Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee
Matteus fokus vervolgens in hoofstuk 11-13 op die gemengde ontvangs van die koninkryk. Hoofstuk 11 fokus op die teenstand van die Joodse volk wat manifesteer in die aanstoot wat hulle neem aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars (11:2-19), sowel as in die feit dat die stede nie tot bekering kom nie ten spyte van die kragtige dade wat Jesus daar gedoen het (11:20-24). In skerp kontras met hulle kan die Here Jesus sy Vader loof vir “kindertjies” wat God ontvanklik vir die boodskap van die koninkryk gemaak het. Vir almal bied Jesus in elk geval rus vir hulle gemoed aan in ’n persoonlike verhouding met Hom (11:25-30).
’n Soortgelyke patroon word in hoofstuk 12 gevind, waar die teenstand meer met die Fariseërs verbind word. Die reeks van drie hoofstukke eindig met die volgende rede van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede, in hoofstuk 13. Dit bestaan uit ’n reeks van sewe/agt gelykenisse, ingelei deur die gelykenis van die Saaier/saad. Die gelykenisse beklemtoon almal ’n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk.
Die eerste vers van hoofstuk 11 verwys eintlik na die afhandeling van die vorige hoofstuk se verhaal van die sending van die twaalf en vorm dus streng gesproke nie deel van die volgende hoofdeel van Matteus se evangelie nie.
Die Joodse volk neem aanstoot aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars – 11:2-19
Interessant genoeg word die naam Christus die eerste keer weer hier gebruik vir Jesus, ná Herodes met die sterrekenners se besoek navraag gedoen het na die geboorte van die Christus. En dit is gepas dat dit Johannes die Doper is wat vra of Jesus die Christus is, die Een wat sou kom en of hulle iemand anders moet verwag. Hy het immers as Voorbereider opgetree en het die doop van Jesus gefasiliteer.
Johannes die Doper sit egter in die tronk en sou kort hierna onthoof word (die storie word in Matt. 14 vertel). Sy vraag was dus waarskynlik gebore uit die benarde situasie waarin hy sit. Jesus se antwoord aan hom is egter om presies wat Johannes in elk geval gehoor het, te herhaal – dat blindes weer sien, dat verlamdes weer loop, dat melaatses gereinig word, dat dowes hoor, dat dooies opgewek word en dat armes die boodskap van die evangelie hoor – maar in taal wat uit die OT kom (Jes. 26:19; 29:18; 35:5-6; 42:7,18; 61:1). Hy verbind dus die wonders aan die Woord wat Johannes goed ken. Dié ses wonders wat genoem word, korrespondeer ook met die meeste van die wonders wat die afgelope paar hoofstukke in hfst. 8-9 vertel is.
Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lewe gee vir Jesus in die navolging van hulle roeping, word nie die lyding wat daarmee gepaard gaan, gespaar nie.
Met die vertrek van Johannes die Doper se dissipels, brei Jesus dan uit oor die besondere profeet en boodskapper wat Johannes was, in ’n sekere sin die grootste van alle mense tot op daardie tyd, die Elia wat sou kom (Mal. 4:5), om die pad vir die koninkryk voor te berei en reg te maak. Die tragedie is dat nie Johannes die Doper of die Seun van die Mens, die Voorbereider en die Verlosser, vir die Joodse volk aanvaarbaar was nie. Die een was te heilig en die ander nie heilig genoeg nie. Hulle dade sal egter op die langtermyn hulle boodskap bevestig, sê Jesus.
Jesus verwyt die stede wat nie tot bekering kom ten spyte van die kragtige dade van Jesus – 11:20-24
Jesus se frustrasie met die wispelturige weerstand van die Joodse volk teen sy boodskap spoel oor in ’n volskaalse verwyt dat die stede waarin Jesus die meeste van sy kragtige dade gedoen het nie tot bekering gekom het nie. Gorasin, Betsaida en Kapernaum – almal stede in Galilea – ontgeld dit spesifiek. Ons lees nie in die evangelies van wonderverhale in Gorasin nie, maar wel in Betsaida (Mark. 8:22; Luk. 9:10) en Kapernaum. Dit was immers sy hoofkwartiere.
Die heidense stede Tirus, Sidon en Sodom, sê Jesus, sou lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het, as hulle die dinge gesien het wat Jesus in Israel gedoen het. Maar verniet! Vir die onbekeerde stede wag daarom net oordeel, ’n oordeel wat erger sal wees as wat die heidense stede te beurt sal val.
Jesus bied rus vir diegene wat ontvanklik vir God se boodskap is – 11:25-30
Jesus erken egter in dié gedeelte die misterie van God se werking in mense se harte. Let op dat Hy God se aktiwiteit in die aksie om dié dinge vir slim en geleerde mense te verberg en die bekendmaking of openbaring aan “kindertjies” (Matt. 18:1-4: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie …”), uitlig. God werk sy doelwitte met mense uit IN die reaksies wat hulle teenoor Jesus het. Daarvoor loof Jesus sy Vader. Dat Hy verwerp word, benadeel ook nie die verhouding wat Hy met sy Vader het nie.
Die uitnodiging om rus by Hom te vind, bly egter van krag. Dit word steeds aan “almal” gerig. Die dieptepunt van dié uitnodiging is egter dat die rus nie net gevind word in die nougesette volg van Jesus, in dissipelskap, nie. Jesus gebruik hier nie die woorde van Matt. 4:19: “Kom saam met My” wat Hy aan die dissipels met hulle roeping gerig het nie. Hy sê hier – en dit is die enigste keer in die evangelies sowel as die res van die NT wat dié woorde gebruik word – “Kom na My toe”! Hy bied persoonlike gemeenskap aan almal aan wat dié boodskap hoor en Hom daarvoor vertrou.
Dit sluit in dat sy juk (dit is sy lering – die wet is baie keer as ’n juk verduidelik, vgl. Gal 5:1) opgeneem word en sy las gedra word, maar dit begin by die persoonlike ontmoeting en persoonlike gemeenskap.
Eugene Peterson parafraseer dié laaste drie verse só pragtig in The Message, met veral die frase “Learn the unforced rhythms of grace” wat my tref:
“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”
View all posts in this series
- Bybelskool oor die evangelie volgens Matteus – begin 16 Januarie
- Inleiding op die evangelie volgens Matteus
- Matteus 1 – Die historisiteit en teologiese betekenis van Jesus se geboorte
- Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom
- Matteus 3 – Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur
- Matteus 4 – Jesus se versoeking en die begin van sy bediening
- Matteus 5 – Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid
- Matteus 6 – Jesus fokus op die lewe van geregtigheid
- Matteus 7 – Jesus fokus op die vrug van geregtigheid
- Matteus 8 – Jesus herstel gemeenskap en bevorder geloof met gesprek en genesings
- Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes
- Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit
- Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee
- Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer
- Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse
- Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees
- Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes
- Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap
- Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike wese
- Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe
- Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit
- Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit
- Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers
- Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs
- Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs
- Matteus 24:3-51 – Jesus motiveer sy dissipels tot waaksaamheid en gereedheid, betroubaarheid en verstandigheid
- Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid
- Matteus 26 – Jesus word verwerp, verraai, verhoor en verloën
- Matteus 27 – Jesus word oorgelewer en gekruisig, sterf en word begrawe
- Matteus 28 – Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels
- Lees die vier evangelies en Handelinge
- Matteus 5:22 – Jy mag nie “karakter-moord” pleeg nie
- Lei ons nie in versoeking nie
Tags: Matteus
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Heinrich, die term apokaliptiek is afgelei van ‘n Griekse woord wat “openbaring” beteken. Dit verwys na literatuur wat geskryf is oor die toekomstige oordeel aan die einde van die tyd. Dit word gekenmerk deur simboliek en hemelse agente wat optree. Apokaliptiese geskrifte verwag dat God die ou onvolmaakte orde sal vernietig en die wêreld na sy oorspronkilke paradys-agtige toestand sal herstel. Dit is Bybelse boeke soos Daniël (hfst 7-12) en Openbaring, asook Bybelgedeeltes soos Jesaja 24-27 en Matteus 24-25.
Heinrich Du Preez
| #
Hi
Ek wil graag weet wat beteken apokapliptiese boeke
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus