Skip to main content

Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee

Matteus fokus vervolgens in hoofstuk 11-13 op die gemengde ontvangs van die koninkryk.  Hoofstuk 11 fokus op die teenstand van die Joodse volk wat manifesteer in die aanstoot wat hulle neem aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars (11:2-19), sowel as in die feit dat die stede nie tot bekering kom nie ten spyte van die kragtige dade wat Jesus daar gedoen het (11:20-24).  In skerp kontras met hulle kan die Here Jesus sy Vader loof vir “kindertjies” wat God ontvanklik vir die boodskap van die koninkryk gemaak het.  Vir almal bied Jesus in elk geval rus vir hulle gemoed aan in ’n persoonlike verhouding met Hom (11:25-30).

’n Soortgelyke patroon word in hoofstuk 12 gevind, waar die teenstand meer met die Fariseërs verbind word.  Die reeks van drie hoofstukke eindig met die volgende rede van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede, in hoofstuk 13.  Dit bestaan uit ’n reeks van sewe/agt gelykenisse, ingelei deur die gelykenis van die Saaier/saad.  Die gelykenisse beklemtoon almal ’n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk.

Die eerste vers van hoofstuk 11 verwys eintlik na die afhandeling van die vorige hoofstuk se verhaal van die sending van die twaalf en vorm dus streng gesproke nie deel van die volgende hoofdeel van Matteus se evangelie nie.

Die Joodse volk neem aanstoot aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars – 11:2-19

Interessant genoeg word die naam Christus die eerste keer weer hier gebruik vir Jesus, ná Herodes met die sterrekenners se besoek navraag gedoen het na die geboorte van die Christus.  En dit is gepas dat dit Johannes die Doper is wat vra of Jesus die Christus is, die Een wat sou kom en of hulle iemand anders moet verwag.  Hy het immers as Voorbereider opgetree en het die doop van Jesus gefasiliteer.

Johannes die Doper sit egter in die tronk en sou kort hierna onthoof word (die storie word in Matt. 14 vertel).  Sy vraag was dus waarskynlik gebore uit die benarde situasie waarin hy sit.  Jesus se antwoord aan hom is egter om presies wat Johannes in elk geval gehoor het, te herhaal – dat blindes weer sien, dat verlamdes weer loop, dat melaatses gereinig word, dat dowes hoor, dat dooies opgewek word en dat armes die boodskap van die evangelie hoor – maar in taal wat uit die OT kom (Jes. 26:19; 29:18; 35:5-6; 42:7,18; 61:1).  Hy verbind dus die wonders aan die Woord wat Johannes goed ken.  Dié ses wonders wat genoem word, korrespondeer ook met die meeste van die wonders wat die afgelope paar hoofstukke in hfst. 8-9 vertel is.

Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie.  Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is.  Mense wat hulle lewe gee vir Jesus in die navolging van hulle roeping, word nie die lyding wat daarmee gepaard gaan, gespaar nie.

Met die vertrek van Johannes die Doper se dissipels, brei Jesus dan uit oor die besondere profeet en boodskapper wat Johannes was, in ’n sekere sin die grootste van alle mense tot op daardie tyd, die Elia wat sou kom (Mal. 4:5), om die pad vir die koninkryk voor te berei en reg te maak.  Die tragedie is dat nie Johannes die Doper of die Seun van die Mens, die Voorbereider en die Verlosser, vir die Joodse volk aanvaarbaar was nie.  Die een was te heilig en die ander nie heilig genoeg nie.  Hulle dade sal egter op die langtermyn hulle boodskap bevestig, sê Jesus.

Jesus verwyt die stede wat nie tot bekering kom ten spyte van die kragtige dade van Jesus – 11:20-24

Jesus se frustrasie met die wispelturige weerstand van die Joodse volk teen sy boodskap spoel oor in ’n volskaalse verwyt dat die stede waarin Jesus die meeste van sy kragtige dade gedoen het nie tot bekering gekom het nie.  Gorasin, Betsaida en Kapernaum – almal stede in Galilea – ontgeld dit spesifiek.  Ons lees nie in die evangelies van wonderverhale in Gorasin nie, maar wel in Betsaida (Mark. 8:22; Luk. 9:10) en Kapernaum.  Dit was immers sy hoofkwartiere.

Die heidense stede Tirus, Sidon en Sodom, sê Jesus, sou lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het, as hulle die dinge gesien het wat Jesus in Israel gedoen het. Maar verniet!  Vir die onbekeerde stede wag daarom net oordeel, ’n oordeel wat erger sal wees as wat die heidense stede te beurt sal val.

Jesus bied rus vir diegene wat ontvanklik vir God se boodskap is – 11:25-30

Jesus erken egter in dié gedeelte die misterie van God se werking in mense se harte.  Let op dat Hy God se aktiwiteit in die aksie om dié dinge vir slim en geleerde mense te verberg en die bekendmaking of openbaring aan “kindertjies” (Matt. 18:1-4: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie …”), uitlig.  God werk sy doelwitte met mense uit IN die reaksies wat hulle teenoor Jesus het.  Daarvoor loof Jesus sy Vader.  Dat Hy verwerp word, benadeel ook nie die verhouding wat Hy met sy Vader het nie.

Die uitnodiging om rus by Hom te vind, bly egter van krag. Dit word steeds aan “almal” gerig.  Die dieptepunt van dié uitnodiging is egter dat die rus nie net gevind word in die nougesette volg van Jesus, in dissipelskap, nie.  Jesus gebruik hier nie die woorde van Matt. 4:19: “Kom saam met My” wat Hy aan die dissipels met hulle roeping gerig het nie.  Hy sê hier – en dit is die enigste keer in die evangelies sowel as die res van die NT wat dié woorde gebruik word – “Kom na My toe”!  Hy bied persoonlike gemeenskap aan almal aan wat dié boodskap hoor en Hom daarvoor vertrou.

Dit sluit in dat sy juk (dit is sy lering – die wet is baie keer as ’n juk verduidelik, vgl. Gal 5:1) opgeneem word en sy las gedra word, maar dit begin by die persoonlike ontmoeting en persoonlike gemeenskap.

Eugene Peterson parafraseer dié laaste drie verse só pragtig in The Message, met veral die frase “Learn the unforced rhythms of gracewat my tref:

Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…