Levitikus 24 – Die gemeenskap van God en sy mense beïnvloed hulle hele lewe
Levitikus 24 gee voorskrifte vir die sorg vir die onderskeie lampe van die goue kandelaar – Lev. 24:1-4) – die twaalf offerbrode met die twee bakkies wierook wat elke Sabbatdag vervang moes word en vir die gebruik van die priesters was – Lev. 24:5-9 – en die onderskeie strawwe vir laster, moord, manslag, en die dood van diere. Die straf vir laster word nie net uitgespel vir toekomstige gebruik nie, maar geïllustreer aan die hand van die konkrete voorbeeld van ‘n man wat die Godsnaam lasterlik gebruik het – Lev. 24:10-23.
Die eerste twee simbole stel die gemeenskap van God en sy mense voor. Hierdie twee simbole word in die konteks gekoppel aan die onderskeie strawwe vir laster sowel as ‘n paar ander oortredings wat gestraf is met die lex talionis voorskrif: “‘n lewe vir ‘n lewe” die sogenaamde wet van vergelding..
Die gemeenskap van God en sy mense – met die simbole van die goue kandelaar en die twaalf offerbrode – beïnvloed hulle hele lewe.
Die sorg vir die goue kandelaar – Lev. 24:1-4
Die voorskrif rondom die voortdurende lig wat in die Tabernakel moes brand, is reeds in Eksodus 27:20-21 aangeraak. Die lampolie offer moes van besonder suiwer olyfolie wees, omdat dit bedoel was vir die lampe op die lampstander (menora) in die Heiligste deel van die Tabernakel. Aäron moes sorg dat dit voortdurend deur die nag brand voor die voorhangsel, d.w.s. voor die Here. Dié olie is met die hand in ‘n stamper in ‘n vysel uit die olywe gedruk en het bykans geen rook afgegee nie, anders as wat die geval was met die gewone proses van geperste olie. ‘n Mens hoor ‘n beskrywing hiervan in die verhaal van Samuel, die nag toe die Here met hom gepraat het: “die lamp van God het nog helder gebrand.” (1 Sam. 3:3).
Die kandelaar het die Lig wat die Here bring vir Israel voorgestel. In figuurlike sin is daar ook van koning Dawid as die lamp van Israel (2 Sam. 21:17). Hy gee ook erkenning aan die Here dat dit Hy is wat sy lamp helder laat brand (2 Sam. 22:29; vgl. Ps. 18:29). Dawid se lig was dus ‘n weerkaatsing van God se lig.
Dieselfde geld die Woord van God wat as ‘n lamp beskryf word wat vir ons die weg aanwys, ‘n lig op ons pad is (Ps. 119:25). Die kandelaar met sy sewe arms is ook die klassieke prentjie van die geloofsgemeenskap in die midde waarvan die Here Jesus sy teenwoordigheid sigbaar maak (vgl. Openbaring 1-3). Die gemeentes reflekteer ook die lig wat Jesus bring. Aan die einde van die tyd sal die Here Jesus Christus die lamp in die koninkryk van God wees (Openb. 21:23; vgl. Openb. 22:5).
Die twaalf offerbrode met die twee bakkies wierook – Lev. 24:5-9
Die twaalf offerbrode in stapels van ses elk moes van 36 kg meel gebak word met die wierookbakkies bo-op. Die wierook was vir die Here. Die brode vir die priesters wat elke Sabbatdag vervang is. Die twaalf offerbrode het die twaalf stamme van Israel in gemeenskap met God voorgestel.
Die strawwe vir laster, moord, beserings, en die dood van diere – Lev. 24:10-23
Die straf vir laster was die dood en word geïllustreer met die konkrete verhaal van ‘n man wat die Godsnaam lasterlik gebruik het. Die presiese oortreding in die geveg met iemand anders word ongelukkig nie genoem nie, maar dit was ‘n duidelike oortreding van die derde gebod rondom God se Naam. Interessant genoeg is hy eers gevange gehou vóór sy straf ná raadpleging van die Here voltrek is.
Let op dat die man se naam nie genoem word nie, wel sy ma Selomit en sy oupa Dibri uit die stam van Dan. Dit het nie net met die feit te doene gehad dat sy pa ‘n Egiptenaar was nie, maar dit was ook om minagting te betoon vir iemand wat dit durf waag om God se naam in oneer te bring. Daarom was die straf vir laster dan ook die doodstraf.
Die hele gemeenskap is hieroor ingelig en ook ingetrek by die voltrekking daarvan. Die heiligheid van die Here se Naam is hiermee ondubbelsinnig onderstreep en almal se verantwoordelikheid om op mekaar ag te slaan hier rondom bevestig.
Dieselfde straf het in die geval van moord as vir laster gegeld. ‘n Dier wat doodgemaak is, moes slegs vervang word. Die beginsel was: “’n lewe vir ‘n lewe”. Die verskillende vorme van ander beserings is op ‘n beginsel van billike ewewigtigheid – die sogenaamde lex talionis – hanteer: “Daar moet aan hom gedoen word wat hy aan sy medemens gedoen het.” Die straf is dus beperk, hoewel dit nie noodwendig altyd tot die letter uitgevoer is nie. Daar moes ‘n billike kompensasie wees. Dié reëls het ook almal gegeld, die Israeliete en die vreemdelinge.
Boodskap: Jesus is die Lig vir die wêreld, die Brood van die lewe, die Een wat die lex talionis vervul
Beide die simbole van die Lig en die Brood word in die NT met die Here Jesus self verbind. Hy is die Lig vir die wêreld (Joh. 8:12; 9:5) en die Brood van die lewe (Joh. 6:35). Daardeur het Jesus nie net die voorafskaduwing van die kandelaar in terme van die verbintenis aan God vervul nie, maar ook die offerbrode in terme van die verbintenis aan die volk. Hy, die God-mens, het ‘n eenheid gebring tussen dié twee simbole, sodat elkeen wat in Hom glo vir ewig in God se teenwoordigheid kan leef. Voorwaar ‘n wonderlike werklikheid, die openbaring van die geheimenis van die betekenis van die Tabernakel. In Jesus leef ons nou in die lig van God (1 Joh. 1:5).
Die boodskap van Levitikus 24 is egter ook dat die gemeenskap van God en sy mense – voorgestel deur die simbole van die goue kandelaar en die twaalf offerbrode – hulle hele lewe beïnvloed. Daarom moet hulle die voorskrifte rondom die lex talionis nakom, om nie net God se Naam in ere te hou nie, maar ook die lewe van hulle medemens en selfs diere te beskerm. Anders word die verhouding met God deurbreek.
In ons fokus op die wonderlike werklikheid van die Lig vir die wêreld en die Brood van die Lewe vergeet ons egter dat die lex talionis ook in die NT van krag bly, hoewel oortredings nie meer deur die geloofsgemeenskap met die doodstraf gestraf is soos in Levitikus 24 nie. Die voorskrif van die lex talionis is deur Jesus op Homself en daarmee op God geneem.
Jesus het die lex talionis van Levitikus 24 vervul deur sy kruisdood wat enige vorm van wraak deur mense in hierdie lewe opgeskort het. Vandaar sy voorskrifte in die Bergrede dat ‘n mens die ekstra myl moet loop, of ‘n wang moet draai. Vergelding moes ten alle koste vermy word en vrygewigheid omhels word, om nie eers te praat van “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand nie” (Matt. 5:38-42).
Selfs skeldtaal moes laat vaar word. Jesus se broer Jakobus, wat in sy brief veral die Bergrede uitlê, betig daarom die Jode van die “verstrooiing” wat in die Here Jesus Christus glo dat hulle nie met dieselfde mond lof vir God kan gee en terselfdertyd die mense wat na God se beeld gemaak is, kan vervloek nie (Jak. 3:9-12). Hulle woorde moet opbouend wees en seën.
En waar gelowiges selfs so ver gedwaal het dat hulle die pad verlaat het en deur hulle ongeloof God se Naam in diskrediet gebring het, word hulle gedissiplineer in die hoop dat daar ‘n omkeer kom soos Paulus in sy brief aan Timoteus doen deur Himeneus en Aleksander aan die Satan oor te gee weens die feit dat hulle God gelaster het (1 Tim. 1:20).
Maar, dit het nie beteken dat die oortredings van laster teenoor God en die leed wat mense aangedoen is, op enige manier oorgesien is nie. Nee, die optrede teen daardie oortredings van die wet is nou net aan die goeie oordeel van God oorgelaat om daarmee te handel. Die genade waarmee mense hanteer is, het vir hulle ‘n spasie geskep om tot inkeer te kom sodat hulle nie uiteindelik in die finale oordeel van God hulle te pletter loop op die lex talionis nie.
Dit is hoekom Paulus baie hiervan maak in sy praktiese voorskrifte in Romeine 12:9-21. Die beginsel was dat God vertrou moet word in alle situasies waar ons aan die kortste end trek: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,’ (Deut. 32:35) sê die Here.” (Rom. 12:19).
God voer die lex talionis in die NT uit. In die eerste plek deur die “lewe vir ‘n lewe” van die kruisdood van sy Seun. En elkeen wat in Hom glo, deel in daardie verlossende genade. In die tweede plek deur sy oordeel wat aan die einde van die tyd kom oor al die ongeregtigheid van die mense wat hulle nie op sy genade verlaat het nie.
Jesus beveel gelowiges daarom om in plaas van om kwaad te praat, net die waarheid te praat en hulle ja hulle ja te laat wees, sodat hulle nie deur te sweer God se Naam in diskrediet bring nie (Matt. 5:37). Hulle moet selfs hulle vyande seën. Geen laster mag uit hulle mond kom nie.
Ironies genoeg is dit juis op ‘n vals aanklag van laster wat Jesus deur die Jode tot die dood gevonnis is en die kruisdood vir ons almal moes verduur (Matt. 26:65). Sy reaksie daarop? Hy het gebid vir sy vervolgers en hulle vergewe. Ook Stefanus is doodgemaak op ‘n valse aanklag van laster (Hand. 6:11). Sy reaksie daarop? Hy het gebid vir sy vervolgers en hulle vergewe.
Jesus beveel ons dus om te sorg dat ons woorde suiwer en opbouend sal wees, want só kan ons God se Naam eer voor die mense. En waar ons aan die kortste end trek, sal God self daaroor oordeel, die Een op wie die verantwoordelik vir die lex talionis nou rus.
View all posts in this series
- Die gebruik van Levitikus in die Nuwe Testament - June 20, 2016
- Lees Levitikus saam met my van 12 April af - April 10, 2017
- “Wees heilig, want Ek is heilig” - April 12, 2017
- Jahwe is ‘n God wat beveel
- Indeling
- Levitikus in die Nuwe Testament
- “Volgende jaar is Jerusalem!” – Liturgie gebaseer op elemente van die Joodse Paasmaaltyd
- Levitikus 1 – Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here - April 20, 2017
- Levitikus 2 – Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer - April 21, 2017
- Levitikus 3 – Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar - April 24, 2017
- Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes - April 25, 2017
- Levitikus 5:14-6:7 – Die skuldoffer as restitusie en regstelling van konkrete sondes - April 26, 2017
- Levitikus 6:8-7:38 – Riglyne vir priesters oor prosesse rondom die offers - April 27, 2017
- Levitikus 8 – Aäron word ingehuldig as Hoëpriester en sy seuns as priesters - April 28, 2017
- Levitikus 9 – Israel word geseën met die teenwoordigheid van die Here - May 1, 2017
- Levitikus 10 – Die dood van Nadab en Abihu illustreer God se onverbiddelike heiligheid - May 2, 2017
- Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe - May 3, 2017
- Levitikus 12 – Rituele reiniging ná geboorte weens bloedvloeiing - May 4, 2017
- Levitikus 13-14 – Rituele reiniging ná onreinheid deur velsiektes, brandwonde, skimmel of swamme - May 8, 2017
- Levitikus 15 – Rituele reiniging weens seksuele afskeidings - May 9, 2017
- Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde - May 10, 2017
- Levitikus 17 – Aan God alleen word geoffer en gehou by die verbod op die eet van bloed - May 11, 2017
- Levitikus 18 – Enige seksuele verhouding buite die huwelik word afgekeur - May 12, 2017
- Levitikus 19 – Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig - May 15, 2017
- Levitikus 20 – Die hele gemeenskap moet sorg dat God se voorskrifte nagekom word - May 16, 2017
- Levitikus 21 – Voorskrifte vir priesters rondom die dood, die huwelik en gestremdheid - May 17, 2017
- Levitikus 22 – Die priesters moes sorg dat alle offers vir God aanneemlik is - May 18, 2017
- Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier - May 19, 2017
- Levitikus 24 – Die gemeenskap van God en sy mense beïnvloed hulle hele lewe - May 20, 2017
- Levitikus 25 – God se eienaarskap van die land word met die Sabbatsjaar en Jubeljaar gevier - May 22, 2017
- Levitikus 26 – Vier seëninge en vyf strawwe word aan hulle gehoorsaamheid in die land gekoppel - May 23, 2017
- Levitikus 27 – Geloftes in buitengewone en tiendes in normale omstandighede - May 24, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar