Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom
Matteus vervolg die geboorte verhaal van Jesus deur te fokus op die reaksies van ’n wye reeks mense op God se bekendstelling van sy herderleier, Jesus, in vervulling van die OT beloftes. Die hele hoofstuk kom uit sy eie versameling van Jesusverhale. Die verhale van die volkstelling en die geboorte in die krip, met die herders wat die eerste menslike getuies daarvan word, word weer net in Lukas gevind.
Die reaksies op Jesus sluit in die eerste plek verteenwoordigers van die nasies in (sterrekenners) en in die tweede plek verteenwoordigers van die Joodse volk (koning Herodes, die hele Jerusalem, die leierpriesters en skrifkenners). Die nasies bewys aan Hom eer en bring vir Hom geskenke. Die volk is egter ontsteld oor die nuus en Herodes só briesend dat hy ’n tragiese kindermoord pleeg in ’n poging om Jesus uit die weg te ruim.
Let op na ’n paar uitstaande kenmerke van Jesus se verhaal:
- Hy is in Betlehem, Judea, gebore as die Seun van Dawid (1:1; 2:1);
- Hy word as koning van die Jode bekend gestel (2:2);
- Hy word deur Herodes (nogal!) met die Christus, d.i. die Messias van die Jode, verbind (2:4);
- Hy word as herderleier van van God se volk Israel gebore (1:6) soos deur die leierpriesters en skrifkenners aangedui;
- Die sterrekenners ervaar ‘n onbeskryflike groot vreugde (2:10), kniel voor Hom neer, bewys aan Hom eer en gee vir Hom geskenke uit hulle skatte (2:11-12) – en Jesus is nog maar net ’n paar dae oud!;
- God is regdeur betrokke in die bekendstelling (2:2 – ster) en beskerming van Jesus (2:12 – goddelike waarskuwing in ’n droom; 2:13,19 – engel van die Here verskyn aan Josef in ’n droom en gee opdragte; 2:22 – goddelike boodskap in ’n droom);
- Drie keer word Jesus se geboorte in die konteks van die vervulling van die OT geplaas: sy bekendstelling as herderleier in Matt. 2:6 as vervulling van Miga 5:1; as geroep uit Egipte in Matt. 2:15 as vervulling van Hos. 11:1; die kindermoord in Matt. 2:18 as vervulling van Jer. 31:15.
Sterrekenners uit die Ooste bewys eer aan Jesus en bring vir Hom geskenke – 2:1-12
Ons weet min van hierdie sterrekykers af, of soos die Nuwe Afrikaanse Proefvertaling dit vertaal: “sterrekenners”. In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior and Balthazar, maar daar is geen historiese getuienis wat dit bevestig nie. Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie. Dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het. Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes. 60:3: “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”
Daar is ’n moontlikheid dat hulle volgelinge van Zoroaster was, ‘n priester van ‘n nuwe monoteïstiese godsdiens in wat vandag bekend staan as Iran. Die Jode het reeds tydens die ballingskap in Babilonië met hierdie beweging kennis gemaak. Zoroaster het nogal op ‘n unieke wyse oor God se Eenheid gepraat – een van die min monoteïstiese godsdienste van daardie tyd benewens die Joodse godsdiens – en oor die stryd tussen goed en kwaad. Koning Kores, wat toestemming verleen het dat die Jode terugkeer na hul land, se seun Darius was ‘n Zoroaster. Dié godsdiens het dus ‘n groot invloed in die Persiese Ryk uitgeoefen.
Indien hierdie “wyse manne” (na aanleiding van die Latynse vertaling van die Grieks met die woord magi) dus Persiese priesters was, verklaar dit hulle goeie kennis van die sterrekunde, omdat Zoroasters bekend was daarvoor. Die Grieke het bv hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer. Griekse filosowe soos Plato en Plini verwys met waardering na hulle, en vermeld hul vermoë om tekens te ontsyfer en die toekoms te voorspel (Rodney Stark, The triumph of Christianity).
Hoe dit ook al sy, hulle het met passie hulle doelwit nagestreef, om die koning van die Jode op te spoor en aan Hom eer te bewys. En hulle het dit reggekry, ten spyte van Herodes.
Terloops, ons weet nie baie van die ster af nie. Dit kon ‘n supernova of ‘n samekoms van ‘n paar planete of doodgewoon ‘n natuurwonder gewees het. En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – dit weet ons ook nie. Die feit is dat die sterrekenners daardeur gelei is tot by ’n ontmoeting met Jesus. Die nasies kom dus eerste tot insig oor Jesus, nie die Jode nie, behalwe die klompie mense vergader rondom Josef en Maria.
Let ook op dat Herodes nie die vraag van die sterrekenners bestry nie. Trouens, dis ironies dat Herodes self verwys na die geboorte van “die Christus”, d.i. die Messias (Christus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord Messias). Hiermee word hy die eerste persoon in hierdie evangelie (behalwe Matteus self) wat na Jesus as die Christus verwys.
Die feite was doodgewoon dat Herodes nie eers ’n ware Jood was nie. Hy was van Edomitiese (’n Idumeër uit die nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie. Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in standgehou word.
Die leierpriester en skrifkenners is weer interessant genoeg tevrede om net die Bybel te lees, die regte antwoord daaruit te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie. Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie. Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis.
God beskerm Jesus in Egipte – 2:13-14
God tree steeds beslissend op met die groeiende bedreiging van Herodes en laat Josef met die Kind en sy moeder na Egipte vertrek. Let op dat Jesus vóór sy ma genoem word, ’n aanduiding van die voorrang van dié Kind. Toe die tyd ryp is, laat God Josef weer terugtrek, en dien dié trek sommer tegelykertyd ook as vervulling van die belofte in Hosea 11:1.
Herodes pleeg kindermoord – 2:15-18
Herodes was regtig ‘n wrede en magsbehepte karakter. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (“vark” en “seun” is ‘n woordspel in Grieks – die twee woorde eindig dieselfde: choiros en uios). Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunstelingvrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer.
Ons teks vertel vir ons hier van sy heftige reaksie op die sterrekenners se verraad. Hy kom agter dat hulle met ‘n ander pad teruggekeer het na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om hulle te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word. Dié gebeure word ook as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia (31:15) oor Ragel se kinders geïnterpreteer.
Jesus word ’n Nasarener – 2:19-23
God lei hulle uit Egipte na ‘n veiliger plek in die land Israel, na die klein dorpie Nasaret. Die dorpie in Galilea is ná die dood van Herodes onafhanklik van Juda deur Antipas (“Herodes” genoem in Matt 14:1-12), ’n ander seun van Herodes, geregeer.
Dié skuif word deur Matteus aan die vervulling van die woorde van die profete (meervoud – dui op die hele boodskap van die OT) verbind (2:23). Dit is daarom ook die hoogtepunt van ons teksgedeelte. En die toppunt daarvan is dat Matteus Jesus die Nasarener noem. Die lank verwagte Messias, dié een wat selfs Herodes se aandag gevang het, sê Matteus, is die Nasarener.
Nou, ‘n mens moet dié woord onderskei van die woord Nasireër, soos dit in die OT die geval was met Simson (vgl. Rigt. 13:5, 7; Num. 6; Jer. 7:29). Jesus het nie volgens die Nasireër-eed geleef nie. Hy het sy hare geskeer, en wyn gedrink.
Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeuse woord neser wat loot of takkie beteken. In Jes. 11:1 word die woord neser gebruik in ‘n Messiaanse betekenis: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra …” En daarby word gevoeg: “Die Gees van die Here sal op hom rus …”. In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl. ook Jes. 53:2).
Die term “Nasarener” het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.
Nasaret was immers ’n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars ses km van Seporis, ’n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea. Dit is egter van dié plek wat die Messias kom – die Nasarener – sê Matteus.
Dié uitspraak is dus die slotsom van die tweede hoofstuk van Matteus: Jesus van Nasaret is die langverwagte Messias van Bethlehem, die uitverkore herderleier van God. Wié sou dit nou kon verwag?!
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels
- Lees die vier evangelies en Handelinge
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie
- Lei ons nie in versoeking nie
Tags: Matteus
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Jessie – heeltemal reg. Die suurdeeg wat die Israeliete gebruik het, het altyd van ‘n reeds gefermenteerde stuk deeg gekom wat van ‘n vorige baksel oorgehou is. Hierdie klont gesuurde deeg is óf in water opgelos voordat nuwe meel bygevoeg is, óf is in die meel ingewerk met die knie daarvan (vgl Matt 13:33). Dit is waarom die brood wat aldus gemaak is, bekend gestaan het as “gesuurde” brood, onderskei van “ongesuurde” brood (Eks 12:15).
Toe die Israeliete uit Egipte getrek het, het hulle net die deeg geneem sonder die suurdeeg van Egipte om ‘n nuwe begin te simboliseer (Eks 12:34-39). Die Here het daarom die fees van die ongesuurde brood deel gemaak van die Pasga (Eks 23:15). Die suurdeeg het die korrupterende invloed van Egipte gesimboliseer. Die fees het hulle telkens daaraan herinner.
Jesus gebruik dié simboliek in die NT om van die leringe van die Fariseërs te praat (Matt 16:6). So volg Paulus Hom ook na deur van immoraliteit as suurdeeg in die geloofsgemeenskap te praat (1 Kor 5:6). Op dieselfde wyse beskryf hy die suurdeeg van die klem op die besnydenis (Gal 5:9).
Maar, Jesus transformeer uiteindelik ook die metafoor van die suurdeeg om die koninkryk van God met dieselfde metafoor as sy nuwe transformerende krag in dissipels se lewe te beskryf (Matt 13:33). Soos die suurdeeg van die sonde ons lewens verwoes, só heilig die suurdeeg van die koninkryk van God ons lewens.
Jessie Van Rooyen
| #
Goeiedag Ds Chris
As ek reg verstaan, is die ongesuurde brode vry van suurdeeg (waaarvan ‘n klein bietjie alles suur maak) ‘n teken van ‘n nuwe begin. Dws – ‘n ‘vars’ begin – vry van die ‘suur’/smet/verderf van swaarkry/sonde … Regso?
reinette coetzee
| #
Ook asb sinoptiese/parallel evangelies
Chris van Wyk
| #
Hi André, Prediker 7:26 lui: “En ek het iets uitgevind bitterder as die dood: die vrou wat strikke is, haar hart nette, haar hande boeie; hy wat goed is voor die aangesig van God, sal van haar vryraak, maar die sondaar word deur haar gevang.” (1933/53-vertaling)
Die Prediker som hier sy gevolgtrekkings op van sy soeke na wysheid in die sondigheid van die mens – die wysheid in sy goddeloosheid, dwaasheid en onverstandigheid (vgl vers 25).
Die eerste gevolgtrekking is oor ‘n spesifieke tipe dwase vrou. Sy is bitterder as die dood (vgl Spr 5:4). Haar hele menswees is gemik daarop om ander tot ‘n val te bring. Sy is soos ‘n slagyster wat jou vasvang. Haar gedagtes (hart) is soos nette wat jou verstrik. Haar hande is soos kettings in die tronk wat jou vasbind. Dit is net God wat jou kan red van só ‘n vrou (óf ‘n vrou kan gee wat die radikaal teenoorgestelde is, soos die Prediker skryf in hoofstuk 9:9).
Onthou dat die Prediker hier mense teken wat goddeloos, dwaas en onverstandig is. Hy praat nie hier oor regverdiges, mense wat die Here dien nie. Sondige mense word deur sulke vroue gevang. En, onthou, dwase mans doen nie veel beter as dwase vroue nie. Trouens, daar is net een regverdige man uit ‘n duisend (Pred 7:28). En dit is nie God se skuld nie. Hy het die mens reg geskape. Hulle het egter gekies om sy wil vir hulle lewe met allerhande slim planne – lees dwase dom planne – te ignoreer (Pred 7:29).
Andre
| #
Halo pastoor
Wat is die betekenis van prediker 7:26
Ek kry nie iets om dit oop te maak nie om nog beter te verstaan
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter