Skip to main content

Inleiding op die evangelie volgens Matteus

Die evangelie volgens Matteus word nie om dowe neute aan die begin van die NT geplaas nie.  Dit is die evangelie wat die verhaal van Jesus Christus op die mees direkte wyse aan die OT verbind.  Daarom plaas Matteus bv. Jesus se Joodse geslagsregister reg aan die begin van sy evangelie, anders as wat Lukas dit doen (Luk. 3), en doen hy baie moeite regdeur sy evangelie om Jesus se lewe en bediening aan die vervulling van OT beloftes en profesieë te koppel (meer as 60 verwysings).

Jesus is volgens Matteus die hoogtepunt en vervulling van die Messiaanse verwagting van die hele OT verhaal.  Jesus se lewensveranderende woorde (aangebied in vyf toesprake), sy magtige dade (geïllustreer onder andere deur agtien wonderwerke) en sy simboolryke optredes (bv. die reiniging van die tempel en die vervloeking van die vyeboom) wys onomwonde dat Hy die langverwagte Messias van die profetiese tradisie is.

Hy is ook beide die “Seun van Dawid” (Matt. 1:1 en nog agt ander kere só genoem) as die “Seun van God” (Matt. 14:33 en nog sewe ander kere só genoem, onder andere deur die duiwel, die dissipels en die Romeinse offisier en sy soldate by die kruisiging), titels wat beide sy menslike as sy Goddelike kant beklemtoon.  Dié Jesus, sê Matteus, Hý is Koning beide as nakomeling van Dawid sowel as nakomeling van God.

Geen wonder dus dat dié evangelie die mees-gebruikte evangelie van die vroeë kerk was nie, soos ons aflei uit die feit dat die vroeë kerkvaders twee keer meer keer uit dié evangelie aanhaal in hulle geskrifte as uit die ander drie evangelies saam (Gordon Fee).

Die Groot Opdrag

Matteus skryf sy evangelie aan Joodse Christene waarskynlik in die omgewing van Antiogië (Sirië) om hulle aan te moedig om voort te gaan om die evangelie regdeur die wêreld te neem ten spyte van die volskaalse teenstand wat hulle van die Joodse gemeenskap in die diaspora (verstrooiing ná die sesde eeu v.C., ook nou ná die beleg en val van Jerusalem in 66-70 n.C.) ondervind, onder andere ten opsigte van hulle Christologiese interpretasie van die wet.

Daarom doen Matteus baie moeite om Jesus se leringe as die vervulling van die wet aan te bied (Matt. 5-7), Jesus se lewe en bediening aan die vervulling van die hele OT boodskap te koppel, en sy voortgaande teenwoordigheid ná sy opstanding in hulle uitvoering van die Groot Opdrag (Matt. 28:19) te beklemtoon.

Die vier dele van die Groot Opdrag vat Matteus se boodskap kernagtig saam:

  1. Die bediening aan die nasies is van primêre belang;
  2. Dissipelskap as navolging van Jesus self (“my dissipels”) is die fokus van die bediening ;
  3. Die doop in die Naam van die Drie-enige God word gevestig as teken van die gemeenskap van gelowiges;
  4. Die leringe van Jesus word as die primêre inhoud van die nuwe lewenstyl waartoe hulle opgeroep word, aangebied (“om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”).

Verweefde verhale en leringe

Omdat Matteus die evangelie volgens Markus as bron gebruik – hy gebruik amper 90% van die teks van Markus – en Markus in die middel sestigerjare van die eerste eeu n.C. in Rome geskryf is (Papias), dateer baie geleerdes Matteus se evangelie in die sewentigerjare van die eerste eeu n.C.

Normaalweg word die skrywer Matteus verbind met die voormalige tollenaar en latere apostel Matteus (Matt. 9:9; 10:3) soos dit ook deur die vroeë kerkvader Papias aangevoer word. In Markus en Lukas word Matteus ook Levi genoem (Mark. 2:14; Luk. 5:27) soos ’n vergelyking van die lyste van die dissipels uitwys (lees meer daaroor by dié skakel).

Matteus verweef op ’n baie integrale manier die oorgelewerde verhale oor Jesus (geboorte, voorbereiding, bediening, wonderwerke, optredes, verhoor, kruisiging, opstanding en uitsending) met sy leringe (Bergrede – hfst. 5-7; Onderrig aan dissipels – hfst. 10; Gelykenisse van die koninkryk – hfst. 13; Verhoudinge in die kerk – hfst. 18; Koms van die koninkryk – hfst. 23-25).  Dit gee aan die historiese gegewens van Jesus se lewe, bediening, kruisdood en opstanding ’n sterk verkondigingskarakter.

Trouens, telkens as Matteus ná een van die vyf blokke van Jesus se leringe, dit opvolg met ’n gelykluidende frase soos: “Toe Jesus klaar gepraat het …” (Matt. 7:28; vgl. ook 11:1; 13:53; 19:1; 26:1) word nie net die reaksie van die mense op sy boodskap verwoord nie (“… was die skare verbaas oor sy onderrig …” – Matt. 7:29), maar ook die verdere verloop van sy verhaal aangebied met die uitsluitlike doel om sy lesers te beweeg om dié Jesus as Messias en Verlosser te erken en volg.

Met die verhale oor Jesus gekoppel aan Sy boodskap wil Matteus dus sy lesers beweeg om nie net te glo in Jesus op grond van sy woorde nie, maar Hom na te volg in alles wat Hy gedoen het, soos Matteus dit inderdaad self gedoen het.

Vervulling van die OT beloftes

Omdat Matteus aan Joodse Christene skrywe, doen hy baie moeite om nie net die lydingsgeskiedenis van Jesus aan die OT beloftes te koppel nie, maar ook dieselfde te doen met Jesus se woorde en dade.

Daar is ten minste die volgende twaalf aanhalings uit die OT wat eksplisiet as vervulling van die OT boodskap op Jesus van toepassing gemaak word, hoewel daar in totaal meer as sestig verwysings na die OT in die evangelie aangedui kan word (bv. as die takkie uit die stomp van Isai in Jes. 11:1 soos dit op verskuilde manier in Matt. 2:23 aangebied word,  as deel van die koninklike nageslag van Dawid in hfst. 1:1-2:23 deur Hom met sy geboorte aan die geslagsregister van Josef en Dawid se geboortedorp Bethlehem te koppel, en talle ander):

  • Jes. 7:14 in Matt. 1:22-23;
  • Miga 5:1 in Matt. 2:6;
  • Hos. 11:1 in Matt. 2:15;
  • Jer. 31:15 in Matt. 2:18;
  • Jes. 40:2 in Matt. 3:3;
  • Jes. 8:23-9:1 in Matt. 4:14-16;
  • Jes. 53:4 in Matt. 8:17;
  • Jes. 42:1-4 in Matt. 12:17-21;
  • Jes. 6:9-10 in Matt. 13:14-15;
  • Ps. 78:2 in Matt. 13:35;
  • Jes. 62:11 en Sag. 9:9 in Matt. 21:4-5;
  • Sag. 11:12-13 in Matt. 27:9-10.

In Jesus, bely Matteus, het God se OT beloftes van herstel en verlossing van sy volk in vervulling gegaan:

Die koms van die koninkryk

Vir Matteus is die verkondiging van die koms van die koninkryk van die hemel die sentrale boodskap van sy evangelie.  Met die koms van die Koning het dit aangebreek as ’n teenwoordige werklikheid veral in die lewe en wonderwerke van Jesus Christus.  Daarom skryf hy oor die koninkryk as iets wat ’n mens hier en nou mee rekening moet hou en met jou hele lewe daarop moet fokus (Vgl. bv. Matt. 6:33; 11:12; 12:28; 13:24-30, 36-43; 16:19; 23:13).

Dit is egter ook ’n toekomstige werklikheid (4:17; 5:19; 8:12; 16:28; 25:1-13; 26:29) wat eers met die wederkoms van die Seun van die mens (13:24-30, 36-43, 47-50; 16:28; 25:1-13) volledig tot stand sal kom (Marius Nel).  Daar is dus steeds ‘n wederkomsverwagting wat ons oë ook op die toekoms gerig hou.

Indeling van Matteus

’n Mens kan daarom die evangelie volgens Matteus indeel op grond van wyse waarop die verhale oor Jesus verweef is aan sy leringe sowel as in terme van die oorhoofse verkondiging van die koms van die koninkryk van die hemel/God (Matt. 4:17):

Inleiding – Jesus se geboorte en die voorbereiding vir sy publieke bediening – hfst. 1-4

1.  Die goeie nuus van die koninkryk – hfst. 5-7

2.  Die krag en missie van die koninkryk – hfst. 8-10

3.  Die gemengde ontvangs van die koninkryk – hfst. 11-13

4.  Die gemeenskap van die koninkryk – hfst. 14-18

5.  Die impak en koms van die koninkryk – hfst. 19-25

Slot – Die verhoor, kruisdood, opstanding en Groot Opdrag van Jesus – hfst. 26-28

Belangrike temas in Matteus

Die boodskap van Matteus lê reeds ingebed in die verhale wat met Jesus se toesprake verbind word, sowel as sy verkondiging van die koninkryk van die hemel/God wat aangebreek het.  Daar is egter ook ander belangrike temas waarvoor jy op die uitkyk in die evangelie volgens Matteus kan wees, wat die krag van sy boodskap verder vir jou sal verhoog:

  • die klem op Jesus as die Seun van Dawid/die mens sowel as die Seun van God;
  • die klem op dissipelskap (28:19) en veral die wyse waarop dit met geregtigheid verbind word (5:20);
  • die etiese beginsels van navolging van Jesus wat beide aan ’n Christologiese interpretasie van die wet van God (5-7) as aan die dieper konsepte van Sy reg, barmhartigheid en trou gekoppel word (23:23);
  • die onderlinge verhoudings in die kerk (Matteus is die enigste van die evangelies wat die Griekse woord ekklesia vir die kerk gebruik: 16:18; 18:17);
  • die gestuurdheid van gelowiges na die nasies toe (28:18-20; Vgl. ook die verhaal van die sterrekenners in Matt. 2 wat die nasies op die voorgrond plaas);
  • die voortdurende teenwoordigheid van die Here Jesus by sy mense tot aan die einde van die wêreld. Dit word as ’n gebeds – (18:20) en ’n gestuurde werklikheid (28:20) uitgespel, d.w.s. waar gebid en getuig word.  Vergelyk ook die betekenis van sy naam, Immanuel, reg aan die begin van die evangelie, d.i. “God met ons” (1:23).

Watter goeie nuus!

Ekskursus: Matteus in vergelyking met die ander Sinoptiese evangelies

Vir die dieperdelwers: die drie evangelies van Matteus, Markus en Lukas staan bekend as die Sinoptiese evangelies in onderskeid van die evangelie volgens Johannes.  Dit is weens die groot ooreenkomste wat daar tussen dié drie onderling bestaan en die totale ander opbou van die evangelie volgens Johannes.

Omdat amper die hele evangelie van Markus in die ander evangelies opgeneem is, word gewoonlik aanvaar dat Matteus en Lukas die evangelie volgens Markus as bron gebruik het.  Trouens net die inleiding van Markus (Mrk. 1:1), die gelykenis van die saad wat vanself groei (Mrk. 4:26-29) en die verhaal van die genesing van die blinde man in Betsaida (Mrk. 8:22-26) kom net in die evangelie volgens Markus voor.  Die res van sy materiaal is volledig in die ander twee evangelies geïnkorporeer.

Matteus se gebruik van Markus

Matteus en Lukas gebruik Markus op verskillende wyses en kies ook die materiaal wat die beste inpas by hulle eie evangeliese perspektief.  Matteus kies bv. meer van die Markus materiaal om in sy evangelie in te sluit as wat Lukas doen.  Daar is ook net twee tekste wat net in Markus en Lukas voorkom en nie in Matteus nie:

Markus Lukas Opskrif
1:21-28 4:31-37 Die besetene in Kapernaum
12:41-44 21:1-4 Die arm weduwee se gawe

Aan die ander kant is daar ’n hele paar skrifgedeeltes wat Matteus in gemeen het met Markus, maar wat nie in Lukas voorkom nie.  Ons vind dit interessant genoeg almal in hfst. 13-21 van Matteus:

Matteus Markus Opskrif
13:34-35 4:33-34 Die gebruik van die gelykenisse
14:34-36 6:53-56 Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
15:10-20 7:14-23 Wat ‘n mens onrein maak
15:1-9 7:1-13 Die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte
15:21-18 7:24-30 Die Siro-Fenisiese vrou
15:29-31 7:31-37 Jesus genees ‘n doofstom man
15:32-39 8:1-10 Die tweede vermeerdering van die brood
16:1-4 8:11-13 Die Fariseërs vra ‘n wonderteken uit die hemel
16:5-12 8:14-21 Die suurdeeg van die Fariseërs en van Herodus
17:9-13 9:9-13 Jesus se dood is naby
20:20-28 10:35-45 Die versoek van Jakobus en Johannes
21:18-19 11:12-14 Jesus vervloek die vyeboom
21:20-22 11:20-25 Die vyeboom het verdroog

Bron Q

Daar is ook ’n hele aantal tekste wat in Matteus en Lukas voorkom maar nie in Markus nie:

Matteus Lukas Opskrif
1:1-17 3:23-38 Die geslagsregister van Jesus Christus
1:18-25 2:1-7 Die geboorte van Jesus Christus
4:23-25 6:17-19 Weldade aan baie mense
5:3-12 6:20-23 Die geseëndes
5:43-48 6:27-28, 32-36 Liefde vir die vyand
6:5-14 11:2-4 As julle bid
6:19-21 12:33-34 Skatte in die hemel
6:22-23 11:34-36 Die lig van die liggaam
6:24 16:13 God en Mammon
6:25-34 12:22-34 Die sorge van die lewe
7:1-6 6:37-28, 41-42 Moenie oor ander oordeel nie
7:7-12 11:9-13 Gebedsverhoring
7:13-14 13:24 Twee paaie
7:15-20 6:43-44 Vals profete
7:21-23 13:25-27 Hoor en doen
7:24-29 6:47-49 Die twee fondamente
8:5-13 7:1-10 Die genesing van die offisier se slaaf
8:18-22 9:57-62 Hoe Jesus gevolg moet word
10:26-31 12:2-7 Wie gevrees moet word
10:32-33 12:8-9 Aansporing om Christus te bely
10:34-39 12:51-53; 14:26-27 Jesus bring nie vrede nie maar die swaard
11:2-19 7:18-35 Jesus en die vraag van Johannes die Doper
11:20-24 10:13-15 Die onboetvaardige dorpe
11:25-30 10:21-22 Die uitnodiging van Jesus
12:33-37 6:43-45 n Boom word aan sy vrugte geken
12:43-45 11:24-26 Die terugkoms van die bose gees
18:10-14 15:1-7 Die gelykenis van die verlore skaap
18:15-20 17:3 n Broer wat sondig
22:1-14 14:15-24 Die gelykenis van die bruilof
23:29-36 11:47-51 Jesus kondig hulle straf aan
23:37-39 13:34-35 Klag oor Jerusalem
24:45-51 12:41-48 Die profetiese rede: die getroue en die ontroue slaaf
25:14-30 19:11-27 Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke

Geleerdes noem dié materiaal gewoonlik Bron Q (Q staan vir die Duitse woord Quelle wat met bron vertaal kan word), veral omdat Matteus en Lukas se gebruik van hierdie tekste ook onderling verskil.  Sommige dink dat dit ’n mondelinge tradisie verteenwoordig, ander dat dit ook skriftelik beskikbaar was.

Ander bronne (M)

Daar is egter ook 29 Skrifgedeeltes wat net in Matteus voorkom waarin ’n mens sy eie verhaal en beklemtonings kan agterkom:

Matteus Opskrif Vergelyk ook
2:1-12 Besoek uit die ooste
2:13-15 Die vlug na Egipte toe
2:13-15 Die kindermoord
2:19-23 Die terugkoms uit Egipte
5-7 Die bergrede (hoewel Lukas van dié perikope gebruik)
5:17-20 Die vervulling van die wet
5:21-26 Versoening
5:27-30 Kuisheid
5:33-37 Die aflê van ‘n eed
5:38-42 Vergelding
6:1-4 As julle armes help
6:16-18 As julle vas
9:27-31 Die genesing van twee blindes (Mark 10:46; Matt 20:29-34; Lukas 18:35-43)
9:32-34 Die genesing van ‘n stom man
9:35-38 Die groot oes
12:15-21 Jesus die Dienaar van die Here
13:24-30 Die gelykenis van die onkruid tussen die koring
13:36-43 Verklaring van die gelykenis van die onkruid
13:44-50 Drie kort gelykenisse
13:51-52 Ou en nuwe skatte
15:29-31 Jesus maak baie siekes gesond
17:24-27 Die tempelbelasting
18:21-35 Die plig om te vergewe
20:1-16 Gelykenis van die arbeiders in die wingerd
21:28-32 Die gelykenis van die twee seuns
25:1-13 Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies
25:31-46 Die profetiese rede: die laaste oordeel
27:1-10 Die dood van Judas (Hand 1:18-19)
27:62-66 Die graf word bewaak
28:11-15 Die berig van die wagte

Dié materiaal word soms M (na aanleiding van die Joodse geskrif, die Misjna) genoem om dit van die ander materiaal in die Sinoptiese evangelies te onderskei.

Riglyne vir die leeswerk

Ek nooi jou uit om die evangelie van Matteus “geestelik” te lees, as God se woord aan jou in jou spesifieke omstandighede.  Die inligting wat ek elke weeksdag gaan gee, help jou net om sin te maak van gedeeltes wat moeiliker is om te verstaan en gee jou ’n groter raamwerk om jou eie verstaan by in te pas en ook te toets, sodat jy nie van die spoor afgaan met moeiliker gedeeltes nie.

Ek glo dat die hele Bybel God se woord aan jou is, en daarom moet jy dit ook binne jou verhouding met Hom lees.

Ek het al baie maniere van lees deur die loop van die Bybelskool voorgestel.  Die een wat vir myself die beste werk, is soos volg:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het (sinopsis van wat my tref) en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê.  Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?  Dit help my sin maak van my eie ervarings in die lig van God se Woord.
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.  Jy is welkom om dit só te gebruik of aan te pas vir jou eie behoeftes.

Lectio Divina

Indien jy ’n meer omvattende Lectio Divina metodiek wil gebruik, kan jy hierdie een van Alice Fryling (The Art of Listening) gebruik wat ek self baie sinvol vind, hoewel ’n mens meer tyd hiervoor opsy moet sit.  Dit werk met 6 bewegings:

  1. Silencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te wees.  Gebruik musiek, óf ’n Psalmvers, óf ’n meditasie oefening, óf net die stilte van die omgewing.  Dink na oor wat sleg was die afgelope dag (week).  Vra die Here vir vergifnis, verandering, vertroosting.  Dink na oor wat goed was die afgelope dag (week).  Sê vir die Here dankie daarvoor.  Bid vir insig in jou lees van die Bybel.
  2. Lectio – lees die Skrifgedeelte, hardop indien moontlik, en fokus op die verse of gedagtes wat jou tref.  Dink na oor temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een  sleutelgedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees my bydrae en dink na oor wat jou daarin tref.
  3. Meditatio – kies een gedagte, en oordink die praktiese impak van die gedagte op jou lewe.  Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê.  Waar raak die gedagtes in die Bybel jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die boodskap van dié gedagte vir jou dag en lewe?  Besluit hoe jy gaan reageer daarop.
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop.  Fokus op dit wat jy ervaar die Here op jou hart lê.  Doen ook voorbidding.  Skryf dit alles neer in jou joernaal.
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat.  Dit kan ’n paar minute wees of langer.  Spandeer een keer ’n week ’n bietjie meer tyd hieraan.
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

As jy meer oor die tradisionele aanpak van Lectio Divina wil lees, kan jy Luke Dysinger se weergawe hier aflaai.

Vir Bybelstudiegroepe en Bybelskole

Laat elkeen die gedeeltes lees wat ek publiseer by www.bybelskool.com (registreer by die webtuiste om dit elke weeksdag in jou Inbox te ontvang) en vir hulle persoonlike stiltetyd gebruik soos hierbo beskryf.

Kom ooreen op die aantal hoofstukke wat julle elke week gaan lees.  Julle kan byvoorbeeld kies om vyf gedeeltes ’n week te lees, soos ek doen, en dan weekliks by mekaar te kom om dit te bespreek.  Julle kan dit natuurlik ook oor ’n langer tydperk deurlees.

Gebruik dan die volgende proses vir julle byeenkoms:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Gebruik van die voorstelle hierbo van die Silencio van Lectio Divina.  Laat elkeen een kort teksgedeelte voorlees uit die hoofstukke wat julle gelees het, en deel wat hom of haar daarin getref het.  Gebruik julle joernale.  Deel dan met mekaar watter temas julle raakgesien het in die onderskeie bydraes.  Watter ander gedagtes wil julle byvoeg?  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir julle as groep deur al die gedagtes wil sê.  Waar raak hierdie gedagtes julle lewe in die praktyk?  Wat vra dit van julle?  Wat belowe dit vir julle?  Wat moet julle dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir julle lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe julle daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Doen ook voorbidding.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God julle gee met julle saamgaan tot die volgende byeenkoms.  Leef dit uit.

Indien die stof in ’n Bybelskool hanteer word, en daar baie deelnemers is, kan die groep óf in kleiner groepe opgedeel word, met ’n kleingroepleier wat die gesprek in elke kleiner groep begelei, waarna terugvoer gegee word aan die hele groep.

Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om  hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk deur die Bybelteks te werk.  Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld.

Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae.  Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik.  En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.

Indeling van ons leeswerk

Ons gaan die evangelie volgens Matteus as volg lees (byeenkomste ingekleur) oor die volgende ses weke, min of meer ’n hoofstuk ’n dag:

Inleiding 16-Jan
Matteus 1 17-Jan
Matteus 2 20-Jan
Matteus 3 21-Jan
Matteus 4 22-Jan
Matteus 5 23-Jan
Matteus 6 24-Jan
Matteus 7 27-Jan
Matteus 8 28-Jan
Matteus 9 29-Jan
Matteus 10 30-Jan
Matteus 11 31-Jan
Matteus 12 03-Feb
Matteus 13 04-Feb
Matteus 14 05-Feb
Matteus 15 06-Feb
Matteus 16 07-Feb
Matteus 17 10-Feb
Matteus 18 11-Feb
Matteus 19 12-Feb
Matteus 20 13-Feb
Matteus 21 14-Feb
Matteus 22 17-Feb
Matteus 23 18-Feb
Matteus 24 19-Feb
Matteus 25 20-Feb
Matteus 26 21-Feb
Matteus 27 24-Feb
Matteus 28 25-Feb
Afsluiting 26-Feb
View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar