Skip to main content

Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid

Jesus vervolg in hoofstuk 24 (tot 25) met sy profetiese rede waarin Hy sy dissipels help om die eise van die eindtyd te verstaan om te kan volhard.  Die eindtyd is iets wat nou al ’n aanvang neem met Jesus se bediening (24:3-14), dit sluit die groot verdrukking in wat ’n dubbele betekenis het – dit is iets wat hulle in hulle tyd sal ervaar, sowel as iets wat aan die einde van alle tyd sal gebeur (24:15-28).  Hulle moet dus leer om met onderskeiding daarin op te tree. Daarna sal die Seun van die Mens weer kom op die wolke en die uitverkorenes versamel vir die koninkryk wat in sy volle betekenis sal aanbreek ( 24:29-31).  Hierdie verlossing sal groot vreugde bring.

Jesus skerp hierdie boodskap oor die eindtyd in met ’n appèl aan die dissipels met die voorbeeld van die vyeboom (24:32-35), wat hulle moet leer om voortdurend waaksaam en gereed te wees (24:36-44) en tot betroubaarheid en verstandigheid moet aanspoor (24:45-51).

Jesus sluit sy toespraak in hoofstuk 25 af oor die koms van die koninkryk met drie uitnemende gelykenisse wat die dissipels aanspoor tot waaksaamheid (gelykenis van die tien meisies – 25:1-13), getrouheid (gelykenis van die muntstukke – 25:14-30) en barmhartigheid (gelykenis van die skape en die bokke – 25:31-46).

Volharding in die eindtyd – 24:3-14

Jesus praat hier alleen en eenkant met sy dissipels op die Olyfberg. Op hulle versoek brei Hy uit oor die eindtyd om hulle van misleiding te vrywaar.  Let op dat Hy die gevolge ook vir hulle uitspel.  Hulle is dus deel van die eindtyd.  Ons sien egter vandag dieselfde dinge gebeur wat beteken dat ons steeds in die eindtyd lewe. Dit is dus ook woorde wat ons ter harte moet neem.

Die uitdagings sal dus godsdienstig, polities, sosiaal-maatskaplik en ekologies wees vanuit die makro internasionale omgewing waarbinne hulle leef.

Dit sal ook uitdagings inhou vir Christene vanuit die kleiner gemeenskappe waarin hulle hul getuienis uitleef.  Vir baie Christene sal dit verdrukking, verguising (gehaat word ter wille van Christus) en selfs die dood beteken.  Daar is vandag 110 lande waar Christene verdruk en vervolg word, die mees verdrukte godsdienstige groep in die wêreld.  En dit groei steeds!

Dit sal ook, nog nader aan die lyf, uitdagings inhou vir Christene vanuit hulle eie binnekring, d.w.s. van mense wat deel is van hulle geloofsgemeenskap:

  • Christene sal mekaar oorlewer en haat selfs al is hulle deel van dieselfde geloofskring.
  • Valse profete sal uit die Christelike gemeenskap na vore tree en gelowiges mislei.
  • Wetteloosheid sal toeneem wat baie mense se liefde vir die Here sal laat afkoel.

Jesus waarsku sy dissipels met hierdie prentjie van die groter wêreld uitdagings, sowel as die uitdagings in die gemeenskap en selfs in die geloofsgemeenskap om hulle aan te moedig om ten spyte daarvan te volhard.  Want die einde is op pad en sal verlossing bring vir almal regoor die wêreld.

Onderskeiding in die groot verdrukking – 24:15-28

Die groot verdrukking waarteen Jesus hier waarsku het in die eerste plek met die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. te make, wanneer Daniël (9:27; 11:31; 12:11) se voorspelling van ’n gruwel (altaar vir Zeus) in die tempel nóg ’n keer in vervulling sal gaan.  Lees meer oor die eerste vervulling in 167 v.C. hier: 1 Makkabeërs 1:54; 6:7.

Indien jy meer oor Daniël wil lees, kan jy dit hier doen: Daniël 9 – Daniël bid om die vervulling van God se beloftes en ontvang die belofte van volle versoening; Daniël 10 – Die openbaring van die boek van waarheid in antwoord op Daniël se gebed; Daniël 11-12 – God hou wag oor sy kinders deur die verdrukking tot aan die einde toe.

Die wyse ding om in dié tyd te doen, is om te vlug, omdat dit ’n baie uitdagende en onveilige tyd sal wees vir families.  En uit die beskrywings van die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C., veral die laaste ses maande van die oorlog, soos Josephus dit onder andere beskryf, was dit allerverskrikliks.  Die geloofsgemeenskap van Jerusalem het dan ook gehoor gegee aan hierdie waarskuwing en gevlug en gaan bly in Pella, soos die kerkvader Eusebius te kenne gee, ’n redelike veilige omgewing.

Maar, daar is ook ’n eskatologiese dimensie aan hierdie groot verdrukking, waarin die verwoesting van Jerusalem ook dui op iets wat die hele wêreld gaan tref, waarin veral die geloofsgemeenskap ’n uitmergelende tyd sal beleef.  Groot onderskeiding sal aan die dag gelê moet word, sodat die druk waaronder kinders van die Here sal verkeer, hulle nie afvallig sal laat raak nie.  Hulle moet veral versigtig wees vir wonders of wonderverhale, want die gevaar van misleiding is baie groot, veral waar dit aan die Here Jesus en sy wederkoms gekoppel word.  Die koms van die Here sal onmiskenbaar duidelik wees vir almal, nie net vir die ingewydes van een of ander sekte of beweging nie.

Die verlossing van die koms van die Seun van die Mens – 24:29-31

Die koms van die Seun van die Mens word dan beskrywe as iets wat met kosmiese tekens begelei sal word wat aan die eenkant hartseer vir die nasies sal inhou, dié wat Hom nie erken het nie en vreugde vir sy uitverkorenes aan die ander kant wat van oral af oor versamel sal word om te deel in die verlossing wat Hy sal bring.

Die voorbeeld van die vyeboom – 24:32-35

Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se ontwaking in die lente wat wys dat die somer naby is, wat beteken die tekens van die verdrukking moet vir die geloofsgemeenskap ’n aanduiding wees dat die einde en die wederkoms naby is.  Die Here Jesus belowe dat dit werklik sal gebeur.  Dit moet ons tot waaksaamheid en gereedheid, sowel as betroubaarheid en verstandigheid motiveer, soos die volgende twee perikope duidelik maak.

Die oproep tot voortdurende waaksaamheid en gereedheid – 24:36-44

Die feit van die wederkoms staan vas, die tyd daarvan is egter geheim.  Saam met die verdrukkende realiteite wat die eindtyd kenmerk, sal dit op ’n ander vlak ook lyk na “business as usual” waarin normale sosiale aktiwiteite sal voortgaan, totdat die tyd van die wederkoms aanbreek en mense verras sal wees oor die skeiding wat dit tussen mense bring.

Jesus roep sy dissipels en ook vir ons op tot voortdurende waaksaamheid en gereedheid vir daardie dag.  Dié oproep het veral betekenis vir dié van ons wat in relatiewe rus en vrede ons geloof kan beoefen en nie so uitgelewer is aan verdrukking soos bv. die Noord-Koreane.  Ons moet die normaliteit van ons situasie voluit benut om passievol die Here te dien.

Die oproep tot betroubaarheid en verstandigheid – 24:45-51

Dit sluit ook in dat ons in alles betroubaar en verstandig teenoor mekaar sal optree.  Anders sal ons dit diep berou met Jesus se wederkoms.  Dié berou word nou in hoofstuk 25 uitgespel met die drie gelykenisse van die tien meisies, die muntstukke en die skape en die bokke, waarin daar ook die vreugdevolle uitkomste is vir dié wat waaksaam, getrou en barmhartig gelewe het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar