Levitikus 10 – Die dood van Nadab en Abihu illustreer God se onverbiddelike heiligheid
Die verhaal van Nadab en Abihu maak ‘n kookpot van emosies in ‘n mens los. Die straf vir hulle oortreding is al erg genoeg. Maar om van ‘n pa te verwag dat hy nie oor sy seuns se dood mag treur nie, is vir ons gevoel amper onmenslik wreed. Om dan amper nóg ‘n tragedie te beleef met die oortreding van Aäron se ander twee seuns, Eleasar en Itamar, laat ‘n mens met ‘n diep ontsteltenis in jou gemoed. Hy het amper al vier sy seuns op een dag verloor! As die heiligheid van God só ‘n destruktiewe effek op die gebrekkige diens van priesters – wat na alles sy dienaars is – kan hê, hoe sal enigiemand ooit met vrymoedigheid Hom kan of wil dien?
Tot jy agterkom dat dit juis die punt van hierdie verhaal is. Dat dit presies die emosie is wat die verhaal by jou moet wakkermaak. Hierdie verhaal wil reg aan die begin van die offerkultus die boodskap aan die volk deurgee dat God se heiligheid onverbiddelik is. Hy vereis onverdeelde trou.
Genadiglik is dit so dat Hy reiniging en vergifnis gee deur die verskillende offers. Maar sy genade moet ‘n mens op geen manier verlei om te dink dat sy wil op enige manier geïgnoreer of gedwarsboom kan word nie. Jy kan nie self besluit hoe jy Hom wil dien nie. Hy het alleen die soewereine gesag om nie net die wet neer te lê nie, maar te verwag dat dit nagekom sal word. Sy genade is nie goedkoop nie en word nie uitgedeel sonder dat die straf vir oortredings deur iets of iemand gedra word nie (Eks. 34:7).
Hartley gebruik die voorbeeld van elektrisiteit (Word kommentaar). Elektrisiteit is ‘n wonderlike nuttige krag as ‘n mens versigtig en nougeset daarmee omgaan. Die oomblik as jy egter die reëls van die hantering van elektrisiteit verbreek – aan ‘n oop lewendige draad raak – raak elektrisiteit ‘n potensieel destruktiewe krag. Dieselfde in ons verhouding met God. Sy heiligheid gee lewe. Waar ons egter nie ontsag het vir sy heiligheid nie, daar verteer dit ons.
Dit sien ‘n mens ook in die soortgelyke verhaal in Numeri 16 waar Korag, Datan en Abiram deur die aarde ingesluk word, en die 250 manne wat saam met hulle in opstand teen Moses gekom het met vuur verteer is. En dit is nie net woestynverhale dié nie. Ons sien dieselfde onverbiddelike optrede van God in die tragedie van Ussa wat gedurf raak het aan die ark om dit te stabiliseer toe dit op ‘n wa in die tyd van Dawid vervoer is na die Godstad (1 Kron. 13:7).
Geen wonder Dawid was diep ontsteld en het die ark eers by Obed-Edom laat bly voordat hy die moed gehad het om die ark na die “tent” in Jerusalem in te bring nie. Hy het besef dat die ark in die eerste plek nie op ‘n wa vervoer mag word nie, en het die Bybelse riglyne nougeset nagevolg met die tweede probeerslag. Die Leviete het dit volgens voorskrifte tot in die “tent” gedra.
Moses probeer vir Aäron verduidelik wat hier gebeur het: “Die Here het gesê: Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.” Na watter uitspraak van die Here hy presies verwys, is nie seker nie, maar dit was duidelik iets wat ‘n groot impak op Moses gemaak het. Hy verwys weer later daarna in Levitikus (Lev. 22:32) en tot sy eie skade in Numeri (Num. 20:13). Ook Esegiël verwys na die heiligheid van God as iets wat vir alle nasies duidelik moet wees (Eseg. 20:41).
Hoe roerend staan Aäron se reaksie hierop nie in Levitikus nie: “Aäron was sprakeloos.” Hy is amper uitgewis met sy eie oortreding by die verhaal van die goue kalf. Hier het sy seuns die hoogste prys betaal vir hulle oortreding. Hy gehoorsaam die Here hierdie keer deur nie te treur nie. En sy stilte word deur die Here aanvaar soos ons in vers 8 sien.
Wat was Nadab en Abihu se oortreding?
Die tragiese lot wat Nadab en Abihu tref onderstreep die erns van die verbod op enige ander tipe offer of “ongeoorloofde vuur” (waarskynlik weens ongeoorloofde kole) wat hulle in ‘n vuurpan vir die Here aangebied het. Maar wat was die oortreding spesifiek? Die inligting in die teks is immers baie kripties.
In ‘n mens se antwoord moet jy die inligting van Eksodus oor die gebruik van wierook verreken. Die wierookaltaar was, soos ons in Eksodus 30 en Eksodus 37 gesien het, net voor die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het waarop elke oggend en aand wierook gebrand moes word terwyl aandag aan die menora met sy lampies gegee is. Geen ander offer moes daarop gebring word nie, behalwe een maal ‘n jaar ‘n sondeoffer vir Aäron en ná hom vir die ander hoëpriesters. Dit was ‘n besondere gewyde item in die Heiligste deel van die Tabernakel.
Die probleem met Nadab en Abihu se offer kan dan op verskillende maniere verstaan word.
- Eerstens het hulle eintlik ongeoorloofde kole gebruik in plaas van net wierook soos dit voorgeskryf is in Eksodus 30.
- Tweedens het hulle die kole met wierook gemeng wat eintlik net vir die wierookaltaar in die Heilige deel van die Tabernakel bedoel was.
- Derdens het hulle dit vir die Here aangebied wat waarskynlik beteken dat hulle in die Heilige of selfs die Allerheiligste ingegaan het, iets wat net vir Aäron bedoel was. Hulle het dus sy gesag daardeur ondermyn sowel as God se voorskrifte geminag.
Soos die Here hier verklaar: “Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.” God se heiligheid is onverbiddelik. Hy laat geen verontagsaming daarvan toe nie.
En voordat ons dink dit is net iets wat in die OT gegeld het. Dieselfde sentiment word in die NT uitgespreek. Die Hebreërskrywer praat steeds van God as ‘n verterende vuur aan wie ons met eerbied en ontsag uit dankbaarheid gehoorsaam moet wees: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.” (Hebr. 12:28-29; vgl. Deut. 4:24; 9:3; Jes. 33:14; Die beeld van God as ‘n verterende vuur word ook een keer gebruik teen Israel se vyande – Jes. 29:6; 30:30). En Ananias en Saffira se dood toe hulle vir die Here gelieg het, wys dat God se heiligheid ook in die NT onverdund geld (Hand. 5:1-11).
Waarom mag Aäron nie gerou het nie?
Weereens is daar min gegewens in die teks, behalwe die kriptiese opmerking dat die salfolie hulle aan God gewy het. Die afleiding wat ‘n mens maak, is dat dit beteken dat hulle dienswerk hulle menswees só aan God se Goddelikheid verweef het dat hulle soos Hy oor die gebeure moes dink en nie soos hulle vanuit hulle menslike oorwegings oor die straf van God sou dink nie. Hulle eenheid met God was van só ‘n aard dat hulle God se heiligheid en God se beoordeling van sake na die volk en die wêreld moes uitstraal. Die familie en die res van die volk mag getreur het, soos dit menslik noodsaaklik was, maar nie Aäron en sy ander twee seuns nie.
‘n Mens sien spore van hierdie oortuiging in die NT waar gelowiges gewaarsku word om niks met onsedelikheid of afgodediens te doene te hê nie. Want vanuit hulle eenheid met God – deurdat sy Heilige Gees in hulle as sy tempel bly – deel hulle in sy heiligheid en maak hulle Hom deel van onheiligheid en onreinheid as hulle onheilig of onrein optree in hulle gedrag in hierdie wêreld (1 Kor. 6:12-20; 2 Kor. 6:14-7:1). Dit sluit enige iets in wat met ons liggaam of gees te make het.
Aäron se stilte word goedkeurend deur die Here aanvaar as ‘n erkenning van God se oordeel.
Die Here praat met Aäron
Dié gebeure lei tot die enigste direkte gesprek van die Here met Aäron alleen in Levitikus, ‘n gepaste ingrype van die Here waarin Hy vir Aäron eintlik verklaar wat so pas gebeur het, al word dit eintlik met ‘n verskerping van die instruksies wat die Here vir hom gee, gedoen.
- God verduidelik eerstens dat ‘n mens ‘n helder gemoed moet hê wanneer jy diens doen voor die Here. Geen wyn en bier in die tent van ontmoeting nie! Sommige rabbi’s het hieruit afgelei dat alkoholmisbruik juis die sonde van Nadab en Abihu was, maar die teks is daaroor stil.
- God verduidelik tweedens dat daar ‘n helder onderskeid moet wees tussen dit wat heilig en onheilig is, en dit wat rein en onrein is. Dié dinge wat in hoofstuk 11 af en verder presies uitgespel sal word.
- God verduidelik derdens dat dié dinge aan elke Israeliet geleer moet word sonder uitsondering en sonder partydigheid.
Dié opdragte van die Here is eintlik tydloos, want Paulus praat ook van die nugterheid waarmee alle gelowiges moet lewe (1 Tes. 5:6,8), maar veral die leiers, mans en vroue (1 Tim. 3:2,11; 2 Tim. 4:5; Tit. 2:2). Daarmee waarsku Paulus nie net teen alkoholmisbruik nie, maar ook in die algemeen teen ondeurdagte denke. Ook Petrus praat in laasgenoemde sin oor die gebruik van ons denke (1 Pet. 1:13; 4:17; 5:18). Gelowiges moet verstandelik wakker wees en selfbeheers in hulle stryd teen die vyand, die duiwel, wat rondloop soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
Hierin is onderskeiding en lering fundamenteel belangrik in ons priesterlike funksie as gelowiges. Dit is ‘n voorreg om dieper in die dinge van God ingelei te word, maar dit verhoog die verantwoordelikheid om dié onderskeid wat dit ‘n mens leer tussen dit waarop dit regtig aankom en dit wat gelaat moet word, saam met ander te omarm.
Soos Paulus in Filippense bid: “dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (Fil. 1:9-11). Let op die ooreenkoms in taal tussen dít wat Paulus hier oor die verhouding met God sê – die klem op onberispelikheid en blaamloosheid – en die taal in Levitikus wat die agtergrond vir sy uitsprake vorm.
Moses vind uit dat die sondeoffer verkeerdelik verbrand is
Die verhaal is egter nog nie klaar nie! Moses vind op die koop toe dat die sondeoffer heeltemal verbrand is deur Eleasar en Itamar en die voorskrifte rondom die eet van sekere dele daarvan nie nagekom is nie. Dit het volgens Moses die versoening wat die sondeoffer bring in gedrang gebring.
Aäron praat vir die eerste keer en wys Moses daarop dat die offers van vroeër die dag nie voorkom het dat die ramp van die dood van sy twee seuns hom tref nie. Sy vraag aan Moses is dus: “Sou dit dan enige verskil gemaak het as ék die sondeoffer geëet het?” Waarop Moses tevrede was dat dit nie enige verskil sou gemaak het nie. Hulle almal het genoeg deurgemaak op dié eerste dag van die offerkultus en nie net baie geleer nie, maar kon ook beter onderskei tussen wat geoorloof is en wat nie.
Daaruit kan ons ook aflei dat daar ongeoorloofde afwykings was van God se voorskrifte waarvan Nadab en Abihu se ongeoorloofde kole ‘n helder voorbeeld was. Daar was ook geoorloofde afwykings van God se voorskrifte waarvan Eleasar en Itamar se volledige verbranding van die sondeoffer met die instemming van hulle pa Aäron ‘n voorbeeld was. Daar was ‘n duidelike rede vir die afwyking wat sin gemaak het en deur Moses, en by implikasie deur die Here, aanvaar is.
Verder aan in die woestynverhaal sou daar nog sulke voorbeelde kom, selfs gevalle waar die wet as sodanig verander is, soos ons bv. in die verhaal van Selofgad se dogters sien wat deur hulle bevraagtekening van die erfreg die wet self verander het (Num. 26), ‘n proses wat by verdere denke daaroor self tot ‘n tweede verandering van dieselfde wet gelei het (Num. 36).
Boodskap: die heiligheid van God is ‘n onverbiddelike verterende vuur
Ek het hierbo talle voorbeelde aangehaal van plekke in die NT waar dieselfde gedagtes oor God se heiligheid van toepassing gemaak word op gelowiges wat in Jesus Christus glo. Julle kan dit rustig deurlees om die boodskap van dié gedeelte te omarm. Ek lig net drie aspekte weer uit.
- Levitikus sê: “Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.” Hebreërs sê: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.” (Hebr. 12:28-29). God se heiligheid is onverbiddelik. Hy laat geen verontagsaming daarvan toe nie. Ananias en Saffira se dood toe hulle vir die Here gelieg het, wys dat God se heiligheid ook in die NT onverdund geld (Hand. 5:1-11).
- Waar die rituele reinheidsreëls van Levitikus nie meer op ons van toepassing is nie, is dit egter ook duidelik dat die verbod op losbandigheid of onsedelikheid sowel as afgodery steeds deel is van die moreel-etiese gebooie van God wat Hy verwag dat ons sal nakom.
- Ook die aandrang daarop dat ons nougeset sal onderskei dié dinge waarop dit regtig aankom en saam dié lering sal bevestig en bevorder. Ons moet wakker wees en verstandelik nugter in ons navolging van die Here.
View all posts in this series
- Die gebruik van Levitikus in die Nuwe Testament
- Lees Levitikus saam met my van 12 April af
- “Wees heilig, want Ek is heilig”
- Jahwe is ‘n God wat beveel
- Indeling
- Levitikus in die Nuwe Testament
- “Volgende jaar is Jerusalem!” – Liturgie gebaseer op elemente van die Joodse Paasmaaltyd
- Levitikus 1 – Almal moes volmaakte en aanneemlike brandoffers bring vir die Here
- Levitikus 2 – Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer
- Levitikus 3 – Die maaltydoffer as gemeenskap met God en mekaar
- Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes
- Levitikus 5:14-6:7 – Die skuldoffer as restitusie en regstelling van konkrete sondes
- Levitikus 6:8-7:38 – Riglyne vir priesters oor prosesse rondom die offers
- Levitikus 8 – Aäron word ingehuldig as Hoëpriester en sy seuns as priesters
- Levitikus 9 – Israel word geseën met die teenwoordigheid van die Here
- Levitikus 10 – Die dood van Nadab en Abihu illustreer God se onverbiddelike heiligheid
- Levitikus 11 – Die onderskeid rein en onrein help Israel om daagliks in God se teenwoordigheid te lewe
- Levitikus 12 – Rituele reiniging ná geboorte weens bloedvloeiing
- Levitikus 13-14 – Rituele reiniging ná onreinheid deur velsiektes, brandwonde, skimmel of swamme
- Levitikus 15 – Rituele reiniging weens seksuele afskeidings
- Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde
- Levitikus 17 – Aan God alleen word geoffer en gehou by die verbod op die eet van bloed
- Levitikus 18 – Enige seksuele verhouding buite die huwelik word afgekeur
- Levitikus 19 – Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig
- Levitikus 20 – Die hele gemeenskap moet sorg dat God se voorskrifte nagekom word
- Levitikus 21 – Voorskrifte vir priesters rondom die dood, die huwelik en gestremdheid
- Levitikus 22 – Die priesters moes sorg dat alle offers vir God aanneemlik is
- Levitikus 23 – Vyf feeste om saam in die teenwoordigheid van die Here te vier
- Levitikus 24 – Die gemeenskap van God en sy mense beïnvloed hulle hele lewe
- Levitikus 25 – God se eienaarskap van die land word met die Sabbatsjaar en Jubeljaar gevier
- Levitikus 26 – Vier seëninge en vyf strawwe word aan hulle gehoorsaamheid in die land gekoppel
- Levitikus 27 – Geloftes in buitengewone en tiendes in normale omstandighede
Tags: Levitikus
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Kobie,
Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele
Matteus is die enigste wat hierdie gelykenis van Jesus vertel (Matt 13:51-52).
Nuwe en ou skatte
51 “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. 52 En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat ‘n leerling in die koninkryk van die hemele geword het, soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” (Bybel 2020-vertaling).
Daarom rond Jesus ‘n gesprek af wat Hy oor sy geestelike familie gehad het (“Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” – Matt 12:50). Hy het in die loop van die gesprek sewe gelykenisse oor die koninkryk van die hemele vertel, die gelykenisse van die saaier, onkruid, mosterdsaad, suurdeeg, verborge skat, pêrel en treknet.
Jesus het hierdie gelykenisse vertel, sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor (Matt 13:9-17). Die ongemaklike waarheid was dat daar talle Jode was wat juis nie wou hoor nie, en daarom was die gelykenisse vir hulle onverstaanbaar. Die gelykenisse was net verstaanbaar vir dié wat ore gekry het van sy Vader om te hoor (Matt 13:11), dié wat bereid was om te doen wat God vra (Matt 12:50).
Jesus vra dan die disspels of hulle regtig verstaan wat Hy deur die gelykenisse geleer het. Hy moet seker maak dat hulle verstaan voor Hy verder die evangelie met hulle deel.
Op hulle positiewe antwoord vertel Jesus dan ‘n verdere gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en sy voorraadkamer, om hulle te bevestig in hulle verstaan van die evangelie. Hulle is soos ‘n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy voorraadkamer haal.
Dit is trouens ‘n beskrywing van wat met elke skrifkenner gebeur wat tot insig kom. Wanneer hy of sy deel word van Jesus se familie, omdat hulle bereid is om die wil van God te doen, word hulle leerlinge in die koninkryk van die hemele. En kry hulle die voorreg om kreatief te werk met beide die nuwe – Jesus se lering – en die oue – die Skrif van die OT. Saam vorm dit die Woord van God.
Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis is ‘n absoluut fundamentele uitspraak oor die relevansie van beide die Skrif – die Ou Testament – en die boodskap van Jesus – die uiteindelike Nuwe Testament. Elkeen wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemele sal nuut kyk na die openbaring van God, sê Jesus.
Aan die een kant sal hulle ‘n nuwe perspektief op die waarde van die oue kry – die OT. Aan die ander kant sal hulle insig kry in die waarde van die nuwe – die NT. Trouens, deur die bril van die openbaring van Jesus – die NT – sal hulle juis die oue nuut kan waardeer – die OT.
Charles Quarles gebruik hierdie gelykenis van Jesus as die invalshoek van sy teologie van Matteus – A Theology of Matthew: Jesus Revealed as Deliverer, King, and Incarnate Creator. Hy sê dat daar ‘n goeie saak uit te maak is daarvoor dat Matteus die gelykenis ook outobiografies verstaan het. Dit is nie net waar van elke skrifkenner nie, maar ook van Matteus wat ‘n kenner van die OT was.
Daarvan getuig die talle aanhalings wat hy uit die OT maak. Onder andere is daar 19 profesieë uit die OT wat Matteus op Jesus van toepassing maak as getuienis dat dit in Hom vervul is.
Vir jou verstaan van die oue en die nuwe en die blywende waarde van albei sal dit die moeite werd wees om die verwysings in hierdie lys na te gaan en te oordink.
Matteus stel Jesus aan ons voor as die vervulling van die volgende OT profesieë:
1. Matteus 1:22-23 sê Jesaja 7:14 is vervul in Jesus dat die Messias uit ‘n maagd gebore sou word.
2. Matteus 2:6 sê Miga 5:2 is vervul in Jesus dat die Messias in Bethlehem gebore sal word.
3. Matteus 2:15 sê Hosea 11:1 is vervul in Jesus dat die Messias uit Egipte geroep sal word.
4. Matteus 2:18 sê Jeremia 31:15 is vervul in Jesus dat ‘n kindermoord in sy tyd sou plaasvind.
5. Matteus 3:3 sê Jesaja 40:3 is vervul in Jesus dat ‘n profeet in die woestyn die koms van die Here sou voorberei.
6. Matteus 4:14-16 sê Jesaja 9:1-2 is vervul in Jesus dat die Messias na die nasies van Galilea sou kom.
7. Matteus 8:17 sê Jesaja 53: 4 is vervul in Jesus dat die Messias ons siektes en swakhede sou dra as ‘n offerlam.
8. Matteus 10: 35-36 sê Miga 7:6 is vervul in Jesus dat die Messias familielede teen mekaar sou draai.
9. Matteus 11: 5 en 15:31 sê Jesaja 26:19; 29:18; 35:5; 42:18; en 61:1 is vervul in Jesus dat die Messias blindes sal laat sien, lammes sal laat loop, die dowes laat hoor, dooies sal opwek en die evangelie aan die armes sal verkondig.
10. Matteus 11:10 sê Eksodus 23:20 en Maleagi 3:1 is vervul in Jesus dat ‘n boodskapper die koms van die Messias sou voorafgaan.
11. Matteus 12:18-21 sê Jesaja 42:1-4 is vervul in Jesus dat die Messias nie luid of pretensieus sou wees nie.
12. Matteus 13:14-15 sê Jesaja 6: 9-10 is vervul in Jesus dat die Messias se leer misverstaan sou word.
13. Matteus 13:35 sê Psalm 78:2 is vervul in Jesus dat die Messias met gelykenisse die mense sal leer.
14. Matteus 15: 8-9 sê Jesaja 29:13 is vervul in Jesus dat God se volk teen hom sou rebelleer en valse dinge oor Hom sal versprei.
15. Matteus 17: 10-13 sê Maleagi 4:5 is vervul in Jesus dat die koms van die Messias voorafgegaan sal word deur die koms van ‘n Elia-figuur.
16. Matteus 21:5 sê Jesaja 62:11 en Sagaria 9: 9 is vervul in Jesus wat die Messias se oorwinning in Jerusalem voorspel.
17. Matteus 26:31 sê Sagaria 13:7 is vervul in Jesus dat die Messias se dissipels hom sou verlaat.
18. Matteus 27: 9 sê Sagaria 11:13 is vervul in Jesus dat die Messias vir dertig silwerstukke verraai sou word.
19. Matteus 27:35,43,46 sê Psalm 22:1-2, 6-8,18 is vervul in Jesus dat mense vir die Messias se klere sou loot en Hom bespot en dat die Vader hom sou verlaat tydens sy lyding vir die kwaad.
Chris van Wyk
| #
Hi Pieter (ek sal nog antwoord oor die doop – net vasgedraai), ek gaan daaroor skryf in my Prontuit die Waarheid reeks vanaf die begin van Julie af.
Pieter
| #
Middag Chris
Jy het nie ‘n skrywe oor Lent wat meer die laaste 40 dae van Jesus na die kruis verduidelik.
Groete
Pieter
Kobie Marais
| #
Verduidelik asb vir my Matteus 13vers 52
Chris van Wyk
| #
Dankie, Jan. Eintlik verstommend hoe diep die Noag-verhaal ingebed is in die hele Bybel. Dit het selfs ‘n invloed op die “sinode”-sitting in Jerusalem (Hand 15) gehad en op ons siening van die doop (1 Pet 3). Noag is nie ‘n liggewig nie. Ons ignoreer hom tot ons skade.
Jan Louw
| #
Baie waardevol. Dankie Chris
Chris van Wyk
| #
Hi Denver, jy kan dit kry by https://bybelskool.com/matteus/
Denver
| #
Ek soek graag meer inligting oor Matteus
Chris van Wyk
| #
Hi Awie, “beter” beteken hier “het ‘n groter impak.” Dit is my weergawe van Paulus se lering dat Korintiërs hulle moet toelê op die “groter / belangriker gawes” soos die Grieks in 1 Korintiërs 12:31 vertaal moet word (χαρίσματα τὰ ⸀μείζονα). Hy gee die lering omdat die Korintiërs die spreek in tale verkies (hoër geag) het eerder as profesie, terwyl profesie juis ‘n belangriker gawe was wat ‘n groter impak in die gemeente gehad het. Dit is waarom die 2020-vertaling van “belangriker genadegawes” praat (1 Kor 12:31). Want, dit is waaroor dit gaan. Op soortgelyke wyse vertaal die 2020-vertaling die een wat profeteer as “van groter waarde” as die een wat in tale spreek (1 Kor 14:5). Gawes is dus gelyk in die sin dat die Gees dit aan elkeen uitdeel soos Hy dit wil. Maar dit is ongelyk in terme van die impak wat dit in ander se lewe kan hê. Tale stig jouself en as dit reg gedoen word, is dit ‘n teken aan ongelowiges (1 Kor 14:22), maar profesie – die uitleg van God se Woord vir vandag – bring almal tot insig, verantwoording en aanbidding omdat die geheime van die hart blootgelê word (1 Kor 14:24-25). Profesie is dus ‘n “groter” of “belangriker” gawe in die konteks van die gemeente. Hoop dit help!
Chris van Wyk
| #
Hi Roland, ek verduidelik dit in die breër konteks van die perikoop. Lukas 17:20-36:
Teks en konteks
Let op hoe Jesus in die eerste twee verse in gesprek met die Fariseërs gaan oor die huidige onsigbaarheid van die koninkryk van God. Om net daarna tot en met vers 37 met sy dissipels oor die uiteindelike sigbaarheid van die koninkryk van God te praat. Die boodskap van die huidige onsigbaarheid is dus vir die Fariseërs wie se oë blind is vir wat Hy doen onder hulle. Die boodskap van die toekomstige sigbaarheid is vir sy eie mense om hulle hoop te versterk, selfs al moet hulle self in verwagting leef en nie in aanskoue nie.
17:20-21 Met die Fariseërs praat Jesus hier oor die feit dat die koninkryk van God wel in sy aardse bediening raakgesien kan word. Dit is wat die frase beteken: “die koninkryk van God is onder julle.” Hulle het egter ‘n politieke of militêre koninkryk verwag. Daarom is die koninkryk vir hulle onsigbaar. Jesus se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Dis die “vinger van God” wat uit die onsigbare geestelike sfeer sy impak in hierdie wêreld maak (vgl Luk 11:20; Matt 12:28). Die Fariseërs het nie oë om dit raak te sien nie, want hulle glo nie in Hom nie.
17:22-23 Met die dissipels praat Jesus oor die toekomstige koninkryk van God wat uiteindelik sigbaar sal word wanneer Hy weer na die aarde toe sal terugkom. Dit sal aan die een kant ‘n uitdaging vir hulle wees, omdat hulle sal verlang om dit te sien, maar dat die wagtyd lank gaan wees. Waarvoor hulle veral versigtig moet wees, is om nie mislei te word deur mense wat voortydig allerlei aansprake maak dat Hy hier is of daar.
17:24 Jesus se wederkoms sal onverwags, maar duidelik herkenbaar wees, soos die weerlig op een plek slaan, maar die hele hemelruim verlig.
17:25 Dan keer Jesus terug na die hede en praat oor sy lyding en verwerping deur “hierdie geslag”, ‘n verwysing na die Joodse leiers.
Jesus verwys dan na twee voorbeelde uit die geskiedenis wat die dissipels sal help om die wederkoms te verstaan. Die verhaal van Noag en die oordeel van die vloed. En die verhaal van Lot en die oordeel oor Sodom. Albei hierdie verhale is van ‘n ongeïnhibeerde boosheid wat die samelewing oorgeneem het. Totdat God met sy oordeel ingegryp het.
17:26-27 Die mense het in Noag se tyd vir ongeveer ‘n eeu lank aangegaan met hulle lewe terwyl Noag die ark gebou het. Geëet, gedrink, en getrou. Totdat alles klaar was, Noag in die ark ingegaan het, die vloed van God se oordeel gekom en almal uitgewis is. So sal dit ook wees met Jesus se wederkoms.
17:28-30 Die mense het in Lot se tyd dieselfde gedoen. Hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant, gebou. Maar, op die dag wat die engele Lot en sy mense uit Sodom gered het, het die vuur en swael van God se oordeel uit die hemel gereën en almal uitgewis. So sal dit ook wees die dag waarop die Seun van die mens aan almal geopenbaar sal word. Hy sal kom met ‘n verlossende oordeel.
17:31-32 Jesus illustreer die gereedheid wat hy van sy dissipels verwag met die voorbeeld van iemand wat op die dak van sy huis is. Hy moenie nog tyd verspil om ‘n paar besittings uit die huis te gaan haal as die Here kom nie. Hy wat in die veld is, moenie terugdraai na wat by die huis is nie. “Onthou Lot se vrou!” Sy het in ‘n pilaar van sout verander toe sy teruggedraai het na wat agtergebly het in Sodom en Gomorra en is agtergelaat (Gen 19:17, 26). Sy het só haar redding verloor.
17:33 Jesus verklaar hierdie beginsel vir sy dissipels soos volg. As jy hier jou lewe probeer behou deur in te pas by hierdie wêreld, sal jy juis jou lewe daar met die wederkoms verloor. Maar, selfs as jy jou lewe hier verloor, omdat jy aan Hom getrou bly, sal jy jou lewe vir ewig behou in die hiernamaals (vgl Luk 9:24).
17:34-35 Die wederkoms sal ook ‘n skeiding bring tussen mense. Tussen eggenote en werkgenote. Die “aanneming” is ‘n verwysing na die engele se werk om die gelowiges van die ongelowiges te skei by die wederkoms. Wie Jesus in hierdie lewe “aanneem” (Joh 1:12), sal met sy Wederkoms “aangeneem word.”
17:36 Die dissipels probeer dan die plek agterkom waar dit sal gebeur. As die tyd dan onbekend is. Miskien kan hulle ten minste die plek identifiseer waar dit sal gebeur. Jesus antwoord hulle egter nie direk nie. Hy gebruik ‘n moeilike interpreteerbare verwysing na aasvoëls. Dit kan dui op die herkenbaarheid van die wederkoms, soos ’n mens weet daar is ’n lyk as aasvoëls daarom vlieg. Hulle sal dus weet as die wêreld ryp is vir oordeel. Die wêreld sal soos ’n verrottende lyk wees waarom die aasvoëls draai. Dan sal die einde kom.
Boodskap en betekenis
Hierdie verhale van Noag en Lot, en Jesus se toepassing daarvan, moet ons waaksaam maak om Jesus te gehoorsaam in hierdie lewe, en gereed maak sodat ons Hom in die volgende lewe kan ontvang as Hy terugkeer. Die tragiese feit dat die wederkoms ook skeiding sal bring tussen dié wat glo en dié wat nie glo nie, moet ons aanvuur om die evangelie aan almal te bring.