Skip to main content

Levitikus 18 – Enige seksuele verhouding buite die huwelik word afgekeur

Die voorskrifte oor seksuele oortredings in Levitikus 18 word ingelei deur ‘n waarskuwing dat die Israeliete vanweë God se verhouding met hulle nie op seksuele gebied volgens die gebruike van óf Egipte vanwaar hulle getrek het, óf Kanaän waarheen hulle op pad is, mag optree nie.  Die gebruike en bepalinge van die  Egiptenare en Kanaäniete rondom seksuele verhoudings, vrugbaarheidsgebruike en alternatiewe patrone van familieverbintenisse mag hulle nie navolg nie, net dié wat die Here vir hulle as voorskrifte gaan gee.

Die maatstaf van rein en onrein word gebruik binne beide die polariteit van lewe en dood, normaal en abnormaal.  Seks hoort in die huwelik tussen man en vrou. Dit is die normale plek waar dit beoefen moet word.  Dit bring lewe.  Enige seks buite die huwelik is dus abnormaal, maak ‘n mens onrein en word afgekeur.  Dit bring die dood.

Trouens, dit is juis vanweë die onsedelike praktyke van die Kanaäniete wat die Here hulle uit die beloofde land gedryf het en die Israeliete daar sou vestig, dinge soos dié waaraan Sodom en Gomorra hulle skuldig gemaak het (Gen. 19).  Die Here het die land beveel om die heidene uit te spoeg, omdat hulle skandelike, afstootlike en afskuwelike seksuele praktyke beoefen het.  Dieselfde lot sou die Israeliete tref as hulle hulleself ook skuldig sal maak aan hierdie seksuele praktyke: “Hou julleself rein.  Ek is die Here julle God.” (Lev. 18:30).

Let op dat hier nie soseer gewaarsku word teen watter partye wettige verhoudings met mekaar in ‘n huwelik mag aanknoop al dan nie – behalwe in die geval van twee susters waar ‘n man nie gelyk met hulle mag trou nie (soos in Jakob se geval met Lea en Ragel) – maar teen enige seksuele verhouding wat nie binne die huwelik en binne familie verband aangeknoop word nie.  Alle seksuele verhoudings vóór of buite die huwelik word afgekeur.  Drie verhoudings word baie sterk afgekeur: moontlike pedofilie (stiefdogters of [stief]kleindogters), selfdegeslag seksuele verhoudings (mans) en bestialiteit (mans en vroue).

Dit is belangrik om kennis te neem dat oral waar daar in die NAV staan dat ‘n mens nie geslagsgemeenskap mag hê met iemand nie, dit die vertaling is van die frase: “naaktheid (ʿěrwāh) ontbloot (gālāh)” wat ‘n eufemisme is vir seksuele gemeenskap, soos ons dit ook al in Gen. 9 by Gam en Noag aangetref het.

Hierdie voorskrifte sluit die volgende ongeveer sestien verbode seksuele verhoudings in waarvan die meeste een of ander vorm van bloedskande is:

  • Enige nabye bloedverwante wat beide generies bedoel is om enige geval wat nie hier genoem word nie, te dek, maar ook om as ‘n beginsel te dien vir die tipe verhoudings wat afgekeur word – seksuele gemeenskap tussen ‘n pa en dogter (soos Lot en sy dogters) word bv. nie genoem nie, maar word deur die algemene reël beheer;
  • ‘n Seun met sy ma;
  • ‘n Seun met ‘n ander vrou van sy pa – soos Ruben met Bilha, Jakob se byvrou (Gen. 35:22) en Absalom met sy pa, Dawid, se byvroue (2 Sam. 16); ook Esegiël veroordeel die volk hieroor (Eseg. 22:10); dit vind ook weerklank in Paulus se veroordeling van die gemeente in Korinte se swak etiese standaarde van ‘n man wat met sy stiefma saamwoon (1 Kor. 5);
  • ‘n Broer met sy suster of halfsuster van watter kant van die familie ook al, en of hulle deel is van jou gesin of nie – vgl. die tragiese verhaal van Tamar wat deur haar halfbroer Amnon onteer is (2 Sam. 13);
  • ‘n Oupa met sy kleindogter – waarskynlik ‘n vorm van pedofilie;
  • ‘n Seun met sy tannie van watter kant ook al;
  • ‘n Pa met sy skoondogter;
  • ‘n Man met sy skoonsuster aan sy broer se kant (behalwe in die geval van sy broer se dood, sonder kinders, waar die wet vereis het dat ‘n kind by die vrou verwek moes word, die sogenaamde leviraatshuwelik – Deut. 25:5-10);
  • ‘n Pa met sy vrou se dogter of kleindogter, waarskynlik ‘n stiefdogter of stiefkleindogter – ‘n skandelike daad in die oë van God;
  • ‘n Man met sy skoonsuster aan sy vrou se kant, in ‘n poligame huwelik – sommige dink dat dit alle poligamie verbied het, hoewel dit in die praktyk meermale gebeur het;
  • ‘n Man met ‘n vrou terwyl sy menstrueer;
  • ‘n Man met enige getroude vrou wat nie sy eie is nie, d.w.s. owerspel of egbreuk op grond van die sewende gebod;
  • ‘n Pa wat sy kinders aan Molek “oorgee”, wat eerder dui op ‘n kinderoffer as op seksuele gemeenskap in ‘n kultiese omgewing;
  • ‘n Man met ‘n man – letterlik vertaal: “By ’n manspersoon (zāḵār­ – algemene naam vir ‘n manlike persoon) mag jy nie lê (eufemisme vir seksuele gemeenskap) soos by ’n vrou nie”; dit is ‘n afstootlike daad in die oë van God, iets wat alreeds in Genesis 9 en 19 veroordeel is, en nog later in Rigters 19 veroordeel sal word; dit is iets wat ook in die NT veroordeel word: Rom. 1; 1 Kor. 6; 1 Tim. 1.  Uiteraard mag ‘n man ook nie met ‘n ongetroude vrou seks gehad het nie, en vice versa, soos ons dit in Eks. 22:16 reeds gehoor het en in Deut. 22:24 bevestig sal word dat voorhuwelikse seks ongehoord was in Israel.  Dit word só uit die hoek van die vrou afgekeur: “deurdat sy met ’n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was”;
  • ‘n Man of vrou met ‘n dier, ‘n afskuwelike of perverse daad in die oë van God (vgl. ook Eks. 22:19; Deut. 27:21).

Die offer van jou “saad” vir Molek, soos dit in die oorspronklike staan, het volgens sommige met seksuele aktiwiteite te make, hoewel dit in die tweede geval waar dit genoem word in Levitikus 20 eerder met kinderoffers as sodanig te make het.  Meer daaroor later.

Hoekom word hierdie seksuele verhoudings so sterk afgekeur?

Daar is ten minste tien redes:

  1. Die meeste van hierdie seksuele verhoudings word afgekeur vanweë die skande wat dit oor ander in die familie bring.
  2. In die geval van ‘n man wat met twee susters wil trou, word dit afgekeur weens die potensiaal vir vyandskap wat dit inhou, soos dit die geval was met Jakob wat tegelykertyd met Lea en Ragel getroud was.
  3. Dit het ook met ‘n oorskryding van grense te make, soos dit vroeër tussen die goddelike en die menslike sfere (Gen. 6) gebeur het, en nou ook met die menslike en dierlike (Eks. 22:19; Lev. 18:23) en ongeoorloofde menslike grense sou gebeur, iets waaroor Judas in die NT ook skrywe met verwysing na Genesis 6 (vgl. die apokriewe eerste boek van Henog) en Genesis 19 (vers 6-7).
  4. Die voorskrifte het ook enige verwarring van geslagtelikheid en familiebande uitgeskakel, soos met selfdegeslag seksuele verhoudings en alle vorme van bloedskande sou gebeur. Dieselfde geld die latere voorskrif oor vroue wat mansklere dra en mans wat vroueklere dra wat vir die Here afskuwelik is (Deut. 22:5).  Dit sou die normale grense tussen man en vrou uitvee.
  5. Al bogenoemde ongewensde seksuele verhoudings het ook ten diepste die normale uitgebreide familie- en huweliksbande bedreig en is daarom ten sterkste afgekeur.
  6. Die voorskrifte het ook ‘n spesiale beskerming gebied aan vroue wat andersins aan die genade van die perversiteit, aggressie en mag van mans uitgelewer sou wees.
  7. Ook kinders is deur hierdie voorskrifte beskerm van mishandeling en misbruik.
  8. Die oorskryding van hierdie ongeoorloofde seksuele grense sou ook die menswaardigheid van die mense voor God verwoes eerder as om dit te bevorder, veral in die geval van pedofilie, selfdegeslag seksuele gedrag en bestialiteit.
  9. Die oorskryding van hierdie ongeoorloofde seksuele grense sou die persone ook onrein maak weens die abnormaliteit daarvan binne die geloofsgemeenskap. Die Israeliete moet immers streef na volmaaktheid binne hulle verhouding met die Here binne die polariteit van rein en onrein.
  10. Dit bevorder die dood eerder as die lewe in terme van die primêre status van die huwelik tussen man en vrou waaruit ‘n nageslag vir die Here gebore kon word. Hulle moes die lewe kies in terme van die polariteit van rein en onrein.

‘n Paar verhoudings word veral uitgesonder as skandelike, afstootlike of afskuwelike sondes:

  1. PEDOFILIE: ‘n man wat met sy stiefdogter of stiefkleindogter seksuele gemeenskap het, al is dit ook in een of ander vorm van huwelik – daarom waarskynlik ‘n vorm van pedofilie; dit is skandelik (zimmāh) in die oë van die Here;
  2. SELFDEGESLAG SEKSUELE GEDRAG: ‘n man wat met ‘n man seksuele gemeenskap het – ‘n selfdegeslag seksuele verhouding; dit is afstootlik (tôʿēḇāh) in die oë van die Here en volg die gebruike van die omringende volke wat juis onder die oordeel van die Here staan;
  3. BESTIALITEIT: ‘n man of vrou wat met ‘n dier geslagsgemeenskap het – bestialiteit; dit is afskuwelik of pervers (těḇěl) in die oë van die Here.

Dié drie verhoudings word uitgesonder as besonder aaklige seksuele oortredings.  Dit verwoes veral die menswaardigheid van die mense voor God eerder as om dit te bevorder.  Al hierdie oortredings sou egter die volk onder die oordeel van God bring net soos die Kanaäniete dit weens hulle afskuwelike seksuele praktyke moes ervaar, nie net hierdie drie nie.  Daarom moes die Israeliete al dié seksuele praktyke in hierdie lysie ten alle koste vermy.

Die meeste van hierdie seksuele oortredings sal daarom in Levitikus 20 weer uitgewys word met die strawwe wat daarop van toepassing sou wees.  In die meeste gevalle is die oortredings gestraf met die doodstraf (deur steniging of verbranding) of soms moontlik met ekskommunikasie – verbanning uit die geloofsgemeenskap.  Daarmee word die erns van hierdie oortredings onderstreep.

Boodskap: Enige seksuele verhouding buite die huwelik word steeds in die NT afgekeur

Gegewe die omvattende voorskrifte in Levitikus 18, en later weer in Levitikus 20, is dit geen wonder dat hierdie moreel-etiese riglyne sonder meer in die NT gehandhaaf word nie.  Die boodskap van die NT is steeds dat enige seksuele verhouding buite die huwelik afgekeur word.

Die rede daarvoor is egter nou nie meer in die eerste plek omdat daar voorskrifte daarvoor in die wet van die Here bestaan nie.  Ten diepste gaan dit in die NT daaroor dat seksuele gemeenskap slegs in die huwelik tussen een man en een vrou hoort weens die liefdesgebod.  Kuisheid binne en buite die huwelik is die enigste wyse waarop ‘n mens heilig voor die Here en voor jou naaste kan leef.

Daarom dat Jesus in die Bergrede waarsku daarteen dat ‘n man na ‘n vrou kyk en haar begeer, want dan het hy reeds egbreuk met haar gepleeg, ‘n oortreding van die sewende en tiende gebod (Matt. 5:29).  Talle van die voorskrifte in Levitikus 18-20 kan as motivering vir hierdie radikalisering daarvan dien.  En onthou dat Jesus in die Bergrede baie sterker op geregtigheid fokus as op enige ander moreel-etiese eienskap.  Dit gaan nie net oor die seksuele oortreding as sodanig nie wat ander se belange in die gedrang bring nie, maar oor die effek daarvan in die persoon se verhouding met God wat in die “hel” kan eindig (Matt. 5:29-30).

Daarom dat Jesus waarsku teen gedrag soos onkuisheid (porneia – “to engage in illicit sex, to commit fornication, sexual immorality, fornication, prostitution” [Louw & Nida]), owerspel (moicheia – seks van ‘n man met ‘n getroude vrou wat nie sy eie vrou is nie), en losbandigheid (aselgeia – “licentious behavior, extreme immorality” [Louw & Nida]), omdat dit getuig van ‘n onrein hart wat onrein gedrag tot gevolg het (Mark. 7:20-23). Dit is volgens Jesus dus nie meer kos wat jou onrein maak nie, waarmee hy alle kos ook rein verklaar het. Dit is die slegte gedagtes wat uit ‘n mens se hart opkom en tot slegte gedrag lei wat jou onrein maak.  Daarmee bring Jesus die polariteit van rein en onrein in die nuwe bedeling in en keur soos in Levitikus 18-20 ongeoorloofde seksuele gedrag ten sterkste af.

Daarom dat Jesus alle gelowiges oproep tot ‘n monogame huwelik tussen een man en een vrou in Matteus 19.  Vgl. my bydrae daaroor.  Die enigste alternatief vir só ‘n huwelik is om ongetroud te bly en kuis te lewe sonder enige seksuele verhouding buite die huwelik.  Weereens is die agtergrond hiervoor die afkeur van ongeoorloofde seksuele verhoudings van Levitikus 18-20, maar ook eksplisiet die wil van God die Skepper wat van die begin af man en vrou gemaak het om een in die huwelik te wees.  Dit het nie net ‘n impak op die verbod op egskeiding nie, maar ook op enige ander tipe seksuele verhouding wat nie aan dié hoë standaard beantwoord nie.

Jesus hef daarmee ook die noodweer wette rondom egskeiding op wat Moses vir die volk gegee het weens die hardheid van hulle harte.  God wil nie hê dat die huwelik tussen man en vrou deur enigiets bedreig word nie, selfs nie waar hulle harte hulle daartoe verlei, onder andere deur ongeoorloofde seksuele verhoudings nie.

Paulus bou op hierdie basis voort en wys enige bloedskandelike verhouding af (1 Kor. 5) waarvoor hy Levitikus 18:8 as basis gebruik.  Interessant dat hy die metafoor van die suurdeeg gebruik: “Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.” (1 Kor. 5:8).  Hy gebruik dus ook duidelik die taal van rein en onrein uit Levitikus.

Paulus wys ook enige selfdegeslag seksuele gedrag af.  Hy doen dit op drie plekke: Rom. 1:24-27; 1 Kor. 6:11; 1 Tim. 1:10.  Levitikus 18-20 vorm ook vir dié moreel-etiese voorskrifte wat Paulus gee die agtergrond.  Ek het ekstensief al daaroor geskrywe. Ek gee ‘n kort samevatting daarvan by hierdie skakels: Romeine 1:18-32 – Oorgegee aan onsedelikheid, skandelike drange en onbetaamlikheid; 1 Korintiërs 6:9-11 – So was sommige van julle ook, maar julle is gewas en geheilig; 1 Timoteus 1:3-11 – Geloofslewe moet pas by Geloofsleer.

Paulus wys uiteraard ook owerspel, ontug en prostitusie af (Rom. 13:9; 1 Kor. 6:15-16), soos wat Levitikus 18-20 dit ook gedoen het, maar gaan verder om die positiewe waarde van die huwelik uit te spel en as God se wil vir die geloofsgemeenskap uit te spel (veral in 1 Kor. 7).  Hy beklemtoon die liefde en respek wat mans en vroue in die huwelik vir mekaar moet hê (Ef. 5:21-33), die heiligheid en eerbaarheid waarmee hulle mekaar in die huwelik moet hanteer (1 Tess. 4:1-8).  Vgl. ook die Hebreërskrywer wat dié voorskrif om die huwelik eerbaar te hou op alle gelowiges van toepassing maak: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” (Hebr. 13:4).

Dit is ook interessant met hoeveel erns, maar ook deernis, alle afwykings van die hoë standaard wat die NT van gelowiges rondom hulle seksuele lewe vra, gehanteer is, soos ons reeds by Paulus in 1 Korintiërs 5-7 gesien het.  Judas, die broer van Jesus, skryf oor die hantering van mense – wat vasgevang is in hulle twyfel of die Bybel regtig só ‘n hoë standaard handhaaf en vrye teuels aan hulle sondige luste gee – dat hulle met groot ontferming en versigtigheid hanteer moet word: “Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.” (vers 22-23).

Getrou aan die beginsels van die heilige lewe wat Levitikus uitspel, word alle gelowiges opgeroep om in die verlengde daarvan hulle harte en liggame aan God te gee om ‘n heilige lewe voor sy aangesig te lewe.  Die taal van Levitikus – in terme van heiligheid en reinheid sowel as dié van ‘n offer – word telkens gebruik soos ons bv. sien in daardie sleutel oproep in Romeine 12:1-2: “En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julle liggame aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar