Skip to main content

Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese

Hierdie hoofstuk vertel vir ons vier verdere episodes in die verhaal van die gemeenskap wat Jesus in die koninkryk skep.

  • Die eerste episode het te make met sy verheerliking op die berg wat vir die drie dissipels in die binnekring beskore is, maar wat ook met die ander dissipels gedeel word – 17:1-13.  Dit is dié tipe ervarings wat die dissipels ná Pinkster die moed gegee het om die pad te loop waarop die uitgestorte Heilige Gees hulle gelei het.
  • Die tweede episode illustreer Jesus se deernis met ’n pa se maansiek kind uit wie Hy die demoon dryf – 17:14-20.  Hy herstel só die gemeenskap binne die familiekring van pa en seun.  Daarmee wil Jesus ook die dissipels se oë oopmaak nie net vir hulle kleingeloof nie, maar veral vir wat God kan doen vir dié wat werklik in Hom glo.  Hy nooi hulle dus uit om Hom te vertrou vir die wyse waarop hulle self later sal uitreik na dié wat allerlei behoeftes en probleme het in die lewe.
  • Die derde episode wentel om die kort herhaling van die aankondiging van Jesus se lyding, kruisdood en opstanding – 17:22-23.  Dit sal nog ’n derde keer aangekondig word in hfst. 20.
  • Die vierde episode illustreer Jesus se wondervoorsiening vir die tempelbelasting wat hulle verskuldig is – 17:24-27.  Dit sou ook hulle geloof versterk dat God vir hulle pad deur die wêreld as sy gestuurdes sou kon voorsien, selfs só iets soos die laste wat ander op hulle sal lê vir watter rede ook al.

Jesus word verheerlik op die berg – 17:1-13

Die verhaal bly vir my heilige grond.

Aan die eenkant hoor ’n mens in die wyse waarop Matteus die verhaal vertel verskillende raakpunte met die ervaring wat Moses op die berg Sinai gehad het (vgl. Eks. 24):

  • die drie wat saam met Moses opklim, Aäron, Nadab en Abihu, soos nou die geval is met Petrus, Jakobus en Johannes (die twee seuns van Sebedeus, die sogenaamde “seuns van die donder”) – dié drie sou ook later deur Jesus saamgeneem word dieper in Getsemane in;
  • die wolk wat die berg oordek soos nou ook die geval is hier;
  • Moses se gesig wat gestraal het, soos dit nou die geval is met Jesus;
  • die feit dat God daar sy wet vir Moses gegee het en nou sê, luister na Hom, dit is na Jesus.

Aan die ander kant is hier meer aan die gang as in die vorige geval met Moses en die leiers van Israel.

  • Jesus het van gedaante verander, nie net gestraal van die lig wat van God af kom nie.  Hy het die vorm aangeneem wat Hy gehad het voor sy menswording.  En dit is dié gedaante wat Hy weer ná sy opstanding en hemelvaart sou aanneem, soos ’n mens in Openb. 1 weer beskryf sal sien, deur die einste Johannes wat by dié geleentheid by was op die berg vóór sy opstanding.
  • Daarby is Moses en Elia, die verteenwoordigers van die wet en die profete, d.w.s. van die hele OT getuienis, in gesprek met Jesus, die een waarom die hele NT getuienis draai.  Terloops, Openbaring 11 praat van twee getuies en verbind hulle ook moontlik aan die tradisies van Moses (wet) en dié van Elia (profete) omdat hulle die twee figure uit die OT bedeling was wat as getuies van Jesus se status as God se Seun op die Berg van Verheerliking opgetree het.  Lees hier meer in my bydrae oor Openbaring 11.
  • En God sê op beslissende wyse, “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug.  Luister na Hom.”  Daarmee word die Goddelike status van Jesus duidelik aan die dissipels gekommunikeer.  Hulle het reeds geweet dat Hy werklik mens is, uit hulle voortdurende kontak met Hom.  Hulle het reeds begin agterkom dat Hy inderdaad die Seun van God is.  Maar, hierdie ervaring sou dit dubbel en dwars vir hulle onderstreep.  Hulle sou moeilik hierna aan sy Goddelikheid kon twyfel.

Hierdie ervaring het dus onomwonde vir die dissipels gesê, hierdie Jesus is die een waarom die hele evangelie draai.  Hy is die goeie nuus vir die nasies.  Hy moet verkondig word as dié Een na wie almal oor die hele wêreld moet luister.  Daar is daarom ook geen kompetisie met Sy woorde nie.  Dit is net Hy wat lewe gee.  Dit is net Hy na wie geluister moet word, soos die Gees dit ook later sou duidelik maak.

Let op dat dié ervaring net vir die drie dissipels in die binnekring beskore is, Petrus, Jakobus en Johannes, maar dat dit ook uiteindelik met die ander dissipels gedeel word.  Dit is dié tipe ervarings wat die dissipels ná Pinkster die moed gegee het om die pad te loop waarop die uitgestorte Heilige Gees hulle gelei het.

Jesus het deernis met ’n pa se maansiek kind – 17:14-20

Dit blyk dat die ander nege dissipels besig was met die pa en sy maansiek kind, maar nie hond haaraf kon maak om die kind te genees nie.  Jesus bestraf die demoon en dryf hom uit die seun wat onmiddellik gesond geword het, hoewel Jesus ook sy ongeduld wys met die ongeloof van sy dissipels.  Let ook op dat die geloof wat hier ter sprake is, is nie dié van die pa of sy seun nie, maar dié van die dissipels.  Iets om te onthou!

Jesus herstel só die gemeenskap binne die familiekring van pa en seun.  Daarmee wil Jesus egter ook die dissipels se oë oopmaak nie net vir hulle kleingeloof nie, maar veral vir wat God kan doen vir dié wat werklik in Hom glo.  Hy nooi hulle dus uit om Hom te vertrou vir die wyse waarop hulle sal voortgaan om uit te reik na dié wat allerlei behoeftes en probleme het in die lewe.  “Niks sal vir julle onmoontlik wees nie!” sê Jesus.

Jesus kondig die tweede keer sy lyding, kruisdood en opstanding aan – 17:22-23

Jesus kondig dan net hierna sy lyding, kruisdood en opstanding vir die tweede keer aan, iets wat hulle dié keer hartseer stem.  Petrus reageer nie weer soos die vorige keer nie.  Dit sal ook nog ’n derde keer aangekondig word in hfst. 20.

Jesus voorsien op ’n wonderlike manier vir die tempelbelasting – 17:24-27

Die vierde episode illustreer Jesus se wondervoorsiening vir die tempelbelasting wat hulle verskuldig is.  Ironies genoeg word dié verhaal direk ná die aankondiging van sy versoeningsdood geplaas.  Die tempelbelasting het onder andere gedien as hulp om die offers van die tempel in stand te hou, dié offers wat versoening vir die volk se sondes gebring het.  Hier is egter Een wat die volkome versoening gaan doen, maar steeds vóór Hy die finale prys gaan betaal, die vorige sisteem met instandhouding help.

Die wonder sou ook hulle geloof versterk dat God vir hulle pad deur die wêreld as sy gestuurdes sou kon voorsien, selfs só iets soos die laste wat ander op hulle sal lê vir watter rede ook al.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda