Skip to main content

Levitikus 9 – Israel word geseën met die teenwoordigheid van die Here

Met Aäron en sy seuns se bevestiging en inhuldiging na sewe dae se feesviering verby, is hulle gereed om die roeping wat die Here die priesterlike geslag gegee het, uit te voer.  Die eerste taak wat hulle moet verrig is om die volk voor te berei om die Here te ontmoet.  Die Here wil aan die volk in sy heerlikheid verskyn.  Daarmee sal die Tabernakel ingewy word om as die ontmoetingsplek van God met sy volk te dien.

Interessant genoeg moet Aäron weereens ‘n sondeoffer bring, dié offer wat bedoel is vir reiniging en vergifnis van konkrete sondes.  Sommige Joodse geleerdes dink dat dit terugverwys na die sonde van die goue kalf om as’t ware die laaste oorblyfsels van daardie gebeurtenis uit sy geheue uit te wis.  Daarmee saam word ‘n brandoffer gebring om vir sy sondige natuur versoening te doen.

Dit open die weg vir die volk om vier offers te bring, soos wat die priesters reeds met hulle bevestiging en inhuldiging gedoen het: ‘n bokram as sondeoffer as reiniging en vergifnis van hulle persoonlike konkrete sondes, ‘n bul en ‘n ram as brandoffer vir hulle sondige natuur, ‘n maaltydoffer as herinnering aan die gemeenskap met God en mekaar, sowel as ‘n graanoffer as herinnering aan die destruktiewe krag van die suurdeeg van die sonde en ‘n oproep om getrou te bly aan die verbond wat God met hulle gesluit het waarvan die sout by die graanoffer die teken was.  Soos met die priesters was die skuldoffer nie nou al nodig nie.

Let op hoe Aäron die volk seën nadat die offers gebring is.  Dié seën sou later geformaliseer word in die Aäronitiese seën soos ons in Numeri 6:24-26 kry: “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”  Daarmee is die Here se Naam oor die Israeliete uitgeroep, waaraan Hy ‘n belofte gekoppel het, dat Hy hulle sal seën (vgl. Deut. 10:8).

In ‘n sekere sin is dié seën nie maar net ‘n afsluiting van die ontmoeting met God nie, maar die hele doel van die offerkultus.  Waar daar reiniging en vergifnis vir hulle konkrete sondes gedoen is, waar versoening vir hulle algemene sondigheid bewerk is, waar hulle in die gemeenskap met God en mekaar tereg gekom het, en waar hulle die suurdeeg van die sonde versaak het en hulleself aan die verbond met God verbind het om soos sout hulle roeping om God te gehoorsaam, aanvaar het, dáár bring die seën van die Here nuwe lewe.

‘n Mens herroep Jakob se verhaal by die Jabbokdrif waar hy met God gestoei het en Hom nie wou laat gaan totdat God hom geseën het nie: “Ek sal jou net los as jy my seën.”  (Gen. 32:26).  En dit is inderdaad wat die Here vir Jakob gedoen het.  Trouens, daardie seën het nie net ‘n versoenende impak op sy lewe in Kanaän gehad in sy stryd met Esau nie, maar sy verhouding met God is fundamenteel verander.  Hy was daarna Israel, nie meer die bedrieër Jakob nie, maar die begenadigde Israel.  Dit is wat sy naamsverandering vir hom ingehou het.

Met die offerkultus van die Tabernakel het dié seën nou die doel van die hele ontmoetingsgebeure met God geword.  Dit was beskikbaar vir alle Israeliete.  Dit was die doel van hulle samekomste.  Dit was die opdrag van die priesters om as middelaars van hierdie seën van God op te tree.  Hulle kon God by die Tabernakel ontmoet en sy seën vir hulle lewe ontvang.

Aäron gaan dan saam met Moses die Tabernakel as die Tent van Ontmoeting in waarin hy van nou af saam met Moses die teenwoordigheid van die Here sou kon betree en vir die volk sou kon intree.

Met hulle uitkoms uit die Tabernakel seën Aäron die volk weer.  Dit lei tot die openbaarmaking van die teenwoordigheid van die Here.  Die vuur wat van Hom af uitgegaan het en die res van die offers op die altaar verteer het, was die teken daarvan.  Dit was die begin van ‘n paar sulke verskynings met vuur deur die geskiedenis van die Godsvolk.

  • Dink aan Gideon wat ‘n offer van vleis en ongesuurde brood vir die Engel van die Here bring wat vuur uit die rots laat opvlam het om dié offer te verteer (Rigt. 6:21).
  • Dink aan Elia met die brandoffer op die berg Karmel waar die Here hom geantwoord het met vuur uit die hemel (1 Kon. 18:38-39). Net soos hier het die hele volk ook neergeval in aanbidding voor God.
  • Dink aan Dawid met die brandoffer en maaltydoffer by die dorsvloer van Arauna waar die Here ook met vuur uit die hemel geantwoord het as versoening vir sy sonde met Batseba (1 Kron. 21:26). Dawid het van dié dag af dié plek sy gereelde offerplek gemaak, aangesien die tabernakel nog op die hoogte in Gibeon was waar Sadok as hoëpriester diens gedoen het, en die engel van die Here hom verhinder het om daar te offer.  Hierdie dorsvloer het die uiteindelike plek vir die tempel van Salomo geword (2 Kron. 3:1).
  • Dink ook aan die inwyding van die tempel van Salomo waar die Here by die inwyding daarvan met vuur geantwoord het uit die hemel wat die brandoffer en ander diereoffers verteer het (2 Kron. 7:1-3). Soos hier in die woestyn het dit God se magtige teenwoordigheid in die tempel voorafgegaan.
  • Dink ook aan die uitstorting van die Heilige Gees in tonge van vuur in Handelinge 2 met Pinksterdag.

Die kontras met die verhaal van die volgende hoofstuk en die vreemde vuur van Nadab en Abihu moet in die konteks van hierdie ervaring van die vuur van God verstaan word.  Dit is dan ook juis God se vuur wat hulle verteer wanneer hulle oortree, soos ‘n mens ook op talle plekke verder aan in die OT sal lees dat die vuur van God ook sy toorn vergestalt (Ps. 11:6; 21:10; 50:3; Jes. 5:24; Jer. 17:4; Eseg. 30:8).

Boodskap: God seën ons met sy teenwoordigheid waar ons saam voor Hom vergader

Die betekenis van hierdie gedeelte kan op verskillende maniere deurgetrek word na beide die liturgie wat ons in ons eredienste volg sowel as na die wyse waarop leraars en ander geroepenes van die Here funksioneer.

Ek dink Levitikus 9 belig die werk van leraars in terme van vier areas wat as agtergrond kan dien – verkondiging, versoening, voorbidding en die erediens:

  • die bediening van die Woord soos in Aäron en Moses se lering van en verkondiging aan die volk in Levitikus 9 duidelik word – in die NT is daar talle gedeeltes wat dieselfde taak uitspel in terme van leraars (Hand. 6:1-4; 1 Kor. 12:28; Ef. 4:11; Openb. 1:20);
  • die bediening van die versoening (reiniging, vergifnis) deur die offerkultus in Levitikus 9 – in die NT word dieselfde gedoen deur die bediening van Christus se versoening wat omvattend is soos Paulus veral uitspel (2 Kor. 5:11-7:1) en natuurlik die hele Hebreërbrief ook doen;
  • die bediening van voorbidding wat die hoëpriester namens die volk by God doen in Levitikus 9 (vergelyk die beweegoffer, bv.) – in die NT is dit weereens ‘n afgeleide funksie van beide Christus en die Gees as ons Voorsprake (Hebr. 9-10, en Joh. 14-16 en Rom. 8), maar iets wat ook in die gemeente onder leraar se begeleiding aandag moet kry (1 Tim. 2:11; Jak. 5:14 en natuurlik in omtrent elke Pauliniese brief genoem as ‘n taak wat hy op homself geneem het, iets wat ons gerus met groter passie kan navolg);
  • die verkondiging van die teenwoordigheid van die Here wat hier so kennelik ervaar is in Levitikus 9 – in die NT word dit veral met die erediens van die gemeente en die geloofsoefeninge onder begeleiding van die gawes uitgespel (1 Kor. 14; Hebr. 10).

En dit is alreeds ‘n wonderlike boodskap.  In ‘n sekere sin was die seën in die OT immers nie maar net ‘n afsluiting van die ontmoeting met God nie, maar die hele doel van die offerkultus. Waar daar reiniging en vergifnis vir hulle konkrete sondes gedoen is (sondeoffer), waar versoening vir hulle algemene sondigheid bewerk is (brandoffer), waar hulle in die gemeenskap met God en mekaar tereg gekom het (maaltydoffer), en waar hulle die suurdeeg van die sonde versaak het en hulleself aan die verbond met God verbind het om soos sout hulle roeping om God te gehoorsaam, aanvaar het (graanoffer), dáár het die seën van die Here inderdaad nuwe lewe gebring.

‘n Mens herroep Jakob se verhaal by die Jabbokdrif waar hy met God gestoei het en Hom nie wou laat gaan totdat God hom geseën het nie: “Ek sal jou net los as jy my seën.” (Gen. 32:26). En dit is inderdaad wat die Here vir Jakob gedoen het. Trouens, daardie seën het nie net ‘n versoenende impak op sy lewe in Kanaän gehad in sy stryd met Esau nie, maar sy verhouding met God is fundamenteel verander. Hy was daarna Israel, nie meer die bedrieër Jakob nie, maar die begenadigde Israel. Dit is wat sy naamsverandering vir hom ingehou het.

Ons moet in ons eredienste iets van hierdie gerigtheid herwin. Dit sal gebeur as ons ontmoeting só eg is, dat ons só meegevoer word deur die verlossing wat die Here deur sy Woord en Gees vir ons in ons ontmoeting met Hom en mekaar gee, dat ons aan die einde van die diens gereed is om die seën van die Here soos ‘n Jakob te kan ontvang waardeur ons weereens herinner word daaraan dat ook ons, by wyse van spreke, na Israel, die begenadigde van God, verander is om in die nuwe lewe wat Hy gee met oorgawe te gaan leef!

Maar ek wil vandag eerder fokus op die ervaring van God se seën wat ons in sy teenwoordigheid saam met ander gelowiges kan beleef.

Jesus het alreeds gesê dat waar twee of drie in sy Naam vergader Hy daar in hulle midde is (Matt. 18:19-20).  En dit is interessant dat in die konteks dit daar ook oor dissipline gaan – waarvoor die offerkultus ‘n voorafskaduwing was – die wyse waarop ons mekaar help om inderdaad in die reiniging en vergifnis van die Here te lewe.  In ons teregwysing van mekaar sluit ons vir mekaar die seën van die Here oop.  Natuurlik word die genade ook toegesluit waar mense nie tot skuldbelydenis en bekering kom nie.  Maar, die hele idee van teregwysing (tug) is gemik op die oopsluiting van God se genade, soos dit eenmaal met die Tabernakel die geval was.

Maar dié teenwoordigheid van die Here Jesus word deur die Pinksterdag gebeure eintlik eksponensieel verhoog deurdat die teenwoordigheid van God nie maar net in die Tabernakel of latere tempel, of selfs in die fisiese teenwoordigheid van die Here Jesus ervaar word nie, maar in die hart van elke mens wat deur die Heilige Gees van God vervul word.  Ons ken die wonderlike beskrywing van die Pinksteruitstorting:

Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.” (Hand. 2:1-4).

Let op die vuur as simbool nie net van die Heilige Gees nie, maar van die teenwoordigheid van die Here, soos dit die geval was eenmaal by die Tabernakel waar God se teenwoordigheid ook in vuur ervaar is.

Soos Hebreërs vir ons hierdie gebeure interpreteer, het Jesus in die groter en volmaakter “verbondstent” van God se heiligdom ingegaan met sy eie bloed en ’n ewige verlossing tot stand gebring wat ons: “gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.” (Hebr. 9:11-14).

Wat Moses en Aäron in die Tabernakel hierdie eerste keer gedoen het, was ‘n grootse gebeure en het ‘n wonderlike seën vir die volk teweeg gebring.  Maar, hulle moes dit telkens weer doen, want die effek van die versoening was gebrekkig, omdat dit nie die harte van die volk kon verander nie.  Daarom moes dit weer en weer en weer gedoen word.

Jesus se offer het egter eens en vir altyd verandering gebring, soveel so, dat ons nou deur die bloed van Jesus vrye toegang het tot die heiligdom.  Dit is nie net meer Moses en Aäron en die afgesonderde priesters wat dié voorreg het nie, maar elkeen wat in Jesus glo.  Ons het in Christus ‘n oop deur na God gekry, “op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.

Terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.

Dit is ook die rede waarom ons onherroeplik verbonde is aan mekaar, aan die een kant om: “na mekaar om te sien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.” Aan die ander kant dat ons nie: “van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” (Hebr. 10:19-25).

Dit is ons onvervreembare voorreg en verantwoordelikheid.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar