Skip to main content

Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese

Hierdie hoofstuk vertel vir ons vier verdere episodes in die verhaal van die gemeenskap wat Jesus in die koninkryk skep.

  • Die eerste episode het te make met sy verheerliking op die berg wat vir die drie dissipels in die binnekring beskore is, maar wat ook met die ander dissipels gedeel word – 17:1-13.  Dit is dié tipe ervarings wat die dissipels ná Pinkster die moed gegee het om die pad te loop waarop die uitgestorte Heilige Gees hulle gelei het.
  • Die tweede episode illustreer Jesus se deernis met ’n pa se maansiek kind uit wie Hy die demoon dryf – 17:14-20.  Hy herstel só die gemeenskap binne die familiekring van pa en seun.  Daarmee wil Jesus ook die dissipels se oë oopmaak nie net vir hulle kleingeloof nie, maar veral vir wat God kan doen vir dié wat werklik in Hom glo.  Hy nooi hulle dus uit om Hom te vertrou vir die wyse waarop hulle self later sal uitreik na dié wat allerlei behoeftes en probleme het in die lewe.
  • Die derde episode wentel om die kort herhaling van die aankondiging van Jesus se lyding, kruisdood en opstanding – 17:22-23.  Dit sal nog ’n derde keer aangekondig word in hfst. 20.
  • Die vierde episode illustreer Jesus se wondervoorsiening vir die tempelbelasting wat hulle verskuldig is – 17:24-27.  Dit sou ook hulle geloof versterk dat God vir hulle pad deur die wêreld as sy gestuurdes sou kon voorsien, selfs só iets soos die laste wat ander op hulle sal lê vir watter rede ook al.

Jesus word verheerlik op die berg – 17:1-13

Die verhaal bly vir my heilige grond.

Aan die eenkant hoor ’n mens in die wyse waarop Matteus die verhaal vertel verskillende raakpunte met die ervaring wat Moses op die berg Sinai gehad het (vgl. Eks. 24):

  • die drie wat saam met Moses opklim, Aäron, Nadab en Abihu, soos nou die geval is met Petrus, Jakobus en Johannes (die twee seuns van Sebedeus, die sogenaamde “seuns van die donder”) – dié drie sou ook later deur Jesus saamgeneem word dieper in Getsemane in;
  • die wolk wat die berg oordek soos nou ook die geval is hier;
  • Moses se gesig wat gestraal het, soos dit nou die geval is met Jesus;
  • die feit dat God daar sy wet vir Moses gegee het en nou sê, luister na Hom, dit is na Jesus.

Aan die ander kant is hier meer aan die gang as in die vorige geval met Moses en die leiers van Israel.

  • Jesus het van gedaante verander, nie net gestraal van die lig wat van God af kom nie.  Hy het die vorm aangeneem wat Hy gehad het voor sy menswording.  En dit is dié gedaante wat Hy weer ná sy opstanding en hemelvaart sou aanneem, soos ’n mens in Openb. 1 weer beskryf sal sien, deur die einste Johannes wat by dié geleentheid by was op die berg vóór sy opstanding.
  • Daarby is Moses en Elia, die verteenwoordigers van die wet en die profete, d.w.s. van die hele OT getuienis, in gesprek met Jesus, die een waarom die hele NT getuienis draai.  Terloops, Openbaring 11 praat van twee getuies en verbind hulle ook moontlik aan die tradisies van Moses (wet) en dié van Elia (profete) omdat hulle die twee figure uit die OT bedeling was wat as getuies van Jesus se status as God se Seun op die Berg van Verheerliking opgetree het.  Lees hier meer in my bydrae oor Openbaring 11.
  • En God sê op beslissende wyse, “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug.  Luister na Hom.”  Daarmee word die Goddelike status van Jesus duidelik aan die dissipels gekommunikeer.  Hulle het reeds geweet dat Hy werklik mens is, uit hulle voortdurende kontak met Hom.  Hulle het reeds begin agterkom dat Hy inderdaad die Seun van God is.  Maar, hierdie ervaring sou dit dubbel en dwars vir hulle onderstreep.  Hulle sou moeilik hierna aan sy Goddelikheid kon twyfel.

Hierdie ervaring het dus onomwonde vir die dissipels gesê, hierdie Jesus is die een waarom die hele evangelie draai.  Hy is die goeie nuus vir die nasies.  Hy moet verkondig word as dié Een na wie almal oor die hele wêreld moet luister.  Daar is daarom ook geen kompetisie met Sy woorde nie.  Dit is net Hy wat lewe gee.  Dit is net Hy na wie geluister moet word, soos die Gees dit ook later sou duidelik maak.

Let op dat dié ervaring net vir die drie dissipels in die binnekring beskore is, Petrus, Jakobus en Johannes, maar dat dit ook uiteindelik met die ander dissipels gedeel word.  Dit is dié tipe ervarings wat die dissipels ná Pinkster die moed gegee het om die pad te loop waarop die uitgestorte Heilige Gees hulle gelei het.

Jesus het deernis met ’n pa se maansiek kind – 17:14-20

Dit blyk dat die ander nege dissipels besig was met die pa en sy maansiek kind, maar nie hond haaraf kon maak om die kind te genees nie.  Jesus bestraf die demoon en dryf hom uit die seun wat onmiddellik gesond geword het, hoewel Jesus ook sy ongeduld wys met die ongeloof van sy dissipels.  Let ook op dat die geloof wat hier ter sprake is, is nie dié van die pa of sy seun nie, maar dié van die dissipels.  Iets om te onthou!

Jesus herstel só die gemeenskap binne die familiekring van pa en seun.  Daarmee wil Jesus egter ook die dissipels se oë oopmaak nie net vir hulle kleingeloof nie, maar veral vir wat God kan doen vir dié wat werklik in Hom glo.  Hy nooi hulle dus uit om Hom te vertrou vir die wyse waarop hulle sal voortgaan om uit te reik na dié wat allerlei behoeftes en probleme het in die lewe.  “Niks sal vir julle onmoontlik wees nie!” sê Jesus.

Jesus kondig die tweede keer sy lyding, kruisdood en opstanding aan – 17:22-23

Jesus kondig dan net hierna sy lyding, kruisdood en opstanding vir die tweede keer aan, iets wat hulle dié keer hartseer stem.  Petrus reageer nie weer soos die vorige keer nie.  Dit sal ook nog ’n derde keer aangekondig word in hfst. 20.

Jesus voorsien op ’n wonderlike manier vir die tempelbelasting – 17:24-27

Die vierde episode illustreer Jesus se wondervoorsiening vir die tempelbelasting wat hulle verskuldig is.  Ironies genoeg word dié verhaal direk ná die aankondiging van sy versoeningsdood geplaas.  Die tempelbelasting het onder andere gedien as hulp om die offers van die tempel in stand te hou, dié offers wat versoening vir die volk se sondes gebring het.  Hier is egter Een wat die volkome versoening gaan doen, maar steeds vóór Hy die finale prys gaan betaal, die vorige sisteem met instandhouding help.

Die wonder sou ook hulle geloof versterk dat God vir hulle pad deur die wêreld as sy gestuurdes sou kon voorsien, selfs só iets soos die laste wat ander op hulle sal lê vir watter rede ook al.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…