Skip to main content

Jahwe is ‘n God wat beveel

Hierdie oproep tot heiligheid is gewortel in die feit dat Jahwe ‘n God is wat beveel.  Hy het die reg om gehoorsaamheid te verwag van die Godsvolk.  Dit is iets wat ons reeds in Eksodus agter gekom het.  Die Godsbeeld wat by Sinai helder geteken is, was dié van Jahwe wat ‘n God is wat beveel.

  • Jahwe is nie net die God van die Skepping wat ons in Genesis 1-11 leer ken het nie.
  • Jahwe is nie net die God van die Belofte wat ons in die aartsvadertradisies van Genesis 12-50 leer ken het nie.
  • Jahwe is nie net die God van die Bevryding uit Egipte wat ons in Eksodus 1-15 leer ken het nie.
  • Jahawe is nie net die God wat Begelei wat ons in Eksodus 16-18 leer ken het nie, soos dit nog verder in Numeri en die res van die OT uitgespel sal word nie.
  • Jahwe is ook die God wat Beveel, wat sy wet neerlê in die Tora wat gehoorsaam moet word, soos Eksodus 19-24 in die verbondsboek dit vir ons weergee (Brueggemann, OTT).

Trouens, sy Teenwoordigheid in die Tabernakel is gebaseer op die Getuienis in die verbondsark, die Tien Gebooie, soos Eksodus 25-40 ons leer.

Die primêre woord om God se wil in hierdie sin uit te druk, is die woord “beveel” (ṣǔwwā – vgl. bv. Eks. 19:7; 23:15; 34:34; Lev. 10:13; Deut. 20:17).  Baie keer word die woorde “” (ʾāmǎr – vgl. Lev. 1:2; Ps. 106:34) en “praat” (dāḇǎr – vgl. Lev. 18:2; Num. 27:23) as sinonieme hiervoor gebruik om God se bevele vir die mens uit te spel.  Maar dit bly woorde wat onwrikbare gehoorsaamheid vra, selfs afdwing.  Wanneer God immers praat, verwag Hy dat dit nougeset nagekom word.

Dat God kan beveel en kan verwag dat sy bevele nagekom word, het te make met die feit dat Hy die soewereine Skepper God is wat die mag het om toe te sien dat sy bevele nagekom word.  Die kwaliteit van Israel se Godsverhouding kan daarom baie keer afgelees word uit hulle gehoorsaamheid al dan nie aan God se bevele.

Brueggemann maak ‘n sterk saak daarvoor uit dat hierdie Godsbeeld die belangrikste uitbeelding van Jahwe in die OT is (OTT: 182), soos ‘n mens kan sien in die groot hoeveelheid ruimte wat afgestaan word in die Pentateug aan die beskrywing van al die wette en bepalings van die Here, en soos dit die geval is in die hele Levitikus.

Hierdie bevele het natuurlik ‘n sterk positiewe kant.  Hierdie God het Israel uit Egipte verlos van die bevelvoerder van Egipte, farao, en hulle onder God se bevel geplaas, ‘n bevel wat Israel met hulle hele hart omhels het.  Die God wat kan beveel, is die God wat kan bevry.  Hy het immers eenmaal in Genesis gesê; “Laat daar lig wees … en daar was lig.” (Gen. 1:3).  En in Eksodus: “Laat my volk gaan … en na vier honderd en dertig jaar … het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek.” (Eks. 7:16; 12:41).

Maar dit beteken onmiddellik ook dat die vryheid van die verlossing nie ‘n vryheid is sonder bevele vir die lewe nie.  Die vryheid van verlossing is ‘n vryheid in gehoorsaamheid aan die Verlosser.  Dit is immers wat die verbond met God behels, om sy wil vir hulle lewe te aanvaar en Hom te gehoorsaam.  Hulle is sy diensknegte en diensmaagde.  Hulle gehoorsaamheid aan God se bevele sal die lewe vir hulle oopsluit.  Hulle sal God se seën ervaar.

Hierdie bevele het daarom tegelykertyd egter ook ‘n negatiewe kant.  Ongehoorsaamheid aan God se bevele het altyd verreikende gevolge, gevolge wat selfs in die geslagte sy destruktiewe impak laat.  Ongehoorsaamheid sluit die lewe vir Israel toe en ontneem hulle die vryheid van die verhouding met God.  Hulle sal God se straf ervaar.  Hoewel God ook ‘n God is wat vergewe, laat Hy niks ongestraf nie, soos Eksodus 34 so helder en onomwonde uitgespel het.  Sy genade kom altyd met ‘n prys en dié prys is gehoorsaamheid.

Die tipe wette

Ek het reeds in Eksodus uitgebrei oor die plek van die Tora in die Joodse godsdiens en die betekenis van die wet as sodanig sowel as die onderskeie kategorieë wette.  Dit is só belangrik in die lees van Levitikus dat ek dit weer hier plaas, bygewerk met inligting oor Levitikus self.

Die pad met God kan net op een manier bewandel word, en dit is deur ‘n absolute gehoorsaamheid aan sy wil vir die lewe.  Die Trek uit Egipte vind sy motivering in die gawe en onderrig van die Tora. En die aanbidding van God in die Tabernakel sowel as die lewe met Hom in die alledaagse lewe word vanuit die Tora gestruktureer.

Die Tora openbaar dus aan die Godsvolk hoe ongelooflik hulle behoefte aan begeleiding in die weë van die Here is.  Die Joodse rabbi’s het 613 wette getel in die Tora – 248 positief (moets) en 365 negatief (moenies) – soos rabbi Simlai in die 3de eeu n.C. die eerste keer in ‘n preek opgemerk het (hier is ‘n lys as jy belangstel!).  Dit dui nie op ‘n puntenerige God nie, maar op ‘n vergeetagtige volk wat nie sonder gedetailleerde praktiese geestelike begeleiding aan hulle verhouding met God, mekaar en die wêreld reg kon laat geskied nie.

Die Tora sou mettertyd uitgebrei word soos daar nuwe vraagstukke na vore gekom het, en ook herinterpreteer word deur die priesters en profete soos daar nuwe situasies ontstaan het deur die loop van Israel se geskiedenis, ‘n proses wat tot die kanon van die OT gelei het, en ook in die NT verder geneem sou word.

Ons moet egter vir geen enkele oomblik dink dat die Tora op enige manier onnodig was of minder geestelik was as bv. die dinamiese verhouding van die aartsvaders met hulle God.  Die Israeliete kon nie sonder die wet klaarkom nie, omdat dit die onsekerheid oor die verhouding met God en mekaar uit die weg geruim het.

Dat dit uiteindelik geblyk het dat die wet nie mense se harte kon verander nie, soos Paulus uitvoerig in Romeine skrywe, hef nie die noodsaak van die gawe van en gehoorsaamheid aan die wet op nie.  Dat Christus ons harte moes kom verander om die wet na te kan kom, bevestig dat die probleem by ons was weens ons sondigheid, nie dat die wet nie nodig en steeds geldig is of was nie.  Ons is net in die bevoorregte posisie dat die Here Jesus se nakoming van die wet, sy geregtigheid, ons toegereken word.

Apodiktiese en kasuïstiese wette

Dit sal jou baie help in die leeswerk van die wette van Levitikus om van twee breë tipe wette kennis te neem.

Daar is die apodiktiese wette.  Dit is absolute bevele soos ons in die Tien Gebooie kry: “Jy mag nie doodslaan nie.”  Of in Levitikus: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Lev. 19:18).  Daar kan geen onsekerheid wees oor die uitvoering daarvan nie.  Jy moet absoluut gehoorsaam wees daaraan.  Daarvan is daar talle voorbeelde in Levitikus.  Sommige is fundamenteel en altyd geldig:  “Wees heilig, want Ek is heilig.” (Lev. 11:44).  Sommige is dieet-verwant en net in die OT bedeling geldig: “Julle mag geen vet of bloed eet nie.” (Lev. 3:17; vgl. wel Hand. 15 wat steeds ‘n verbod op bloed plaas, maar in die konteks gaan dit daar oor afgodsoffers).

Daar is ook kasuïstiese wette.  Dit is gevallestudies wat in die vorm van verdere wetgewing die nakoming van die kern wet uitspel.  Daar is voorwaardes wat vir dié wette uitgespel word wat onder sekere omstandighede toegepas moet word, en onder ander omstandighede juis nie, of anders as in die normale uitvoering daarvan.  Daarvan is daar baie voorbeelde in Levitikus.  Bv. oor diereoffers: “Wanneer een van julle vir die Here ’n offer wil aanbied, kan hy dit aanbied uit sy beeste of uit sy kleinvee.” (Lev. 1:2).  Of: “As dit ’n brandoffer van voëls is wat iemand vir die Here wil offer, bied hy ’n tortelduif of ’n ander duif aan.” (Lev. 1:14).

Of meer uitgebreid: “Wanneer iemand sonder opset troueloos handel en teen die heilige dinge van die Here sondig, bring hy vir die Here as skuldoffer ’n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop. Die waarde van die ram as skuldoffer word in silwer bereken volgens die standaardgewig van die heiligdom. As die waarde te min is, betaal die persoon in wat hy nog aan die heiligdom verskuldig is, en voeg nog een vyfde by en gee dit aan die priester. Die priester doen vir die persoon versoening met die ram as skuldoffer, en sy sonde word hom vergewe.” (Lev. 5:15-16).

Moreel-etiese, burgerlike en seremoniële wette

Dit sal jou ook help om uit ‘n Christelike hoek aan die wette in drie breë kategorieë te dink, hoewel dit nie ‘n waterdigte skeiding vir ons gee nie.  Dit sal jou egter ‘n konseptuele raamwerk gee om die geldigheid van die wette ook vir vandag te kan bepaal (al dan nie), iets wat ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), een van die geloofsbelydenisse uit die Reformasie, ‘n neerslag gekry het, soos ek hieronder aanhaal.  Jy kan ‘n hele aantal van die ekumeniese en Gereformeerde belydenis hier aflaai.

Dié indeling is in moreel-etiese, burgerlike en seremoniële wette.  Sommige wette kan by meer as een kategorie gesorteer word, maar dit gee ‘n mens ‘n handige manier om sin te maak van die geweldige omvang van wette wat in Levitikus gegee word.

Die moreel-etiese wette is dinge soos die Eerste gebod: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.”  Of in Levitikus: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (Lev. 11:44).  Dit lê beslag op jou hele wese.  Dit is gewoonlik apodiktiese wette wat op die absolute gesag van die Here self berus.  Jy hoef nie eers in ‘n hof te gaan staan om jouself te verweer teen iemand wat jou vir die verbreking daarvan aankla nie.  Jy weet dit sommer self vanuit die feit dat die Heilige Gees deur jou gewete jou innerlik oortuig van die sin en waarheid daarvan, ook wanneer jy dit oortree.  Dit is daarom ook wette wat regdeur die NT positief bejeën word en as deel van die evangeliese geloof uitgespel word, met uitsonderings.  Vergelyk Romeine 13 en 1 Timoteus 1 vir plekke waar die apodiktiese wette as deel van die evangelie uitgelê word.  Die apodiktiese wette oor bv. dieet en rituele word egter as vervuld gereken.

Die burgerlike wette is duidelik wette wat die onderlinge sosiale verhoudinge reël, dinge wat in veral die gevallestudies, die kasuïstiese wette, voorkom – as iets wegraak, of jou bees iemand beseer ens.  Die inhoud of betekenis daarvan – bv. dat ‘n mens geweld moet beperk in jou reaksie op iets wat verkeerd loop, die primêre rede waarom daar ‘n wet soos “’n oog vir ‘n oog, en ‘n tand vir ‘n tand” was – bly wel geldig, maar nie noodwendig die detail daarvan nie.  In die NT is daar ook uitbreidings van dié wette soos bv. dat jy jou vyande moet liefhê, iets wat aansluit by die inhoud van die Lex Talionis wette (bv. oog vir ‘n oog), maar nie in die presiese detail daarvan nie.

Die seremoniële wette reël bv. die wyse waarop die Here in die tabernakel aanbid moet word, die liturgie of erediens – soos daar talle voorbeelde in Levitikus is – sowel as die wyse waarop Hy in die lewe aanbid moet word wat dinge in fyn detail uitspel – dieet, swangerskap, siektes, kleredrag ens.  Die inhoud en betekenis daarvan is eweneens van belang vir ons vandag, maar nie die presiese detail waarop dit uitgespel word.

Artikel 25 van die NGB sê daarom oor die wet van die OT as volg:

DIE SEREMONIËLE WET IN CHRISTUS VERVUL

Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Rom. 10:4; Gal. 3-4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2,18.

View all posts in this series

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar