Skip to main content

Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit

Matteus begin met hoofstuk 19 ’n nuwe hoofdeel in sy evangelie wat handel oor die impak op die Joodse volk van die koninkryk wat in Jesus aangebreek het, in Judea (hfst. 19-20) sowel as uiteindelik in Jerusalem (hfst. 21-25).

  • Matteus vertel verhale van Jesus se interaksie met die Joodse leiers asook die dissipels wat die waardes van die koninkryk uitspel in terme van vyf aspekte: die huwelik en egskeiding (19:1-12), die status van kinders (19:13-15) die rol van rykdom in die lewe van dissipels (19:16-30), die dienende karakter van leierskap (20:20-28) en die Groot Gebod (22:34-40).  Jesus gebruik ook twee simboliese handelinge om die waardes van die koninkryk verder tuis te bring.  Hy reinig onder ander die tempel om werklik ’n huis van gebed te wees (21:12-17), en vervloek die vyeboom wat aan die eenkant die doodsheid van die Joodse leiers simboliseer en aan die anderkant die krag van geloof aan die dissipels demonstreer (21:18-22).
  • Hy troef die Joodse leiers in ’n gesprek oor sy gesag (21:23-27) en oor belasting (22:15-22).  Tussendeur kondig Jesus vir die derde keer sy kruisdood en opstanding aan vir die dissipels (20:17-19) en tree ook een keer met die Sadduseërs in gesprek oor die opstanding, iets wat hulle natuurlik per definisie ontken (22:23-33).  Daardeur bevestig Hy sy identiteit as die Christus, soos ook eksplisiet uitgespel in die vraag van Jesus – interessant genoeg! – aan die Fariseërs (22:41-46).
  • Jesus vertel ook vier gelykenisse wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel in terme van wie eerste is en wie laaste (20:1-16), wie werklik die wil van God die Vader doen (21:28-32) en uiteindelik die bose bedoelings van die Joodse leiers aan die kaak stel met die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46) en dat hulle die koninkryk verbeur met die gelykenis van die bruilofsfees (22:1-14).
  • Matteus vertel ook een genesingsverhaal, die genesing van twee blindes, wat simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas is en ironiese kommentaar is op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan hulle Hom eien as: “die profeet Jesus van Nasaret in Galilea”.

Die verhale, simboliese handelinge, gelykenisse, gesprekke en die laaste genesingsverhaal word opgevolg met die vyfde en laaste toespraak van Jesus, dié keer ’n profetiese rede, in verband met die verdere koms van die koninkryk – hfst. 23-25.

  • Dit sluit ’n verdoemende veroordeling van die skrifkenners en Fariseërs se skynheiligheid in (23:1-12) en sewe oordele oor hulle omdat hulle mense van die koninkryk uitsluit met hulle skynheiligheid (23:13-36) asook ’n veroordeling van Jerusalem wat God se genade versmaai het (23:37-39) en tot die vernietiging van die tempel sal lei (24:1-2).
  • Jesus vervolg deur sy dissipels te help om die eise van die eindtyd te verstaan, iets wat nou al ’n aanvang neem (24:3-14) en die groot verdrukking in hulle tyd, sowel as aan die einde van alle tyd, sal insluit (24:15-28 – die profetiese rede het hier ’n dubbele betekenis) waarna die Seun van die Mens weer sal kom op die wolke en die uitverkorenes sal versamel ( 24:29-31).
  • Hy skerp sy boodskap in met ’n appèl aan die dissipels aan die hand van die les van die vyeboom (24:32-35) wat hulle moet leer om waaksaam te wees (24:36-44) en tot getrouheid moet aanspoor (24:45-51).
  • Jesus sluit sy toespraak oor die koms van die koninkryk af met drie uitnemende gelykenisse wat die dissipels aanspoor tot waaksaamheid (gelykenis van die tien meisies – 25:1-13), getrouheid (gelykenis van die muntstukke – 25:14-30) en barmhartigheid (gelykenis van die skape en die bokke – 25:31-46).

Koninkrykswaardes vir huwelike en egskeiding – 19:1-12

Jesus vertrek van Galilea af na die gebied van Judea oorkant die Jordaan en sit sy genesingsbediening daar voort met die groot skare wat Hom daarheen volg.  Die Fariseërs gebruik egter die geleentheid om Hom weer te toets oor sy getrouheid aan die wet en vra of dit toelaatbaar is om sommer om enige rede van sy vrou te skei.

Let op dat hulle oor egskeiding nét uit die man se hoek praat.  Ons weet daarby uit die geskiedenis dat hulle die wet van Moses oor egskeiding met hulle eie reëls aangevul het, sodat ’n man van sy vrou kon skei as sy bv. sy kos aangebrand het.

Jesus antwoord hulle uit die skeppingsverhaal in Genesis en herinner hulle daaraan dat God man en vrou een gemaak het.  Dit beteken dat hulle gelykwaardig is en dat hulle in die huwelik ’n eenheid geniet wat nie verbreek mag word nie.

Dit stel hulle egter nie tevrede nie en hulle val terug op ’n bepaling in die wet van Moses – d.w.s. nie iets wat hulle self as reëls aanvaar het nie – wat wel egskeiding toegelaat het as daar ’n skeibrief gegee is.  Jesus beklemtoon egter steeds dat dié reëling van Moses later bygekom het, weens die hardheid van hart van mense soos die Fariseërs, maar dat dit die uitsondering behoort te wees en nie die reël nie.  Egskeiding behoort nooit die norm te wees in die verhouding tussen gelowiges nie, huwelikstrou wel.  En selfs waar owerspel plaasgevind het, word egskeiding nie as ’n gebod beskou nie, maar as iets wat wel toegelaat mag word.

Die radikale karakter hiervan laat die dissipels wonder of ’n mens dan enigsins moet trou.  Die risiko van ’n ongelukkige huwelik kan te groot wees.  Dan liewer glad nie trou nie.

Jesus antwoord hulle nie direk op hulle beoordeling van die situasie nie, maar praat tog vêrder oor drie tipes eunugs, waarvan die laaste ’n geestelike keuse inhou om nie te trou nie en hulle lewe te wy aan die koninkryk wat verband hou met hulle beoordeling van die situasie.

Daarmee help Hy hulle om die radikaliteit van God se eis tot dissipelskap te verstaan.  Dit kan jou lei tot ’n lewe waarin jy slegs aan die koninkryk getrou wil bly en daarom nie trou nie.  Indien ’n mens egter wel trou, moet jy getrou bly aan jou lewensmaat.  Dit is duidelik dat dié manier van dink die agtergrond gevorm het van Paulus se motivering om nie te trou nie en sy raad aan ander om dieselfde te doen as hy (1 Kor. 7).

Koninkrykswaardes vir die insluiting van kinders – 19:13-15

Jesus is dus nie negatief oor die huwelik nie. Inteendeel.  Die wyse waarop Hy kinders hier insluit, ná sy dissipels hulle eintlik weggedryf het, wys dat Hy die familie en kinders in die familie hooggeag het.  Daarom lê Hy hulle hande op en bid vir hulle.  Nie net het kinders ’n voorliefde vir die koninkryk nie.  Die Koning het ook ’n voorliefde vir hulle!

Koninkrykswaardes vir die hantering van welvaart – 19:16-30

Die ryk jongman wat Jesus vra na wat hy kan doen om die ewige lewe te verkry, gee Jesus geleentheid om ’n volgende waarde van die koninkryk op die tafel te sit – hoe ’n mens jou welvaart hanteer.

Jesus begelei die jongman van ’n radikale gehoorsaamheid aan die wet – wat hy van altyd afgedoen het – na ’n radikale gehoorsaamheid aan Jesus self.  Dit kon hy egter nie doen nie, want hy het baie besittings gehad.

Daaruit leer ons dat rykdom ’n groot hindernis kan wees om die koninkryk van die hemele in te gaan.  Dit is vir rykes net so moeilik om in die koninkryk in te gaan as vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan – en dit is ’n rêrige naald waarvan hier gepraat word, om die absurditeit daarvan te onderstreep.  Ryk mense sal dit eintlik onmoontlik vind om van hulle rykdom afstand te doen en die koninkryk na te streef.

Net soos in die geval van die radikale oproep tot getrouheid in die huwelik, verontrus hierdie radikale eis tot die afstand doen van besittings die dispels.  “Wie kan dan gered word?” vra hulle. Daarop verkondig die Here Jesus die evangelie dat dit by God moontlik is, al sou dit menslik gesproke onmoontlik blyk te wees.  Trouens dit is eintlik waar van alle mense.  Dit is net deur God se genade wat daar redding moontlik is.

Petrus wonder dan of die feit dat hulle alles agtergelaat het, in hulle guns sou tel.   Jesus reageer baie positief daarop en brei dit uit na “elkeen wat huise of broers of susters of pa of ma of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam,” wat honderd maal soveel sal ontvang en die ewige lewe sal erf.  Die beloning is ’n groot motivering om getrou aan Jesus en die waardes van die koninkryk te bly.

View all posts in this series

Matteus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar