Skip to main content

Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap

Jesus fnuik die Joodse leiers se versoek om ’n teken en laat hulle agter – 16:1-4

Dit by darem net ongelooflik dat die Joodse leiers midde-in ’n reeks wonderwerke van Jesus, ’n spesiale teken uit die hemel van Jesus vra.  Die rede is natuurlik, soos Matteus sê, dat hulle Jesus wil toets en iets teen Hom wil kry.  Daar is immers reeds genoeg tekens!

Jesus is egter te vernuftig vir hulle en ontbloot hulle kwaadwilligheid deur hulle te herinner daaraan dat hulle wel die tekens aan die hemel kan lees, om die weer te voorspel.  Hoekom kan hulle dan nie die tekens van die tye lees nie, vra Hy?  Jesus is dan die hele tyd besig om dié tekens wat God se genadejaar aankondig, te doen.  Weereens sê Hy dat die enigste teken wat hulle sal kry, is die teken van Jona, soos Hy vroeër al gesê het.  Daarmee verwys Hy na sy kruisdood soos ons ook later meer van sal lees in die hoofstuk.

Hy breek die gesprek met hulle op betekenisvolle wyse af – soos Matteus sê: “Hy het hulle agtergelaat en weggegaan.”  Die gesprek sou eers later weer hervat (hfst. 19).  Die Fariseërs se onbegrip leer ons dus dat die probleem nie lê by hulle intellektuele vermoëns nie, maar by hulle ontvanklikheid.  Hulle is soos die grond langs die pad waar die Bose die saad oppik net ná dit daar gesaai is.

Jesus waarsku die dissipels teen die leer van die Fariseërs – 16:5-12

Jesus gebruik ’n misverstand van die dissipels oor brood om hulle te leer dat  die dissipels versigtig moet wees vir die “leer van die Fariseërs.” Hy beeld dié leer ook as suurdeeg uit,  soos Hy dit met die leer van die koninkryk van God gedoen het. Net soos die koninkryk alles deursuur, is dit ook waar van die leer van die Fariseërs.  Dit is waarom die dissipels uiters versigtig moet wees en die gevaar daar van moet onderskei.  Een van die onderskeidingskenmerke van die leer van die Fariseërs is dat hulle oor klein onbenullighede lang en ingewikkelde debatte kan voer wat jou nêrens bring nie.  Daarvoor moet die dissipels versigtig wees.

Petrus bely dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God – 16:13-20

Jesus se identiteit is nou al op verskillende wyses geïdentifiseer deur die loop van die evangelie, ook as die Seun van God (14:33 – deur die dissipels op die boot), maar Petrus se belydenis is ’n fundamentele standpuntinname oor Jesus.  Dit is ’n dieptepunt in die evangelie en het die belydenis van die vroeër kerk beslissend beïnvloed.  Jesus is nie maar net nóg ’n geneser cum demoon uitdrywer nie.  Hy is die Seun van die lewende God.

En dit is belangrik dat die dissipels dít van Jesus snap vóór Hy die pad van die kruis begin loop.  Dit is immers as die Messias, die Christus, wat die kruisdood vir die dissipels en vir almal wat in Hom glo, vir die wêreld, sin en betekenis gaan hê.  Anders is dit net ’n tragiese verhaal van wat kon gewees het.

Let op dat dié belydenis steeds iets is wat op God se openbaring aan Petrus berus.  Maar, dan is dit ook ’n belydenis wat die fondasie word van die kerk, die vergadering van die geroepenes, wat die boodskap regoor die wêreld gaan uitdra.  Saam met die belydenis kom daar groot verantwoordelikheid.  Mense se ewige saligheid hang van dié belydenis af.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan – 16:21-23 

Direk ná die geweldige belydenis van Petrus, kondig Jesus die volgende stap in sy bediening aan, sy kruisdood en opstanding.  Petrus se teregwysing moet aan die eenkant aan sy vinnige geaardheid toegeskryf word, maar aan die ander kant het dit vir hom ingedruis teen sy idee van die Messias.  Jesus beskou sy teregwysing egter as ’n struikelblok, op dieselfde vlak as die duiwel se versoeking dat Hy die maklike uitweg vat (Matt. 4).  Hy verkwalik daarom vir Petrus dat dié menslike dinge bedink en nie die dinge van God nie, soos wat Jesus dit inderdaad doen.

Jesus spel die gevolge van navolging uit – 16:24-28

Jesus spel dan onmiddellik daarna die implikasies van sy eie kruisdood vir die dissipels uit.  Soos Hy gekom het om ter wille van die vestiging van die koninkryk aan ’n kruishout te hang, só sal elke volgeling van Hom bereid moet wees om dieselfde te doen, soms by wyse van spreke, ander kere inderdaad presies soos Jesus dit ervaar het.

Jesus spel egter ook die wonder van die ewige vergelding uit, waarin elkeen die lewe sal kry.  Dit is die paradoks van dissipelskap.  Die wat hulle lewe wil red, sal dit verloor.  Die wat hulle lewe ter wille van Jesus verloor, sal dit wen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.