Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte
Matteus begin sy evangelie met die geslagsregister van Jesus Christus – Matt. 1:1-17 – en sy geboorte waarin gefokus word op beide die rol van Josef, sy aardse pa en die vervulling van die profesieë en beloftes van die OT – Matt. 1:18-25. Dit gee ons antwoorde op die wat en die hoe vrae oor Jesus se historisiteit en uiteraard die teologiese betekenis daarvan, soos hfst. 2 ons antwoorde gaan gee op die verdere waar en hoekom vrae (Hagner) as voorbereidende begronding van Jesus se bediening waaroor hfst. 3-4 gaan handel.
Die geslagsregister van Jesus Christus – Matt. 1:1-17
Soos altyd die geval is, geslagsregisters in die Bybel het baie meer om die lyf as wat ons as Westerlinge verwag. Veral die naam van Jojagin en die vier vroue wat Matteus op verrassende wyse insluit val op.
Jojagin
Matteus werk met die geslagsregister in drie groepe van 14 geslagte elk van Abraham tot by Dawid, van Dawid tot by Jojagin en van Jojagin tot by Jesus. In plaas van Jojagin lees sommige kommentare hier in die tweede groep eerder sy pa Jojakim – soos sommige Griekse manuskripte dit het – omdat Jojakim die direkte seun van Josia en Jojagin dus Josia se kleinseun was (vgl. 2 Kon. 23:36) en dit dan beteken dat die derde groep ook 14 name het.
Dit oortuig my egter nie. Matteus laat ’n hele aantal ander lede van die geslagsregisters in Kronieke uit, onder andere in vers agt vir Ahasia, Joas en Amasia wat via die goddelose Atalia aan die koningshuis van Agab van die noordelike koninkryk verbind was en gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. Lees hier meer oor hulle: 2 Kronieke 22-23 – Ahasia doen ook wat verkeerd is in die oë van die Here en sy ma Atalia vaar nie beter nie; 2 Kronieke 24 – Joas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here; 2 Kronieke 25 – Amasia doen reg, maar nie met sy hele hart nie. En Jojakim word op baie negatiewe wyse beoordeel in die OT. Dit verklaar waarskynlik sy weglating. Lees hier meer daaroor: 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer.
Dit lyk vir my dat Matteus eintlik met die prominensie wat hy aan Jojagin gee, juis die geskiedenis van die jong koning positief wil waardeer, soos dit inderdaad deur die Kronis ná die Ballingskap neergepen is. Lees hier ook meer daaroor: 2 Kronieke 36 – Jerusalem val en die volk word in ballingskap weggevoer.
In kort: Jojagin word op die jonge ouderdom van 18 jaar koning in Juda. Eintlik staan daar in die grondteks van Kronieke dat hy 8 jaar oud was (2 Kron. 36)! Hy regeer net 3 maande lank voor Nebukadnesar hulle weer inval, met die wisseling van die jaar d.w.s. 596 v.C. Die boek Konings skets vir ons ook ’n positiewe prentjie van dié koning en noem dat Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen). Hoewel Jeremia aanvanklik baie skerp is in die oordele wat hy oor Jojagin uitspreek (Jer. 22) het hy uiteindelik ook sagter woorde oor hom (Jer. 24). Jeremia verwys na die mense wat agtergebly het in Jerusalem as die slegte vye en die ballinge (waaronder Jojagin) as die goeie vye in die bekende gesig wat hy in die tempel gesien het van die twee mandjies vye. Die boek Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het. ’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie. Jojagin word dus uiteindelik positief bejeën in die OT. Matteus volg dus waarskynlik dié interpretasie lyn in sy eie beoordeling en insluiting van Jojagin in sy geslagsregister.
Dit kan ook wees dat Matteus iets met die getalle van sy onderskeie groepe in die geslagsregister wil sê, hoewel geleerdes baie verskil oor wat dit sou kon wees. Sommige dink dat Matteus eintlik ses groepe van sewe elk in die oog het, sodat Jesus die sewende groep kan inlei, in navolging van Daniël se sewe weke. Dit is egter baie moeilik om by hierdie oorspronklike bedoeling uit te kom. Nie een van die verklarings deur die eeue bevredig my werklik nie.
Die betekenis van die drie-deling van die veertien geslagte elk is duideliker, omdat Matteus daarmee die waarde van Abraham as die vader van die verbond met die Jode, Dawid se familie as uitverkore koningshuis van die Jode en die paradigmatiese betekenis van die Ballingskap as getuienis van God se verlossende oordeel, uitlig.
Matteus se geslagsregister word ook heeltemal anders weergegee as Lukas s’n (Luk. 3:23-38). Lukas s’n word in omgekeerde volgorde gegee en loop terug tot by Adam, die “seun van God”, nie net tot by Abraham nie. Die grootste verskil lê egter in die feit dat Lukas die afstamming via Dawid se seun Natan (een van Dawid se 11 kinders wat in Jerusalem gebore is, net ouer as Salomo – 2 Sam. 5:14) weergee en Matteus via Dawid se seun Salomo (dié een wat hom as koning opgevolg het). Dit lyk dus asof Lukas met biologiese afstamming werk (die direkte lyn via Natan) en Matteus met die wettige koninklike afstamming. Daar is ook heelwat geleerdes (op voetspoor van Luther) wat gedink het dat die een geslagsregister eintlik Maria se geslagsregister weergee (gewoonlik word aan Lukas s’n gedink) en die ander Josef s’n. Dit is egter onwaarskynlik omdat Lukas self die geslagsregister aankondig as dat Jesus Josef se seun is (Luk. 3:23). Hy werk dus nie met die afstamming via Maria nie (Hagner).
Vier vroue – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija
Wat verder merkwaardig is van Matteus se weergawe van die geslagsregister is dat hy vier vroue daarin opneem – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija – anders as Lukas wat net die manlike voorvaders noem. Soos in Kronieke vermy Matteus Batseba, die vrou van Urija, se naam, waarskynlik om ook aan Urija prominensie te verleen en sy beginselvastheid te beklemtoon, eerder as om noodwendig negatief oor haar te wees. Die Kronis noem haar Bat-Sua, dieselfde naam as een van Juda se vroue, d.w.s. ’n stammoeder, wat ook positief interpreteer kan word (1 Kron. 3:3).
Al vier dié vroue het ’n interessante geskiedenis waarin 1) hulle afkoms van ander volkere, 2) hulle verstommende inisiatief en wysheid sowel as 3) God se genade om hulle te seën, uitstaan:
- Tamar, waarskynlik ’n Kanaänitiese vrou, verlei haar skoonpa Juda deur haar te vermom as ’n prostituut, en hou hom dan op baie slim wyse aan sy beloftes ten spyte van die gevaar vir haarself (Gen. 38);
- Ragab, die prostituut en ’n vrou van Kanaän, red die twee verspieders in Jerigo met groot teenwoordigheid van gees ten spyte van die gevaar vir haar eie lewe (Jos. 2);
- Rut, die Moabiet, nader Boas as Losser ten spyte van die moontlikheid dat sy verwerp kan word (die boek Rut);
- Batseba, moontlik ’n Hetitiese vrou (Urija was van Hetitiese afkoms), die een met wie Dawid owerspel gepleeg het, sorg dat Salomo die koningskap verkry wat Dawid belowe het, ten spyte van die moontlikheid dat dit kan boemerang op hulle; ons het geen ander getuienis as haar eie dat hy dit belowe het nie (2 Sam. 12 en 1 Kon. 1-2)!
Die geboorte van Jesus Christus – Matt. 1:18-25
Jesus se geboorte word nou beskrywe in terme van die verhouding tussen Josef en Maria, soos die geslagsregister dit aangedui het, sowel as in terme van die werking tussen God en hulle.
Vyf rolspelers is betrokke:
- die Heilige Gees uit wie Maria swanger geraak het (vers 18,20);
- Maria, die moeder van Jesus en verloofde van Josef, wat deur God gekies word om aan Jesus geboorte te gee en beskerm word teen egskeiding en verwerping;
- Josef, Maria se man, wat beide regverdig (hy wil die wet gehoorsaam) as barmhartig was (hy wil haar nie in die openbaar verneder nie, maar in die geheim skei), word gekies en oortuig om Jesus se aardse pa en Maria se beskermer en lewensmaat te wees;
- die Engel van die Here wat in ’n droom aan Josef verskyn en hom intrek in God se plan met Jesus en duidelik die band met die vervulling van die OT beloftes (Jes. 7:14) lê, sowel as aan Josef opdragte gee aan die hand van die openbaring oor nie net die afkoms van Jesus nie (“uit die Heilige Gees”), maar ook sy toekoms (“Hy sal sy volk van hulle sondes verlos”);
- Jesus, die seun waaroor dit ten diepste in dié gedeelte gaan en as Verlosser (die naam Jesus beteken Verlosser) en Immanuel (God-met-ons – vgl. Jes. 8:8,10) gebore word.
Let op hoe dit baie duidelik gestel word dat Josef nie met Maria gemeenskap gehad het vóór haar swangerskap nie, sowel as nie ná die tyd tot en met Jesus se geboorte nie (vers 18, 25). Dit word ook geïmpliseer met die aanhaling uit Jes. 7:14 dat die “maagd sal swanger word”. Die goddelikheid van Jesus se geboorte word daarmee geaksentueer (die swangerskap is uit die Heilige Gees, nie uit Josef nie) sowel as die menslikheid daarvan (Jesus is uit Maria gebore, nie uit ’n engel of een of ander ander geestelike of goddelike wese nie). Dié getuienis het tot die belydenis van die “maagdelike geboorte” gelei, hoewel dit duidelik ook ’n “goddelike geboorte” is, iets wat vir my nog meer gewig dra en die wonder van die gebeure verhoog.
Dit is ook wonderlik hoe sentraal die idee van ’n familie in hierdie gedeelte staan, die konteks wat God kies om die grootste transformasie van die menslike geskiedenis in werking te stel. Dit is dan ook Josef wat Jesus sy naam gee binne die familie-konteks. Hy gee daarmee aan Jesus ’n menslike tuiste.
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie - January 4, 2014
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus - January 16, 2014
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte - January 17, 2014
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom - January 20, 2014
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur - January 21, 2014
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening - January 22, 2014
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid - January 23, 2014
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid - January 24, 2014
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid - January 27, 2014
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings - January 28, 2014
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes - January 29, 2014
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit - January 30, 2014
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee - January 31, 2014
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer - February 3, 2014
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse - February 4, 2014
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees - February 5, 2014
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes - February 6, 2014
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap - February 7, 2014
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese - February 10, 2014
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe - February 11, 2014
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit - February 12, 2014
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit - February 13, 2014
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers - February 14, 2014
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs - February 17, 2014
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs - February 18, 2014
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid - February 19, 2014
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid - February 20, 2014
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën - February 21, 2014
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe - February 24, 2014
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels - February 25, 2014
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie - July 15, 2016
- Lei ons nie in versoeking nie - July 11, 2019