Skip to main content

Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels

Na die uitgebreide en gedetailleerde fokus van Matteus op die lydenspad wat Jesus in Jerusalem gestap het – 141 verse lank – beskryf hy in drie kort episodes die slot van sy verhaal – in net 20 verse!  Hy fokus op Jesus se opstanding en die vroue wat getuies daarvan was (28:1-10), noem in die verbygaan die gekonkel van die Joodse leiers en die bedrog van die Romeinse soldate (28:11-15) en sluit met die laaste opdrag aan sy dissipels wat as die Groot Opdrag bekend geword het (28:16-20).

Jesus staan op uit die dood – 28:1-10

Matteus vertel die verhaal van die opstanding op só ’n manier dat 1) die wonder van die leë graf, 2) die feit dat die eerste getuies vroue was en 3) die ontmoeting met die lewende Jesus uitstaan.  Hy vertoef glad nie op die wyse waarop die opstanding gebeur het nie, of watter tipe liggaam Jesus gehad het nie of selfs nie soseer op die verbluffende verskyning van die Engel van die Here nie, maar op die betekenis wat die opstanding vir die dissipels gaan inhou.  Jesus het opgestaan, Hy lewe en dít is iets wat almal moet weet.

Die boodskap van die opstanding, sowel as die ontmoeting met die lewende Here Jesus, begin die beweging na die wêreld en die dissipels word uitgenooi om hulle gereed te maak om in hulle navolging van Jesus by die Groot Opdrag na die wêreld betrokke te raak.  Dit is ironies dat die wagte soos dooies word, terwyl Jesus juis uit die dood opgestaan het en lewe.

Dit is ook betekenisvol dat dit juis vroue is wat die wonder van die opstanding eerste aanskou.  Dit onderstreep die historisiteit van die gebeure, want Matteus vertel dit net soos dit gebeur het, sonder om te skroom, al was vroue nie gereken as getuies in daardie tyd nie.

Die Joodse leiers en die Romeinse soldate versprei leuens – 28:11-15

Wat die Joodse leiers gevrees het, dat daar ’n leë graf sou wees, het toe inderdaad plaasgevind.  Maar in stede daarvan om ordentlik ondersoek in te stel, besluit hulle om die soldate om te koop sodat daar ’n leuen storie oor die leë graf versprei sou word.  Hulle volgehoue verwerping van Jesus se opstanding sluit dus selfs die ontkenning van die werklikheid in.

Jesus gee aan sy dissipels die Groot Opdrag – 28:16-20

Jesus ontmoet die elf oorblywende dissipels op die berg waarheen Hy hulle ontbied het.  Sommige het Hom aanbid, terwyl sommige steeds getwyfel het.  Maar, almal van hulle word nou, soos die vroue, getuies van die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Jesus verklaar dan dat Hy alle mag in die hemel en op aarde ontvang het en gee hulle die Groot Opdrag wat drie komponente het:

  • Gaan maak dissipels van al die nasies;
  • Doop hulle in die Naam van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees;
  • Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

En Jesus voeg daaraan by dat Hy met sy dissipels sal wees tot aan die voleinding van die wêreld.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.