaak het nie – vers 32-37;
  5. OOR VERGELDING: Vergelding moet ten alle koste vermy word en vrygewigheid omhels word, praat nie eers van ‘’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand nie” (die sogenaamde lex talionis)  – vers 38-42.
  6. OOR VYANDE: Van vyande moet vriende gemaak word, nie net die naaste liefgehê word nie, wat baie keer boonop net as die mense wat deel is van die volk geïnterpreteer is – vers 43-47.

Dit is die tipe volmaaktheid wat God van sy mense verwag, nie om in alles perfek op te tree nie, maar om in alles van vyande vriende te maak.  Só tree God immers teenoor alle mense op met sy sonskyn en reën.

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar